VRAAG: Wanneer ons in Handelinge 8 lees van Filippus wat die Evangelie aan die Samaritane verkondig het, lees ons dat hy “Christus aan hulle verkondig” (vers 5). Waarom verkondig u tydskrif dan die Koninkryk van God en nie net die persoon van Christus nie?

ANTWOORD: Dit is ’n algemene wanopvatting. Baie mense glo vandag dat as hulle net maar oor die persoon van Christus preek, hulle Sy boodskap verkondig. Trouens, Jesus Christus het met ’n baie spesifieke boodskap gekom. Baie mense wat net van Hom as persoon preek, verdraai Sy boodskap en laat na om mense alles te leer wat Jesus Self aan hulle geleer het. Kyk noukeurig na Handelinge 8 wat die onlosmaaklike verband tussen Jesus se persoon en Sy Ware boodskap illustreer.

Let op wat Filippus gepreek het toe hy “Christus aan hulle verkondig” het. Ons lees: “Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue” (vers 12). Met ander woorde toe Filippus, Christus aan die skare verkondig het in Samaria, het hy hulle geleer aangaande Christus se identiteit as Verlosser en Koning (Sy “Naam”) en oor die “Koninkryk van God” waaroor Christus sal regeer. In reaksie op hierdie boodskap het baie mense Christus aanvaar – en sodoende Sy boodskap [van die Koninkryk] aanvaar.

Is hierdie “Koninkryk van God” ’n soort warm gevoel in die hart van die gelowige? Geensins! Die apostel Johannes het Jesus Christus se profetiese verduideliking van die toekomstige Koninkryk waaroor Hy sal regeer, opgeteken.

Johannes het geskryf van ’n toekomstige tyd: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15)!

Dit is nie ’n sinnebeeldige voorstelling nie; Jesus is ’n Werklike Koning. Hy sal oor ’n letterlike Koninkryk regeer, bygestaan deur opgestane getroue Christene (Openbaring 5:9-10; 1 Korintiërs 15:50-52). Daar sal definitiewe tekens wees wat Sy Wederkoms vooraf sal gaan en diegene wat hulle met die vyande van Christus verbind het, sal “treur” wanneer hulle Hom sien kom om daardie Koninkryk te vestig (Matthéüs 24:30).

Let op wat Hy gesê het toe Pilatus Hom gevra het, “Is U dan tog ’n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Soos Jesus ook verduidelik het, Sy Koninkryk is nie van “hierdie wêreld” – hierdie huidige tydperk – nie, maar van die Wêreld van Môre (vers 36).

Christus sal Sy Koninkryk vanuit ’n hoofkwartier in Jerusalem regeer. “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2). Wanneer die mensdom Christus se weë aanleer, sal “’n duisend jaar”, wat geleef is onder God se heerskappy, ’n vrede en vreugde bring wat nog nooit in die mens se geskiedenis geken is nie.

Die boodskap wat Jesus Christus verkondig het, was die goeie nuus van verlossing en die Koninkryk van God wat op hierdie aarde gevestig sal word om alle mense voor te berei vir die ewige lewe in Sy huisgesin. Christus se dissipels het almal hierdie selfde boodskap getrou verkondig soos wat Hy verkondig het (Lukas 9:1-2; 10:1-2, 9; Handelinge 20:21, 25; Matthéüs 24:14; 28:18-20).

Dus, om “Christus te verkondig”, beteken dus om die hele waarheid aangaande Jesus Christus, Sy dood en opstanding en die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig. Diegene wat waarlik Jesus Christus aanvaar, sal Sy boodskap aanvaar, hulle bekeer, gedoop word en Hom toelaat om Sy lewe in hulle te lewe (Filippense 2:5; Galásiërs 2:20) sodat Hy hulle kan voorberei vir die ewige lewe in Sy huisgesin.

Hierdie ontsaglike verandering en toewyding aan God se manier van lewe sal beloon word met Christus se Wederkoms, wanneer Hy aan diegene wat in Sy voetspore gewandel het, sal sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 25:34).