’n Steengroef is ’n plek waar klip vir konstruksiedoeleindes gemyn word. In die Verenigde State, byvoorbeeld, is die state van Suid-Carolina, Noord-Carolina en Georgia bekend vir hulle hoë-gehalte granietgroewe. Klip van hoë gehalte kan ook op baie ander plekke regoor die wêreld gevind word. ’n Deftige huis kan ’n graniet blad van Brasilië of travertyn vloere uit Italië of Turkye hê. Klip word oor die hele wêreld vir konstruksiedoeleindes uitgegrawe.

Net ’n paar mense verstaan deesdae dat God Sélf besig is met ’n werk soos in ’n steengroef. Wat beteken dit vir diegene wat daarna streef om op hulle geestelike reis as Christen vordering te maak?

 

Stille konstruksie

Die tempel wat koning Salomo gebou het, was op ’n merkwaardige manier gebou.

“Verder het koning Salomo uit die hele Israel die dwangarbeiders laat opkom, sodat die dwangarbeiders dertigduisend man was. En hy het hulle gestuur na die Líbanon, tienduisend elke maand by beurte; een maand was hulle op die Líbanon, twee maande tuis; en Adoníram was oor die dwangarbeid. Salomo het ook sewentigduisend draers en tagtigduisend klipkappers op die gebergte gehad, behalwe die hoofopsigters van Salomo wat oor die werk was, drieduisend-driehonderd wat bevel gevoer het oor die mense wat die werk doen. En die koning het bevel gegee om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê. En die bouers van Salomo en die bouers van Hiram en die Gibliete het dit gekap en die boomstamme en die klippe bewerk om die huis te bou ... En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie” (1 Konings 5:13-18; 6:7).

Wanneer mens ’n tipiese konstruksieterrein besoek – byvoorbeeld ’n huis wat besig is om gebou te word – is daar baie geraas. Hamers of gereedskap om spykers in te kap op planke veroorsaak ’n algemene lawaai as gevolg van die werksaamhede van die werkers. In antieke tye was dit nie anders nie. Gedurende Salomo se leeftyd – die vroeë Ystertydperk – moes bekwame klipmesselaars die boumateriaal, waarvan baie klip was, in boublokke sny en met ysterhamers en beitels vorm, om in te pas. Klip sou by die steengroef grof gesny word en dan op die terrein fyner afgewerk word.

Die Bybel meld dat daar tienduisende werkers betrokke was, maar die konstruksiebestuur was anders as die standaardpraktyke van daardie tyd; die klip is nie net by die steengroef uitgekap nie, maar ook daar afgewerk. Dit sou vereis het dat die werkers wat die groot klipblokke moes afwerk, presiese mates gehad het waarvolgens hulle moes werk. Dan kon die voltooide klip na die tempelterrein vervoer word en sonder verdere werk met ’n hamer, ’n beitel of ander gereedskap, in plek geplaas word. Die konstruksieterrein vir Salomo se tempel was stil in vergelyking met dié van die meeste projekte in sy én ons tyd.

 

’n Derde Tempel?

Die glorieryke tempel wat Salomo gebou het, is omstreeks 586 v.C. deur die Babiloniërs vernietig. “En al die voorwerpe van die huis van God, groot en klein, en die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koning en van sy vorste, alles het hy na Babel gebring. En hulle het die huis van God verbrand en die muur van Jerusalem omgegooi en al die paleise daarvan met vuur verbrand, sodat al die kosbare voorwerpe daarvan vernietig is” (2 Kronieke 36:18-19).

Met Juda se teruggekeer na Jerusalem, gedurende die tyd van Esra en Nehemía, het hulle ’n tweede tempel gebou wat glad nie so glorieryk soos die eerste een was nie. “Maar baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is, terwyl baie met gejuig, met blydskap die stem verhef het” (Esra 3:12). Die tweede tempel is grootliks deur Herodes in Jesus se tyd uitgebrei, maar is in 70 n.C. deur die Romeine vernietig. Die westelike keermuur van die tempelberg bestaan steeds in die vorm van groot klippe wat deur Herodes die Grote daar geplaas is en die “Klaagmuur”, soos dit dikwels genoem word, staan bekend as ’n belangrike geestelike heiligdom vir die Jode.

Sommige mense het al gevra of daar ’n derde tempel op die Tempelberg gebou sal word voordat Christus terugkom. Die Bybel sinspeel daarop dat dit wel sal gebeur – hoewel dit nie gebou hoef te word vir die offerandes om te begin nie. In Esra se tyd is die offerandes hervat sodra die priesterskap geheilig was, wat plaasgevind het voordat die fondament van die tweede tempel gelê is. “Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die Here te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die Here nog nie gelê was nie” (Esra 3:6).

