Brittanje se geliefde en gerekende National Health Service is op breekpunt. ’n Totaal nuwe benadering is nodig.
Brittanje se geliefde en gerekende National Health Service (NHS) moes sy 70ste bestaansjaar met trots op sy talle prestasies kon binnegaan. Op 3 Januarie 2018 het die NHS in Engeland egter sy eie onvermoë bekend gemaak – ’n somber waarskuwing wat verklaar het dat dit nie meer vir sy doel geskik is nie.
Vir twee agtereenvolgende jare was hospitale oorweldig deur te veel mense wat van te min hulpbronne gebruik moes maak. Uitgeputte personeellede het hulle voete deurgeloop. Sale was tot oorlopens toe vol. Nuwe pasiënte op trollies het vir ure in toue in hospitaalgange gelê en wag. ’n Groot aantal ambulanse het lank gewag voordat hulle siekes of beseerdes kon aflaai. In Januarie moes 81,000 pasiënte by Ongevalle en Nooddienste meer as vier ure vir hospitaalbeddens wag.
Dit was dus nie ’n verrassing, dat ’n nasionale opname van NHS-trusts na die winter van 2017 ’n dreigende krisis aan die lig gebring het nie: Kapasiteit in alle areas van bekwaamheid was geag as grootliks onvoldoende. Daar was nie genoeg dokters, chirurge, verpleegsters, beddens, ambulanse of selfs hospitale om die mas op te kom nie.
Dit is nie net in Engeland waar hierdie druk ondervind word nie. Skotland, Wallis en Noord-Ierland, aan wie NHS mag oorgedra het, het dieselfde uitdagings, wat baie ander lande regoor die wêreld ook in die gesig staar. Daar is swaar lesse wat almal kan leer uit die ergste krisis wat die NHS nog in sy geskiedenis getref het. Wat het dit dus op sy knieë gebring?
Tot breekpunt gespanne
Die eise aan die NHS is altyd groter gedurende die koue wintermaande. Griep- en wintergoggas soos die norovirus is volop – veral onder ’n verouderende bevolking. Meer beddens is nodig om voorsiening te maak vir diegene wat siek is, veral tydens spitstye. Tog is die aantal beskikbare beddens die afgelope 30 jaar met meer as die helfte verminder, van 300,000 in 1987 tot 142,000 in 2017.
Die grootste probleem is egter te min personeel: Te veel NHS-dokters en verpleegsters voel dat hulle nie na waarde geskat word nie, hulle is oorwerk en onderbetaal en wil vroeër aftree of elders werk soek met beter besoldigdiging. In 2017 het 33,000 verpleegsters die NHS verlaat. Hoewel daar baie nuwe aansoekers was, bly 40,000 verpleegstersposte vakant. Om alles te kroon, lei die onsekerhede oor Brexit tot ’n ineenstorting van die aantal personeellede, want baie van hulle (ongeveer 60,000) kom uit ander EU-lande.
Ander statistieke help om die krisis te verduidelik. Volgens ’n verslag van ’n Organization for Economic Cooperation and Development (OECD) is Brittanje 24ste uit die 34 lidlande in die aantal dokters per capita wat in diens is, terwyl die aantal beddens per 1,000 mense reg onderaan die lys van vergelykbare lande is. Totale uitgawes per capita is sowat $4,000 vir die hele V.K. – baie laer as in Amerika, Kanada, Duitsland, Frankryk, Nederland en Denemarke. Die les is regtig baie eenvoudig: Indien mens ’n eersteklas gesondheidsdiens wil hê wat nie voortdurend in ’n krisis is nie, moet mens in meer kapasiteit belê om daardie status te behaal.
Alhoewel opeenvolgende regerings elke jaar meer geld verskaf, is dit nooit voldoende nie. Die jaarlikse NHS Engeland-begroting beloop ongeveer £123 miljard. Die pasiëntetal styg tans elke jaar met sowat 5%, maar die begrotingstoename is veel minder. Sommige studies het bevind dat daar moontlik teen 2020, jaarliks meer as £140 miljard benodig sal word. Wieg-tot-graf gesondheidsorg klink na ’n wonderlike ideaal, maar waar kom die geld en hulpbronne vandaan om vir dit alles te betaal?
