Jesus sê dat die sagmoediges die aarde sal beërwe, maar miljoene mense glo dat hulle hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf. Wat sê u Bybel werklik?


Miljoene – moontlik selfs miljarde – mense glo dat die heerlikheid van die hemel die beloning van diegene wat gered is, sal wees. Hierdie oortuiging word nie net gedeel deur die meeste mense wat hulself Christene noem nie, maar ook deur lede van baie ander godsdienste regoor die wêreld.

Christene glo in die woorde van Jesus Christus. Jesus gee party van Sy mees basies en fundamentele leringe in dit wat gewoonlik die “Bergpredikasie” genoem word (Mattheus 5-7). Hoe het Hy Sy lering begin? “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheus 5:3-5).

Let noukeurig op: Het Jesus gesê dat die armes van gees hemel toe sal gaan terwyl die sagmoediges die aarde sal beërwe? Nee! Hy sê dat die armes van gees geseën sou word met die Koninkryk van die hemele. Die Koninkryk van die hemel sal na die aarde kom wanneer Christus terugkeer! Dit is wanneer diegene wat gered is, opgewek sal word en die koninkryk sal beërwe.

Jesus leer ons om te bid “laat u koninkryk kom” (Mattheus 6:10). Het Hy gevra dat ons moet bid vir iets om te kom wat reeds hier is? Indien die Koninkryk hier is, waarom ervaar die wêreld sulke verskrikkings soos die twee groot Wêreldoorloë van die afgelope eeu, asook die verskriklike volksmoorde wat geloods is teen Armeniërs, Jode, Kambodjane en vele ander? Selfs vandag veg een uit elke agt nasies 'n burgeroorlog (The Economist, 22 Mei 2003). Ja, die wêreld het nodig dat God se Koninkryk kom.

Christus het onderrig dat daar 'n Groot Verdrukking sou wees voordat Sy Koninkryk kom. Hoe erg sou hierdie verdrukking wees? Hy sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Mattheus 24:22). Gelukkig het Christus beloof om in te gryp en deur Sy Wederkoms 'n einde te maak aan die vegtende mensdom se pogings om die aarde te vernietig. Indien u wêreldgebeure noukeurig dophou, sal u besef dat tensy God ingryp, huidige militêre tendense sou lei tot algehele wêreldvernietiging – die vernietiging van die mensdom. Sedert die eerste atoombom in 1945 oor Hiroshima ontsteek is, het die mensdom die mag gehad om hulself met soveel gemak te vernietig as wat nog nooit in die geskiedenis bekend was nie. Sedertdien het tegnologie ook baie vooruitgegaan! Indien hulle aan hulself oorgelaat word, sal vegtende nasies hulself uiteindelik vernietig.

My vriende, die Koninkryk van God is nie reeds hier nie! Jesus Christus voer nog nie Sy heerskappy oor die ganse aarde uit nie, anders sou daar nie die chaos en vernietiging wees wat ons nou sien nie. Christus moet terugkom om alle nasies te red – geestelik en fisies.

Gelukkig kom Hy binnekort om die aarde fisies te red en Hy het 'n plan vir die geestelike saligmaking van die mensdom. Hy onthul daardie plan deur die Heilige Dae, wat Jesus Christus en die Apostels onderhou het – en wat hulle die eerste Christene geleer onderhou het.  Die meeste belydende Christene weet dat die eerste stap in hierdie plan om die mensdom te red, is die verlossing wat God aan bekeerde sondaars gee, deur die bloed van Jesus Christus. Baie mense besef egter nie dat Jesus en die Apostels Sy opoffering en Sy saligmaking herdenk deur die viering van die Nuwe Testamentiese Pasga, met ongesuurde brood en wyn, nie. Christus en die Apostels het hierdie jaarlikse herdenking gehou en Christene opdrag gegee om dieselfde te doen.

