Behoort Moslems die geïnspireerde woorde van die Bybel ernstig op te neem? Behoort u?

“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6)
“En ons stuur ... Jesus, die seun van Maria, en bevestig dit wat voor hom gekom het in die Torah: Ons het Hom die Evangelie gegee” (Sura 5:35).


Ware Christene erken die Bybel as God se onfeilbare Woord, volmaak soos dit aan Sy volk gegee is. Christene in naam het kruistogte uitgevoer en verskriklike gruweldade in die naam daarvan gepleeg – somtyds teen ander Christene wat ook slegs in naam Christene was geveg en soms die stryd gevoer teen diegene wat ander boeke as heilig geag het – hulle het geweld gepleeg wat deur die God van die Bybel as sonde beskou word.

Een boek word deur meer as 1,6 miljard mense wat vandag leef as heilig geag en beweer dat dit daardie boek is, nie die Bybel nie, wat die finale, volmaakte en onfeilbare bron van goddelike openbaring is. Daardie boek, die Koran, is ook deur die eeue heen gebruik in ’n poging om die gewelddadige optrede wat deur die Bybel en ware Christene veroordeel word as sonde, te regverdig.

Moslems en Christene behoort albei te verstaan wat die Bybel daaroor sê. Moslems in besonder, kan dalk verras wees oor wat die Koran werklik te sê het oor die Bybel.

Die godsdiens agter die Koran

Islam is die tweede grootste godsdiens ter wêreld. Hulle het die grootste konsentrasie aanhangers in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, waar meer as 93% van die meer as 340 miljoen bevolking Moslems is. Die grootste getal Moslems is egter buite die Midde-Ooste, met meer as ’n miljard in Suid- en Suidoos-Asië, waar hulle ongeveer 25% van die bevolking uitmaak. Indonesië het die wêreld se grootste Moslem-bevolking, met meer as 200 miljoen aanhangers. Saoedi-Arabië, die tuiste van die godsdiens, het maar net 25 miljoen aanhangers.

Mohammed, wie deur die Moslems as die laaste profeet van God beskou word, rapporteer sy eerste openbaring in 610 n.C. – ’n openbaring wat volgens hom van die aartsengel Gabriël gekom het – waarna hy voortgegaan het om openbarings wat oor die laaste twee dekades van sy lewe strek, aan te teken. Hierdie openbarings is na sy dood in die dokument gekodifiseer wat nou bekend staan as die Koran.

Die twee hedendaagse hoofvertakkings van Islam is die Sunni en Shi’a, wat hulle verskillende geslagregisters terugspoor tot by ’n opvolgingsgeskil tussen Mohammed se eerste volgelinge. Sjiïtiese Moslems sien Mohammed se skoonseun en neef Ali, as die godsdiens se eerste regmatige kalief (godsdienstige hoof van die staat). Sunni-Moslems aanvaar die gesag van die eerste drie leiers: Abu Bakr, Umar en Uthman wat die gemeenskap gelei het na Mohammed se dood! Die twee vertakkings verskil ook in hulle regsgeleerdheid en maak staat op verskillende hadith (“gesegdes” van Mohammed en sy metgeselle), wat in die tiende eeu n.C. saamgestel is om ’n presedent in godsdienstige geskille te skep.

Hoewel Moslems erkenning verleen aan baie kenmerkende name vir God, name wat gebaseer is op verskillende goddelike eienskappe, word Allah hoofsaaklik deur hulle gebruik. Dit is ’n woord wat aan die Arabiere bekend was in die pre-Islamitiese tyd, soos ons kan sien uit die naam van Mohammed se vader, Abd-Allah, wat “dienaar van God” beteken. Die Koran bestaan uit 114 hoofstukke of Sura, wat elkeen veronderstel is om ’n openbaring van Allah, deur ’n engel, te wees. Dit is egter eers teen die einde van Mohammed se lewe en kort daarna opgeteken (die laaste teks is vermoedelik geskryf gedurende die kalifaat van Umar).

’n Hele paar honderd jaar voor Mohammed is die 22 Hebreeuse boeke van die Ou Testament (in 39 verdeel in die Christelike uitgawes) en die 27 Griekse boeke van die Nuwe Testament gekodifiseer – gekanoniseer – as die Christelike Bybel. Mohammed is heel moontlik tydens sy reise saam met sy oom, ’n handelaar, onvermydelik regoor die hele Midde-Ooste blootgestel aan baie mense wat ’n belydende geloof in die Bybel gehad het met sy duidelike boodskap van een soewereine God wat in skrille kontras was met die baie gode wat deur die verskillende Arabiese stamme aanbid was.