Die NHS verdien al die lof wat dit kry vir sy toewyding aan die edele taak van omgee vir die siekes en om hulle te verpleeg totdat hulle gesond is. Om slegs die gevolge te behandel kan net so ver gaan voordat al die probleme wat ons sien, die stelsel kan oorweldig. Om te probeer om doeltreffender te raak, sal net sóveel kan doen. Diepgaande hervormings word vereis.
Wat nodig is, is ’n verskuiwing na voorkoming van siektes en om die oorsake eerder as die gevolge aan te spreek. Op die oomblik word daar slegs beperkte vordering op hierdie gebied gemaak. Wat benodig word, is ’n deeglike gesonde opvoeding wat dieet, higiëne en gesondheidswette betref.
’n Goddelike perspektief In die eerste vyf boeke van die Bybel word die beginsels van gesondheid aan die antieke volk van Israel bekendgemaak. Dit is, uit ons moderne perspektief, sinvol en voor die hand liggend: Beginsels met betrekking tot higiëne, kwarantyn vir aansteeklike siektes, kos en drank, seksuele gesondheid, die gesin en die huwelik, asook beginsels van gesonde oordeel en geregtigheid wat beter maatskaplike gesondheid en welstand verseker.
Of ons dit besef of nie, is baie van hierdie einste beginsels in die Westerse leefwyse opgeneem en dien steeds as die basis van goeie gesondheid. Dit is wanneer hierdie beginsels oorboord gegooi word, dat ’n krisis ontstaan. Neem byvoorbeeld hoeveel van die gesondheidskwessies wat die NHS moet probeer oplos, is voorkombaar? Vetsug, alkohol en rookverwante siektes, dwelmverslawing, seksueel-oordraagbare siektes – die lys kan aangaan.
God het vir die antieke Israeliete gesê dat die navolging van Sy voorgeskrewe lewenswyse tot goeie gesondheid sal lei. Hy het aan hulle gesê – en sê vandag aan ons – in essensie: Indien julle My sal gehoorsaam en die lewenswyse volg wat Ek voor julle lê, sal Ek julle seën. Ek sal julle seën in julle dorpe en op die platteland. Ek sal die weer seën, julle landerye en die oorvloed gesonde kos wat die gevolg sal wees. Ek sal julle seën met siektevrye lewens van geboorte tot dood. Ek sal julle huwelike en julle gesinne seën. Ek sal alles wat julle doen, voorspoedig maak en julle beskerm teen julle vyande (sien Deuteronómium 28:1-14).
Verder het God verklaar dat Hy hulle Geneser is (Exodus 15:26; 23:25; Psalm 103:2-3). Indien hulle siek sou word, sal Hy hulle weer gesond maak. Daar was geen algemene praktisyns byderhand nie, geen hospitale, geen medisynes, geen chirurgiese prosedures nie. God was Israel se Nasionale Gesondheidsdiens! Dit was nie onafhanklik van hulle lewenswyse nie; dit was afhanklik daarvan. Goeie gesondheid en ’n lang lewe was gewaarborg solank as wat elke geslag hierdie beginsels aan die volgende geslag geleer en daarvolgens geleef het (Deuteronómium 4:9-10).
Dit is duidelik dat ons nie in alle opsigte ons samelewing met hulle s’n kan vergelyk nie, want die twee is baie verskillend. Tog is daar ook lewensbelangrike onveranderlikes: Die belangrikheid en oorvloed van gesonde kos, die gunstige weer wat nodig is om dit te produseer, ’n gesonde lewenstyl wat gebaseer is op jarelange beproefde beginsels van goeie gesondheid en die voortgesette onderrig om gesond te bly. Belangrikste van alles, dit is dieselfde wonderlike God wat begeer dat ons gelukkig, gesond en wys sal wees!
Indien u meer wil leer oor God se opregte belangstelling in ons gesondheid en welsyn, vra gerus ons gratis boekie: Genees God vandag?