Is die God van die Bybel regtig werklik vir u persoonlik? Hy kan – en Hy behoort te wees!


Wanneer verskriklike persoonlike of nasionale tragedies toeslaan, ondervind u ooit dat die idee van ’n ware God baie vaag of onseker vir u is? Is u onseker oor wat met u sal gebeur wanneer u sterf? Vir byna alle mense is dit sekerlik normale gevoelens. Dit is niks om oor skaam te wees nie.

Ek kan my hiermee vereenselwig. Soos duisende van u intekenare – ook honderde van my voormalige studente en kollegas – weet, is ek grootgemaak in ’n gemiddelde middelklas-gesin en het ’n “hoofstroom” Protestantse kerk bygewoon vir die eerste 19 jaar van my lewe. Heel dikwels het die gemeente gehoor dat ons kon uitsien daarna om “hemel toe te gaan” om die ewigheid daar deur te bring – as ons “goeie mense” is en Jesus liefhet.

Baie min is ooit gesê oor wat ons werklik sal doen wanneer ons in die hemel kom – of daar enige werklike doel vir ons lewens of daarna is. Alhoewel ons dikwels van die idee gehoor het dat daar ’n “God” bo in die hemel is en dat Hy ons liefhet, was dit heel dikwels baie sentimenteel gestel, maar dit is nooit bewys nie. Ons het almal net “aanvaar” dat dit so was.

Ten spyte van al hierdie “aangename” sentimente, het ek begin oplet dat – wanneer werklike tragedies toeslaan – die meeste van my vriende en familie diep geskok was. Hulle was klaarblyklik nie baie gelukkig met die idee dat hulle, of enige van hul geliefdes, op pad mag wees na hierdie veronderstelde wonderlike “hemelse huis” waarvan die predikant gepraat het nie. Ná die skielike afsterwe van my liewe vriend, Jimmy Mallette – wie se nek in ’n stoeiwedstryd gebreek is – was ek ook geskok. Ek het met ’n soektog begin om aan myself te bewys of daar ’n ware God bestaan, en om te ontdek wat Sy doel was om die mensdom te skep, indien daar inderdaad enige doel was.

’n Kragtige stem

In 1944, gedurende die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog, is Duitsland deur die Britse en Amerikaanse bomwerpers vergruis. Ongeveer daardie tyd het ek begin luister na ’n radioprediker genaamd Herbert W. Armstrong. Ten spyte van die klaarblyklike nederlaag van Duitsland, het mnr. Armstrong daarop gewys dat, volgens Bybelse profesieë, die Duitse volk weer sou opstaan en die leidende mag in ’n toekomstige Europese Ryk sal wees. ’n Paar jaar later, in die herfs van 1949, het ek na Pasadena, Kalifornië, gereis om in te skryf in mnr. Armstrong se Ambassador College. Daar het ek baie meer gehoor aangaande die toekomstige Europese Ryk – eintlik ’n herlewing van die ou Heilige Romeinse Ryk – ek het uit die Bybel begin verstaan presies waarom Amerika en Brittanje sulke groot nasies is, en wat met hulle sal gebeur as hul nie ten volle bekeer en hul na die God van die Bybel wend nie. Mnr. Armstrong het telkemale vir ons gesê dat die grootheid van die Engelssprekende nasies weggeneem sal word. Hy het aan ons gewys dat die lande van die Britse Gemenebes en die Verenigde State van Amerika die moderne afstammelinge is van die “verlore” Israelitiese stamme, Efraim en Manasse. Met begrip van die Bybelse profesieë wat verband hou met daardie antieke stamme, het hy spesifiek daarop gewys dat die belangrike “seepoorte” wat in die Bybel aan daardie nasies belowe is, weggeneem sal word – plekke soos die Suezkanaal, die Panama-kanaal, die Straat van Malakka, die Falklandeilande en Gibraltar – tensy daar nasionale bekering is.

