Vandag se samelewing mag dalk godloos voorkom maar dit is gevul met “vals gode” – asook met maniere om hulle woedend te maak.

Die antieke, heidense “gode” van weleer is vervang maar dit waarmee hulle vervang is, is glad nie beter nie.

Die heidense tempels van baie valse gode uit die verlede mag dalk besig wees om tot stof te keer, maar die moderne mens is nie minder “kreatief” as sy heidense voorvaders nie. Welkom in ’n wêreld van “nuwe gode” en daarmee saam nuwe leerstellings, nuwe eise én nuwe sondes.

Baie mense glo dat die tydperk van godsdiens en bygeloof verby is – dat die mensdom uiteindelik daarvan wegbeweeg het om sondes te veroordeel, gebooie te gehoorsaam en gode te aanbid. Hulle misgis hulle egter.

Ons “wêreldse” wêreld is in werklikheid ’n wêreld van “nuwe gode” en “nuwe sondes”. Dit mag dalk vreemd klink om van “nuwe gode” te praat, maar moenie verkeerd verstaan nie – wat Jesus Christus 2,000 jaar gelede aan Sy dissipels gesê het, is vandag nog waar: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Hoe meer ons die wêreld rondom ons ondersoek, hoe meer sien ons ’n wildernis van “nuwe godsdienste” wat soos onkruid opskiet.

Dit is nie die tradisionele godsdienste van die verlede wat gefokus het op die antieke gode van byvoorbeeld die Griekse, Egiptiese of Noorse mitologie nie. Hulle volgelinge is egter net so passievol soos daardie antieke heidene sekerlik was en hulle was net so toegewy aan hulle gode. Hierdie moderne “gode” word weerspieël in die woorde wat God deur die profeet Eségiël gespreek het in Sy veroordeling van antieke Israel – ’n veroordeling wat vandag nog geld. Eségiël skryf: “Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit ...” (Eségiël 14:2-3).

Dit is maklik om afgode bloot as standbeelde van klip of goud te beskou – of selfs as graverings, ikone en ander kunswerke. Sulke beelde oortree sekerlik dikwels die tweede van die Tien Gebooie. Tog openbaar God hier dat aanbidding van gode baie verder strek as items wat ons met ons hande skep. Die mens is veral bedrewe om afgode in sy hart te skep – valse gode waaraan hy hom getrou toewy, deur sy gedagtes, sy optrede, sy sedes en sy gewete.

Vandag leef ons boonop in ’n virtuele godewêreld van afgode van die hart, wat politieke filosofieë, sosiale sake, kwessies rondom identiteit en nuwe wêreldbeskouings insluit. Die wêreld rondom ons bevorder ’n toenemende versameling van “nuwe gode” en eis dat alle “verstandige mense” met die lyste van verligte “nuwe leerstellings” en “nuwe sondes” saamstem en aanneem.

Nog erger, die priesters en volgelinge van hierdie “nuwe gode” is al hoe meer gereed om hulle geloof op die wêreld af te dwing en om diegene te straf wat nie wil saamwerk nie. In teenstelling met Bybelse Christendom wat van die begin af mense se harte en gedagtes wou wen deur middel van betroubare woorde en goeie voorbeelde, is die aanhangers van hierdie “nuwe gode” bereid om geweld te gebruik om hulle nuwe gelowe te versprei deur ondersoeke en “heksejagte” te doen of wat ook al nodig mag wees om bekentenis of instemming met geweld af te dwing.

Ongeag die hofsaal, die wetgewer, die markte of die media, probeer die getroue aanhangers van hierdie “nuwe gode” om elkeen te straf wat dit durf waag om die geloof waaraan hulle hulself toegewy het, teen te staan. Kom ons kyk na sommige van die mensgemaakte filosofieë, wêreldbeskouings en denkwyses wat tot die status van “godheid” in die samelewing van vandag verhef is.

