'n Ware “Nuwe Wêreldorde” sal binnekort op hierdie aarde gevestig word. Die meeste godsdienstige mense verstaan dit nie. Die meeste leraars verstaan dit ook nie, maar dit kom binnekort! Dit sal u lewe dramaties raak. Dit kom, of die mensdom daarvan hou al dan nie. Trouens, die meeste mense sal aanvanklik nie daarvan hou nie en hulle sal regstreeks teen die komende Heerser van hierdie aarde veg wanneer Hy kom!

Waarom? Hoe?
Die grote God wat ons lewe gee, is besig om kragtig in mensesake in te gryp. Die God van die Bybel sal presies doen wat Sy geïnspireerde Woord duidelik sê—of ons dit glo of nie. Vreemd soos dit mag klink, is die wêreldoorheersing van die Amerikaners en Britse afstammelinge besig om tot 'n einde te kom, soos ons in die volgende dekade toenemend sal begin verstaan! Dit sal die ganse aansig van wêreldsake verander en ons lewens sal nooit weer dieselfde wees nie.

Tesame met die uiteindelike val van die Engelssprekende nasies, sal 'n Groot Verdrukking wat Jesus Christus voorspel het, die huidige orde van die menslike samelewing heeltemal vernietig (Mattheus 24:21-22). Dan, na dramatiese “tekens” (vers 30), sal die ware Jesus Christus van die Bybel na die aarde terugkeer. Hy sal terugkeer as Koning oor al die ander heersers van hierdie aarde: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Sal die nasies van hierdie aarde verheug wees? Glad nie! Baie van ons in die Westerse, Christen-belydende nasies neem soms aan dat die meeste mense “Christen” is en soms aanvaar ons dat die meeste belydende Christene regtig die Bybel glo. Nie een van hierdie aannames is egter korrek nie!

Wanneer u die uitslae van verskeie meningsopnames onder godsdienstige mense lees, sal u vinnig besef dat selfs die meeste Katolieke en Protestante kerkgangers baie min Bybelkennis het. Baie meningspeilers noem Amerika 'n “nasie van Bybelongeletterdes”. 'n Onlangse opname deur die Barna Groep het hierdie uitslag gegee: “Oor die afgelope 20 jaar het ons gesien hoe die nasie se teologiese sienings geleidelik minder met die Bybel belyn is. Amerikaners het steeds ontsag vir die Bybel en hou daarvan om hulself as mense te sien wat die Bybel glo, maar die bewyse sê anders. Christene het toenemend geestelike sienings begin aanvaar wat uit Islam, Wikka, sekulêre humanisme, die Oosterse godsdienste en ander bronne kom. Omdat ons 'n grootliks Bybelongeletterde samelewing bly, is min mense gesteur deur of selfs bewus van die glybaan na sinkretisme—'n geloofstelsel wat blindelings oortuigings van verskillende geloofsperspektiewe saamvoeg.” Dit alles is geen verrassing nie, aangesien skandelik baie kerkgangers nie eens die vier Evangelies kan opnoem nie, wat nog te sê waarlik verstaan wat hulle sê!

Dit behoort geen verrassing vir ons te wees nie, want u eie Bybel onthul duidelik en herhaaldelik dat hierdie ganse wêreld mislei word! Omdat die meeste mense mislei is, besef hulle natuurlik nie dat hulle mislei word nie. Indien hulle geweet het dat hulle mislei is, sou hulle nie mislei wees nie, of hoe?

Let op hierdie geïnspireerde verse: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Na Christus se Wederkoms sal Satan gebind en in 'n plek van bedwang geplaas word, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei ... nie” (Openbaring 20:3). Onthou, soos die apostel Paulus skryf, Satan het hierdie wêreld verblind: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4).

Ons beter ophou aanneem dat die “hele wêreld” wat mislei word, net beteken dis 'n paar mense “êrens elders”!

Die WARE “Evangelie” van Jesus Christus

Indien u Mattheus 24:30 aandagtig lees, sal u sien dat pleks om te juig, sal die nasies van hierdie wêreld “rou bedryf” met die Tweede Koms van Jesus Christus. Die Bybel onthul ook duidelik dat wanneer Christus terugkeer, die tien konings van die komende Diermag en hul reuse leërs teen die terugkerende Seun van God sal veg! “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12-14).

Hoe kan dit moontlik wees? Hoe kan die leërs van 'n “Christen”-Europa Christus regstreeks aanval met Sy Wederkoms? Omdat die Bybel so sê!

Die waarheid is dat die ganse Bybel ons wys op 'n tyd van wêreldregering onder Christus aan die einde van hierdie huidige tyd. In 'n geïnspireerde preek kort na Pinkster, sê die apostel Petrus dat God Jesus Christus na die aarde sal terugstuur, “wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

So vertel Petrus ons in die Nuwe Testament dat “al” die profete van die Ou Testament die komende tyd van “wederoprigting” beskryf het. Wat onthul die Bybel dan duidelik oor hierdie tyd wat kort voor ons lê? Dit is inderdaad 'n boodskap waarvan die meeste mense bitter min gehoor het! Dit beskryf egter duidelik 'n ontsagwekkende toekoms vir ons kinders en kleinkinders nadat Jesus Christus na die aarde terugkeer. Dit is 'n noodsaaklike deel van die Goeie Nuus wat Christus en Sy Apostels gepreek het, want Jesus Christus het nie gekom om slegs oor persoonlike saligmaking te preek nie, maar ook oor 'n komende wêreldregering wat vrede en vreugde na hierdie ganse aarde sal bring!