Dit het egter jare geneem om die eerste en tweede tempel te bou. Is dit moontlik dat die derde tempel reeds gedeeltelik kan bestaan? Sommige mense dink dat dit wél bestaan en baie vinnig saamgevoeg kan word uit reeds voltooide komponente. Organisasies soos die “Temple Mount Faithful” het groot hoekstene gesny en bakke, klere en ander items voorberei wat nodig is vir die diens van die tempel om te begin. Hulle het selfs probeer om ’n hoeksteen na die Tempelberg te neem. Dit is egter onbekend aan die wêreld of die hele derde tempel moontlik reeds in komponente iewers regoor Israel bestaan.

Om die offerandes te begin, sou dit nodig wees dat die priesterskap heringestel en geheilig word. Die proses van heiligmaking word in Númeri 19 beskryf.

 

Die Tempel van God bestaan tans

God stel egter die meeste belang in ’n heeltemal ánder soort tempel. “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees” (Efésiërs 2:19-22). Die grootste van alle tempels is dit wat geestelik is en gevorm is deur die mense van God se ware Kerk.

Die apostel Petrus werp meer lig op ons Skepper se uiteindelike konstruksieprojek:

“Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling – vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is” (1 Petrus 2:4-10).

God het Sy bouplanne. Christus is die belangrikste Hoeksteen en die Apostels en profete is die fondament. God se verwekte kinders is “lewende stene” en elkeen het ’n plek in die struktuur, wat “goed saamgevoeg en goed saamverbind” is (Efésiërs 4:16).

Ons moet egter bepaal watter soort stene ons verkies om te wees. Let op die apostel Paulus se waarskuwing aan die Kerk in Korinthe:

“Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Korinthiërs 3:9-15).

Ons is almal besig om gevorm en gepoleer te word vir ons plek in daardie uiteindelike tempel as lewende stene – weg van die finale terrein in Jerusalem. Wat is dit van ons wat gevorm word? Elke beproewing wat ons het, elke moeilike keuse, elke daad van liefde of genade maak saak vir ons en vir God. Dit is omdat dít wat ons doen ons verander. Die keuses wat ons maak, beïnvloed ons karakter. Dit is nodig om die wil en karakter van ons Vader en Jesus Christus te hê.

’n Mens se wil is die krag om te kies. Kinders sal gewillig gehoor gee wanneer hulle gevra word om iets te doen wat hulle wíl doen, soos om ’n roomys te kry. Wanneer hulle egter aangesê word om iets te doen wat hulle nie wil doen nie, byvoorbeeld om hulle slaapkamer skoon te maak of speelgoed op te tel – leer hulle om hulle wil aan hulle ouers se wil ondergeskik te stel. Wanneer hulle volwassenes word, sal kinders wat korrek opgevoed is, van nature begeer om die regte dinge te doen wat hulle eens teëgestaan het.

Eweneens, wanneer Christene God moet gehoorsaam, stel ons ons wil ondergeskik aan Sy wil. Indien ons God toelaat om ons wil te verander, begin ons om keuses soos Syne te maak. Met verloop van tyd word ons wil meer en meer soos Sy wil. Waarlik, God bou Sy heilige, regverdige karakter in elkeen van ons. Elke keer wanneer ons ons wil uitoefen volgens Sy wil, deur Sy Wet van liefde te gehoorsaam, word ons verander en Sy Heilige Gees werk daagliks in ons om ons te verander. Selfs ons beproewings kan tot ons voordeel strek: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Dink aan ’n meesterbouer wat met sy beitel en hamer aan ’n blok van klip werk – wat aan die een kant afsplinter en die ander kant poleer. Soms kan hierdie proses ongerieflik wees vir ’n “lewende steen”, maar dit is nietemin produktief!

 

Waar is God se Tempel vandag?

In “steengroewe” regoor die wêreld word hierdie lewende stene voltooi en gereed gemaak vir finale vervoer om inmekaar gepas te word in Jerusalem. Die stene van die eerste tempel is in steengroewe regoor Judea gevorm, maar die lewende stene vir die uiteindelike tempel van God word regoor die wêreld gevorm; die tempel van God bestaan oral waar God Sy volk geroep het. Christus sal kom en Sy uitverkorenes – Sy opgestane en onsterflike broers – versamel van al die plekke wat Hy met hulle gewerk het, selfs tot in die uithoeke van die aarde.

Christus werk met elkeen van ons – kerf ’n stukkie hiér af, poleer ’n bietjie dáár. Hy doen dit met elke Bybelse waarheid wat ons hoor en elke beproewing wat ons verduur. Dink aan watter soort steen u verlede jaar was, watter soort steen u vanjaar is en watter soort steen u volgende jaar gaan wees. Sal u ’n edelgesteente en ’n pilaar in daardie tempel wees? Onderwerp u uself aan die wil en vaardigheid van die Meesterbouer, Jesus Christus, wat self die belangrikste Hoeksteen is?