Duitsland het onbetwisbaar die invloedrykste nasie in Europa geword. Bybelprofesie beskryf Duitsland se toekoms en die impak wat dit op die wêreld sal maak.

Duitsland het onbetwisbaar die invloedrykste nasie in Europa en een van die magtigste nasies in die wêreld geword. Kan Bybelprofesie ons inlig wat om te verwag wanneer Duitsland van die skaduwees van sy verlede wegdraai om die toekoms aan te durf? Wat wag vir hierdie groot nasie? Watter rol sal dit in die eindtyd speel? U behoort te weet!

Wat beteken die naam “Duitsland” vir u? Miskien dink u aan Duitse motors: BMW’s of Mercedes-Benz sedanmotors, wat oor die wêreld bekend is vir hulle vakmanskap en ingenieursvernuf. Dalk dink u daaraan dat Duitsland in 2015 sy deure vir immigrante geopen het. Miskien dink u aan die Duitse nasionale voetbalspan (sokker vir ons Amerikaanse en Suid-Afrikaanse lesers) wat die Wêreldbeker-toernooi in 2014 gewen het. Vir ander mense kan die naam Duitsland dalk Oktoberfest beteken, wat bekend is vir kos, musiek en bier.

My oupa- en oumagrootjie het van Duitsland af gekom en het net voor die Eerste Wêreldoorlog na Amerika geïmmigreer. Ons het ons oumagrootjie liefgehad en het aangename herinneringe van besoeke aan haar en ander familielede. Sy was altyd sag en vriendelik en het heerlike lekkernye gereed gehou vir wanneer ons ookal sou opdaag!

Daar is baie dinge wat ons van Duitsland kan bewonder. Tog is daar ook ’n donker kant. Indien u ’n geskiedeniskenner is, dink u dalk aan beelde van Adolf Hitler en die Volksmoord. Beelde van doodskampe en swastikas sal vir ewig ’n vlek op die twintigste eeu wees. Sommige van u het moontlik die Nazi-kampe persoonlik besoek of dalk weet u van oorlewendes wat ongekende ellende in die hande van die Nazi’s verduur het. Miskien het sommige van u dit self ervaar. So ongelooflik as wat dit mag klink, is daar sommige mense wat die Volksmoord ontken, ten spyte van oorweldigende getuienis deur ooggetuies wat uit die kampe bevry is en diegene wat die kampe oorleef het om die verhaal te vertel. Waarlik, daar is gruwelike dade in Duitsland se verlede.

Waarom behoort ons Duitsland vandag, in die een-en-twintigste eeu, te bespreek? Weens al die vordering oor die afgelope 70-plus jare, vir al die vrywaring van persoonlike vryheid wat vasgelê is in die Duitse grondwet is sommige mense diep bekommerd oor Duitsland. Ons behoort bekommerd te wees.

Na die Tweede Wêreldoorlog was Duitsland in twee verdeel, naamlik Wes-Duitsland en Oos-Duitsland. Dit was so gewees tot 3 Oktober 1990, toe die twee lande weer herenig het. Die hereniging was egter nie ’n voorafbeplande gebeurtenis nie en dit was ook nie oral gunstig ontvang nie. Let op hierdie kommentaar uit die 1992-boek The Germans, Who Are They Now?: “[Nadat eenwording gekom het], het niemand dit verwag nie. Min mense het dit verwag en in die buiteland is dit nie met algemene goedkeuring begroet nie. In die Verenigde Koninkryk het die destydse premier, Margaret Thatcher, ernstige voorbehoude gehad. Sy het die mag van ’n verenigde Duitsland gevrees en het dit gesê ... Margaret Thatcher was duidelik bekommerd en het ’n konferensie by Chequers saamgeroep om die Duitse nasionale karakter te bespreek, maar nie sy of enige ander Westerse leier het enige mag gehad om die gebeure te verander nie” (Alan Watson. The Germans: Who Are They Now? 1992, bl. 11).

Is dit waar dat “niemand Duitsland se eenwording verwag het nie?” Geensins! In die vroeë twintigste eeu het Herbert W. Armstrong – ons voorganger in hierdie werk – oor Duitsland geskryf en hoe hulle weer as ’n verenigde, kragtige reus sal opstaan. Hoe kon hy weet? Dit is in Bybelprofesie geopenbaar!