Ek onthou dat mnr. Armstrong in 1954, tydens ’n dinamiese sprekersveldtog in Groot-Brittanje, ’n kragtige waarskuwing gerig het aangaande die komende ondergang van die Britse Ryk, die verlies van haar seepoorte en die groei van die Europese Unie wat aan die kom was! Ek was daar en het hom met gesag hoor verklaar: “Indien julle Britte julle nie waaragtig bekeer en terugdraai na die God van die Bybel nie, sal daar nie meer ’n Britse Ryk wees nie! Julle groot seepoorte, soos die Suezkanaal, sal weggeneem word! Amerika sal ook ten gronde gaan as ons ons nie bekeer nie!”

Dit was nie “sy idee” nie. Dit is daar in die bladsye van die Bybel vir diegene wat oë het om te sien. Hy het ook daarop gewys dat, volgens Bybelprofesie, die nasies van Oos-Europa sal moet wegbreek van die Sowjetunie en dat Wes-Duitsland en Oos-Duitsland sou herenig. Hy het in die uitgawe van April 1952 van sy Goeie Nuus [Good News] tydskrif geskryf: “Rusland mag Oos-Duitsland teruggee aan die Duitsers en sal gedwing word om afstand te doen van haar beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en gedeeltes van Oostenryk, om sodoende die unie van tien nasies voltallig te maak. Europa sal ’n vrye hand hê om Amerika en Brittanje te vernietig, soos geprofeteer” (bl. 16).

Gedurende ’n tyd toe die meeste “kenners” vreesbevange was oor die verwagting van oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie, het mnr. Armstrong uit Bybelprofesieë verstaan dat iets heel anders sou plaasvind. Hy het geskryf: “Die weg word voorberei vir ’n kolossale derde mag in wêreldpolitiek – ’n Europese Federasie van Nasies wat sterker sal wees as óf Rusland óf die Verenigde State! ... Ons het jare vooruit aangedui wat met Rusland se rampspoedige Ryk in Oostelike Europa sal gebeur” (Plain Truth, Desember 1956, bl. 3).

Wat van oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie? Mnr. Armstrong skryf: “Geen bewuste poging van ’n volskaalse oorlog tussen Rusland en Amerika is geprofeteer nie. Die bekende profesie van Esegiël 38 en 39 voorspel ’n Russiese inval in Palestina baie later, nie teen die Noord-Amerikaanse vasteland nie” (Plain Truth, Augustus 1950, bl. 2).

Miljoene mense het gehoor hoe mnr. Armstrong verklarings soos hierdie gemaak het, of het sy artikels gelees wat die beslistheid van hierdie gebeure wat in die Bybel geprofeteer is, bekend gemaak het. Die meeste mense het dit wat hulle gehoor het, geminag.

’n Sekulêre redakteur se perspektief

Namate hierdie spesifieke profesieë gestalte aanneem, was baie mense verstom. Soos die Berlynse Muur afgebreek is en die eens magtige Sowjetunie in duie stort, was miljoene mense onverhoeds betrap. Die “hoofstroom” nuusontleders en kenners het geen idee gehad dat hierdie dinge sou plaasvind nie. Diegene wat egter vertroud was met mnr. Armstrong se leringe was nie verbaas nie. Inderdaad, let op hierdie onthullende erkenning deur die redakteur van ’n klein koerantjie in Tennessee, wat wel verstaan het. Hy het hoegenaamd geen godsdienstige verbintenis met mnr. Armstrong gehad nie. Hier is wat hy geskryf het na die val van die Berlynse Muur en die wegbreek van die Oos-Europese nasies – wat Mnr. Armstrong spesifiek voorspel het:

“Soos baie Amerikaners het ek ook met belangstelling die huidige politieke situasie in Oos-Duitsland dopgehou. Terwyl baie mense hul verbasing uitgespreek het oor die onlangse gebeure en die Oos-Duitse oproep vir die hereniging van Oos- en Wes-Duitsland, moet ek erken dat ek nie té verras was deur hierdie gebeurtenisse nie. Die rede waarom ek nie té verbaas was nie, is omdat ek vir jare so af en toe die publikasies van ... wyle Herbert W. Armstrong gelees het ... Armstrong het voorspel dat die Berlynse muur eendag afgebreek sou word en dat die twee Duitse state weer sou herenig in ’n magtige nasie” (Free Press, 7 Desember 1989).

