Vanjaar sal miljoene mense regoor die wêreld – met koddige maskers en kostuums, skrikwekkende beelde van monsters uit rolprente, suikerskedels en uitgeholde pampoene, grafoffers vir die dooies – Halloween, Allerheiligedag, Allersieledag en die Dag van die dode vier. Sal u dit doen?

Deesdae weet die meeste mense dat die moderne Halloween-feesvierings sy oorsprong het in antieke tradisies wat nog uit tye vóór Jesus Christus dateer – hulle het egter geen gewetensbesware daarteen om deel te neem aan ’n dag wat baie sterk op morbiede voor-Christelike bygelowe gebaseer is nie. Wat behoort dit vandag vir ware Christene te beteken?

Wat het die antieke Halloween-vierings behels? “Die twee hoofkenmerke van antieke Allerheiligeaand was om vreugdevure aan te steek en daarin geglo het dat dié nag van alle nagte in die jaar die een is waartydens geeste en hekse heel waarskynlik buite sal ronddwaal ... Dit was ook ’n Druïdiese oortuiging dat Saman, heer van die dood, op die vooraand van hierdie fees die goddelose siele bymekaargeroep het wat gedurende die afgelope twaalf maande veroordeel was om in die liggame van diere te woon” “Halloween,” Encyclopædia Britannica., 11de uitgawe, volume 12, bll. 857-858).

Hoe is dit dan dat belydende Christene, antieke Druïdiese gebruike begin volg het? In 610 n.C. het Pous Bonifatius die Feast of All Holy Martyrs ingestel, wat jaarliks op 13 Mei gehou was. In 835 het Pous Gregorius IV die viering oorgedra na 1 November – ’n datum wat hy as “Allersieledag” aangewys het ter ere van Katolieke geloofsmartelare. Watter aktiwiteite word met daardie dag geassosieer? Selfs vandag, in sommige Katolieke lande, is ’n gewilde volkstradisie dat mense se ontslape geliefdes jaarliks op hierdie dag, ook bekend as die “Dag van die dood” na hulle vorige tuistes terugkeer. The National-koerant het ’n tradisie van die Filippyne beskryf, waar “duisende geregte liefdevol voorberei word vir mense wat dit nie kan eet nie. Elke jaar op 1 November, op Allerheiligedag, word begraafplase regdeur die land oorval met mense wat die gunstelingkos van hulle afgestorwe geliefdes aandra” TheNationalNews.com, 1 November 2020).

Die 2 November-fees wat bekend staan as “Allersieledag” is “gebaseer op die (Rooms-Katolieke) lering dat die siele van die getroues wat ten tye van hulle dood nie gereinig is van hulle daaglikse sondes nie óf nie versoening gedoen het vir vorige oortredings nie, nie die saligverklaring kan bereik nie en dat hulle gehelp mag word om dit te verkry deur gebed en deur die bediening van die mis” (“All Souls Day,” Encyclopædia Britannica, 11de uitgawe volume 1, bl. 709). Dit is veronderstel om ’n proses te wees waardeur diegene wat leef, seremonies kan uitvoer om op een of ander manier die toestand van die oorledene te verbeter.

Al hierdie “feeste van die dooies” is gebaseer op dieselfde algemene tema – om met die dooies te kommunikeer, gerus te stel, te dien en selfs te aanbid. Is sulke gebruike op die Bybel gebaseer? Behoort Christene dit vandag te vier? Wat sê God hiervan?

 

Waar is die dooies nou?

Baie antieke godsdienstige tradisies is van mening dat die dooies iewers anders as in die graf is. Baie mense neem aan dat die afgestorwe dooies in die hemel, in die hel óf in ’n soort intermediêre bewuste toestand is. Die Bybel sê tog duidelik vir ons waar die dooies werklik is.

Let op wat die apostel Petrus op Pinksterdag gesê het: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:29, 34).

