VRAAG: As die poort nou en die pad smal is, soos Jesus Christus in Matthéüs 7:13-14 sê, hoe kan Sy juk dan maklik en Sy las lig wees (Matthéüs 11:30)? Verduidelik asseblief hierdie skynbare teenstrydigheid.

ANTWOORD: Dit lyk met die eerste oogopslag na ’n teenstrydigheid, maar dit is nie die geval nie. Om u vraag te beantwoord, is dit nodig dat ons elke gedeelte verstaan, deur met Matthéüs 7:13-14 te begin.

Jesus kontrasteer twee lewenswyses. Hy sê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Die woord “nou” in die Afrikaanse Vertalings is vertaal uit ’n Griekse woord wat beteken “vasgedruk” of “vasgekeer” in ’n kloof tussen hoë rotskranse. Die Griekse woord wat as “smal” vertaal is, dra die betekenis van “smal” of “ingeperk” (An Expository Dictionary of Biblical Words).

God se weg is nie die weg wat ’n sondige mensdom van nature sal kies of die gemaklikste sal vind nie. Die menslike natuur soek en bly in sy eie selfsugtige gemaksone, neig tot ’n subtiele weersin en rebelleer teenoor God se weg en Sy Wette – die Tien Gebooie (Romeine 8:7). So bedrieglik is die hart van die mens (Jeremia 17:9) dat baie mense dink dat hulle in Christus kan glo en met ’n sondige lewenstyl kan voortgaan. Jesus vermaan dus al Sy volgelinge: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort” (Lukas 13:24).

Die mens is van nature geneig tot selfsug en om ongehoorsaam aan God se heilige en regverdige Wette te wees. Sonder ’n diep, opregte bekering van sonde en ’n stryd teen ons menslike natuur, sal baie mense eenvoudig nie die poort tot God se Koninkryk kan vind nie! Die stryd vir elke ware Christen is om te bekeer van sondes van die verlede en om aan God se wil te onderwerp in plaas van eiesinnigheid! Die oorgrote meerderheid van die mensdom wil nie graag op daardie nou en smal pad gaan nie, maar sal eerder die maklike en breë pad kies. Sommige mense profeteer in Christus se naam, dryf duiwels uit en verrig baie wonders – alles tevergeefs (Matthéüs 7:21-23). Waarom? Omdat hulle voortgaan om “ongeregtigheid” te beoefen (vers 23). Diegene wat kies om hulle te bekeer en hulle rug te draai op wetteloosheid, sal deur Jesus gehelp word om die smal pad te bewandel.

Let nou op die tweede skriftuur in hierdie saak. Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30). Die apostel Johannes brei uit: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

God se weg is inderdaad ’n geseënde weg, vry van sonde en die gevolge daarvan, wat eindig in die dood (Romeine 6:23). As Christene moet ons ons bekeer en “elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring” – deur geloof te hê dat Jesus Christus ons sal help deur al ons probleme en beproewings heen – “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (Hebreërs 12:1-4; 1 Petrus 5:7). Dit is die las van sonde wat ons oorweldig en ons omring! Deur bekering en geloof in Jesus Christus kan ons vergewe word en vrygemaak word van sonde se knellende greep. Jesus praat hier van twee maniere van lewe naamlik slawerny van sonde, gekniehalter deur skuld wat lei tot die ewige dood, teenoor vreugdevolle gehoorsaamheid aan God se weg en die ontvangs van oorvloedige seëninge wat tot die ewige lewe lei.

Die twee skrifture in die vraag is dus duidelik nie teenstrydig nie, maar opeenvolgend. Een Skriftuur moedig ’n handeling aan – die keuse van gehoorsaamheid aan God se Wet. Die ander Skriftuur beskryf die gevolge van daardie keuse – ’n gemaklike juk en ligte las. Waarlik, elkeen wat alreeds daardie keuse gemaak het, besef die seëninge wat dit bied.