Alle Moslems, of dit nou Shi’as of Sunnis of ander is, vereer Allah as God, Mohammed as Allah se boodskapper en die Koran as Allah se volmaakte boodskap. Trouens, ten spyte van ’n aantal paragrawe wat in antieke Arabies geskryf is, nou feitlik onverstaanbaar vir moderne sprekers, beskou Moslem-geleerdes die Koran as volmaak en onverganklik. Inderdaad, die meeste Moslems beskou dit as ewig-bestaande en ongeskape, so ewig soos Allah.

Hoe doen die Koran ’n oproep vir die verspreiding van Islam? Dit laat Moslems toe om ongelowiges te bekeer of hulle dood te maak (Sura 9:5, 47:4). Deesdae het Moslems verskillende menings oor die Koran se 41 verwysings na jihad, ’n Arabiese woord wat vertaal kan word as “stryd” of “geveg” in Afrikaans. Sommige mense vertolk jihadhoofsaaklik as ’n interne en geestelike proses, terwyl ander dit as ’n opdrag beskou om letterlik, fisiese oorlog te voer teen ongelowiges. Gedurende die eerste dekades van Islam het die Moslems inderdaad in die naam van hulle geloof oor ’n wye gebied oorlog gevoer. Dink aan die Zoroastriese gemeenskap van Persië wat reeds vir meer as ’n duisend jaar voor Mohammed gefloreer het. Ongeveer aan die begin van 635 n.C. het Moslem-weermagte voortdurend aanvalle teen Persië geloods en binne ’n geslag of twee het die meeste Zoroastriste óf die Islam geloof aangeneem, óf hulle het na Indië gevlug. ’n Soortgelyke patroon het elders in die Midde-Ooste en Noord-Afrika voorgekom, totdat die strekking van Islam uiteindelik uitgebrei het tot so ver noord as die poorte van Wenen en so ver wes as Spanje.

Interessant genoeg, is dit “die mense van die Boek”, naamlik Jode en Christene, wat nie die Koran aanvaar nie, wie onderwerp moet word daaraan en indien nodig om die lewe gebring word. Aan die Moslems word opdrag gegee: “Veg teen dié mense van die Boek wat nie [werklik] in God [Allah] en die Laaste Dag glo nie ... totdat hulle belasting betaal en instem om hulle te onderwerp ...” (Sura 9:29-30). Dit is in skrille kontras met die Bybel se opdrag aan Christene, wat geweld of selfs haat verbied (Mattheüs 5:39-44). Christene moet hulle vyande liefhê (Lukas 6:35) en die vrugte van die Gees in hulle lewens vertoon (Galasiërs 5:22-23). Christene verstaan dat Jesus se Koninkryk nog nie van hierdie wêreld is nie (Johannes 18:36), hulle moet die goeie nuus van Christus se wederkoms verkondig (Markus 16:15; Mattheüs 24:14) en wag vir Sy wederkoms waarna Hy sal regeer as Koning van die konings (Openbaring 19:11-16).

Die debat oor die geïnspireerde Skrif

Die Bybel leer ons dat God Sy geïnspireerde Skrif gespreek het deur goddelik uitgesoekte manne wat daartoe gedryf is deur die Heilige Gees (2 Petrus 1:19-21), dat dittheopneustos, of “God geïnspireerd” of “deur God ingegee” is (2 Timótheüs 3:16), dat dit waar is (Johannes 17:17) en dat dit die grondslag van alle leerstellings is (Mattheüs 4:4). Die geïnspireerde kanon van die Skrif sluit af met die ontstellende waarskuwing dat niks by die Bybel bygevoeg of weggeneem mag word nie (Openbaring 22:18-19). Dit mag nie deur enige ”verdere openbaring” wat hierdie opdragte hersien of vervang, weerspreek word nie.

Wat sê Moslems hiervan? Sommige Moslems beweer dat die Bybel oorspronklik betroubaar was, maar dat dit op ’n stadium verdorwe geraak het. Dit is eenvoudig ’n valse en maklik weerlegbare bewering. Baie Bybelse manuskripte dateer uit honderde jare voor Mohammed. Hierdie manuskripte was verder ook goed bekend in Mohammed se tyd en baie daarvan het behoue gebly tot in die moderne tyd. Die Codex Vaticanus en Codex Sinaiticus (albei circa 340 n.C. - 350 n.C.) wat pragtig behoue gebly het, die Chester Beatty Papyri (ongeveer 250 n.C.), kleiner fragmente soos die John Ryland Fragment (ongeveer 117 n.C - 138 n.C.), die Bodmer Papyri en honderde ander afskrifte van die Nuwe Testament wat dateer uit die tyd voor Mohammed, bestaan byvoorbeeld vandag nog en getuig van die onfeilbaarheid van die Skrif.