Vervulde profesie

Bogenoemde is maar een van verskeie voorbeelde wat ek kan opnoem. Oor en oor het ek, deur intensiewe bestudering van die Bybel en om dan noukeurig al hierdie spesifiekevervullings van profesieë wat groot nasies en situasies raak, dop te hou, het ek aan myself die absolute waarheid van die baie, baie spesifieke Bybelse profesieë oor Egipte, Babel, die herstelde Romeinse Ryk, en die rede waarom aan Amerika en die nasies van Britse afkoms soveel groot magte en seëninge gegee is, bewys. Oor die jare heen het ek tot die besef gekom dat Bybelse profesieë akkuraat beskryf wat sal gebeur met groot stede en nasies regoor die aarde! Indien daar nie ’n “werklike” God was wat werklik die skryf van hierdie profesieë geïnspireer en gelei het nie, sou dit nie vervul gewees het by so baie geleenthede en in soveel wonderbaarlike besonderheid nie. Behalwe vir die Heilige Bybel, bevat geen ander boek selfs naastenby soveel gedetailleerde profesieë oor die presiese lot van volke en nasies nie – dikwels honderde of duisende jare vooruit!

Die Almagtige God het die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ’n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ’n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen. Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die geregtigheid!” (Jesaja 46:9-12).

Indien u nie reeds vertroud is met wat die Bybel leer aangaande die eindtydse vervulling van profesie en hoe dit verband hou met die voormalige Britse Gemenebes-lande en die Verenigde State in besonder nie, vra asseblief u gratis kopie aan van ons boekies: Die Dier van Openbaring asook Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?Hierdie boekies sal help om aan uself te bewys, uit die Skrif, wat binnekort sal gebeur namate eindtydse profetiese vervullings vinniger sal plaasvind as nog ooit tevore! Hierdie boekies sal maak dat u Bybel vir u “lewendig word” namate u herken dat profesieë gestalte begin aanneem. Dit sal betekenis verleen aan die lees van u daaglikse koerant namate u sien dat gebeurtenis na gebeurtenis in plek val, net soos God geprofeteer het!

Byvoorbeeld, maak seker dat u “waak” (Lukas 21:36), om te sien of een of albei van Brittanje se enigste twee oorblywende “seepoorte” – Gibraltar en die Falklandeilande – weggeneem word binne die volgende paar jaar. Die Skrif sê dit sal gebeur voor die einde van hierdie tydperk. Op die huidige tydstip – in die geprofeteerde “laaste dae” van hierdie wêreld se samelewing – is God besig om kragtig in te gryp in wêreldgebeure. Hy sal binnekort “die grynslag afvee” van die gesigte van die twyfelaars en die spotters!

Na 62 jaar in die ware Werk van die Almagtige God, het ek geleer om nie te twyfel aan wat God sê nie, nadat ek aan myself bewys het dat die Bybel duidelik iets voorspel. Ek weet dit sal gebeur! Ek weet ook dat enigiets wat God Sy volk aansê om te doen, op die ou einde ten beste sal meewerk (Romeine 8:28).

