Waarom  heers daar deesdae soveel godsdienstige verwardheid?

Die twee grootste godsdienstige organisasies op aarde vandag is Rooms- Katolisisme en Islam. Die meeste “hoofstroom” Protestantse kerke verloor honderde duisende lidmate! Dit gebeur terwyl die Mormone, Sewendedag-adventiste en Jehova Getuies vinnig groei. Dit vind ook plaas in die emosiebelaaide “Pinksterkerke” wat baie lidmate werf uit die geledere van die Rooms-Katolieke Kerk, veral in Sentraal- en Suid Amerika.

Wat gaan aan? Waarheen lei dit alles?
Hoe kan u persoonlik daarvan seker wees dat u die Waarheid aangaande God verstaan, aangaande die ewige lewe en aangaande die profetiese gebeure wat skynbaar elke jaar meer intens word en ons wêreld meer en meer beïnvloed?

Ek het tot insig gekom en u kan ook. Ek het, soos baie ander mense, grootgeword in 'n klein Midde-Westelike stad in 'n hoofstroom Protestantse kerk. My ouers, twee susters en ek het in 'n boomryke straat in 'n goeie middelklas woonbuurt gewoon. Die meeste van ons bure was Protestante – met 'n paar Rooms-Katolieke en Jode tussen-in. Ons was oor die algemeen almal dieselfde – middelklas mense wat in 'n aangename stad gewoon en dieselfde waardes en verwagtings gedeel het.

Totdat ek volwassenheid bereik en oorsee gereis het, was ek slegs vaagweg daarvan bewus dat die oorgrote meerderheid mense op hierdie aarde nie in Christus glo – en nog nooit geglo het nie, of in die leerstellings van die “hoofstroom” Christendom nie, en dat slegs 'n baie klein getal mense bekend is met ware Bybelse Christelike leerstellings.

Dit word vandag toenemend duidelik vir nadenkende mense, selfs in die belydende Christelike wêreld, dat daar beduidende verskille in geloof en praktyk bestaan. Baie Protestantse kerke verorden reeds of dink daaraan om homoseksuele in te seën! Die grootste Presbiteriaanse kerk in die Verenigde State, het verlede Junie gestem om hulle plaaslike- en streekliggame toe te laat om homoseksuele te verorden tot húlle kerkverband in verskillende ampsbedieninge.

Dit sou heeltemal ondenkbaar en vreemd gewees het toe ek groot geword het. Ons begrip van Bybelse Christelikheid is reeds so afgewater dat dit iets is wat die meeste belydende Christene deesdae weinig skeel.

Protestante en Katolieke is vandag toenemend onseker oor wat hulle glo. Alhoewel die geloof in die Drie-eenheid lank 'n hoeksteen van hulle gelowe was, huldig baie van die kerke daardie leerstelling vandag slegs op 'n vae en afgewaterde wyse. Vroeër vanjaar het Presbiteriaanse beamptes “gestem om dié kerkverband se kerke toe te laat om die sinsnede 'barmhartige moeder, geliefde kind, en lewegewende moederskoot' te gebruik in die plek van 'Vader, Seun, en Heilige Gees' wanneer na die Drie-eenheid verwys word. Dit was slegs een van die twaalf sinsnedes wat deur daardie Vergadering goedgekeur is as toelaatbare plaasvervangers vir die tradisionele name van God. 'n Ander is 'rots, hoeksteen, en tempel'.  Toe een Kaliforniese pastoor uitgevra is oor sy gevoel  aangaande die nuwe benaminge vir die Drie-eenheid, het hy aan die Los Angeles Times koerant gesê, 'U mag net sowel skryf Huey, Dewey, en Louie'.  Daardie predikant staan nie alleen in hoe hy voel nie – 'n ander konserwatiewe Presbiteriaanse teoloog en pastoor het soortgelyk sy misnoeë uitgespreek oor wat hy beskryf as dié kerkverband se skuif om 'n 'belangrike leerstelling van die Christelike geloof te verander’” (Agape Press,  10 Julie 2006).

Die meeste van hierdie mense besef natuurlik nie dat die Drie-eenheid self nie deel van die ware Christelike geloof is nie. Dit was eers later deur leiers tot die “Christelikheid” bygevoeg uit die leerstellings van vroeëre heidense gelowe, wat gehoop het om daardeur nuwe bekeerlinge te trek.

Dit is ook van wesenlike belang dat u besef dat meeste “hoofstroom” kerke nie erken dat ons in die “eindtyd”, soos deur die Bybel voorspel, leef nie. Hoofstroom predikers is heeltemal onseker of Christus letterlik na die aarde gaan terugkeer of nie – of, indien Hy wel gaan terugkeer – Hy spoedig sal terugkeer of miskien eers oor 'n duisend jaar sal terugkeer! Let op wat die beroemde evangelis, Billy Graham, in sy eie kolom in die koerant skryf : “Ons weet nie wanneer Christus sal terugkeer aarde toe nie – en die Bybel sê vir ons om nie 'n presiese datum te probeer vasstel nie. Ja, dit mag wees voordat u hierdie sin klaar gelees het – maar dit kan ook oor 'n duisend jaar van nou af wees” (Charlotte Observer,  8 September 2003).

