Die “Aangaande ons”-bladsy van die CSA-Groep se amptelike webwerf lui:CSA Group is ’n globale organisasie wat toegewy is aan veiligheid, maatskaplike welsyn en bystand. Ons is ’n leier in standaardontwikkeling en in toetsing, inspeksie en sertifisering regoor die wêreld, wat ook Kanada, die V.S., Europa en Asië insluit. Ons mandaat is om die toekoms op ’n hoër standaard te hou” (CSAGroup.org, 2024).

Die CSA-Groep streef daarna om ’n verskil in die wêreld te maak, wat duidelik blyk uit sy verhewe doelwit om die toekoms op ’n hoër standaard te handhaaf. CSA is ’n akroniem vir Canadian Standards Association. Alhoewel die CSA-Groep nou toetse, inspeksie en sertifisering uitvoer, is dit sedert sy ontstaan betrokke by die ontwikkeling van standaarde.

Die CSA-merk is duidelik herkenbaar en word gevind op miljarde produkte, handelswyse en dienste wat binne Kanada versprei word – dit word erken en dwing respek af. Daardie merk, met sy kenmerkende logo, dui aan dat die produk, proses of diens streng volgens spesifieke standaarde getoets is en aan die vereistes van daardie standaarde voldoen. Kanadese se veiligheid en gesondheid is aansienlik verbeter deur die standaarde wat deur die CSA-Groep ontwikkel is.

Orde uit chaos

’n Standaard word gedefinieer as iets wat deur ’n spesifieke gesaghebbende organisasie ingestel is as ’n vasgestelde reël om hoeveelheid, gewig, omvang, waarde of kwaliteit te bepaal. Sommige sinonieme vir ’n standaard is: riglyn, norm, maatstaf, ykmaat, rigsnoer, kriteria, handleiding, model, patroon, voorbeeld, reël en wet. Standaarde is beginsels van bestuur wat ’n gevestigde reël ondersteun.

Oor die algemeen laat ’n standaard ’n mate van aanvaarbare variasie of speling toe. Alhoewel die mate van variasie tipies redelik beperk is laat dit toe dat daar aan ’n standaard se kwaliteitspesifikasies voldoen kan word indien die finale resultaat steeds binne die toelaatbare grense is. Dit identifiseer ook potensieel gevaarlike “afwyk-spesifikasies” wat herverwerk of vernietig behoort word.

In ons daaglikse lewe kom ons baie produkte, prosesse en dienste teë wat voortspruit uit menslike vindingrykheid. Ons aanvaar as vanselfsprekend dat dit sal funksioneer maar ons oorweeg selde die standaarde wat daartoe bydra om ’n rol te speel om daardie funksionering te verseker. Standaarde bring orde en veiligheid in ons lewens en die meeste mense sou saamstem dat dit uiters noodsaaklik is. Konstruksiemateriaal, voertuie, brûe, vliegtuig-onderdele, broodroosters en tandeborsels werk beter en is veiliger as gevolg van standaarde. Deur die mense wat aan die spits staan van die CSA-groep, is Kanada al meer as ’n eeu lank ’n wêreldleier in die vasstelling van industriële standaarde.

In 1917, te midde van die afgryse en chaos van die Eerste Wêreldoorlog, was tegniese en veiligheidstandaarde van strategiese belang. Oorlogstoerusting wat deur Geallieerde nasies vervaardig is, wat nooit ontwerp of in die vooruitsig gestel is met internasionale versoenbaarheid in gedagte nie, was noodwendig op die slagveld vermeng. Resultate was frustrerend, verwarrend en soms dodelik. Gedurende daardie onstuimige tye het die idee posgevat om ’n organisasie tot stand te bring wie se taak dit sou wees om standaarde onder die Geallieerdes vas te stel en te koördineer. ’n Groep van Kanada se voorste ingenieurs het dié uitdaging aangepak.

Wat begin het as ’n poging gedurende die oorlog om toerusting te standaardiseer, het nie met die oorlog geëindig nie. Kanada is ’n uitgestrekte land met uiteenlopende grondgebiede en klimaatstoestande. Die vereniging van die nasie en om dit ekonomies vorentoe ’n hupstoot te gee, het die volgende uitdagende doelwit geword. Die CSA – ’n nie-winsgewende, nie-regeringsorganisasie – is in 1919 gestig onder ’n federale handves om die veiligheid van Kanada se infrastruktuur te verbeter (CSA Group, 100 Years of Holding the Future to a Higher Standard: The CSA Group’s Centennial Anniversary 2019, bll. 5-6).

