In die golwende Saskatchewan grasvlakte, sowat 112 km Oos van die stad Saskatoon, is die vriendelike gemeenskap van Humboldt met ’n bevolking van 6,000 geleë. Dit was hier waar ’n merkwaardige wetenskaplike in die laat 1970’s en vroeë 1980’s, ’n ewe merkwaardige eksperiment uitgevoer het, waarvan die resultaat baie gemeenskappe regoor die wêreld beïnvloed het.

Kleiner gemeenskappe soos Humboldt – of dit nou in Kanada is of op enige ander plek op die planeet – word gedurig met die uitdaging van die veilige wegdoen van rioolwater gekonfronteer. Dit mag dalk nie ’n aangename onderwerp wees om oor na te dink nie, maar die wegdoen van rioolwater speel oral ’n groot rol in plaaslike en provinsiale regerings. 
Rioolwatersuiwering wat afvalwater skadeloos vir die omgewing maak, is eintlik baie duur. Op baie plekke is die koste so buitensporig hoog dat afvalwater eenvoudig in riviere, mere of die see gestort word.

Dr. G. Lakshman, ’n navorser by die Saskatchewan Research Council in Saskatoon en wat onlangs uit Indië gekom het, was deeglik bewus van die probleem. In ’n reeks studies wat deur die regering van Saskatchewan en Ducks Unlimited befonds is, het Lakshman se span met ’n paar verstommende ontdekkings vorendag gekom wat sedertdien regoor die wêreld toegepas word en wat in ’n groot mate die lewenskwaliteit van baie mense verbeter het.

Die studie, “’n Demonstrasie-projek by Humboldt om tersiêre behandeling te voorsien aan munisipale rioolwater deur gebruik te maak van waterplante”, (Lakshman, G: Saskatchewan Research Council. Saskatoon: Saskatchewan Research Council, 1983 SRC technical report, no. 151), verskaf besonderhede oor die merkwaardige kapasiteit van twee baie nederige plante: Die palmiet en die biesie.

Bou aanlegte of kweek plante?

Humboldt het ’n nuwe fasiliteit vir die behandeling van die probleem benodig, maar kon dit nie bekostig nie. Daar is aan Lakshman toestemming gegee om twee baie klein en baie vlak strandmere buite die gemeenskap te ontwikkel. In hulle noukeurig ontwerpte ±20 cm diep slote, het werkers duisende palmiet- of biesieplantjies geplant. Lakshman het geglo dat moerasplante oor die algemeen en palmiet in die besonder, ’n onversadigbare aptyt vir riool het en moontlik die sleutel tot die oplossing vir die behandeling van afvalwater in sulke gebiede kan wees. Hy het geredeneer dat hierdie soort plante gewoonlik aan die onderkant van opvangsgebiede gevind word en aan die ontvangkant van alle materiaal is wat uiteindelik deur reën en swaartekrag na laer gebiede afgespoel word.

Lakshman se verslag verduidelik dat die kapasiteit van die riet byna ’n wonderwerk is om die skadelike uitwerking van besoedelende stowwe soos nitrate en fosfate te neutraliseer. Enige ander plante absorbeer slegs die voedingstowwe wat hulle nodig het, maar palmiete neem soveel op as wat hulle kan kry. Die verslag van die Navorsingsraad toon aan hoe doeltreffend die riete rioolafval kan verwerk. Dit identifiseer byvoorbeeld die spesiale antibiotiese afskeisels wat deur die palmiet vrygestel word en wat bakterieë, met inbegrip van e-coli en ander kolivorme, kan neutraliseer. Die opname en neutralisasie van gevaarlike chemikalieë is aangeteken. Dit vang giftige stowwe in hulle weefsel vas en maak die gifstowwe oor die algemeen skadeloos. Die verslag verduidelik dat die plante selfs swaar metale soos kwik, fenol, sianied en sink kan verwerk en waterstofsulfied kan afbreek. Daar is selfs waargeneem dat hulle plaagdoders en onkruiddoders wat afgespoel het, onskadelik stel.

Die spoed waarteen die plante werk is verstommend. Die klein strandmere kon twaalf maande se riool binne ses maande verwerk. Die werklike neutraliseringsiklus duur slegs 21 dae, waarna die vrygestelde water vergelyk kan word met die water in ’n paar van die skoonste mere in Saskatchewan.

