VRAAG: Waarom fokus die Wêreld van Môre op eindtydse gebeure en apokaliptiese onderwerpe in plaas van om te fokus op wat Jesus verkondig het? Is dit nie ongesond nie?

 

ANTWOORD: Die Wêreld van Môre-tydskrif fokus wel op die Evangelie wat Jesus Christus verkondig het – die Evangelie van die Koninkryk van God. Daardie Evangelie is ’n boodskap van hoop en voorspel ’n tydperk wanneer die mens in vrede en harmonie sal leef, onder die heerskappy van Jesus Christus. Baie mense wat hulleself Christene noem, verkondig slegs een deel van Sy boodskap – ’n boodskap oor die persoon van Christus, in plaas van oor wat Christus verkondig het. In teenstelling hiermee streef die Wêreld van Môre daarna om die “hele plan” van God te verkondig (Handelinge 20:27), wat die waarskuwing aan die wêreld insluit met betrekking tot wat sal kom, net soos Jesus gedoen het.

In vandag se geweldgeteisterde wêreld het die woord “apokalipties” konnotasies van verdoeming en voorbodes aangeneem. Die Griekse woord apokalupsis beteken egter bloot “openbaring” – dit is die titel van die laaste boek in u Bybel! Jesus Christus se woorde in die vier verhale van die Evangelie – sowel as die visie wat Hy in die boek Openbaring geïnspireer het – maak dit duidelik dat die boodskap wat Hy aan die mensdom gebring het, veel groter is, met meer besonderhede as wat die meeste mense glo. Hy het gekom om ’n boodskap oor Sy toekomstige Koninkryk te bring (Lukas 4:43). Hy het die wêreld egter ook gewaarsku oor die traumatiese gebeurtenisse wat die koms van daardie Koninkryk sal voorafgaan.

Nuuskierige dissipels

Christus se dissipels het Hom gevra hoe hulle die einde van hierdie tydperk sou kon identifiseer. Hy het geantwoord: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:5-14).

Geen ware Christen kan ontken dat Jesus ’n tyd van groot teëspoed vir die wêreld voorspel het nie. Hy het dit egter vir ’n positiewe rede gedoen, om ons te laat weet dat Sy Wederkoms totale menslike uitwissing sal voorkom (Matthéüs 24:22)! Sy Wederkoms sal ’n duisendjarige tydperk van gelukkige en vreedsame lewe op aarde onder Sy heerskappy inlui. Daarna sal God almal opwek wat nog nooit die verkondiging van Sy waarheid gehoor het nie, sodat hulle hul eerste geleentheid kan hê om gered te word (Openbaring 20:5-6). Dit is ’n boodskap van absolute vrede en hoop!

Daar is selfs ‘n wonderliker aspek verbonde aan Jesus se boodskap van hoop. Diegene wat Sy offer aanvaar en Hom toelaat om Sy lewe binne-in hulle te leef, sal Hom bystaan as konings en priesters wat die mensdom gedurende die Millennium sal dien (Openbaring 5:10). Wat beteken dit om Christus in ons te laat leef? Soos die apostel Paulus geskryf het: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Christene wat vandag deur die geloof van Christus leef, kry ’n voorsmakie van hoe die lewe in die Millennium onder Jesus Christus se heerskappy sal wees. Dit is ’n boodskap van hoop en dit is die ware Evangelie – die goeie nuus van die Koninkryk van God – wat Jesus Christus verkondig het. Dít is die fokus van die Wêreld van Mô