God is die beslissende GENESER

Nog ’n rede waarom ek weet dat God werklik is, is omdat ek bewys het dat Hy die beslissende Geneser is. God verwag natuurlik van elkeen van ons om “ons deel te doen” in die handhawing van goeie gesondheid. Dit beteken nie dat ons vir dekades lank ons liggame kan misbruik, onwillig om ongesonde gewoontes prys te gee wat begedra het om ons siek te maak, en dan nogtans oombliklike genesing van God verwag nie. Ons het ’n verantwoordelikheid om die gesondheidsriglyne wat God in Sy woord gegee het, na te volg. Ons behoort nie skaam te wees om ’n roetine mediese ondersoek aan te vra wanneer dit lyk of ons ’n siektetoestand begin ontwikkel nie. Soms kan ’n dokter aan ons sê “wat verkeerd is” sodat ons kan verstaan wat ons moet doen om onsself behoorlik te versorg.

Ons behoort egter nie te vergeet dat net God ons Skepper en ons Geneser is nie. Dokters mag in staat wees om beserings te herstel en die verspreiding van siekte te vertraag, maar genesing kom van God. Soos u almal wat vertroud is met die Bybel behoort te weet, is een van die lewensbelangrikste aspekte van die bediening van Jesus Christus, genesing. Die Skrif sê aan ons: “En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Mattheüs 4:23). Ons sien dus dat Jesus voortdurend baie verskillende soorte ongesteldhede en siektes genees het. Ons behoort te verstaan dat – wanneer ons te doen het met die ware God van die Bybel – daar niks is wat Hy nie kan doen nie. Daar is niks wat Hy nie kan genees nie (Markus 3:1-6; Johannes 9:1-7; Handelinge 3:1-10)!

Jesus sê Self baie duidelik: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is” (Mattheüs 9:12). Dokters en professionele gesondheidswerkers kan dus by tye van groot hulp wees. Tog kan die ware God van die Bybel baie meer vermag as waartoe hulle in staat is! Ons behoort ook nie te vergeet dat selfs al wil ons vertrou op dokters en hospitale, hulle hul beperkings het nie. Soos ek al dikwels uitgewys het, wanneer die geprofeteerde verskriklike siekte-epidemies op massiewe skaal begin toeslaan en miljoene mense daardeur aangetas word, dokters en hospitale absoluut oorweldig sal wees! Baie mense sal selfs nie eens die opsie hê om op dokters en hospitale te vertrou nie. Hulle sal, soos nog nooit tevore nie, werklik nodig hê om, bo en behalwe wat die mens kan doen, op te kyk na die grote God wat hul liggame in die eerste plek gemaak het!

Een belangrike aspek van Jesus se bediening is die opdrag wat Hy aan Sy dissipels gegee het. Hy het hulle uitgestuur, en “... aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees” (Mattheüs 10:1). Goddelike genesing is een van die bewyse van die ware God van die Bybel. Daardie mag is vandag nog steeds effektief, en ek het dit self verskeie kere gesien!

Ek het persoonlik ’n veteraan uit die Koreaanse Oorlog, wat ’n kwadrupleeg was, onderrig en gedoop. Howard Clark het vir jare staatgemaak op ’n rolstoel, nie in staat om self rond te beweeg nie. Hierdie man was sekerlik by baie dokters! Hy was in die heel beste vloothospitale in die wêreld en het verskeie soorte operasies en mediese prosedures ondergaan – alles tevergeefs.

Ek het oor die jare gewoond geraak om Howard elke week in sy rolstoel te sien sit aan die regterkant van ons gemeente se vergadersaal. Na ’n tyd was hy geïnspireer om gebed vir genesing aan te vra. Op Pinksterdag het my geliefde vriend, Richard David Armstrong – die oudste seun van mnr. Herbert W. Armstrong – vir hierdie verlamde veteraan gebid. Net daar is hierdie voormalige kwadrupleeg bonatuurlik genees!