Daar is ook opgemerk dat met moderne rioolbehandelingsaanlegte daar gewoonlik ook nog die probleem van reuke is maar die Humboldtstudie het getoon dat die rioolwater baie vinnig vry van enige onaangename reuk was. Die meganisme wat daarvoor verantwoordelik is, is nog nie bekend nie. Wanneer ons aan moerasse dink, dink ons dikwels aan muskiete, maar die studie het getoon dat die palmiet ook ’n larwegif deur hulle wortels afskei, wat muskietlarwes vernietig.

Wonderlike vleilande; wonderlike moerasse

As gevolg van hierdie studie het die Saskatchewanse regering begin om voerplekke aan te beveel. Plaasbedrywighede laat vleilande onontwikkeld en palmiete word in uitgrawings, slote en in lae gebiede geplant om sodoende die afloopwater onskadelik te maak. Wat nog meer verbasend is, is dat die riete teen die einde van die groeiseisoen, ten spyte van hulle onaangename dieet, veilig is om ge-oes te word en vir dierevoeding gebruik kan word.

’n Verslag van die Canadian Water Resources Journal bevestig die bevindings: “Moerasse dien ook as natuurlike slikputte deur die slik met ontluikende plantegroei vas te vang, wat die vloei vertraag en toelaat dat gronddeeltjies uit die vloeistof afsak. Indien dit behou of ontwikkel word, help dit nie net om erosie te bekamp nie, maar ook om die kwaliteit van die water te verbeter. In werklikheid het vleilande hulle eie ingeboude waterbehandelings-‘aanlegte’ soos palmiete en biesies wat sulke doeltreffende watersuiweringsterreine skep dat studies voorstel dat vleilande ook vir baie landelike gemeenskappe die afvalwater se behandelingsterreine van die toekoms kan wees” (“Wetlands and Water Management”, Januarie 2013).

Die verslag gaan voort en beskryf die uitgebreide navorsing oor die vermoë van hierdie merkwaardige plante om watergehalte te verbeter en verduidelik die spesifieke biologiese prosesse wat algehele vlakke van gifstowwe, mikrobes en ander besmettingsfaktore in die vuilste van besoedelde waterbronne verminder en teken aan hoe hulle dit binne indrukwekkende kort tydperke doen.

In ’n ander Saskatchewan gemeenskap, dié een van Vonda, word ’n soortgelyke projek reeds sedert 1983 bedryf. Die burgemeester, Dan Sembalerus sê: “Die stelsel is moeitevry en het geen veranderings of wysigings nodig nie” (R. Lyseng, “Are wetlands Mother Nature’s outhouse, or do they deserve more respect?” The Western Producer, 8Januarie 2015).

Ontwerp of verandering?

In ons gejaagde wêreld met sy beheptheid met moderne tegnologie, kyk ons so maklik die ontwerp mis wat reeds in die planeet waarop ons leef ingebou is. Dit is werklik dwaasheid om alles wat bestaan as toeval te verwerp, wanneer dit in werklikheid die werk van ’n Skepper is Wie se briljantheid weerspieël word in die siklusse wat ons in die natuur aantref. Die hulpmiddels om met gifstowwe en rioolafval klaar te speel is nie oor die hoof gesien toe die wonderbaarlike chemiese verteerders wat ons ken as palmiete en biesies geskape is nie. Hulle werk gratis, doen uitstekende werk en staak nooit. Wanneer ons ’n oomblik tot stilstand kom om oor die aspekte van hoe die aarde funksioneer te besin, dan word dit ’n werklikheid dat daar ’n groot God is wat onmiskenbaar met ongelooflike wysheid die ekosisteme almal liefdevol saamgestel het.

Daar sal binnekort ’n tyd kom wanneer God ’n ware, regverdige regering op aarde sal vestig om regeer te word deur Sy seun Jesus Christus en die mens sal ingelig word aangaande alle aspekte van hoe die wêreld bestem is om te funksioneer om pragtig en veilig te wees.

Gedurende daardie tyd sal die nederige palmiet en die minder geagte moeras waarin dit groei en werk waardeer word vir die briljante skeppings wat hulle in werklikheid is.