“Die alleswetende wetenskap”

Spreuke 25:2 sê vir ons: “Dit is die eer van God om ’n saak te verberg, maar die eer van konings om ’n saak na te speur” en wetenskaplike praktyke is een van die beste voorbeelde daarvan om ’n saak te ondersoek. Vooruitgang wat deur die wetenskaplike metode teweeg gebring is, het ons lewens aansienlik verbeter en het baie bronne van menslike siektes, ongerief en nood aangespreek. Ons het sommige van die heelal se geheime te wete gekom en ons begrip van ons wêreld is ryker as gevolg daarvan.

Tog is die wetenskap nie God nie. Dit leer ons nie wat reg en wat verkeerd is nie. Die teorieë en eksperimente waardeur die geheime van die sub-atomiese wêreld geopenbaar is, het ons ook in staat gestel om die kernwapens te bou wat Hirosjima en Nagasaki in 1945 verwoes en honderde duisende mense doodgemaak het.

Namate mense God uit die beskawing skop, moet iets Sy plek inneem en diegene wat nie die beperkings van die wetenskap verstaan nie of nie omgee nie – plaas dit op ’n voetstuk en verklaar dit as een van die “nuwe gode”. Soos enige ander godsdiens, het hierdie godsdiens wat deur sy aanbidders geskep is, sy oortuigings, leerstellings en sondes. In die naam van hulle god probeer mense argumente wen deur te beweer dat hulle “wetenskap” aan hulle kant het – ongeag ander wetenskaplike studies wat die teenoorgestelde argumente ondersteun.

Wetenskaplikes word behandel soos priesters wat die Woord van God oordra en sommige van hulle menings word as die heilige waarheid beskou, sodat diegene wat dit waag om te verskil, as ketters beskou word wat “op die brandstapel verbrand” behoort te word – selfs ander wetenskaplikes met bewyse wat ’n ander mening ondersteun.

Klink dit kras? Werklike lewenservaring getuig van iets anders. FreeScience.today bevat ’n lys van die name van verskeie wetenskaplikes wat in wese verban is omdat hulle bereid is om van die leerstelling van evolusie te verskil. Hulle het hulle posisies en werk verloor, is deur hulle departemente ondersoek en hulle kursusse is gekanselleer. In een geval, dié van die bioloog dr. Richard Sternberg, het die Amerikaanse Spesiale Raadskantoor in sy ondersoek tot die gevolgtrekking gekom: “Dit is ... duidelik dat ’n vyandige werksomgewing geskep is met die uiteindelike doel om u uit die SI [die Smithsonian Institute] te dwing” (“Richard Sternberg”, FreeScience.today) – alles omdat hy toegelaat het dat ’n portuur-beoordeelde referaat, wat nie bewyse van intelligente ontwerp verwerp het nie, in ’n wetenskaplike tydskrif gepubliseer word.

Wanneer die wetenskap tot die status van ’n god verhef word, is selfs ’n sweempie van meningsverskil met evolusie net kettery en ketters word nie geduld nie.

“Die alles-vernietigende klimaatsverandering”

Laat ons dit duidelik maak: Dit is sinvol om goeie rentmeesters van die aarde te wees. Die mens is nie vir die aarde gemaak nie, maar die aarde is vir die mens gemaak en dit is sinvol om ons hulpbronne met wysheid te bestuur. God verwag van ons om goeie rentmeesters van die planeet te wees (Génesis 2:15). Ons by die Wêreld van Môre wil nie argumenteer of die wêreld se klimaat besig is om te verander nie en indien dit wel so is of die mensdom die hoofoorsaak van die verandering is of nie.

Daardie debatte is nie ter sake nie, want sodra klimaatsverandering tot die status van ’n “godheid” verhef is, word alle besprekings uit verband geruk. Die hoogste goed word die aanvaarding van “goddelike leerstellings” van klimaatsverandering te aanvaar en morele goed en kwaad word bepaal deur niks meer as die beginsel van omgewingsimpak, of dit nou geldig is of nie.

