Ek en my vrou het onlangs na ’n klein plasie verhuis in die suide van Alberta, Kanada, waar ons gevind het dat om op ’n plaas te woon, ’n mens se verbintenis met God se skepping verdiep. Daar is ook baie harde werk, maar soms gaan daardie twee dinge hand aan hand. Grondeekhorings is byvoorbeeld besig om ons weivelde oor te neem en alhoewel ek probeer het om die bevolking van die grondeekhoring te beheer, het ek ’n bietjie geleer oor hoe hierdie skynbaar gewone diertjies hulle Skepper verheerlik.

’n Knaagdier met baie name

In 1820 was Sir John Richardson, ’n Skotse chirurg en natuurkundige, op ’n vlootekspedisie. Aan hom is die taak opgelê om die Noordpoolkus van Britse Noord-Amerika, wat nou Kanada is, te karteer. Terwyl hy op ’n uitstappie in die land was, het hy in aanraking gekom met ’n knaagdierspesie wat hy nog nie voorheen teëgekom het nie. Hy het voorbeelde teruggestuur na Engeland, tesame met die eerste bekende wetenskaplike beskrywing van hierdie “nuwe” spesie.

Ter ere van hom is die knaagdiertjies, “Richardson se grondeekhoring” genoem. Ander meer beskrywende name vir hierdie diertjies sluit in “gopher”, wat afgelei is van die Franse gaufre, wat heuningkoek of wafel beteken en verwys na die ingewikkelde gate wat hulle grawe; “waaiersterte”, aangesien dit lyk asof hulle sterte aanhoudend aan die beweeg is; “dakrat” of “Dakota-rat”; en “picket-pin”, na aanleiding van hulle gewoonte om “penorent” op hulle agterpote te staan wanneer hulle hul omgewing vir gevaar bespied.

Baie mense wat die woord “eekhoring” hoor dink aan ’n diertjie wat neute versamel en sy tuiste in bome maak. Daar word egter meer as 200 verskillende soorte eekhorings regoor die wêreld gevind. Die Richardson se grondeekhoring is een daarvan – ’n eekhoring wat op en in die grond woon.

Ondergrondse ingenieurs

’n Kolonie grondeekhorings sal jare lank dieselfde gate gebruik en dit opknap wanneer dit nodig is deur meer tonnels, slaapkamers, ingange en uitgange by te voeg. Elke gat is die tuiste vir een volwassene of vir ’n wyfie en haar baie jong kroos. Enkele weke na geboorte, kort voor die volgende winterslaap, verlaat die kroos hulle moeder om verlate gate te vind of hulle eie te grawe.

Wanneer gate vir lêplekke gegrawe word, vermy grondeekhorings grond wat nie goed dreineer nie of wat nie goed kompakteer om struktureel veilige tonnels en kamers te kan vorm nie. Die voginhoud van die grond is ook belangrik om bouplekke te identifiseer. Richardson se grondeekhorings woon in droë, grasagtige gebiede wat dikwels nie direkte toegang tot grondwater het nie. Die grond waarin hulle bou, moet voghoudend wees om hulle te help om voldoende gehidreer te bly.

Die Een wat hierdie diertjies geskep het, het hulle van die nodige vaardighede voorsien sodat hulle in hul omgewing kan floreer – die vaardighede van ’n meesterargitek en ingenieur. ’n Tipiese gat sal verskillende ingange en uitgange hê wat lei na gange en kamers ongeveer 30-100 sentimeter onder die grond. Om die risiko van oorstromings tot die minimum te beperk, bou grondeekhorings dreinerings op die laagste punt van ’n gat.

Elke gat sal net een kamer vir oorwintering hê, maar verskeie slaapplekke en ’n grondeekhoring sal net ’n paar dae in dieselfde kamer slaap voordat hy na ’n ander kamer verskuif. Hierdie vreemde slaaproetine verseker dat die reuk van die grondeekhoring nie te sterk opbou en roofdiere lok nie. Voordat hulle met hul winterslaap begin, blokkeer die grondeekhorings die in- en uitgange van hulle gate met grond. Nadat hulle die winter se slaapkamer binnegegaan het, blokkeer hulle ook die ingang daarvan.

Beplan vooruit en neem ’n blaaskans

Dit mag dalk verrassend wees om te verneem dat Richardson se grondeekhorings jaarliks slegs ’n paar maande bokant die grond aktief is – hulle hiberneer die grootste deel van die jaar. Die periode van hulle winterslaap strek gewoonlik van Julie tot Februarie. Grondeekhorings is gemiddeld net vier maande lank van elke jaar aktief, hoewel mannetjies – volwassenes sowel as jeugdiges – ’n aktiewe periode van tot drie maande langer kan hê, omdat hulle voorbereidings vir die winterslaap meer omvattend is as dié van wyfies.

