Op 28 Junie 2018 het die New Scientist tydskrif ’n aanlyn-artikel gepubliseer met die titel, “A fine-tuned universe may be controversial but can’t be ignored.” Waarvan praat hulle?

Hoe meer die kosmoloë en fisici die wette wat ons heelal regeer in diepte ondersoek het, hoe meer het hulle verward geraak. Hulle het gevind dat die natuurwette baie fyn ingestel is om lewe moontlik te maak. Indien net een van baie konstantes en beginsels wat die kosmos beheer, selfs net in die geringste mate verskil het, sou lewe soos ons dit ken – eintlik lewe in die heelal – nie kon bestaan nie!

Wanneer ons die heelal ondersoek, lyk dit nie toevallig en onbeplan nie. Inteendeel, dit lyk asof dit ontwerp is om vir lewe soos ons s’n voorsiening te maak! Een manier hoe ontwerp sigbaar is, is deur die talle faktore wat fyn en presies ingestel moes gewees het om ’n heelal net vir ons daar te stel.

Die aantal kosmiese “aanpassings” wat ons lewens moontlik maak, is gans te veel om hulle volledig in hierdie kort artikel te bespreek. Laat ons egter die tyd neem om net ’n paar van hulle te ondersoek en dan te oorweeg wat so ’n fyn instellingsproses impliseer.

’n Heelal presies “ingestel” om lewe toe te laat

Fisici het byvoorbeeld ontdek dat die verhoudings van die massas van die deeltjies waaruit die atoom bestaan, nie met selfs die kleinste hoeveelheid kan wissel nie. Indien dit sou kon gebeur sou die sterre se lewens te kort gewees het of in die allerergste, sou atome self nie eers kon bestaan nie. Soos Stephen Hawking een keer in sy boek, A Brief History of Time, geskryf het, “Die merkwaardige feit is dat dit lyk asof die waardes van hierdie getalle baie fyn ingestel is om die ontwikkeling van lewe moontlik te maak” (bl. 125, klem ons s’n).

Oorweeg ook die “kosmologiese konstant” – ’n onbekende maar noodsaaklike getal wat verband hou met die “energie-digtheid” van die heelal. Wetenskaplikes was verbaas om te vind dat dit aansienlik laer was as wat met teorieë voorspel was. Indien hierdie kosmiese konstante egter nie binne 120 desimale plekke “fyn ingestel” was nie, sou die heelal lankal, volgens die Nobelpryswenner, Steven Weinberg, in homself ineengestort het of so vinnig uitgebrei het dat geen sterre of sterrestelsels sou kon bestaan nie (“Life in the Universe”, Scientific American, 1994).

Die lys van sodanig presies “ingesleutelde” syfers wat lewe moontlik maak is lank! Indien die swaartekrag groter was, sou sterre te warm, te vinnig en te oneweredig brand – maar as dit laer was, sou sterre te koel wees en sou die kernfusie wat noodsaaklik vir lewe is, nie begin het nie. Indien die ”laagste” energievlak van die heliumatoom effens hoër of laer was, sou daar onvoldoende koolstof en suurstof vir lewe in die heelal wees. Indien die elektromagnetiese krag nie presies die sterkte gehad het nie, dan sou die chemiese verbindings wat lewe moontlik maak, nie kon plaasvind nie. In die wetenskappe bestaan daar voorbeeld na voorbeeld van sulke “toevallighede” – waar die getalle “presies reg” uitgedraai het.

Sou hierdie faktore wat die kragte en wette van die heelal beheer, selfs net met die geringste fraksie verskil het, dan sou ons eenvoudig nie kon bestaan nie. Nogtans, hoe fisici en kosmoloë ookal probeer, hulle moet nog ’n oortuigende rede ontdek waarom hierdie toestande presies ingestel is soos op die manier wat dit is. Vir hulle bly dit ’n raaisel en hulle gaan voort om ’n bevredigende verduideliking te soek.

Sou dit toevallig wees? Is dit moontlik dat ons dit net “gelukkig” getref het en dit maar net gebeur het dat ons so ’n “perfekte heelal” gegee is? Geoff Brumfiel, wat in die gesogte wetenskaptydskrif Nature geskryf het, het opgesom wat dit beteken om in ’n heelal wat lewe toelaat soos ons eie te leef: “Indien mens die vergelykings van die wêreld se vooraanstaande kosmoloë glo, sal die waarskynlikheid dat die heelal toevallig op hierdie manier sou kon ontstaan oneindig klein wees – een in ’n baie groot getal” (5 Januarie 2006).

