Hierdie maand, sewentig jaar gelede, het die Tweede Wêreldoorlog begin met Duitsland se inval in Pole. Op die 70ste herdenking van hierdie historiese gebeurtenis, wat leer Pole se verlede aan ons oor hul toekoms – en oor die toekoms van wêreldoorlog?


1 September 2009 dui ’n sombere herdenking aan vir die nasie van Pole. Dit was op daardie dag in 1939 – 70 jaar gelede – dat Duitse troepe die Poolse grens oorgesteek het en ’n reeks gebeure ontketen het wat Europa en die hele wêreld spoedig in die gruwelikste oorlog in die geskiedenis gedompel het.

Waarom het dit gebeur? Wat voorspel dit vir die toekoms? Voorsien die Bybel aan ons leidrade aangaande die toekoms van Pole, Europa en Rusland in die jare wat sal kom? Die verrassende – en ernstige – antwoord is: Ja!

Sameswering om ’n volk uit te wis

Voor September 1939 het Adolf Hitler aan die Poolse regering en aan die wêreld gesê dat Nazi-Duitsland net lewensruimte wil hê en slegs beoog om Duitsers wat in ’n Poolse gang aangrensend tot Duitsland woon, wil “bevry”. Die reine waarheid was egter dat Hitler nog altyd beplan het om Pole binne te val. Op 22 Augustus, 10 dae voor die inval, het Hitler sy beleid aangaande Pole aan die Wehrmacht se leierskap uiteengesit, en hulle beveel om voor die voet dood te maak, “sonder jammerte of genade, mans, vrouens en kinders van Poolse afkoms of taal” (Forgotten Holocaust: The Poles Under German Occupation, bl. 3). Hitler het gesê: “Die vernietiging van Pole is ons hooftaak. Die doel is nie die bereiking van ’n sekere lyn nie, maar die uitwissing van lewende magte ... wees genadeloos! Wees brutaal ... Dit is nodig om voort te gaan met die maksimum felheid ... Die oorlog moet ’n oorlog van uitwissing wees” (ibid., bl. 4).

So het ’n verskriklike nagmerrie vir die Pole en hulle land begin toe die Duitse oorlogsmasjien hul toegesak het op verskeie fronte. Burgerlike teikens was met dieselfde wreedheid aangeval as militêre teikens. Boere wat op die lande gewerk het, was venynig deur die Luftwaffe aangeval, hospitale en sanatoriums was verkool. Daar was geskiet op verkeer op die hoofweë om verwarring en terreur te veroorsaak soos wat Nazi-Duitsland oorlog gevoer het, nie slegs om Pole te oorwin nie, maar om hul as ’n nasie te vernietig.

Tydens daardie verwoestende September was Pole nie slegs deur Nazi-Duitsland aangeval nie, maar ook deur sy oostelike buurman, Rusland. Op 23 Augustus, slegs 9 dae voor die inval, het Duitsland en Rusland se Ministers van Buitelandse Sake ’n nie-aanvalsverdrag onderteken en die twee nuwe saamspannende nasies het toe ook die berugte geheime protokol onderteken waarin hul ooreengekom het om die verslane Pole te verdeel in Duitse en Russiese sones. Toe Rusland Pole op 17 September aangeval het, moes die nasie op twee fronte veg om hulself te verdedig.

Die situasie het vir Pole versleg. Die nasie was nie slegs deur vyande op albei grense aangeval nie – dit sou spoedig verraai word deur hul verklaarde vriende in die Weste.

Verraai deur “Bondgenote”

Poolse magte het desperaat geveg, met die hoop om tyd te wen totdat die beloofde hulp wat van Frankryk en Engeland sou kom, opdaag. Beide Frankryk en Engeland het op 3 September oorlog verklaar teen Duitsland, twee dae ná die inval. Hoewel Frankryk tog verbind was om ’n grootskaalse offensief binne 15 dae na Duitsland se aanval te loods, het dit nie gebeur nie. Historikus Andrew Hempel skryf: “Terwyl die Poolse leër alleen geveg het, het 92 Franse divisies ledig agter die Maginotlyn teenoor 35 derderangse Duitse divisies gestaan” (Poland in World War II: An Illustrated Military History, bl. 23). Die moorddadige verraad van Duitsland en Rusland was vererger deur die Geallieerdes se herhaalde verraad teenoor Pole.

Ten spyte van onvervulde beloftes van die Weste en terwyl hul venynige aanvalle op twee fronte moes afweer, het die Poolse weermag steeds daarin geslaag om beduidende skade aan die invallers te berokken.

