Daar bestaan duisende redes waarom ons letterlik tot God moet uitroep, “Laat u Koninkryk kom!”

Een rede, wat dikwels oor die hoof gesien word, is geweld teen vroue. Hierdie walglike probleem is besig om regoor die wêreld te vererger. Soos rubriekskrywer Bob Herbert onlangs berig het: “In die V.S.A word ’n meisie of vrou bykans elke paar minute seksueel aangerand. Geen agentskap kan bepaal hoeveel eggenotes en meisies ernstig mishandel word nie. Ons is almal aandadig aan hierdie slagting, omdat die onversetlike geweld teen vroue en meisies in wese gekoppel kan word aan die breër gemeenskap se onverskillige gewilligheid om vrouens en meisies te ontmens, om hulle bowenal te sien as seksuele voorwerpe, en nooit ooit as die man se gelyke nie” (Charlotte Observer, 19 Oktober 2006).

Deel van die probleem lê in ons gewilligheid om as samelewing toe te laat dat die walglikste, vernederendste en brutaalste beelde in videospeletjies en op die Internet vertoon word, wat meebring dat ontvanklike jong mans honderde ure op hierdie smerigheid vermors en glo dat die dierlike brutaliteit wat hulle sien, ten minste ietwat “normaal” is.

Ons moet wakker word! Waarom het ons leiers nie die durf om eenvoudig sulke dierlike vertonings te verban wat beslis toenemende geweld teen vroue tot gevolg het nie?

My moeder en haar vriendinne, soos ongetwyfeld miljoene moeders regoor die V.S.A., het my en talle van my klasmaats selfs in die 1940s gedruk om “danslesse” te neem, waar ons geleer is om van aangesig-tot-aangesig en bors-teen-bors te dans met jong meisies wat skaars puberteit bereik het. Ons was maar net jong kinders wat bofbal en kennetjie wou speel. God verbied natuurlik nie dans nie, maar Hy beveel ons wel om te vlug voor “seksuele losbandigheid” (1 Korinthiërs 6:18). Waarom het ons moeders ons in daardie soort half-romantiese, half-seksuele gedrag ingedwing toe ons slegs twaalf jaar oud was?

Ek onthou nog hoe ek en my vriend Bob Speck tydens die eerste private dans wat ek bygewoon het nadat ons hierdie lesse geneem het, kort-kort uitgegaan en om die blok gehardloop het. Ons het elke paar minute teruggekom en gesê dat ons tien keer om die blok gehardloop het. Die jong meisies het uitgeroep: “O maar dis wonderlik!” Ons was so verleë om hierdie meisies in ons arms te hou dat ons letterlik skoon op hol gegaan het – ons het nie geweet  wat anders om met onsself aan te vang nie. Selfs op ’n onskuldige manier sou dit nog ’n paar jaar neem voor ons werklik gereed was vir sulke “romantiese” betrokkenheid. Waarom het ons moeders ons aan sulke vroegryp gedrag blootgestel? Deesdae is dit selfs erger vir jong mans wat deur die samelewing in seksuele gedagtes en aktiwiteite ingedruk word, lank voordat hulle enigsins gereed is om dit te hanteer.

Waarom moedig so baie hedendaagse moeders hul jong dogters aan – selfs vanaf laerskooldae – om te begin grimeer en om wulps te lyk? Rubriekskrywer Herbert merk voorts op: “Ons het vir tien jaar lank na die verleidelike beeld van die vermoorde sesjarige JonBenet Ramsey gekyk. JonBenet is dood, haar ma is dood, en ons kyk steeds  na die video van hierdie arme kind se gepronk met lipstiffie en hoëhakskoene. In ’n vrouehatende kultuur is dit nooit te vroeg om dit in die gemoed van meisies in te dril  dat al wat werklik saak maak hul voorkoms is asook die vermoë om mans seksueel te behaag”.

Die V.S.A. is nie alleen in sy minagting vir vroue nie. In Sjina het ’n amptelike “een kind per gesin-beleid” tot gevolg gehad dat miljoene klein babadogtertjies voor geboorte geaborteer of kort na geboorte vermoor is. ’n Soortgelyke patroon word in Indië aangetref, waar die kultuur sterk voorkeur gee aan seuns, en arm families selfs mag vrees om ’n bruidskat te betaal wanneer ’n dogter tot trou kom. Regdeur die Moslemwêreld word vroue ook sistematies onderdruk, verneder en dikwels behandel asof hulle nie menswaardig is nie. ’n Nuwe verdraaiing van hierdie vreesaanjaende probleem het onlangs na vore gekom in ’n verslag oor hoe militante Moslemterroriste spesifiek onderwyseresse in Irak teiken. ’n Onlangse koerantberig beskryf wat met ’n jong Irakse onderwyseres gebeur het: “Die owerheid sê dat die jong vrou, wie se naam vir veiligheidsredes op versoek van haar familie weerhou word, op 20 September per taxi van die skool af huis toe geneem is. Die polisie het haar verminkte liggaam die volgende dag in ’n plastiese vullisblik naby die skool ontdek ... Een dag nadat die liggaam van die laerskoolonderwyseres gevind is, is twee ander jong onderwyseresse in die westelike deel van die stad vermoor gevind” (Charlotte Observer, 20 Oktober 2006).   

Daar word ook baie verfoeilike gruweldade teen vroue in Darfoer, die Kongo en ander dele van Afrika gepleeg. Daar word wyd berig dat letterlik tienduisende vroue en jong meisies op ’n gereelde grondslag sistematies verkrag, gemartel en vermink word.

Die ou Protestantse liedjie, “Dit is my Vader se wêreld,” weerklink skynbaar nie meer nie, of hoe?

Die rede daarvoor is dat, vandat Adam en Eva hul rûe op God en Sy Wette gekeer het, hierdie beslis Satan se wêreld is. Die apostel Johannes beskryf “die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Die apostel Paulus beskryf Satan as die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2).

Alle vroue – asook mans – is gemaak “na die beeld van God” (Genesis 1:27). Almal van ons – mans en vroue – moet besef dat ons slegs tot ons volle menslike potensiaal kom deur ware Christelikheid te beoefen. Die Seun van God het Sy lewe gegee vir vroue – asook vir mans. Een van Jesus Christus se laaste dade voor Sy kruisiging was ook om Sy moeder te eer en toe te sien dat sy versorg is. Terwyl Hy sterwend – in folterende pyn – aan die kruis gehang het, sê Jesus vir Johannes, Sy beste persoonlike vriend onder die dissipels: “Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar [Maria] in sy huis geneem” (Johannes 19:27).

Die liefde, goedhartigheid en geduldige teerheid wat ons gewoonlik met ons moeders, susters, vrouens en dogters vereenselwig, maak ordentlike mans diep beskaamd oor die vreesaanjaende brutaliteit en mishandeling waaraan toenemend miljoene vroue nou onderwerp word. Hierdie mishandeling sal egter, ten spyte van al die eerlike pogings van mense, net erger word tot die dag dat God Self ingryp en die ware Jesus Christus na die aarde terugstuur as Koning van konings. God beskryf die seëninge van Sy mense gedurende daardie tyd: “Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jesaja 61:7). En, “hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik” (Esegiël 34:28).

Die toenemende mishandeling en vernedering van vroue in alle dele van die wêreld is ’n belangrike rede waarom ons God se belofte van ’n eerskomende wêreldregering onder Jesus Christus en die Sy herrese heiliges ernstig moet opneem. Dit is nog ’n rede waarom ons vurig moet bid, “Laat u Koninkryk kom!”