Let op hoe die apostel Paulus Jesus se opoffering benadruk het: “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). In net die volgende vers sê Paulus selfs vir die Grieke om die Fees te onderhou – die Fees van Ongesuurde Brode. U sal hierdie terminologie dalk ongewoon vind, maar vir diegene wat Jesus Christus wil volg, is dit noodsaaklik – en vol hoop en bemoediging! Jesus het nooit Kersfees of Paasfees gevier nie, ook nie die Apostels of die Christene vir wie hulle onderrig gegee het nie. Van die begin af het Christene die Bybelse feeste onderhou, in navolging van Jesus se eie voorbeeld. Om meer te wete te kom oor die ware Bybelse feeste wat die stappe in God se plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld, versoek asseblief u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Die Heilige Dae: God se Meesterplan.

Waar is die Koninkryk?

Die apostel Johannes verduidelik dat God Sy dienaars geroep en hulle “uit elke stam en taal en volk en nasie” gekoop het (Openbaring 5:9). Wat sal hul lotsbestemming wees? Sal hulle hemel toe gaan? Die apostel Johannes verduidelik in die daaropvolgende vers: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

God het nie aangebied om ons te red sodat ons luilekker in die hemel kon rus nie. Hy roep ons om konings en priesters te word, wat Jesus Christus – die Koning van konings – sal bystaan in die vestiging van blywende vrede op aarde. Dit is waarom Jesus gesê het dat die sagmoediges – diegene wat Jesus in nederigheid navolg eerder as hul eie wil – die aarde sal beërwe. Wanneer ons bid, “Laat U Koninkryk kom”, bid ons vir die koms van daardie Koninkryk wat vrede na die ganse mensdom sal bring en waarin getroue Christene hul geliefde Verlosser, Jesus Christus, as konings en priesters onder Sy leiding sal dien.

Deur die jare het party mense onderrig dat die kerk God se Koninkryk op aarde is. Ander glo dat die Koninkryk in jou hart is. God se Koninkryk is egter 'n letterlike koninkryk met Jesus Christus as Koning!

Wat presies is 'n koninkryk? Elke koninkryk bestaan uit vier basiese elemente: 'n heerser, grondgebied, wette en onderdane. Hoe is dit egter op God se Koninkryk van toepassing?
Wie is die heerser van God se Koninkryk? Die Bybel beantwoord hierdie vraag op verskeie plekke. Let op wat die apostel Johannes skryf: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self” (Openbaring 19:11-12). Jesus Christus sal as seëvierende Koning na die aarde terugkeer met baie krone op sy hoof!

Hier is nog 'n beskrywing van Jesus se voorkoms met Sy Wederkoms: “En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).

Ja, die Heerser van die eerskomende Koninkryk van God sal Jesus Christus Self wees! Bid u “laat u koninkryk kom”? Sien u gretig daarna uit na Jesus se terugkeer na hierdie aarde toe? Die apostel Johannes het beslis. Johannes sluit die voorlaaste vers in die Bybel af met sy gebed en innige hoop: “Ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

Wanneer Jesus Christus kom, sal die ganse aarde Sy grondgebied wees! Boonop sal die ganse mensdom aan Hom onderdanig wees. Die Skrif verduidelik dat die hele wêreld die vredesweg sal leer. Mense sal jaarliks Jerusalem toe gaan om hul Koning te aanbid. Die ganse aarde sal leer om dieselfde Bybelse Heilige Dae as Jesus Christus en die Apostels te onderhou. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16).