Om ’n nasie se produksievermoë, ekonomiese stelsels en sosiale strukture te vernietig met die doel om ’n Green New Deal te bewerkstellig en die omgewing te red, word as geen probleem beskou nie, want vir die “nuwe god” van klimaatsverandering is dit uiteindelik moreel goed om vir die aarde om te gee – of om ten minste voor te gee asof ’n mens vir die aarde omgee.

Die professor in politieke wetenskap, Michael Munger, het hierdie argument in ’n artikel van 2019 vir die American Institute for Economic Research gestel. Nadat hy op ’n konferensie oor herwinning verduidelik het hoe die herwinning van glas eintlik nadelig vir die omgewing is – gegewe die besoedeling, die koolstofkoste, die uitgawes daaraan verbonde ensovoorts – het hy verontwaardiging van die deelnemers verwag, wat almal onverbiddelike herwinnaars was. Die antwoord het hom egter verras:

Een mede-lid was heeltemal reguit: “O, ons weet almal dat dit geen sin maak om glas te herwin nie. Die ekonomiese sy van die saak is eenvoudig. Mense behoort egter nog steeds te herwin, want dit is eenvoudig die regte ding om te doen. Dit gaan in werklikheid nie oor die omgewing nie. Dit gaan daaroor om mense te werf om vir die simbool van die omgewing om te gee. In alle opsigte is herwinning steeds die moeite werd, ongeag die gevolge daarvan”.

’n Jong vrou het ook ’n bydrae gelewer: “Dit is in die haak om hierdie soort dinge hier te sê, want ons is in die binnekring. Dit is egter beter om nie met die algemene publiek oor die ekonomiese sy daarvan te praat nie. Dit is nodig dat ons help om hulle op te lei om vir die omgewing om te gee en herwinning is een van die beste maniere om dit te doen”.

Die boodskap waaroor ek my bekommer het en verwag het dat dit kontroversieel sou wees, was ou nuus vir die mense binne die bedryf. Dit was egter nie ter sake nie, want herwinning was vir hulle ’n morele noodsaaklikheid. Sodra ’n mens begin dink aan herwinning as ’n simbool van godsdienstige toewyding eerder as ’n eiewyse oplossing vir omgewingsprobleme, raak die saak meer sinvol (“For most Things, Recycling Harms the Environment”, klem bygevoeg).

Om vegetaries te raak omdat ’n mens bekommerd is oor die impak van die veebedryf op aardverwarming of om te besluit om nie kinders te hê nie, met die doel om die mensdom se “koolstofvoetspoor” te verminder – sulke stappe word beskou as klein opofferings om te voldoen aan die eise van die “nuwe god” van klimaatsverandering. Indien u dus ’n biefburger eet, ’n groot gesin het of as u nie die koeldrankbottel herwin nie, wees gereed om as ’n “sondaar” bestempel te word.

Die alles-bevrydende seksualiteit

Die Bybelse model vir seks is eenvoudig: Die mensdom is manlik en vroulik geskape, wat biologies voor die hand liggend is. Elkeen is vir die ander een geskep, sodat wanneer die man en vrou besluit om hulle aan mekaar te verbind in ’n huwelik soos dit deur God ontwerp is, raak die voordele van die huwelik beskikbaar – met inbegrip van seksuele intimiteit en kinders wat daaruit voortspruit.

Daarteenoor bepaal die “nuwe god” van seksuele wetteloosheid dat seksualiteit nie gebonde is aan enige reëls, beperkings of natuurlike wette nie. Hierdie “nuwe god” verkondig ’n lang en gedetailleerde lys van sondes, maar dit kan redelik eenvoudig saamgevat word: Enigiemand wat in Bybelse konsepte van geslag, seksualiteit of die huwelik glo, is op sy beste preuts en in die slegste geval ’n dweper. Bybelse standaarde word deur aanbidders van seksuele wetteloosheid as gans te beperkend beskou.