Aanvanklik het die CSA gefokus op spoorwegbrûe en elektrisiteit wat uiters noodsaaklik was om die land te verenig. Daardie geleentheid het gou uitgebrei om vliegtuig-onderdele en draadkabels in te sluit en het selfs verder uitgebrei na huishoudelike, industriële en mediese produkte. Met die verloop van jare het dit voortgegaan om uit te brei en aan te pas by die veranderende behoeftes van die Kanadese ekonomie. Vandag het die CSA se omvang nog verder uitgebrei om nywerhede soos energie (petroleum en kernkrag), gesondheidsorg, openbare veiligheid, inligting- en kommunikasietegnologie asook die omgewing in te sluit. “Die doelwit van die CSA-Groep se standaard ontwikkelings-organisasie is om die lewens van Kanadese te verbeter deur die bevordering van standaarde in die openbare en private sektore. Ons is ’n leier in standaardnavorsing, ontwikkeling, opvoeding en voorspraakmaak. Die tegniese en bestuurstandaarde wat saam met ons 10,000 lede ontwikkel is, verbeter veiligheid, gesondheid, die omgewing en die ekonomiese doeltreffendheid in Kanada en elders” (bl. 80).

Die CSA maak staat op ’n uitgebreide netwerk van duisende vrywillige lede – kundiges met grondige tegniese kennis en ervaring. Hierdie vrywilligers deel hulle vaardighede, begrip en ’n passie om ’n bydrae te lewer om standaarde te ontwikkel aangesien hulle weet dat dit wat hulle doen, ’n verskil maak. Dit is belangrike werk; die land se nywerhede sou nie effektief of doeltreffend kon funksioneer sonder standaarde nie. Baie van die standaarde wat ontwikkel is, het deel geword van Kanadese wetgewing, word in ambagskole onderrig en het “standaard” praktyke binne die industrie geword.

Alhoewel dit ’n Kanadese organisasie is, word die impak van die CSA wêreldwyd beleef. Dit werk saam met en benut die werk van organisasies soos die American National Standards Institute (ANSI), die Internasionale Organisasie vir Standaardisering (ISO) en die Internasionale Elektrotegniese Kommissie (IEC). Deur middel van hierdie vennootskappe beïnvloed die CSA ook konsekwentheid in die ontwikkeling van standaarde in ander lande en internasionaal. Die werk van die CSA maak ’n verskil in Kanada en elders.

God se standaarde

Het God standaarde? Ons kan na Sy skepping kyk en sien dat Hy wél standaarde het. Oral om ons sien ons orde, skoonheid en doel. Wanneer God iets bou, doen Hy ’n perfekte werk; Sy werk is van ’n hoë standaard. God het ons gebou; Hy is ons Skepper en Hy alleen het volledige tegniese kennis en ervaring oor hoe ons gemaak is en hoe ons die beste kan funksioneer. Hy het ons – anders as diere of plante – na Sy beeld en gelykenis gemaak. Omdat ons Sy beeld en gelykenis weerspieël, verwag Hy van ons om ons lewens volgens ’n hoër standaard te leef, wat reflekteer word in Sy Wette en insettinge.

In Job 1:8 vra God vir Satan: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.” Is dit hoe God óns sal beskryf? Doen ons kwaad of doen ons wat reg is in Sy oë? God stel die standaard; die enigste oordeel wat uiteindelik saak maak, is Syne. Hoe voldoen ons aan die hoër standaard wat God aan ons gegee het? Daardie standaard is noodsaaklik. Dit maak ’n verskil.

Ons is God se vakmanskap. Hy ken ons persoonlik. Wanneer ons Sy hoër standaard volg, sal ons gelukkige, oorvloedige en vervulde lewens lei. Ons lewens is nie ons eie nie; die fisiese lewe wat ons nou het, is ’n manifestasie van God se krag en behoort aan Hom. Hy sal op ’n stadium vra dat ons verantwoording doen oor wat Hy vir ons gegee het. Slegs diegene wat Sy Wette gehoorsaam en opreg daarna streef om gehoorsame lewens te lei binne die grense wat deur daardie Wette geskep is, sal Sy Koninkryk binnegaan. Binne die grense van God se volmaakte Wet is daar absolute vrede, veiligheid en vreugde. Ons behoort dankbaar te wees dat Hy aan Christene Sy Heilige Gees gee waardeur ons kan toeneem in genade, kennis en gehoorsaamheid aan Sy volmaakte standaard.

God se standaard vir ons word saamgevat in die Tien Gebooie wat ons leer hoe om God lief te hê en hoe om ons naaste lief te hê. Ons behoort hierdie hoër standaard te gebruik om persoonlik selfondersoek te doen en te sien hoe ons daaraan voldoen. Die Tien Gebooie is belangrik; dit is God se hoër standaard. Anders as die standaarde wat deur menslike organisasies soos die CSA gestel word, hoef die Tien Gebooie nooit hersien te word nie en daar is géén aanvaarbare afwyking daarvan nie – dit is tog letterlik in klip vasgelê, by God is daar “geen verandering of skaduwee van omkering [is] nie” (Jakobus 1:17).

U kan meer inligting verkry oor die hoër standaard wat God vir ons gestel het deur ’n gratis eksemplaar van Die Tien Gebooie by die streekkantoor naaste aan u te bestel, (lys van kantore op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of deur dit aanlyn te lees by wvm.co.za.