Alle nasies op aarde sal die Koning aanbid en die huttefees vier. Baie mense besef nie dat die Heilige Dae steeds vir hedendaagse Christene vol betekenis is nie. Die Nuwe Testamentiese Kerk is op die dag van die Pinksterfees gestig, hoewel baie mense deesdae uit die oog verloor dat Pinkster een van die Bybelse Heilige Dae is wat God vir Sy mense gegee het. Ons lees in Handelinge dat skares mense saamgedrom het om die Pinksterfees te onderhou toe die Apostels vir hulle gepreek en duisende mense hulle bekeer het. Die mense was byeen om die dag te onderhou omdat dit 'n Bybelse bevel is! Aldus die NIV Study Bible heet “Pinkster ook die fees van die weke (Deuteronomium 16:10), die fees van die oes (Eksodus 23:16) en die dag van die eerstelinge (Numeri 28:26)” (bl. 1,645). Ware Christene vandag begryp dat die Pinksterfees daardie tydstip in God se plan van verlossing vier wanneer Hy die “eerstelinge” in hierdie huidige tyd tot verlossing roep en hulle voorberei om tydens die Millennium onder Christus te regeer.

Wat is die “Evangelie”?

Jesus Christus, die Messias, het 'n boodskap verkondig wat baie mense glo hulle mee vertroud is, maar wat verbasend min mense werklik verstaan. Wat het Jesus gepreek? “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Jesus het onderrig dat dit tyd was om op te hou sondig, Sy boodskap te glo en voor te berei vir die eerskomende Koninkryk van God.

Het u uself bekeer? Om “bekeerd te raak” beteken om te beken dat u gesondig het – die Tien Gebooie, God se Wet, oortree het. Dit beteken nie net om berou uit te spreek en u sonde te verafsku nie, maar om daardie sonde soveel te haat dat u uself daarvan wegkeer en begin om 'n nuwe lewe sonder daardie sonde te leef. Bekering beteken dat u – met God se hulp – uself verbind om u lewe te verander. Wat is sonde? Johannes skryf: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Sonde is immers oortreding van die wet van God”.

U kan nie die evangelie glo tensy u dit verstaan nie! Baie mense wat sê dat hulle in Jesus Christus glo, glo nie wat Hy gepreek het nie – of tree nie daarvolgens op nie. Jesus vra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Indien u werklik 'n Christen is, sal u doen wat Jesus beveel het. Indien u werklik 'n Christen word, sal u Jesus nie net op die een of ander abstrakte wyse as 'n “Verlosser” aanvaar wat u nie gehoorsaam nie, maar as u Heer en Meester wat u nastreef om met die hulp van die Heilige Gees te gehoorsaam. Soos Paulus skryf: “Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam” (1 Korinthiërs 6:19-20).

Ware Christendom is 'n leefwyse. Sodra u u bekeer, die evangelie glo en u lewe aan Jesus Christus oorgee deur gedoop te word, kan Hy deur die Heilige Gees in u leef. Dan kan u as Christen groei en u lewe omkeer van 'n lewe van selfsug na een van diens en liefde vir God en u medemens. Diegene wat God vandag roep, word nie bloot geroep vir hul eie saligmaking nie; Hy roep hulle ter voorbereiding vir diens in Sy komende Koninkryk as konings en priesters, soos ons vroeër gesien het. Hul eerste geleentheid om te regeer kom in die Millennium – die duisendjaar tydperk wat in u Bybel beskryf word wanneer Jesus 'n gesonde aarde sal regeer. Soos Johannes skryf: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Van  waar  af  sal  Christus  regeer?

Van waar af sal Jesus op die aarde regeer? Vanuit Jerusalem. Hy sê: “Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon” (Sagaria 8:3). Trouens, wanneer Hy regeer, sal Jerusalem 'n nuwe naam hê. Die heel laaste vers in Esegiël sê “die naam van die stad sal van vandag af wees: Die HERE is daar!” (Esegiël 48:35). In Hebreeus is daardie naam Yahweh Shama. Hy sal van daar af oor Sy Koninkryk regeer: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9).

Wanneer Christus terugkom om die aarde te regeer, sal Hy en die verheerlikte heiliges oor die nasies regeer – oor fisiese mense. Christus sal die nasies die leefwyse leer wat vrede voortbring. Vandag se Christene – verwek as geesteswesens (die “eerstelinge”) – sal onder Sy leiding as konings en priesters regeer oor stede en nasies (sien Lukas 19:17; Openbaring 2:26). Hierdie konings en priesters sal die wêreld opvoed oor God se Waarheid. Let op hierdie besielende teksvers wat diegene beskryf wat God se weë gedurende die Millennium geleer sal word: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien” (Jesaja 30:20). U kan een van daardie leraars wees. En wat sal die verheerlikte heiliges – die konings en priesters – onderrig? “En jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (vers 21).