Koning Dawid het nie na die hemel opgevaar nie. Die apostel Petrus, het eeue na Dawid se dood bevestig dat Dawid steeds in sy graf is waarin hy na sy dood geplaas is en op die opstanding wag. Wat ’n kontras is Petrus se woorde met betrekking tot hierdie verkeerde oortuiging wat so algemeen is onder deesdae se belydende Christene nie – naamlik dat die heiliges op die oomblik vanuit die hemel na ons afkyk!

Wat is die dooies dan besig om te doen? Die antwoord is nie geheimsinnig of spookagtig nie. Die dooies “slaap” eenvoudig in hulle grafte – sonder enige bewustheid en wag om tot opstanding geroep te word. Wat sal gebeur wanneer Christene uit die dood opgewek word? Die apostel Paulus verduidelik: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).

Dit is geweldig bemoedigend indien ons die waarheid oor die dood en opstanding verstaan soos dit in die Bybel geleer word. Ons hoef ons nie te bekommer of onsself te verwar met die vreesaanjaende bygelowe wat deur die “feeste van die dood” opgedis word nie.

 

Kommunikeer met dooie mense?

Indien die dooies sonder enige bewussyn in die graf is – nie op en wakker as liggaamlose geeste in die hemel of elders nie, kan ons dan met hulle kommunikeer? Keer afgestorwe familielede wérklik terug na hulle lewende familielede op die “dag van die dood”, soos wat sommige mense glo? Wat sê die Bybel?

Salomo verduidelik dat “die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die regverdige koning Dawid het uitgeroep om uit gevaar gered te word en toe het hy God daaraan herinner: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” (Psalm 6:6). Salomo en Dawid het albei verstaan dat mense se bewussyn by die dood eindig.

Die Bybelse weergawe van koning Saul se séance verwar soms lesers wat toevallig daarop afkom en dan vrae het oor geeste wat na die dood bestaan. Met die eerste oogopslag kan ’n mens dalk dink dat ’n towerheks van Endor die gees van Samuel op koning Saul se versoek opgeroep het (1 Samuel 28:8-15). Het hierdie dodebesweerster egter werklik vir Samuel teruggebring? Die Skrif verduidelik dat Saul “begryp” het dat dit Samuel was (vers 14). Die beskrywing wat die dodebesweerster aan hom gegee het, was bloot van ’n “ou man ... kom op met ’n mantel” – klaarblyklik ’n onrein gees wat in ’n gedaante, baie soos Samuel s’n, verskyn het. Die Skrif toon dat leuengeeste wel uitgaan om te mislei, net soos hierdie een wat probeer het om Saul te mislei (vergelyk 1 Konings 22:22-23).

Ja, die Bybel toon duidelik dat ons nie met die dooies kán kommunikeer nie. Die dooies is nie bewus van lekkernye of offergawes wat na hulle grafte gebring word nie. Hulle hoor nie en vind nie baat by gebede wat tot hulle of namens hulle gedoen word nie.

Aan die ander kant sien ons wél uit daarna om ons geliefde vriende en familie in die opstanding te sien en dit is sekerlik reg om die nagedagtenis van ’n afgestorwe familielid of vriend by ’n begrafnisdiens  te eer – veral ter wille van die treurende naasbestaandes. Ons “eer die nagedagtenis” van ons afgestorwe ouers en grootouers – nie deur snuisterye by hulle grafte te los of te hoop om hulle geeste in ons huise te verwelkom nie, maar deur hulle opbouende raad en voorbeeld te volg en deur hulde te bring aan die goeie naam wat hulle gevestig het terwyl hulle geleef het.

 

Goeie, skoon pret?

Sommige mense mag sê “ek glo nie in al daardie sinnelose gebrabbel nie. Ek hou net daarvan om pret te hê op ’n vakansiedag”. Is daar werklik iets verkeerd met die hedendaagse Halloween-gebruike wat ons oor die algemeen sien? Kan daar enige probleem wees met fantasiekostuums, spookstories en om smaaklike lekkernye te versamel? Behoort ons geamuseerd te wees deur plastiese, battery-aangedrewe “kabouters” wat verbygaande kopers in ’n afdelingswinkel aangluur? Niemand neem tog vandag al die “vreesaanjaende” bog ernstig op nie, nie waar nie?