Die antieke volk van Assirië is die voorlopers van die moderne Duitsers. Terwyl u nie die naam “Duitsland” in die Bybel sal vind nie, sal u baie dinge vind wat vir Assirië voorspel is. Die doel van hierdie artikel is nie om die oorsprong van die moderne Duitsers te bewys nie. Vir verdere studie oor hierdie onderwerp, kan u skryf vir ons spesiale gratis aanbod: Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich? Ons sal in die volgende bladsye nog vier profesieë ondersoek wat in die eindtyd deur Duitsland vervul sal word.

Profesie #1: Duitsland sal Europa oorheers

Reeds in 2011 het die voormalige Duitse kanselier Gerhard Schröder ’n merkwaardige verklaring gemaak. Hy het gesê: “Die huidige [ekonomiese] krisis maak dit onteenseglik duidelik dat ons nie ’n gemeenskaplike valutasone kan hê sonder ’n gemeenskaplike fiskale beleid, ’n ekonomiese en maatskaplike beleid nie ... Ons sal nasionale soewereiniteit moet prysgee”. (Brian Rohan. Former German leader calls for “United States of Europe”, Reuters.com, 4 September 2011).

Dit is nou aan die gebeur. Nasies in Europa gee deesdae hulle soewereiniteit prys om die Europese Unie te laat werk. Die Britte het die EU in 2016 verlaat omdat sommige van hulle nie daarvan gehou het nie! Wanneer almal egter hulle soewereiniteit prysgegee het, is iemand in beheer. Wie sal daardie iemand wees? Soos die koerant, Irish Independent, dit ook in 2011 gestel het, “[Aangesien Duitsland] die [finansiële] veiligheidsnet vir die hele eurosone voorsien, gaan niemand met hulle wat alles beheer argumenteer nie ...” (“Deutschland uber alles, we are all Germans now”. Independent.ie, 21 Augustus 2011).

Sedertdien het ons gesien dat Duitsland sy mag in die middelpunt van die Europese Unie gekonsolideer het. Kanselier Angela Merkel is al Europa se mees indrukwekkende politikus en die magtigste vrou in die wêreld genoem. Sy is ook al beskryf as ’n politieke meesterbrein, wat “die Europese Unie as ’n middel tot ’n doel gebruik ... sukses behaal het waar Bismarck, Kaiser Wilhelm II en Hitler misluk het om ’n hele vasteland in ’n groter Duitse ryk te verander” (Dominic Sandbrook. “Angela Merkel has made Germany master of Europe in a way Hitler and Kaiser Wilhelm only dreamt of. The implications are frightening”. DailyMail.co.uk, 19 April 2013).

Duitsland se mag en prestige is regoor die hele wêreld aan die toeneem. In ’n Mei 2013-meningspeiling het Duitsland na vore getree as “die gewildste land ter wêreld”. (“BBC poll: Germany most popular country in the world”. BBC.com, 23 Mei 2013). In Januarie 2016 het ’n peiling van U.S. News & World Report, lande volgens 75 kriteria ontleed. Weer is Duitsland as die wenner aangewys en benoem as “die beste land ter wêreld” (Jonathan Chew. “This Country Was Named the Best in the World”. Fortune.com, 20 Januarie 2016).

Duitsland is besig om ’n sentrale figuur in Europa en die wêreld te word. Sien ons die opkoms van die supermoondheid waarvan die apostel Johannes in die boek Openbaring gepraat het? In Openbaring 17 het Johannes ’n tydperk beskryf wat oor eeue sou strek – van die Middeleeue af tot vandag – waartydens agtereenvolgende ryke tot stand gekom en tot ’n val gekom het. Dit lees soos volg: “Hier kom die verstand wat wysheid het te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:9-10). Johannes sê hier dat daar sewe leiers oor sewe opeenvolgende koninkryke sou wees. Wie was daardie leiers? Justinianus, wie die oostelike en westelike dele van die Romeinse Ryk in 556 n.C. verenig het; Charlemagne [Karel die Grote], wie in 800 n.C. gekroon is; Otto die Grote, wie as Heilige Romeinse Keiser in 962 n.C. gekroon is; Charles V in 1530 n.C.; Napoleon, wie se ryk in 1804 begin het en die Duits-Italiaanse alliansie, wat tot die Hitler-Mussolini-spilmoondhede van die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Hierdie is die eerste ses van die sewe konings. Die laaste koning sal oor tien ander konings regeer net voor Jesus Christus se Wederkoms en sal teen die Seun van God probeer veg. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:12-13).