Hierdie baie dokumente, tesame met die Dooie See-rolle, getuig van die bewaring en aantekening van die Skrif lank voor Mohammed. Dit laat ook die Moslems met ’n dilemma. Indien die beweerde korrupsie plaasgevind het voor die tyd van Mohammed, waarom verwys die Koran dan na die Bybel as die Woord van God en dring dit daarop aan dat dit nagevolg moet word (Sura 2:40-42, 75, 3:3, 71, 93, 98-99, 5:68, 6:91, 10:37, 94, 21:7, 29:45, 35:31, 46:11)? Waarom beveel die Koran Christene aan om die waarheid in die Nuwe Testament van Mohammed se tyd te vind (Sura 10:94)? Verder, indien die Nuwe Testament die woord van God is (soos verklaar word in Sura 5:46, 67, 71) en as Jesus ’n profeet van God is (soos in Sura 4:171 en elders beweer word), dan moet ons Jesus se woorde in die Bybel glo en gehoorsaam. Die Koran self beklemtoon die wettigheid van die Bybel wat God aan Israel gegee het (Sura 2:40-42)! Verder leer die Koran ons dat die Woord van God nie verander kan word nie en dat dit geglo en gehoorsaam moet word (Sura 2:136, 4:136, 6:34, 10:34, 29:46).

Die Bybel bevestig dat dit en geen ander geskrifte nie, God se Woord is, aangeteken en gekodifiseer deur “heilige mense” (2 Petrus 1:21) onder inspirasie van die Heilige Gees. Soos reeds opgemerk, is die Bybel deur die eeue heen getrou bewaar. Twee van die honderde voorbeelde van die behoud van die Bybel is die Codex Sinaiticus enCodex Vaticanus. Hierdie pragtige en volledige Latynse Bybels is vandag nog beskikbaar en te sien in museums. Dit is twee van die oudste oorblywende en volledige Bybels en is in ongeveer 340 n.C. saamgestel, meer as drie eeue voor die Koran. Hierdie Bybeltekste, as dit vertaal word, is byna identies aan enige moderne Nuwe Vertaling of Ou Vertaling van dieBybel wat vandag gekoop kan word. Let op dat die Codex Sinaiticus, voor die tyd van Mohammed geskryf is en vir meer as 1,670 jaar op perkament behoue gebly het. Dit bestaan uit dieselfde teks as die boek Openbaring, soos hierbo vermeld, wat so eenvoudig vertaal is soos wat u dit vandag in die Ou Vertaling vind: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openbaring 22:18-19).

Dit is goed bekend waar moderne byvoegings in latere vertalings van die Bybel ingesluip het, soos die bekende “Johannine comma” in 1 Johannes 5:7, wat valslik gebruik word om God voor te stel as ’n “drie-eenheid”. Ja, God het die antieke geskrifte bewaar, sodat ons kan weet wat die waarheid van Sy geïnspireerde Woord is. Die Bybel is nie verdraai nie; inteendeel, die oorspronklike teks het deur die eeue heen akkuraat behoue gebly. Christene het vertroue in die geloofwaardigheid van hierdie woorde en het geloof in die hoop van die opstanding en in die “boom van die lewe en die heilige stad”. Die Bybel wat die Woord van God is, bevat hierdie woorde van lewe (verwys Johannes 6:63). Hierdie woorde is waar, betroubaar, finaal, volmaak en onfeilbaar. Geen ander Skrif is nodig nie en geen ander een is gegee nie.

Verlossing is beskikbaar vir almal

Die behoefte aan verlossing en die hoop op lewe na die dood, is die kerntemas in die Koran sowel as in die Bybel. Die twee boeke is nogtans onversoenbaar in hulle begrip van Jesus Christus. Die Koran leer ons dat Jesus nie God of die Seun van God is nie, maar bloot ’n profeet. Dit is so ’n belangrike Islamitiese beginsel dat die stelling: God “verwek nie” (geneem uit Sura 112:3), teen die einde van die sewende eeu n.C. gegraveer is op die Rotskoepel in Jerusalem. Terwyl die Koran na Jesus verwys as deur God gestuur, is die Christelike Bybel uniek deurdat dit verlossing bied wat slegs kan kom deur God wat vlees geword het.