Was 1939 egter die eerste keer dat Pole deurgeloop het onder aggressiewe, oorlogvoerende bure? Nee. Pole koester deesdae met reg agterdog teenoor sy bure en nie slegs oor wat 70 jaar gelede gebeur het nie. Die storie begin eeue voor daardie tyd. In die 15de eeu was die koninkryk van Pole ’n toonaangewende en magtige staat, maar in die 1700s het dit deurgeloop onder die aggressie van dieselfde buurstate wat dit in 1939 aangeval het: Rusland, Pruise en Oostenryk. “In drie agtereenvolgende gebiedsbeslagleggings, in 1772, 1793 en 1795, het die drie bure Pole van die kaart van Europa geskrap ...” (Hempel, bl. 2). Hierdie lyding het voortgeduur tot in die 19de eeu toe opstande teen Rusland in 1830 en 1863 in ’n nederlaag geëindig het en duisende Pole na Siberië verban is” (ibid., bll. 2-4).

Toe die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, het Pole te voorskyn getree as ’n vry en onafhanklike nasie, vir die eerste keer in 123 jaar (ibid., bl. 4-5). Die land se relatiewe vrede en vooruitgang het egter katastrofies geëindig in 1939. Selfs nadat die Tweede Wêreldoorlog na 5 jaar van aakligheid vir die Pole beëindig is, het hul lyding onder Russiese oorheersing voortgeduur. Ten spyte daarvan dat hulle die Geallieerdes se saak gedien het, was Pole oorgegee aan die Russiese invloedsfeer, hulle was beloon met die ystervuis van Kommunisme. Die Sowjetunie het vinnig toegeslaan op Pole (asook die res van Oostelike Europa), en nie sy greep verslap tot en met die val van die Ystergordyn in 1989 nie.

Pole se geskiedenis gee aan ons insig in wat die Poolse volk vandag moet trotseer. Pole is ’n klein maar ontluikende landjie wat desperaat na versekering soek dat die gruwels van die verlede nooit herhaal sal word nie. Sal dit, en die res van vrye Europa egter daarin slaag? Sal Duitsland – en Rusland – weereens herrys as oorlogvoerende wêreldse militêre magte?

’n Komende ryk

Pole is heeltemal reg om sy Europese bure te wantrou. Bybelse profesie toon aan dat die opkoms van Nazi-Duitsland in die 1930s slegs die sesde in ’n reeks herlewings van die Europese Heilige Romeinse Ryk was. Dit toon ook dat daar nog een moet kom.

Waar vind ons hierdie profesieë? Uit die boek Daniël leer ons dat God die koms van vier wêreldregerende ryke voorspel het: Babilonië, Medo-Persië, Griekeland en Rome (Daniël 7:3-7). Die apostel Johannes praat dan van die eindtydse herlewings van die Romeinse Ryk – ’n dier wat “was en nie is nie, alhoewel hy is” (Vir meer inligting, vra asseblief ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, aan).

Alhoewel die Romeinse Ryk in 476 n.C. geval het, was dit in 554 n.C. herstel en weer gebore onder Justinianus, met die hulp van die Kerk in Rome. Hierdie kerk is die hoer “vrou [wat] sit op ’n skarlakenrooi dier” wat op sewe berge sit soos beskryf in Openbaring 17:3, 9. Verdere herlewings van die Romeinse Ryk het gevolg op Justinianus: Karel die Grote in 800 n.C., Otto die Grote in 962 n.C., en Karel V van die Hapsburgse vorstehuis, in 1530 n.C. Die vyfde herlewing was die ryk wat Napoleon Bonaparte in 1804-1814 opgerig het. Die sesde was die onheilspellende Spilmoondhede wat Pole en groot dele van Europa verwoes het.

Dit laat ons egter met nog een Europese diktator wat moet kom – die sewende. “En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:10). Hierdie laaste herlewing van die Romeinse dier – ’n toekomstige Europese mega-moondheid – sal ’n groep van tien belangrike nasies wees wat almal hulle ondersteuning en mag aan een “koning” sal oorgee (verse 12-13). Pole is heeltemal reg om skrikkerig te wees vir ’n herrese Duitsland, aangesien Pole – en ander lande in Europa – die gevaar staan om verswelg te word deur daardie sisteem. Pole self mag een van die tien “konings” uit die Oosterse been van die ryk wees (Daniël 2:33), daartoe gedwing of selfs bedrieg deur ’n magtige, charismatiese Hitleragtige Europese leier om aan hierdie ryk onderworpe te wees, of om dieselfde dodelike gevolge te ervaar as op 1 September 1939.