Miljoene belydende Christene glo selfs dat daar “baie” paaie na saligheid bestaan – deur Christus of deur ander metodes. Welbekende meningspeiler George Gallup sê, “Die hoë graad van godsdienstige verdraagsaamheid weerspieël gedeeltelik, nie slegs 'n gebrek aan kennis van ander gelowe nie, maar ook ‘n onkunde aangaande iemand se eie geloof”. In sommige meningsopnames, sê hy, “vind jy Christene wat sê, 'Ja, Jesus is die enigste weg' en ook, 'Ja, daar is baie paaie na God'. Dit is nie dat Amerikaners niks glo nie; hulle glo alles” (US News & World Report, 6 Mei 2002).

Die Bybel stel dit egter duidelik dat Jesus Christus en Sy onderwysing die enigste weg na saligheid is, “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Jesus self sê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Die duidelike feit is dat hierdie wêreld se mense – selfs meeste wat “Christelikheid” bely – in totale verwarring verkeer! Onthou, die Bybel sê daar is 'n baie wesenlike Satan, die Duiwel, “wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9).

Die apostel Paulus verduidelik dat die evangelie “versluier” is vir die meeste mense wat verlore gaan, “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:4). God se woord maak dit baie duidelik, in verskeie skrifgedeeltes, dat die oorgrote meerderheid mense nie nou “geroep” is nie en “vergaan”, want hulle is “verblind” vir die Waarheid van God.

Dus, wat staan ons te doen?
Eerlikwaar, geliefde vriende, die enigste ware “sleutel” wat iemand kan help om uit hierdie verwarring te kom, is die bereidwilligheid om die Bybel letterlik op te neem – laat die Nuwe Testament die Ou Testament vervul en die volle betekenis daarvan laat  kry – en om die uiters duidelike onderwysings en voorbeeld van Jesus Christus,  die Outeur van ware Christelikheid, na te volg.

“Is dit al? Dit klink eenvoudig!” mag u dink.
Die meeste van hierdie wêreld se “geleerde” predikers en teoloë het egter die mense verwar oor wat Jesus duidelik leer – so deeglik dat uiters min mense werklik gewillig is om Hom te volg!

Christene moet gewillig en in staat wees om vir hulle self te bewys dat die Bybel letterlik deur die God wat alles geskape het, geïnspireer was, dat dit gesaghebbend is en die ware weg na die ewige lewe openbaar; en dat dit die Skepper se doel verduidelik waarom Hy ons hier op die aarde geplaas het.

Hierdie Wêreld van Môre tydskrif is op die voorafgaande stelling gebaseer. Ons is gewillig om duidelik en oortuigend te bewys wat die Bybel uitdruklik sê – aan almal wat gewillig is om te luister. Maar ons aanvaar nie verklarings wat gebaseer is op “menslike tradisie” afgesien van die Skrif nie, of die feit dat “goeie mense” iets in die verlede geglo het nie. Ons is gewillig om te glo – en hoop dat u gewillig is om te glo – dat die Bybel werklik sê wat dit bedoel en bedoel wat dit sê! Ons het dit aan onsself bewys, en ons strewe daarna om ons lewens daarop te baseer!

Een teken dat God met ons werk is ons insig in spesifieke Bybelse voorspellings wat nou besig is om in vervulling te kom. Die meeste “hoofstroom” Christene besef nie die ware betekenis van die baie profesieë in u Bybel wat voortdurend besig is om vervul te word nie. Soos wat u ons Wêreld van Môre tydskrif  en ons ander publikasies bestudeer, sal u hierdie feit begin verstaan – indien u gewillig is. Ons baseer dit wat ons glo, op die Bybel – nie op ander veronderstelde “geïnspireerde” geskrifte van ander mans of vrouens nie. In hierdie tydskrif, ons ander publikasies en ons beeldsendings, lê ons net vir u uit wat die Bybel baie duidelik sê. Ons help u ook om die opwindende profetiese gebeure te verstaan wat nou om ons warrel – en wat spoedig sal lei tot die letterlike Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde, as Koning van die konings!

Ten slotte wil ek graag vir u ons uiters belangrike boekie aanbied, Die Bybel: Feit of Fiksie? Hierdie boekie sal u help om die feit te verstaan dat die Bybel werklik geïnspireer is en dat dit die enigste gids behoort te wees tot Christelike geloofstellings en praktyke. Hierdie boekie sal heeltemal gratis en sonder verpligting aan u gestuur word indien u dit aanvra. Kontak eenvoudig ons kantoor naaste aan u en vra u kopie aan. Dan, en dit is die belangrikste, wees gewillig om te handel volgens die inligting wat u ontvang. Ons lewe werklik aan die einde van 'n tydvak, en ons daaglikse lewens gaan binne die volgende paar jaar geweldig beïnvloed word deur profetiese gebeure. “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” (Mattheus 13:9).