Mohammed het sy volgelinge gewys op baie Bybelse profesieë aangaande Jesus se koms. In Sura 3:38-48 word vertel van engele wat Sagaria, die priester (vader van Johannes die Doper) ingelig het omtrent Jesus se naderende geboorte. Die Koran vermeld dat toe hy die maagd Maria besoek het, Sagaria aan haar gesê het dat haar ongebore baba “van Allah af kom” en selfs beweer dat Hy “die Messias, Jesus, die seun van Maria sou wees en geëer sou word in hierdie wêreld sowel as in die volgende” (Sura 3:45). Interessant genoeg, alhoewel die Koran die feit verwerp dat Jesus die Seun van God is (Sura 19:35), verkondig die Koran wel Jesus se opstanding en dat Jesus gesê het dat Hy “weer opgewek [sou] word” (Sura 19:33-34).

In teenstelling hiermee verklaar Jesus in die Christelike Bybel dat Hy “die weg en die waarheid en die lewe” is en “niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Die Bybel veroordeel boonop die idee van verlossing deur enigiemand anders as deur Jesus Christus: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

Waarlik, die Bybel, bekend aan Mohammed en aangeprys in die Koran, verwys voortdurend na Jesus Christus as die hoop vir verlossing. Job het die hoop uitgespreek dat hy opgewek sal word en “God sien” wanneer sy Verlosser “uiteindelik ... op die aarde triomfeer” (vgl. Job 19:25-26 NV). Jesus het verklaar dat Hy drie dae en drie nagte in die graf sou deurbring, net soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis deurgebring het (Jona 1:17; Mattheüs 12:39-40). Christus het ná Sy dood en opstanding aan talle mense verskyn (Markus 16, Lukas 24:36-51; Handelinge 1:3). Die apostels Petrus en Paulus verklaar dat Jesus Christus inderdaad uit die dood opgewek is (Handelinge 2:22-24; 1 Korinthiërs 15:1-8).

Die Bybel leer ons boonop: “... die Woord was God” en “ ... die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon”, dat Jesus Christus die Woord was en dat genade en waarheid deur Hom kom (Johannes 1:1-18). Die Christelike Bybel verklaar dat Jesus die God van die Ou Testament is, die “Rots” wat Israel in die woestyn gevolg het en wat die Tien Gebooie vanaf die berg Sinai gespreek het (1 Korinthiërs 10:4). Die Bybel maak dit duidelik dat die Woord in die vlees gekom het, gebore uit ’n maagd, en enigeen wat “nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie”, gebrandmerk is as ’n “verleier en die Antichris” (2 Johannes 7). Johannes skryf dat verwerping van die Woord wat vlees geword het, ’n misleiding is wat toe “al in die wêreld” was, selfs gedurende Sy tyd (1 Johannes 4:3).

Die Koran belowe “die vuur van die hel as ’n permanente tuiste” vir diegene wat Islam verwerp (Sura 9:68), selfs terwyl dit erken dat Jesus deur God gestuur is en as sodanig geglo en gehoorsaam moet word. Christus se duidelike boodskap, aangeteken in dieselfde gekononiseerde Bybel wat deur Mohammed en die Koran aangeprys word, is dat slegs Hy, as die Seun van God en die Messias, die enigste hoop vir die hele mensdom is om redding en die ewige lewe te ontvang. Ja, deur Christus is verlossing vir alle mense wat Sy boodskap aanvaar en aan Hom gehoorsaam is, beskikbaar (Galasiërs 3:28-29)!

Christene het ’n Verlosser!

Jesus was die Christus en geen gewone profeet nie, die vervulling van alles wat in die Wet, die Profete en die Psalms oor Hom geskryf is (Lukas 24:44-46). Hierdie begrip kom vanaf die Christelike Bybel (vers 45), wat verduidelik dat Hy gely en uit die dood opgestaan het (vers 46), sodat “bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies” (vers 47).

Die Koran verkondig die vrees vir Allah, wat sondaars na die vuur van die hel sal stuur. Dit bied egter geen Verlosser wie versoening kan doen vir sondige mense wat dit nie vir hulleself kan doen nie. Diegene wat aan die God van die Christelike Bybel gehoorsaam is, is egter diep dankbaar dat God Sy Seun gestuur het om die sondes van die wêreld weg te neem (1 Johannes 2:2), dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het, dat Hy daarna opgewek is en weer opgevaar het na Sy Vader in die Hemel, totdat Hy “weer kom” (Johannes 14:3)! Ons kan dankbaar wees dat Hy weer sal kom, dat daar dan ’n tyd sal aanbreek wanneer almal in staat sal wees om tot hierdie kennis te kom en dat elke knie uiteindelik voor Christus sal buig (Filippense 2:9-10)!