Dit is egter nie al nie. Bybelse profesie dui ook aan dat ’n ander magtige leër in die Ooste tot stand sal kom – en heel waarskynlik Rusland sal insluit – wat met Europa sal wedywer om oorheersing van die wêreld. Die profeet Daniël voorspel ’n groot oorlog tussen hierdie twee reuse. Nadat die Europese “koning” beheer oor Jerusalem verkry het, kyk wat volgende gaan gebeur: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Daniël 11:44). ’n Geweldige groot 200 miljoen sterk monoliet uit die Ooste sal die Duitsgeleide Europese mag konfronteer en hulle sal heel moontlik kernwapens teen mekaar gebruik. Hierdie aanslag sal groot lyding reg oor die aarde veroorsaak – aan vegtende sowel as nie-vegtende nasies. Miljarde mense sal gedood word – volgens die Bybel, een derde van die aarde se bevolking – in hierdie geveg wat in Openbaring 9 beskryf word as die “tweede wee”. Jesus het gesê dat as dit nie vir Sy ingryping sal wees nie, sal hierdie verskriklike oorlog alle lewe op aarde sou uitwis (Mattheüs 24:22).

Amerika: Pole se nuwe beste vriend?

Aangesien Pole skrikkerig is vir die oorlogsugtige neigings van beide Duitsland en Rusland, het dit sedert die einde van die Koue Oorlog aktief na ’n nuwe, kragtige bondgenoot gesoek. Gedurende Maart 1990, slegs maande ná die val van Kommunistiese oorheersing van Pole, het die nuut-bevryde nasie hulself begin beywer om lidmaatskap van NAVO te verkry. In 1997 was die land dus amptelik uitgenooi om te begin met die proses om lidmaatskap te verkry.

In Augustus 2008 het Pole en Amerika voorlopige ooreenkomste onderteken om ’n verdedigingstelsel van tien ballistiese projektiel-terreine in Pole te bou. Amerika se verklaarde rede vir die installering van hierdie onderskeppingsprojektiele is om hulself te beskerm teen aanvalle vanuit Iran en Noord-Korea. As vergoeding het Pole die belofte van kortafstand Patriot-projektiele vir sy eie lugverdediging verkry, asook die versekering dat Amerika tot Pole se hulp sal kom in die geval van ’n aanval. Die plan het die Russe omgekrap en hulle het gedreig om hul eie projektiele naby die Poolse grens te installeer (“Russians to station missiles near Poland”, Reuters, 5 November 2008). Dit het egter ook vir Duitsland gegrief omdat Pole nie die EU geraadpleeg het nie.

Waarom het Pole deesdae so ’n sterk begeerte om homself aan Amerika se sy te skaar, selfs met teenkanting van sy omgekrapte bure? Die sleutel is dat Pole se verlede onthou word. In Poolse geheue is die behandeling vir eeue deur sy oorlogsugtige bure nog te vars en rou. Kan Pole egter werklik sy eie veiligheid en beskerming verseker deur hom aan Amerika se kant te skaar? Politieke verbintenisse kan wissel. Die Obama-administrasie het alreeds die projektiel-verdedigingstelsel in Pole op ’n laer prioriteit geplaas as ander dringende kwessies in Iran en Afganistan – en mag toegewings aan die Russe maak in ruil vir Russiese hulp in die Midde-Ooste. Pole het alreeds versigtig die verandering aangevoel en het probeer om sy politieke opsies oop te hou deur betrekkinge met Rusland te verbeter.

Selfs al sou Pole en Amerika egter verdere veiligheidsbande smee, sal dit Pole kan red? Sal dit verseker dat daar nooit weer ’n aanval soos op 1 September 1939 sal wees nie? Kan Pole staatmaak op die verbintenisse en militêre verdrae wat gemaak word met die Westerse magte? Kan Pole Amerika vertrou?

Die langtermyn antwoord is: “Nee!” Bybelse profesieë verduidelik dat die mag en aansien van Amerika – en die ander Westerse nasies – eers sal taan en dan heeltemal in duie sal stort, as gevolg van hul nasionale sondes. Die tyd sal onvermydelik aanbreek wanneer Amerika en ander Westerse nasies nie langer in staat sal wees om Pole en ander Oos-Europese lande te beskerm nie. Waarom nie? Omdat hulle nie in staat sal wees om hulself te beskerm nie.