Hierdie tien konings – of tien politieke leiers – sal vrywilliglik hulle gesag oorgee aan een magtige leier wat die Bybel die dier noem. Sien ons vandag dat dit begin gebeur? Ons sien sekerlik nie die Diermoondheid in sy finale vorm nie, maar sien ons die aanvangstadia van die fondament wat gelê word?

U mag dalk vra: Wat is daarmee verkeerd indien Duitsland ’n meer dominante rol op die Europese vasteland sou speel? Alles in ag geneem, is Duitsland dan nie een van Amerika se naaste bondgenote nie? Absoluut! Die Duitsers is die vriende van die Amerikaners – altans vir nou. Dit is egter goed om stil te wees en oor die feit ná te dink dat slegs 70 kort jare gelede, Brittanje, Frankryk, Amerika, Kanada en ’n hele klomp ander nasies in ’n bittere lewe-en-doodstryd met Duitsland en Italië gewikkel was. U Bybel sê dit sal weer gebeur.

Profesie # 2: Duitsland sal herbewapen

Sedert die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland beslis ’n anti-oorlogse houding en gesindheid gehad, soos wat hulle die gruwels van die verlede probeer afskud. Daardie ingesteldheid is egter besig om te verander. In 2014 het die Duitse minister van Ekonomie gevra vir “die vestiging van ’n EU-wapenbedryf met ’n sterk Duitse grondslag, onafhanklik van die V.S.A”. (“Driving Force for the EU Army”. German ForeignPolicy.com, 8 Desember 2014).

Die Verenigde State verwelkom tans Duitsland se nuutgevonde begeerte om te herbewapen en sy militêre mag te laat geld! Op 22 Junie 2015, by die Allianz-forum in Berlyn, het die Verenigde State se Sekretaris van Verdediging, mnr. Ashton Carter, Duitsland se stappe geprys om ’n groter militêre leierskaprol te aanvaar. Hy het die Duitsers aangespoor om selfs meer geld in verdediging te belê en gesê Duitsland behoort “sy verdedigingsbesteding op te knap ‘om te verseker dat Duitsland se verdedigingsbeleggings by Duitsland se leierskaprol pas’” (Sheryl Pellerin. “Carter Praises Germany’s Security Role, NATO Unity”. Defense.gov, 22 Junie 2015).

Natuurlik! Waarom sou die Amerikaners nie wou hê dat Duitsland meer van die las van sy eie verdediging deel nie? Die Verenigde State kan nie die hele wêreld polisieer nie. Amerika sit eerlikwaar met sy eie oorweldigende skuld opgesaal. Die Duitsers weet dat hulle nie op die langtermyn op die Verenigde State kan staatmaak nie. Duitsland beweeg so na ’n sterker weermag.

Hoe is dit besig om te gebeur? Weereens gee die Europese nasies nasionale soewereiniteit prys en ’n magsvakuum sal altyd gevul word. ’n Verslag wat deur die Foreign Policy-tydskrif gepubliseer is, het verduidelik hoe ’n groeiende aantal Europese lande besig is om sommige van hulle eie brigades by Duitsland se weermag, die Bundeswehr te laat inskakel:

Roemenië se 81ste Gemeganiseerde Brigade sal by die Bundeswehr se Rapid Response Forces Division aansluit, terwyl die Tsjeggiese 4th Rapid Deployment Brigade, wat in Afganistan en Kosovo diens gedoen het en as die Tsjeggiese Weermag se aanvalsmag beskou word, deel sal word van die 10de Pantserafdeling van die Duitsers. Deur dit te doen, sal hulle in die voetspore van twee Nederlandse brigades volg, waarvan een reeds by die Bundeswehr se Rapid Response Forces Division betrokke is en die ander een wat geïntegreer is in die Bundeswehr se 1ste Pantserafdeling (Elisabeth Shaw. “Germany is Quietly Building a European Army Under Its Command”. ForeignPolicy.com, 22 Mei 2017).

Hierdie artikel meld: “Carlo Masala, ’n professor in internasionale politiek aan die Universiteit van die Bundeswehr in München huldig die volgende opinie: ‘’n Mens kan sien dat die Duitse regering bereid is om met die Europese militêre integrasie voort te gaan’ – selfs al is ander op die vasteland nog nie bereid om dit te doen nie”.