Daardie benadering is heel moontlik sélf deel van die probleem. Die geesteswêreld behoort ernstig opgeneem te word. Dit is ’n werklikheid en dit is gevaarlik vir die niksvermoedende mense. Die gevare van die okkulte word nogtans dikwels tot die status van ’n lawwe speletjie afgewater, asof ons onskadelik kan saamspeel as ons net “geesdriftig kan raak”.

Miljoene mense probeer sekerlik net dit doen. Selfs die kundige huisversierder, Martha Stewart, gee raad oor hoe om u grasperk met flikkerende pampoene te versier om ’n spookagtige omgewing vir pret te skep. Sy verklaar: “Die opwinding van Allerheiligeaand is in die lugruim – die atmosfeer is gelaai deur die skouspel en geluide en vrese wat aan die nag behoort ... Waarna ons op soek is is om die vakansie se blink en gloeiende geeste te klop met hulle eie spel, om hulle bedreiging uit die weg te ruim deur dieselfde palet van skerp amberkleurige en swart skaduwees te gebruik om ons bang te maak” (Halloween: The Best of Martha Stewart Living, 2001, bll. 13-14).

God sê egter nie vir ons om ’n bespotting te maak met interaksie met die geesteswêreld nie. Hy sê nie vir ons om moderne weergawes van antieke Druïdiese rituele uit te voer nie. Hy sê eerder: “ ... weerstaan die duiwel. en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:7-8). God adviseer ons om bewus te wees van die duiwel se planne sodat ons sy strikke kan vermy (2 Korinthiërs 2:11). Die Skrif herinner ons dat Christene in ’n “worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12).

 

God se weë of heidense feesvierings?

Halloween vier onheil. Dit word beskou as ’n tyd om ’n mens se inhibisies oorboord te gooi en reëls te verontagsaam. Skrywer Hugo Slim herinner ons: “Allerheiligeaand behou steeds baie van die ou voor-Christelike speletjies en rituele as deel van sy feestelikhede. Speletjies wat appels, fantasiekostuums en vergelding behels, word steeds tydens elke Allerheiligeaand deur kinders geniet” (A Feast of Festivals, 1996, bl. 176). Hy gaan voort deur te sê: “Die kamoeflering van fantasiekostuums en pampoenlanterns het ook die perfekte dekking verskaf om ’n vyand terug te betaal. Allerheiligeaand het dus ’n onvermydelike en aanvaarbare tyd geword om geskille van die verlede uit die weg te ruim deur die antieke gewoonte van ‘trick or treat’, ’n speletjie wat vandag uiters gewild is onder baie kinders” (bll. 177-178).

Keur God sulke feeste goed? Die apostel Petrus verduidelik dat Christene, lewenswyses behoort prys te gee wat in stryd is met God se weg: “Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgodery” (1 Petrus 4:3). Paulus sê in Filippense 4:8: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Die onrein en oproerige oorsprong van Halloween is nie versoenbaar met God se instruksies aan Christene nie.

 

Verwerp heidense tradisies

Terwyl God die Israeliete voorberei het om die Beloofde Land in te gaan, het Hy hulle spesifieke en kragtige opdragte gegee dat hulle Hom nie moes probeer eer deur die tradisies van die nasies rondom hulle te beoefen nie. Hulle moes nie die onderhoudings van die heidene aanneem nie. Hulle moes sulke gebruike verwerp en eerder God se Wette en instruksies getrou volg.

Moses het die Israeliete beveel: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie” (Deuteronómium 12:29-31).

God roep Christene vandag om Hom te gehoorsaam en te aanbid op die wyse wat Hy gekies het, nie deur mensgemaakte tradisies te volg nie. Indien Jesus Christus u vir Homself geroep het om Sy Waarheid te verstaan, het Hy u geroep om anders te wees. In die laaste ure van Sy lewe het Christus gebid dat Sy dissipels nie van die wêreld sou wees nie, al leef hulle in die wêreld: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:15-16).

Mag God aan u die begrip en onderskeidingsvermoë gee om anders as die wêreld te wees, Hom geheel en al te volg en die feeste van die dood te verwerp.