Ek was daardie dag in Chicago om die Pinksterdiens daar te lei. By my terugkeer in Pasadena het een van die kollege se jong motorbestuurders my tegemoet gekom en my opgewonde meegedeel: “Mnr. Meredith, het u gehoor dat Howard Clark nou die dag genees is?” Ek het uitgeroep: “Nee! Ek was weg en niemand het my gesê nie”. Ek was dus verheug om te hoor dat so ’n merkwaardige wonderwerk plaasgevind het. Net die volgende dag was ek in staat om Howard persoonlik te besoek en hom te sien rondloop. ’n Paar weke later het ek hom by ’n huweliksonthaal gesien waar hy twee van sy kinders gedra en met hulle gestoei het, terwyl hy gelag en gesels het met ander mense in die ry. Dit het trane in my oë gebring. Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie!

Die “ware” God van die Bybel genees werklik.
Nog ’n kragtige voorbeeld van goddelike genesing het gebeur toe ek gedurende 1951, besoeke gedoen het by verspreide kerklidmate. Terwyl ek saam met ’n ander student van Ambassador College gereis het, het ons ’n dame ontmoet wat vir berading om gedoop te word, gekom het. Sy het ’n vriendin, wat sy sedert haar kinderdae geken het, saamgebring om ons te ontmoet. In geloof het hierdie vrou aan mnr. Armstrong geskryf en ’n gesalfde lappie aangevra, volgens die Bybel se voorbeeld (Handelinge 19:11-12). Ná ontvangs van die lappie, het hierdie vrou begin om bonatuurlik genees te word deur die Almagtige God. Teen die tyd dat sy ons jong manne van die kollege ontmoet het, het ’n paar maande alreeds verloop sedert sy die lappie ontvang het. Na afloop van ons berading – sy sou niks kon “wen” deur ons te vertel nie – het sy gesê: “Manne, ek wil julle iets wys wat baie bemoedigend kan wees”. Sy het albei haar arms uitgestrek en beskryf hoe haar regterarm van kindsbeen af gebreklik en kort was en sy dit nooit op ’n normale manier kon gebruik nie. Sy het verduidelik hoe – nadat sy die gesalfde lappie ontvang en tot God gebid het – die arm begin het om uit te groei. Sy het gesê: “Manne, let op dat hierdie arm nog steeds ’n bietjie dunner is as die ander een. Alhoewel God die arm genees het, is die spiere nog nie ten volle ontwikkel nie, en God laat my toe om die spiere op te bou. Ek kan nou ons koeie met albei hande melk!”

Daar het trane in my oë gekom toe sy dit sê. Nogtans, omdat ek afkomstig was uit die “wys my” staat, Missouri, het ek dit nodig geag om wat sy vertel het, te kontroleer. Ek het dus aan haar vriendin gevra: “Het jy regtig saam met haar grootgeword en haar gebreklike arm al daardie jare gesien?” Sy het gesê: “Ja, ek het, en dit is merkwaardig hoe dit uitgegroei het”. Ten spyte van wat God gedoen het om haar vriendin te genees, wou hierdie ander liewe dame nooit gedoop word of op een of ander wyse by God se Kerk betrokke raak nie. Hy het nie haar denke geopen vir wat ons geglo het nie. Tog het sy geglo dat God haar vriendin genees het! Sy het dit immers met haar eie oë gesien!

My vriende, ek weet dat my vertelling van hierdie gevalle nie noodwendig baie van u sal oortuig nie, want u ken my nie goed nie en behoort seker te maak van al hierdie dinge. Ek lewer egter aan u my getuienis as ’n dienaar van Jesus Christus wat aan u die ware begrip gee van die Bybel se profesieë en van God se lewenswyse. Ek hoop dat dit u sal aanspoor om ten minste aandag te gee aan hierdie saak en om tot die slotsom te kom dat God werklik is. Hy gryp in – nie slegs in wêreldgebeure nie – maar ook in die genesing van Sy mense wat bereid is om hul geloof en vertroue in Hom te stel, soos beskryf in Jakobus 5:14-16 en vele ander plekke in die Bybel.

God se lewenswyse WERK!