Samesmelting – maar iemand is in beheer. Raai wie? Die Duitsers. Sien u wat besig is om te gebeur? Dit gebeur alles so stadig, vreedsaam en vir vreedsame doeleindes – soos die stryd teen terrorisme. Stadig maar seker is Duitsland egter besig om Europa polities en militêr te oorheers.

Indien ons niks gehad het om ons te lei nie, omdat ons nie profesie verstaan nie, sou ons Duitsland se herbewapening as ’n goeie ding kon sien. Wat kan beter wees as ’n magtige bondgenoot aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan? Veral een wat verbind is tot demokratiese beginsels, persoonlike vryhede en fiskale verantwoordelikheid. Die probleem is dat profesie van die finale opkoms van ’n antieke Europese nasie praat wat die wêreld in ’n militêre opbou sal lei soos ons nog nooit gesien het nie. Daniël hoofstuk 11 gee besonderhede van 2,500 jaar se profesie, van die tydperk van die Persiese Ryk af tot die Wederkoms van Jesus Christus. Een van die hooftemas van die hoofstuk is die voortdurende konflik tussen die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide”. Die toekomstige Diermoondheid van Europa sal daardie rol as die “koning van die Noorde” vervul. Dit is hoe Daniël hom beskryf: “En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou. Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer” (Daniël 11:37-38).

Daniël sê dat hierdie Europese koning van die Noorde eintlik ’n “god van vestings” – van “magte” of “vestings” sal aanbid. Hierdie ryk sal so daarop ingestel wees om die magtigste wapentuig op aarde te verkry en te ontwikkel dat die Bybel dit beskryf as dat hy feitlik sy eie militêre vaardigheid sal aanbid. Wie gaan dit wees? Nie die Verenigde State nie. Nie met sy verbysterende skuld nie. Inteendeel, dit sal ’n toekomstige Duits-geleide Diermoondheid wees wat die leiding sal neem in ’n wêreldwye wapenwedloop wat Amerika, Brittanje en hulle bondgenote jammerlik sal agterlaat.

Waarom is dit belangrik? Omdat die magsbalans besig is om te verskuif. Ons wêreld is besig om te verander en die standaarde van die laaste paar dekades gaan verdwyn!

Profesie # 3: Duitsland sal oorlog gaan voer

Soos hierbo genoem, sal Duitsland weer op ’n vreesaanjaende manier herbewapen. Daardie wapens sal in die toekoms in verskriklike oorloë gebruik word. Let op wat in Daniël 11:39-40 staan: “So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ’n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel. Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.”

Daniël verduidelik dat die koning van die Noorde – die Europese Diermoondheid – met Duitsland as sy kern, oorlog sal voer. Dit sal die Midde-Ooste binneval, ’n Islamitiese konfederasie – die koning van die Suide – oorweldig en Jerusalem beset. Daar sal oorlog wees. Die spanning wat nou besig is om op te bou tussen die noorde en suide, Europa en die Moslemwêreld, sal in vlamme uitbars.

Wat sal met die Verenigde State gebeur? Amerika sal ook deur hierdie Europese reuse-mag oorweldig word. Jesaja skryf dat God Assirië – moderne Duitsland – sal gebruik om Amerika vir sy sondes te straf. Jesaja 10:5-6 sê: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate”. Gedurende antieke tye is dit wat Assirië gedoen het. Hulle het die noordelike koninkryk van Israel in 721 v.C. verower en die hele volk in ballingskap weggevoer.

Daar is egter ’n tweeledige vervulling. Die antieke stamme van Israel word vandag in Amerika, die Britse Gemenebes en Noordwes-Europa gevind – nasies toenemend met sondige, onsedelike gedrag gevul. God sal ’n skrikwekkende, oorlogsugtige volk gebruik om hulle te korrigeer, net soos wat Hy in antieke tye gedoen het. Assirië – moderne Duitsland – sal dit doen. Hoe kan ons so seker wees? Volg die profesie. Lees in Jesaja 27:13: “En in dié dag sal daar met ’n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.”

Teen die einde van die tydperk, wanneer die laaste basuin geblaas word, sal daar ’n versameling van mense wees. Hulle sal versamel word uit gevangenskap vanuit die land Assirië. Dit is duidelik dat hier van die Wederkoms van Jesus Christus gepraat word. Daar kan nie hier van antieke Israel gepraat word nie – hulle het nooit uit Assirië teruggekeer nie. Dit sal ’n profesie van ’n toekomstige gebeurtenis moet wees.