Soos die woord “wetteloosheid” impliseer, is enigiets toelaatbaar. Seks is nie meer tot die huwelik beperk nie en “huwelik” is opnuut gedefinieer om individuele reëlings in te sluit, ongeag die getal of geslag. In werklikheid is selfs geslag geherdefinieer – nie meer net manlik of vroulik nie, maar nou “bevry” om heen en weer oor ’n spektrum van moontlikhede te beweeg – ’n spektrum sonder reëls, beperkings of grense.

Soos antieke Molog, eis hierdie “nuwe god” van seksuele wetteloosheid kinders se lewens as offer. Mense wat nie oud genoeg is om te stem, alkohol te drink of ’n motor te bestuur nie, word al hoe meer dinge toegelaat – selfs aangemoedig – om fundamentele en ingrypende geslagsbesluite te neem wat hulle lewens permanent kan verander.

Ten minste het enkele howe sommige van die probleme hiermee erken. Op 1 Desember 2020 het BBC News oor ’n saak berig wat teen die Britse nasionale gesondheidsdiens aanhangig gemaak is deur ’n jong vrou wat as tiener, hormoonblokkers voorgeskryf was om haar puberteit onomkeerbaar te help voorkom, in ooreenstemming met haar destydse begeerte om ’n man te wees. Sy en haar mede-eisers het die saak gewen en aangevoer dat kinders eenvoudig nié oor die vermoë beskik om sulke besluite te neem nie. In die woorde van een van die regters: “Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n kind van 13 jaar of jonger bevoeg kan wees om toestemming te gee vir die toediening van puberteitsblokkers. Dit is te betwyfel dat ’n kind van 14 of 15 jaar die langtermynrisiko’s en gevolge van die toediening van puberteitblokkers sou kon verstaan en teen mekaar sou kon opweeg” (“Puberty blockers: Under 16s ‘unlikely to be able to give informed consent’”).

Moet egter nie verwag dat die ware gelowiges van seksuele wetteloosheid hulle geloof sal prysgee na een klein terugslag nie. Hulle sal voortgaan om diegene te soek en te straf wat glo dat Bybelse seksualiteit en moraliteit die beste vir die samelewing is en daar sal steeds opofferings gemaak word namate hulle met hulle geloof voortgaan.

Trouens, die geloof in die “nuwe god” van seksuele wetteloosheid is slegs een sekte in ’n aantal “nuwe godsdienste” wat onder ’n breër “nuwe god” val – soos Zeus oor die gode van antieke Griekeland was en Jupiter oor die gode van die Romeine.

Die allesvernietigende maatskaplike verandering

Die “nuwe god” van maatskaplike verandering het ’n spesiale krag – dit stel homself in die beeld van die aanbidder. Indien u glo dat seksuele en geslagsnorme die “groot Satan” is wat verhoed dat die samelewing vooruit gaan, skaar die rewolusie hom by u. Indien u glo dat die wêreld nie veilig sal wees voordat die rol van die vader as hoof van die huis vernietig is nie, is die “nuwe god” van maatskaplike verandering gereed om u saak te seën. Indien u glo dat kapitalisme die eintlike ondergang van die samelewing is, is die revolusie gereed met plakkate, tekens en selfs Molotov-petrolbomme om u te help om druk uit te oefen vir die bevordering van sosialisme, kommunisme of selfs wetteloosheid, net soos u verkies. Indien u van mening is dat u kinders beoordeel word slegs op grond van hulle karakter eerder as hulle velkleur, is die god van sosiale verandering gereed om u te bewapen deur middel van Critical Race Theory vir ’n geveg op sosiale media en onderrig in skole en werkplekke.