’n Berugte ateïs verander van denkwyse

Antony Flew was een van die bekendste ateïste in die wêreld. Hy het baie boeke geskryf en aan openbare lesings en debatte deelgeneem. Hy het aangevoer dat God nie bestaan nie – selfs dat die idee van God onlogies is.

In die vroeë 2000’s, het hy van gedagte verander, tot die skok en verrassing van baie mense. Hy het in 2008 in sy boek, There is a God: How the World’s Most Notorious Atheist Changed His Mind, besonderhede verskaf oor hoe hy tot sy nuwe gevolgtrekking gekom het. In die boek wat in samewerking met die mede-outeur Roy Varghese geskryf is, verduidelik hy waarom hy die feite in die gesig moes staar en die voor die hand liggende moes erken: Daar moet werklik ’n God bestaan agter die wêreld wat ons rondom ons sien.

In sy hoofstuk “Did the universe know we were coming?”, bespreek Flew die soort bewyse wat ons hier beskryf het en som die duidelike gevolgtrekking op met behulp van ’n eenvoudige vergelyking.

Verbeel u, stel hy voor, dat u stilhou by ’n hotel tydens ’n reis met vakansie, ’n sleutel kry en na u kamer gaan. Wanneer u by die kamer ingaan en u tasse neersit, begin u ’n aantal merkwaardige toevallighede opmerk. Die musiek wat saggies in die kamer speel, is toevallig net u gunsteling musiek. U ruik u gunsteling geur wat in die lug hang en die kamer het ’n voorraad van u gunsteling drankies en peuselhappies. Die boek op die lessenaar is toevallig geskryf deur een van u gunsteling skrywers en in die badkamer is u gunsteling produkte. Die televisie is af, maar wanneer u dit aanskakel, is dit reeds op u gunsteling kanaal.

So ’n toenemende versameling van “toevallighede” sal u tot die gevolgtrekking laat kom dat die hotelbestuur op een of ander manier vooraf geweet het dat u kom. Soos Flew redeneer, die meer as talryke lewensondersteunende “toevallighede” wat ons in die wêreld sien en in die kosmos rondom ons, behoort ons tot dieselfde gevolgtrekking te laat kom. Iemand het hierdie heelal spesiaal vir ons ingerig.

Slegs ’n “Goddelike verstand”

Sommige mense het probeer om die fyn-ingestelde heelal-idee op verskeie maniere te verwerp, soos ’n hipotetiese “veelal” van veelvoudige heelalle, waarin ons s’n een is wat “werk”. (Ons November-Desember 2015 artikel “Leef ons in ’n veelal [veelvuldige heelal]?” ondersoek hierdie saak) Andere het te kenne gegee dat ons nie verbaas behoort te wees dat die heelal vir ons geskik is nie, maak nie saak hoe uiters onwaarskynlik dit mag wees nie. Per slot van rekening, argumenteer hulle, hierdie samestelling van die heelal mag verbysterend onwaarskynlik wees, maar as dit nie so gebeur het nie, sou ons nie hier gewees het om te wonder oor hoe onwaarskynlik dit is nie!

Wanneer hy sodanige reaksies evalueer, dui die voormalige ateïs daarop dat wanneer hierdie soort “antwoorde” noukeurig ondersoek word, hulle eenvoudig nie die kernvraag aanspreek nie: Geen verskoning of verbeeldingryke scenario verander die feit dat hierdie natuurwette verduidelik moet word nie en in Flew se eie woorde, “die enigste haalbare verduideliking hier is die Goddelike verstand”.

Niks hiervan behoort Bybelstudente te verras nie. Die profeet Jesaja vertel aan ons dat die Ewige “wat die hemele geskape het” ook die Een is “wat die aarde geformeer en dit gemaak het ... Hy het dit nie geskape om woes te wees nie” (Jesaja 45:18). Sy bedoeling van die begin af was om aan u ’n heelal te gee waarin u kan leef en Hom kan leer ken – om ’n tuiste te skep vir die werke van Sy hande.

In werklikheid is die heelal op meer as een manier vir u gemaak. Deur die skepping van die kosmos rondom ons het die Skepper veel meer gedoen as ’n fyn ingestelde omgewing wat ons die geleentheid bied om ons kort, fisiese lewens uit te leef. Vir diegene wat die tyd wat aan hulle gegee word daaraan wy om Sy wil en Sy weg te soek, is die heelal meer as ’n tydelike tuiste. Dit is ’n erfenis.