Gevaar vorentoe

Die God van die Bybel het vooruit gewaarsku dat moderne Israel – saamgestel uit die hedendaagse Engelssprekende en Wes-Europese nasies, insluitende Amerika – oorrompel sal word deur hierdie Europese Diermoondheid (vir meer inligting oor die identiteit van die hedendaagse Israelitiese nasies, skryf asseblief en vra om u kopie van ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Die profeet Esegiël was beveel om Israel te waarsku aangaande ’n toekomstige ballingskap – lank nadat die Assiriese ballingskap plaasgevind het. Dit kan slegs beteken dat daar ’n toekomstige, tweeledige toepassing nog moet plaasvind – en Bybelse profesieë toon aan dat daardie tyd inderdaad nog voorlê.

Waarom sal hierdie geprofeteerde ramp plaasvind? As gevolg van hedendaagse Israel se weiering om hul te bekeer van opstand teen en ongehoorsaamheid aan God. “En Hy het vir my gesê: Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde ... Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart” (Esegiël 3:4, 7). As gevolg van ons nasie se sondes sal ons nasionale voorspoed en militêre oorheersing tot ’n skielike einde kom. God sal Pole se ou vyand, die antieke nasie Assirië (moderne Duitsland), gebruik om die moderne afstammelinge van Israel deur oorlog en ballingskap te verneder (Jesaja 10:5-6). Slegs ná ’n tyd van swaarkry soos die wêreld nog nooit voorheen beleef het nie, sal die Israelitiese nasies uit ballingskap terugkeer met geween en geweeklaag oor hulle sondes (Jeremia 30). God waarsku die Amerikaanse en Britsafstammende volke om hulle te bekeer van hul afvallige weë en terug te keer na God! Soos die profeet Jeremia dit te boek gestel het, sê God: “Kyk, Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink ’n plan uit teen julle ... Nogtans het my volk My vergeet ...” (Jeremia 18:11, 15).

Westerse nasies het voorspoed en militêre oorheersing in die 20ste eeu geniet as gevolg van God se beloftes aan Abraham – en nie as gevolg van hul eie veronderstelde goedheid of krag nie. God is egter besig om daardie seëninge weg te neem. Moses het antieke Israel gewaarsku: “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop en die Here hulle oorgelewer het nie!” (Deuteronomium 32:30). Hedendaagse Israelitiese nasies besef toenemend nie meer hoeveel hulle God se kragtige helpende hand nodig het nie, en hoe kragteloos hulle sal wees om ander nasies te help in die toekomstige rampe nie.

Is daar egter goeie nuus van toekomstige vrede ná hierdie geprofeteerde gebeure? Die antwoord is: “Ja!” Ná die geprofeteerde Groot Verdrukking en die Dag van die Here, sal Jesus Christus ’n nuwe tydperk inlei wanneer nasies nie langer ander nasies sal terroriseer nie, hulle ook nie sal verraai vir politieke eiebelang nie. Wanneer Jesus Christus weer kom en Sy verheerlikte heiliges oor die nasies aanstel, sal hulle beheer ’n seën en nie ’n vloek wees nie (Openbaring 20:6).

God sal Sy mense terugbring uit hul ballingskap, net soos Jesaja geprofeteer het: “En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië (hedendaagse Duitsland) en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see” (Jesaja 11:11). Jesaja profeteer verder: “En daar sal ’n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het” (vers 16).

God sal boetvaardige, voorheen aggressiewe nasies in vredevolle samehorigheid onder Jesus Christus se heerskappy bring. “In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië ... en Egipte sal saam met Assirië die Here dien” (Jesaja 19:23). Woedende, heerssugtige nasies sal nie langer ’n bedreiging inhou vir kleiner nasies nie, want “die wolf” (simbolies groot, gulsige nasies) wei by “die lam” (klein nasies wat nie in staat is om hulself te beskerm nie) ... Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6, 9).

1 September 2009 dui die herdenking van ’n bose plan aan, beraam in die denke van mense wat beïnvloed was deur die mensdom se aartsvyand, Satan die Duiwel. Ons behoort ernstig gestemd te wees want God se woord sê aan ons dat daar nog een donker tyd van wêreldwye oorlogvoering en massa-sterftes sal wees voordat die toekomstige duisendjarige heerskappy van Jesus Christus sal aanbreek. Diegene wat egter ag slaan op die waarskuwing en uitsien na God se ingryping vir die beswil van die mensdom – diegene wat hul geloof, vertroue en gehoorsaamheid tot God wend eerder as tot mense, masjiene of militêre bondgenootskappe – sal beskerm word deur ’n liefdevolle en magtige God (Openbaring 12:14-16).