Ek onthou dat ek as tiener getuie was van ’n verstommende verskynsel in die middel van die 1970’s. ’n Ondernemende Kaliforniese adverteerder het, wat hy “die volmaakte troeteldier” genoem het – die Troetel-Klip – bemark en verkoop. Verpak in ’n klein kartondosie, vol gaatjies vir asemhaling, was ’n gewone klip genestel in strooi. Elke klip is met sy eie “geboortesertifikaat” uitgereik asook ’n handleiding: Die versorging en opleiding van u Troetel-Klip, waarin instruksies was van hoe om jou klip te leer om te “bly”, “om te rol” of “dood te speel”.

Troetel-Klippies het baie gewild geword in die laaste maande van 1975 en het hulle skepper ’n miljoenêr gemaak, maar die gier het vroeg in 1976 tot ’n einde gekom, namate die verkope dramaties afgeneem het.

Dít is die patroon van ’n gier, wat die HAT, Vyfde Uitgawe 2005) definieer as “’n sterk begeerte, drang of drif”. Dit is ’n praktyk of belangstelling wat vir ’n tyd lank met oordrewe ywer nagevolg word. Hierdie definisie beskryf akkuraat ook baie ander gebruike wat op ’n golf van gewildheid ry, maar uiteindelik hulle momentum verloor.

Giere is altyd met ons

Die waarheid is, giere kom te alle tye voor. So moeilik as wat dit is om te glo, is daar tans gewilde vermaak-kunstenaars, mode-tendense en televisie-programme wat eendag uit die mode sal wees. Gedurende die Troetel-Klip era was ek geklee in 10 cm-hoë platformskoene en ’n poliëster sweetpak, met ’n goue ketting om my nek! Ek kan u verseker dat ek nie meer sulke klere dra nie.

Nog ’n werklikheid in verband met giere is dat sommige van hulle, soos Troetel-Klippe en sweetpakke, geen blywende negatiewe gevolge het nie. Ongelukkig het sommige giere egter wel ’n langtermyn uitwerking, wat vir die res van ons lewens by ons kan bly en selfs blywende berou bring aan diegene wat daaraan deelgeneem het.

Dink maar aan die onlangse oplewing en belangstelling in die ou praktyk van tatoeëring. Vir baie jare lank het tatoeëermerke ’n negatiewe konnotasie gehad, omdat dit oor die algemeen geassosieer was met matrose, motorfietsryers en bendelede. Meer onlangs het ’n 2012-meningspeiling egter bevind dat soveel as een uit elke vyf (21%) volwassenes in die Verenigde State ten minste een tatoeëermerk het – dit is ’n skerp styging van die 14% teenoor wat in 2008 gerapporteer is (The Harris Poll, 23 Februarie 2012). Ink het so alledaags geword, dat dit nie ongewoon is om oumas te sien wat met tatoeëermerke spog nie! Eerder as subtiele, maklik versteekbare tekens, gaan baie mense deesdae na die salon om groot dele van hulle liggame met ingewikkelde en minderwaardige “liggaamskuns” te bedek.

Maak u merk?

Merke wat op die vel gedoen is word in baie verskillende beskawings beoefen en dateer terug tot ten minste so ver as 3,000 v.C. (Tattoos: The Ancient and Mysterious History, Smithsonian.com, 1 Januarie 2007). Die redes waarom mense tatoeëermerke laat aanbring, blyk so talryk as hulle kulture te wees en dien as maniere “om beskermende of terapeutiese simbole op die liggaam aan te bring, sowel as ’n wyse om mense te onderskei vir toepaslike sosiale, politieke of godsdienstige groepe, of bloot as ’n vorm van self-uitdrukking of ’n mode-standpunt” (ibid.).

Deesdae sê dié wat ge-ink is dikwels dat hulle tatoeëermerke hulle oulik, aantreklik, sterk of spiritueel laat voel (The Harris Poll, 23 Februarie 2012). Daar bly egter ’n element van kulturele uittarting verbonde aan tatoeëermerke. Hierdie selfde peiling berig dat 25% van die respondente sê hulle voel opstandig wanneer hulle tatoeëermerke het – die helfte van diegene sonder ’n tatoeëermerk beskou mense met tatoeëermerke as meer opstandig.

Hierdie bevindings lei tot ’n belangrike persoonlike vraag vir diegene wat daaraan dink om onder die naald te gaan: “Wat is my motivering?” Mense kan hulle begeertes maklik goedpraat en hulle bied baie redes aan waarom hulle tatoeëermerke wil hê. Is hulle begeertes regtig hulle eie, of swig hulle voor groepsdruk om “in te pas” by die groep of om “cool” te wees deur ’n tatoeëermerk te hê?

Richard Sawdon Smith, ’n professor aan die Departement Kuns en Media aan die Londense Southbank Universiteit – wat self tatoeëermerke het – slaan die spyker op die kop wanneer hy verduidelik waarom baie mense tatoeëermerke het: “Dit is eintlik byna soos ’n manier om myself te bemagtig deur te sê: ‘Dit is my liggaam en ek is in beheer daarvan’” (Would you hire a tattooed employee?, BBC Newsnight, 4 September 2013).

Ja, tatoeëermerke is ’n kragtige persoonlike verklaring en hulle verkondig ’n “ek eerste”-gesindheid wat nie omgee om jou “in die gesig te vat” deur te wys hoe trots hy of sy op hulle eie liggaam is, vir almal om te sien nie. Vir diegene wat God volg is die benadering van “myself eerste” presies die teenoorgestelde as die uitgaande besorgdheid teenoor ander mense, wat God se liefde omskryf. Die apostel Paulus skryf: “... die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie ...” (1 Korinthiërs 13:4-5). Daardie soort liefde is nie wat die meeste mense assosieer met ’n tatoeëermerk nie!

Dit is nie ook net ’n Nuwe-Testamentiese perspektief nie. Lank gelede het God Sy mense beveel: “Julle mag ook ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Levitikus 19:28). As die ontwerper van die menslike liggaam, verklaar God dit as “baie goed” nadat Hy die man en vrou geskep het – sonder tatoeëermerke (Genesis 1:31)!

Dink aan die gevolge

Nie lank gelede nie het ’n man in trane na my gekom en sy berou beskryf oor die tatoeëermerke wat albei sy arms bedek. Hy was geklee in ’n langmouhemp, te skaam om, wat hy die “bose” merke genoem het, aan my te wys; dit wat hy eens op ’n tyd gedink het “wonderlik” was. Hy was baie jonger toe hy sy tatoeëermerke gekry het en het onlangs van gesindheid verander. Hy het ondersoek ingestel na dienste om die tatoeëermerke te verwyder, maar die koste sou duisende dollars bedra en nie heeltemal effektief wees nie. Hierdie dilemma was die rede vir sy trane.

Baie mense wat tatoeëermerke kry wanneer hulle jonk is, vind later uit dat hulle nie maklik ’n goeie werk kan kry nie, aangesien baie werkgewers nie werknemers in diens wil neem met opsigtelike tatoeëermerke nie. Sommige mense kan die koste en die pyn van tatoeëermerk-verwydering bekostig, maar ander het geen keuse nie as om met die sigbare bewyse van ’n besluit wat hulle later berou het, saam te leef (Teenagers get rid of their tattoos—and start a new life, BBC News, 14 Augustus 2013).

Gelukkig is al hierdie dinge onnodig vir diegene wat wys genoeg is om verby die huidige gewildheid van ’n gier te kyk en te konsentreer op hulle toekoms: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3).