Jesus Christus het ’n toekomstige Dag van die Here voorspel wanneer God Sy oordeel oor die wêreld uitstort. Wat is daardie dag – is u gereed daarvoor?


Bybelprofesieë wys dat, voordat Jesus Christus na die aarde terugkeer, die aarde ’n tydperk sal beleef wat bekend sal staan as die “Dag van die Here,” wanneer God elke nasie op aarde sal oordeel. Min mense verstaan egter hierdie sleutelperiode in profesie – ’n tyd wat binnekort sal aanbreek.

Hoe weet ons dat dit binnekort sal kom? Die Messias, Jesus van Nasaret, beskryf die gevaarlike toestande wat die eindtyd sal oorheers. Hy sê: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheus 24:7-8).

Klink dit soos ons wêreld van vandag? Terrorisme bedreig die Westerse nasies. Natuurrampe – siklone, orkane, tsoenamies, aardbewings en tornado’s – wat rekords oortref, het die afgelope paar jaar honderde duisende mense se lewens geëis. Die atoombomme wat in 1945 losgelaat is op Hiroshima en Nagasaki het ’n nuwe era van massavernietiging ingelui. Kernwapens kan nou alle lewe op die planeet aarde uitwis. Sal die mensdom homself vernietig, of sal God ons spaar – minstens ’n paar van ons?

Wat is die Dag van die Here? Die apostel Johannes skryf: “Ek was in die Gees op die Dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin” (Openbaring 1:10). Die frase wat Johannes gebruik – die Dag van die Here – word op geen ander plek in die Bybel gebruik nie. Waaroor skryf Johannes hier? Johannes het nieoor Sondag geskryf nie – indien wel, sou hy dit as “die eerste dag” van die week beskryf het, soos in die Evangelie van Johannes. Trouens, hy beskryf geen spesifieke dagvan die week nie. Johannes gee ’n beskrywing van die periode wat in die res van die boek die profetiese Dag van die Here genoem word – daardie reeks gebeure in die eindtyd wat Jesus Christus se Wederkoms inlui as die Koning van konings en Here van here!

Studente wat ernstig is oor Bybelstudie verstaan dat ons in die Bybelse eindtyd leef. Die mensdom se geskiedenis dui daarop dat nasies elke moontlike oorlogswapen sal gebruik om grondgebied op te eis en ander nasies te oorwin. Sedert 1947 simboliseer die sogenaamde “Doomsday Clock” of oordeelsdaghorlosie van die Bulletin of the Atomic Scientists, die wêreldgevaar van atoomkrag en die stand van internasionale veiligheid. Op 17 Januarie 2007 publiseer die Bulletin hul stelling oor “die bedreiging van ’n tweede kernkragtydvak en die verwagte gevolge van klimaatsverandering” en volg dit op deur die wysers van die oordeelsdaghorlosie aan te skuif – tot vyf minute voor middernag. Sal die oordeelsdaghorlosie in die volgende paar jaar aanstap tot by middernag? Bybelprofesieë gee die antwoord.

Die sewe seëls

In Openbaring 5 lees ons van ’n boek wat met sewe seëls verseël is. Jesus, die Openbaarder, maak daardie seëls oop. Ons lees in Openbaring 6 die beskrywing van daardie seëls. Die eerste vier seëls staan bekend as die vier ruiters van Openbaring. Die eerste perd – die wit perd – en sy ruiter verteenwoordig valse godsdienste, vals Christusse. Jesus wys in Mattheus 24 die volgorde van gebeure in die eindtyd, ook bekend as die profetiese rede of die bergrede omdat Jesus dit verduidelik het op die Olyfberg.

Die tweede seël beskryf ’n ruiter op ’n rooi perd, met gesag om vrede van die aarde te verdryf. Die derde seël toon ’n ruiter op ’n swart perd en verteenwoordig ’n voedseltekort wat lei tot hongersnood. Die vierde seël toon ’n ruiter op ’n vaal perd, met gesag om meer as ’n kwart van die wêreldbevolking uit te wis.

Siniese persone sê dat daar altyd oorloë, hongersnood en pessiektes was. Maar, soos wat die tyd aanstap, sal ons sien dat die vier ruiters van Openbaring se trefkrag vererger, met intense wêreldwye gevolge. Hierdie vier ruiters behels die eerste vier seëls. Wat gebeur wanneer die vyfde seël geopen word? “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9).

Hierdie vyfde seël beskryf die marteldood van die heiliges, ware Christene. In die eerste eeu het Keiser Nero die Christene wreed vervolg en doodgemaak. Die vyfde seël voorspel ook ’n groot vervolging van Christene in die eindtyd. Dan maak Jesus die sesde seël oop en openbaar die hemelse tekens wat mense oor die hele wêreld gaan skok. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Daar sal nie net asteroïdes en meteoriete wees wat mense bangmaak nie, maar geweldige aardbewings gaan ook die aarde skud. Die apostel Johannes het gesien dat “al die berge en eilande ... uit hulle plekke versit” word. Daardie aardbewings en dramatiese gebeure in die hemelruim is die inleiding tot die Dag van die Here. God sal ons aandag dan hê! Diegene wat die Skepper en Sy lewenswyse verwerp, sal geoordeel word. Dis natuurlik beter vir almal van ons om ons nou te bekeer en nederig voor God te staan, eerder as om later so verskriklik beproef te word.

Hierdie hemelse tekens is die begin van die Dag van die Here, die periode van God se toorn en oordeel oor ’n ondankbare, rebelse wêreld. Dit mag vir sommige van u ’n verrassing wees, maar Jesus Christus, die Lam van God, sal toornig wees. Hy sal God se regverdige oordeel uitvoer. Die Dag van die Here word genoem “die groot dag van Sy toorn!” (Openbaring 6:17). Die sewende seël van Openbaring, wat volg op die hemelse tekens, beskryf daardie Dag van die Here. Die sewende seël behels sewe groot profetiese gebeure wat deur basuine of trompette ingelui word. Let hierop: “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2).