Nog ’n rede waarom ek weet daar is ’n ware God, is omdat Hy vir ons ’n lewenswyse uiteengesit het wat werk! Dit is ’n lewenswyse wat aan ons gemoedsrus, geluk, sukses, en uiteindelik, die ewige lewe sal bring – indien dit opreg gevolg word. Ons by die Wêreld van Môre leer daardie lewenswyse deur ons hele panorama van televisieprogramme, tydskrifte, boekies en webtuistes. Indien u nog nuut is ten opsigte van hierdie Werk, of die Waarheid van die Bybel, maak seker dat u ’n gratis kopie van ons lewensbelangrike boekie, Hervestig die CHRISTENSKAP van die APOSTELS, aanvra. Dit sal baie aan u bekend maak aangaande die ware lewensweg soos verkondig deur Jesus Christus en Sy apostels. Baie min mense vandag verstaan dit. U kan ook u gratis eksemplaar van ons boekie, getiteld Die Tien Gebooie, aanvra. Saam sal hierdie boekies werklik u oë open vir ’n wonderlike lewenswyse wat baie min mense vandag van weet – selfs die meeste van diegene wat hulself “Christene” noem – omdat Satan die duiwel die meeste mense wat vandag leef, verblind het, soos dit duidelik in u Bybel verduidelik word (Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 4:3-4; Efesiërs 2:2).

Vir meer as 60 jaar in God se Kerk het ek persoonlik gesien dat mense – volgens die mate waarin hulle God se lewensweg volg en die Tien Gebooie werklik gehoorsaam, deur Christus wat in hulle leef – geseën word. Natuurlik sal hulle, soos God duidelik aantoon, beproewings en toetse ondervind. Alle Christene ervaar dit. Hulle sal nogtans gemoedsrus ontwikkel, baie meer insig kry en ’n positiewe geloof dat God met hulle is. Hulle sal die moed ontwikkel om Sy wil te doen en om hulself voor te berei vir die ewige lewe deur die Gees van God wat in hulle werk.

Let op wat Koning Dawid van ouds geïnspireer was om aan ons te sê. “Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die Here soek, het geen gebrek aan enigiets nie” (Psalm 34:9-11).

Ja, my vriende, ek weet waarlik dat daar ’n werklike God is. Hy het my lewe geheel en al gelei gedurende die afgelope 62 jaar, tot die mate wat ek bereid was om met Hom te wandel, Hom te dien en Sy wil te doen. Soos Hy in Sy Woord belowe, sal God my nooit verlaat nie, tensy ek my van Hom distansieer: “... want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

Nie ek of enigiemand anders in hierdie Werk wil hê dat u God in “blinde geloof” dien nie want God is werklik. U kan aan uself Sy geprofeteerde ingryping in wêreldsake en profetiese gebeure bewys. U kan ook in u persoonlike lewe – indien u gewillig is – aan uself bewys dat God die Geneser is en dat Hy sal ingryp en diegene wat hul vertroue in Hom stel, bonatuurlik sal genees. Ja, indien u gewillig is om u wil aan Hom te onderwerp, en toe te laat dat die ware Christus van die Bybel in u leef (Galasiërs 2:20), sal u vind dat God se lewenswyse werk. Hy het tog vir ons riglyne gegee waarvolgens ons behoort te leef, wat nie slegs oorvloedige lewe gevul met vreugde sal voortbring nie, maar wat ook sal help om die goddelike natuur van God self, in ons te help bou (2 Petrus 1:4).

Dit is hoe ek weet dat God werklik is. U en ek is waarlik hier geplaas vir ’n groot doel, en ons moet bereid wees om hierdie dinge aan onsself te bewys – om so te voldoen aan die doel van ons Skepper om werklike seuns in Sy ewige Koninkryk en Gesin in te bring tydens die vinnig naderende opstanding uit die dood. Dus, bewys God vir uself en handel dan volgens wat u bewys het!