’n Wyfie grondeekhoring sal geen kos in haar winterslaapkamer inneem nie, terwyl ’n mannetjie vir homself ’n klein voorraad sade en neute sal opbou om te eet wanneer hy vroeg in die lente wakker word. Hierdie voedselvoorrade is van kritieke belang omdat mannetjies ’n paar dae vroeër as wyfies uit die winterslaap wakker word, dikwels terwyl die grond nog met ’n laag sneeu bedek is en dit dan moeilik is om kos te soek. Met minder liggaamsvet as wyfies, is ’n voedselvoorraad met ’n hoë vet-inhoud noodsaaklik om hulle liggame te reguleer en vir voortplanting voor te berei wanneer hulle uit die winterslaap wakker word. Net soos soveel ander diere regoor die diereryk, is hierdie diertjies spesiaal deur hulle Skepper “geprogrammeer” om presies te weet wat hulle nodig het, presies wánneer hulle dit nodig het.

Nogal ’n voordelige “plaag”!

Aangesien Richardson se grondeekhoring in sommige gemeenskappe as ’n plaag beskou word, moedig owerhede dikwels bevolkingsbeheer aan deur middel van vergiftiging of deur om strikke te stel. ’n Oorvloed van hierdie vrugbare planteters kan nie net die oes-opbrengste verminder en groentetuine vernietig nie, maar hulle uitgebreide netwerke van ondergrondse tonnels oortrek die landerye met ingangs- en uitgangsgate wat gevaarlik kan wees vir mense en lewende hawe wat kan struikel.

Behoort ons dus hierdie wesentjies as blote “ongelukke van evolusie” te beskou? of is hulle deur ’n briljante Ontwerper geskep wat niks sonder ’n rede skep nie? Indien hulle skeppings is, kan ons verwag om inderdaad ’n voordeel te vind wat die Richardson se grondeekhoring vir sy omgewing bied.

Ons vind dit wel. Richardson se grondeekhorings speel ’n deurslaggewende rol in die ekosisteem van die grasvlaktes. Hulle intensiewe en diep tonnelwerk help om die toestand van grond te bewerk en te verbeter en die gate wat hulle agterlaat, word omskep in eersteklas eiendom vir akkedisse, graaf-uile en bye. Hierdie gate beskerm ook klein diertjies wat skuiling soek teen roofdiere of stormweer.

Richardson se grondeekhorings is byna op die onderpunt van die voedselketting van die grasvlaktes se ekosisteem. ’n Gesonde bevolking van grondeekhorings kan ander wilde diere van kos voorsien – byvoorbeeld dassies, muishonde, prêriewolwe, uile, jakkalse, slange, alle soorte valke en arende. Richardson se grondeekhorings maak ’n aansienlike deel uit van sommige van hierdie roofdiere se diëte. Die dieet byvoorbeeld van die groot roeskleurige valk, ’n bedreigde spesie, bestaan na raming feitlik uitsluitlik uit grondeekhorings gedurende die aktiewe periode van die eekhorings. Alhoewel hulle as ’n “plaag” beskou word omdat hulle so volop is, kan ’n tekort aan Richardson se grondeekhorings die grasvlakte-ekosisteem wat God gevestig het, beslis erg bedreig en vir ons tuine baie erger wees as hulle “lastige” teenwoordigheid!

Sien God se hand in die alledaagse

Daar is baie wat ons kan leer uit die waarneming van die skynbaar gewone wesens wat God gemaak het. Trouens, die Skrif sê vir ons so: “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie? In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees” (Job 12:7-10).

Wanneer ons in die versoeking kom om te dink dat ’n deel van die natuurlike wêreld meer probleme veroorsaak as wat dit werd is – of erger nog, die gevolg is van “blinde toeval”, is dit nodig dat ons bereid sal wees om ’n bietjie te kyk en onsself die geleentheid te gun om die fassinerende eienskappe en buitengewone voordele in die skepping van die Almagtige God te ontdek. Ons behoort versigtig te wees om nie God se hand mis te kyk in die “buitengewone, alledaagse” skeppings wat Hy doelbewus in ons lewens geplaas het om ons aandag op Hom te vestig nie – skeppings soos Richardson se grondeekhorings.