Hulle is ook bekend as die sewe basuinplae en strek vanaf die Dag van die Here tot die Wederkoms van Christus. Die apostel Johannes beskryf die eerste vier basuine in Openbaring 8:7-13. Hulle beskryf ekologiese rampe. ’n Derde van al die bome brand af, en alle groen gras verbrand. ’n Derde van al die lewende wesens in die see gaan dood; ’n derde van die skepe word vernietig. ’n Derde van die riviere en waterfonteine word giftig. ’n Derde van die son, maan en sterre word donker.

Die hele wêreld sal hierdie groot dag van God se toorn beleef! Waarom? Omdat die nasies vals godsdienste nagevolg het. Baie nasies sal ongoddelike diktators navolg wat teen Christus gaan veg met Sy Wederkoms.

Oordeel, dan vrede

Wat presies is die Dag van die Here? Dit is die tyd van God se oordeel oor die nasies. Ja, alle nasies op aarde sal geoordeel word. Maar, God se oordeel oor die nasies sal uiteindelik wêreldvrede bring. Wat is die oplossing vir wêreldoorloë, geweld en konflikte? Die oplossing vir die wêreld se probleme is die Wederkoms van Christus om oor alle nasies te regeer, en om alle nasies die weg van vrede te leer. Jesus Christus, die Koning van konings, sal “oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte” (Miga 4:3). Christus sal die nasies oordeel tydens die Dag van die Here, en ook daarna.

Die Dag van die Here is die sewende seël van Openbaring. Onthou dat sewe basuine tydens die Dag van die Here God se oordeel oor die nasies aankondig. Nadat vier van die sewe basuine geblaas het, bly drie oor, en die apostel Johannes beskryf wat hy in die visioen gesien en gehoor het: “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van drie engele wat nog sal blaas!” (Openbaring 8:13).

Die laaste drie basuine word weë genoem. Die woord “wee” is ’n uitroep van smart. Die eerste wee of vyfde basuin word beskryf in Openbaring 9. Die vyfde engel blaas die basuin wat militêre optrede inlui en vyf maande lank duur. En watter tipe mag ondersteun daardie militêre optrede? “En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; Sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion” (Openbaring 9:11).

Ja, die verwoester, Satan die Duiwel, gee mag aan hierdie militêre groep. Die tweede wee word beskryf met simbole van perde en ruiters. Hier sien ons ’n intense militêre teenaanval. “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (verse 9:12-14). ’n Leër van 200 miljoen beweeg weswaarts oor die Eufraatrivier en wis een derde van die aarde se bevolking uit! “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en die dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (verse 15-18). In hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog gaan biljoene mense doodgemaak word! Jesus het in Mattheus 24:22 gesê dat indien daardie dae nie verkort word nie alle mense sal sterf – dus, alle lewe op aarde vernietig sal word!

Die finale basuin

Tot dusver het ons ’n kort bespreking gehad van ses van die sewe basuine wat die Dag van die Here behels. Die geluid van die sewende en laaste basuin verkondig die goeie nuus waarna opregte Christene uitsien: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid!” (Openbaring 11:15). Hierdie sewende basuin kondig die vestiging van die Koninkryk van God op aarde aan asook die Wederkoms van Jesus Christus. Ten tye van hierdie laaste basuin sal die getroue gelowiges, wat in hulle grafte wag, opgewek word as geestelike wesens (1 Korintiërs 15:52). Hulle sal dan vir ’n duisend jaar saam met Christus regeer om blywende vrede tussen die nasies te bewerkstellig. Openbaring 20 kondig die wonderlike toekoms aan wat genoem word die Millennium, of duisendjarige vrederyk. U en ek behoort ons voor te berei vir daardie tyd! En, ons behoort Bybelprofesieë te bestudeer en te verstaan.

Die sewende basuin kondig die goeie nuus aan dat Christus wêreldregerings oorneem. Maar, die sewende basuin is ook die derde wee. Waarom? Want dit lui ook die sewe laaste plae in! Die sesde van daardie plae behels voorbereiding vir die sogenaamde Armageddon. In die noorde van Israel, op die vlakte van Jesreel naby Megiddo, gaan ’n geweldige groot en magtige militêre magsgroep saamtrek! Hierdie leërs sal wesenlik veg teen die Bevelvoerder van die hemelse leërs, Jesus Christus. Die apostel Johannes skryf: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En Sy oë was soos ’n vuurvlam, en op Sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy Self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en Sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit Sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op Sy kleed en op Sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).

Wanneer Christus terugkeer na die aarde, sal Hy al Sy vyande oorwin. Hy sal die nasies en hulle magtige leërs wat teen Hom opgetrek het, oorwin met Sy Wederkoms. Die Dag van die Here bring God se oordeel oor die nasies. Soos ons gesien het, is die Dag van die Here aan die een kant daardie jaar wat Christus se Wederkoms voorafgaan. Aan die ander kant duur dit voort deur die Millennium en tot in ewigheid.

Die apostel Petrus beskryf dit so: “Maar die Dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die Dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens Sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:10-13).

Die apostel Petrus maan ons om in ’n geestelike toestand van gereedheid te wees. Ons behoort op die uitkyk te wees vir die Dag van die Here, wat ’n moeilike tyd van oordeel op die nasies gaan wees. En daarna, die Wêreld van Môre, ’n wonderlike tyd van skoonheid, voorspoed en vernuwing onder die heerskappy van Christus. Mag God daardie dag gou laat kom!