In die Millennium sal leermeesters God se Wet onderrig. Die profeet Jesaja gee vir ons 'n inspirerende voorsmakie van wat sal kom: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

Die mens se dikwels teenstrydige en onregverdige wette sal nie meer bestaan nie. God se wette sal vanuit Jerusalem onderrig en geadministreer word. Die Tien Gebooie is ook die grondslag van daardie wette. Onthou, Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” – toe noem Hy voorts 'n paar van die Tien Gebooie op (Mattheus 19:17). Verder, in Sy “Bergpredikasie” het Jesus eintlik die Tien Gebooie uitgebrei. Hy het dit meer omvattend en meer bindend gemaak, want Christene moet die Tien Gebooie in die gees ook onderhou, nie net in die letter nie!

Wat sal die uitwerking van God se regering op aarde wees? “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Wanneer Jesus terugkeer, sal Hy die hele wêreld heropvoed in die vredesweg. “Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van 'n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:7-9).

In die Wêreld van Môre sal alle nasies die ware God van die hemel en aarde – die God van u Bybel – ken, en Hy sal diegene seën wat Sy gebooie onderhou, soos Hy nog altyd gedoen het. Let op hierdie besielende skrifdeel uit die boek Deuteronomium, wat die seëninge beskryf wat volg wanneer ons God se Wet gehoorsaam: “En hou die gebooie van die HERE jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees. Want die HERE jou God bring jou in 'n goeie land, 'n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; 'n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; 'n land van olieryke olyfbome en heuning; 'n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; 'n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het” (Deuteronomium 8:6-10).

U glorieryke toekoms

Kan u u rol visualiseer in die onderwysing van die nasies om God se gebooie te onderhou en om alle mense te help om die oorvloedige lewe te leef wat God aan hulle beloof? Indien u onder die “sagmoediges” is – iemand wat God se wil eerder as u eie wil soek – kan God u gebruik om ander mense Sy weg te leer.

Selfs vandag staan ons planeet soos 'n juweel uit in die omvangrykheid van die ruimte. Daar kom egter 'n tyd wanneer God die aarde met vuur sal suiwer en dit vernuwe, voordat die hemel op die aarde sal neerdaal (2 Petrus 3:10-13). Soos die apostel Johannes skryf: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21: 2-5).

U kan deel hê in hierdie ontsagwekkende toekoms. In Romeine 8:17 noem God Sy kinders erfgename en “mede-erfgename van Christus”. As erfgename van God sal getroue Christene nie net die aarde erf nie – hulle sal die heelal beërwe. Ons lees: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32). Ook: “Alle dinge het U onder sy [die mensdom se] voete gestel” (Hebreërs 2:8).

In hierdie laaste twee verse is die Griekse uitdrukking wat as “alle dinge” vertaal is ta panta, wat letterlik “die alles” beteken – met ander woorde alles sigbaar en onsigbaar. Ja, getroue Christene sal uiteindelik die ganse heelal beërwe! Vandag droom baie van ons daarvan om na die buitewyke van die sterrestelsel te reis, en verwonder ons aan die prag van die sterre, newelsterre en ander ontsagwekkende en pragtige eienskappe van ons heelal. Die tyd gaan aanbreek wanneer vandag se getroue Christene in staat sal wees om teen die spoed van denke oor die heelal te reis!

Ja, God wil hê dat u die aarde – en meer – beërwe! Hy sê vir ons: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees” (Openbaring 21:7). Mag God elkeen van ons help om Hom en Sy Koninkryk na te streef, sodat ons binnekort die aarde, die heelal en alle dinge kan beërwe!