Alle “nuwe gode” bring “nuwe sondes” mee. Vir die god van maatskaplike omwenteling is die grootste sonde in toenemende mate gedagtemisdaad – ’n term direk gehaal uit die bladsye van George Orwell se boek, 1984. Diegene wat anders dink as die aanhangers van maatskaplike verandering, word “afgeskryf” en in die openbaar verwerp. Universiteitsprofessore word gedreig met beëindiging van hulle ampstermyn. Gewilde skrywers soos J.K. Rowling word met boikotte gedreig. Selfs die media se supersterre vind dat hulle lewensbestaan bedreig word deur ontdekking van vorige twiets of kommentare op die media, wanneer ondersoekers elke openbare stelling ondersoek om te verseker dat openbare figure se denkwyses “suiwer” is. Soms kan individue deur boete-doening en deur heelwat openbare verskonings vergewe word en om dan getrouheid aan die nuwe geloof te verklaar – alhoewel hulle nog met agterdog bejeën word, selfs na slaafse “boete-doening”.

Hierdie “nuwe gode” en hulle volgelinge duld eenvoudig nie die “sonde” van “verkeerde” denke nie. In ’n sekere sin is hierdie “nuwe gode” meer soos die “ou gode” van antieke mitologie as wat dit aanvanklik mag lyk. Asof die verhale van die Griekse gode wat in jaloesie en spyt kibbel, doen hierdie valse gode dieselfde. Wetenskaplike studies wat byvoorbeeld nie met die gevolgtrekkings van seksuele wetteloosheid saamstem nie, word as haatlik en onakkuraat bestempel – nie op feitelike gronde nie, maar op ideologiese gronde. Selfs binne die individuele gelowe wat deur hierdie “nuwe gode” in die lewe geroep word, is daar interne twis en konflik. Sommige van die driftigste en lelikste debatte wat ’n mens op die internet vind, is dié onder feministe en voorstanders van geslagsidentiteit.

Die antieke bedrieër

Hierdie “nuwe gode” is egter ouer as wat hulle mag voorkom. Elkeen is ’n verskynsel van ’n heel ander soort valse god, ’n werklike wese wat al lank hier op aarde regeer: Satan, die duiwel.

Die apostel Paulus noem hom “die god van hierdie wêreld” en verduidelik hoe Satan taktiek soos hierdie valse gode en afgode van die hart gebruik om mense se aandag af te lei van die Waarheid wat die ware God wil hê hulle behoort te verstaan: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Sedert die duiwel vir Eva verlei het om van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet en Adam sy vrou se leiding geredelik gevolg het deur dieselfde te doen, vertrou mense op hulle eie filosofieë, regeringstelsels en aannames oor die wêreld rondom hulle, in plaas daarvan om gelei te word deur die God wat hulle geskep het en wat ’n doel met hulle het. Vandag se “nuwe gode” is bloot die nuutste voorbeelde van ’n misleide mensdom se misplaaste vertroue in ons eie dwaasheid.

Die almagtige God

Gelukkig het God ons nie aan sulke dwaasheid oorgelewer nie.

Hy sal Jesus Christus na hierdie aarde terugstuur om alle dinge te herstel en die Koninkryk van God in te lui – die enigste ware hoop vir die mensdom. In die lig van daardie Koninkryk sal die “nuwe gode” beoordeel en te lig bevind word, net soos in die geval van die valse gode van Egipte toe die Almagtige die kinders van Israel bevry het.

Die wetenskap sal na sy natuurlike plek terugkeer namate wetenskaplikes hulle Godgegewe denke gebruik om die wêreld wat Hy geskep het te verken en te verstaan. Seksuele wetteloosheid sal eindig namate manne en vroue die riglyne volg wat bepaal is deur die Een wat seks geskep het. Die omgewing sal genees word en mense sal gebalanseerde maniere aanleer om dit in stand te hou tot voordeel van almal. Die uiteindelike maatskaplike verandering sal plaasvind – die hele samelewing sal na die ware God opsien vir Sy leiding, wysheid en liefde.

Mag Christus ons spoedig van hierdie “nuwe gode” red deur die Ware God aan die wêreld te openbaar.