Duitsland sal herbewapen. Duitsland sal Europa oorheers en Duitsland sal veg. Dit is die waarskuwing vir die Duitsers asook vir diegene wat deur hulle oorrompel sal word. Daar is egter ook goeie nuus!

Profesie #4: Bekering en herbouing

Nadat Duitsland die Israelitiese en Islamitiese nasies oorwin het, sal dit teen ’n massiewe horde uit die Ooste veg. Dit is die gevreesde Derde Wêreldoorlog en die gevolg van hierdie militêre botsing sal wees dat een-derde van die mensdom doodgemaak sal word (Openbaring 9:12-19)! Die leërs sal uiteindelik almal saamsmelt vir wat algemeen bekend staan as die “Slag van Armagéddon” en hulle sal by Megiddo, noord van Jerusalem, bymekaarkom om teen ’n derde mag te veg – die terugkerende, verheerlikte Jesus Christus. Dit sal egter nie veel van ’n geveg wees nie. Hy sal hulle oorwin, hulle leërs heeltemal vernietig en die Dier en die valse profeet in die poel van vuur gooi (Openbaring 19:20).

Wat egter volgende gebeur, is ’n belangrike sleutel wat hoop aan die Duitse volk gee! Na hierdie verskriklike geveg – nadat die opstandige mensdom verneder en gekorrigeer is – sal daar oorlewendes wees. Jesus Christus sal die oorlewendes uit die land Assirië [Duitsland] en uit ander plekke versamel. Hulle sal kos en water kry. Hulle sal van hulle wonde en beserings genees word. Jesus Christus sal ’n proses van heropbou oor die hele wêreld begin. Huise en landerye sal aan mense gegee word en hulle sal ’n kans kry om opnuut te begin. Hierdie keer sal hulle egter die ware God en Sy waarheid ken en hulle sal toegang tot Sy Heilige Gees hê. Dinge sal beter raak.

Let op ’n verrassende profesie in hoofstuk 19 van die boek Jesaja. Die tydsberekening is gedurende die vroeë deel van die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus, nadat Hy na die Aarde teruggekeer het. Jesaja 19:22-23 sê: “En die Here sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hulle tot die Here bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees. In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien.”

Dit is ’n verstommende profesie! Dit voorspel ’n tyd van vrede na die Derde Wêreldoorlog. Daar sal vrede tussen die nasies wees wat teen mekaar geveg het en wat teen die terugkerende Jesus Christus geveg het! Daar sal vrede wees. Nie net dit nie, maar die Duitsers, Arabiere, Amerikaners, Britte en ander nasies sal saamwerk aan die heropbouing van die samelewing. Soos Jesaja sê: “In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:24-25).

Wat ’n wonderlike prentjie van die toekoms! Dit sal gebeur aan die begin van die millennium, wanneer Christus alle weerstand tot niet gemaak het. God haat Duitsland nie – Hy het die Duitse volk lief! Die Bybel toon ook dat Hy die geweldige krag en talente van die Duitsers sal gebruik om die wêreld te help herbou nadat hulle hulle bekeer het.

Die waarskuwing vandag is vir moderne Israel, maar ook vir die Duitse volk. Hulle word gewaarsku om nie nog ’n keer in ’n stelsel ingetrek te word wat weer sy lelike kop – met rampspoedige gevolge – kan uitsteek nie. Die boodskap is ook dat God, wanneer dit alles verby is, ’n liefdevolle God is en Hy alle mense na Homself sal trek. Die nasies sal begin om te herstel en daardie poging sal deur Israel, Egipte en Duitsland gelei word – vyande aan die einde van hierdie tydperk, maar bondgenote in die een wat aan die kom is.

God se plan is ontsagwekkend en Bybelse profesieë bring dit alles in plek. Indien ons God toelaat om dit alles uit te lê en ons dit met ’n gewillige hart en verstand kan aanvaar, is dit so duidelik om te sien. Kom ons dank God vir Sy genade, krag, mag en wysheid. Hy sal toelaat dat die magtige nasies op aarde belangrike lesse geleer word. Op die ou einde sal Hy genade aan almal betoon wat dit wil hê, wat Sy weg aanvaar en aan Hom gehoorsaam is. Dít is waarna ons kan uitsien: ’n Dag van geprofeteerde vrede vir alle nasies en dit sluit Duitsland in.