Die ware Jesus van u Bybel het die boodskap van die Koninkryk van God kom preek (Markus 1:14). Dit was nie 'n evangelie oor die een of ander vae warm gevoel in u hart, of om bloot die Persoon van Christus “te aanvaar” nie. Dit was eerder oor die eerskomende regering van God, wat ware vrede, voorspoed, gesondheid en geluk na hierdie siek en deurmekaar wêreld sal bring. Jesus het Sy oorspronklike Apostels beloof: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30).

Baie teoloë probeer om die talle duidelike soortgelyke stellings regdeur die Bybel “weg te vergeestelik”, maar indien Jesus gesê het wat Hy bedoel en bedoel het wat Hy sê, is dit baie duidelik dat 'n luisterryke Nuwe Wêreldorde inderdaad op pad is—'n letterlike koninkryk of regering, om met Sy Tweede Koms hier op aarde gevestig te word en wat ”die Koninkryk van God” genoem word.

Let op wat die apostel Johannes besiel is om te skryf, waar hy Jesus se Wederkoms na die aarde met die “laaste basuin” beskryf: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Let daarop dat die terugkerende Jesus Christus oor die “koninkryke van hierdie aarde” gaan regeer nie oor mense in die hemel nie!

Lees ook die geïnspireerde “lied van die heiliges” wat in Openbaring 5:9-10 aangeteken staan: “Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Dus kom daar 'n tyd wanneer die ware heiliges van God beslis saam met Christus op die aarde gaan regeer. Daar is nie een enkele vers enige plek in u Bybel wat beloof dat dit die beloning van die heiliges is om “hemel toe te gaan” nie!

Waarom versuim die algemene kerke dan om die kragtige boodskap oor die eerskomende Koninkryk van God op hierdie aarde te preek? Waarom dring hulle daarop aan om oor die Persoon van Jesus te praat en tog bykans heeltemal die kragtige boodskap na te laat wat Hy van die Vader gebring het rakende 'n nuwe wêreldregering?

Waarom?
Die apostel Paulus sê baie duidelik vir ons dat dit die doelwit van die ware Christen is om deel te vorm van daardie letterlike regering wat op hierdie aarde opgestel gaan word: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). In hierdie skrifgedeelte verduidelik Paulus dat ware Christene hulle moet voorberei om hierdie ganse aarde te “oordeel” of te regeer. Soos die apostel Johannes ons vertel: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

'n Ontsagwekkende DOELWIT

Wat 'n opwindende toekoms! Wat 'n ontsagwekkende doelwit! Wat 'n wonderlike rede om God te dien, ons sondes te oorwin en om ons lewens ten volle oor te gee om Christus in ons te laat leef en om in ons die einste karakter van God te bou (verg. Galasiërs 2:20)! Dan, en slegs dan, sal ons geskik wees om saam met Christus in Sy komende Koninkryk te regeer.

God se Woord sê vir ons: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Ons moet leer om Paulus se geïnspireerde woorde te glo: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2).

Tog glo die meeste belydende Christene dit nie, want hulle is dit nooit onderrig nie. Hulle verstaan nie naastenby die opperdoel waarvoor ons hier op aarde geplaas is nie—wat selfs dít wat ek hier beskryf, oortref!

Jesus praat in die eerste persoon en vertel ons: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Daardie ware Christene wat Satan, die wêreld en hulself oorwin, sal ontsagwekkende verantwoor-delikhede ontvang onder Jesus Christus om die volke te regeer en die vreeslike probleme van hierdie wêreld se samelewing uit te stryk. 
Sal ons regstreeks onder Jesus Christus regeer—of het die lewende Christus reeds 'n plan ingedagte—'n ganse regeringstruktuur wat Hy en die Vader in die Wêreld van Môre gaan gebruik?

Die profeet Abraham word die “vader” van die getroues genoem (Romeine 4:1, 11-12, 16). Hy, tesame met Isak en Jakob, sal topposisies in Christus se regering beklee—moontlik soortgelyk aan kabinetministers of belangrike raadgewers in vandag se samelewing (Mattheus 8:11). Ander uitsonderlike diensknegte van God uit antieke tye sal ook in topposisies wees. In een skriftuurlike “visioen” van die komende Koninkryk van God (Mattheus 17:1-9) word beide Moses en Elia aangedui as sleutelfigure in die komende Koninkryk van God.

Dan is daar koning Dawid van antieke Israel, die een wat God beskryf het as “'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:22). Wat sal Dawid doen in Christus se wêreldregering? Baie teksverse gee vir ons die antwoord. Soos Hosea ons in 'n profesie vir die laaste dae vertel: “Want die kinders van Israel sal 'n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hosea 3:4-5).

God vertel ons dat nadat die tienstam “Huis van Israel”, tesame met die Joodse volk, almal van hul ballingskap terugkeer: “En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (Jeremia 30:8-9). Esegiël 34:23-24 en Esegiël 37:24-25 beskryf Dawid as die komende koning oor die stamme van Israel, met die Jode en Israeliete uiteindelik weereens verenig as een nasie (verse 19-22). Daar sal geen “anti-Semitisme” meer wees nie wanneer al die stamme van Israel uiteindelik besef dat hulle waarlik broers is!

Die Twaalf Apostels sal regstreeks onder koning Dawid dien en elkeen sal 'n individuele stam of nasie van Israel regeer. Jesus Self het Sy Apostels beloof: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheus 19:28).

HEERSKAPPY aan ware “heiliges” gegee

Indien ons ons waarlik aan God oorgee en Christus gebruik ons in Sy komende regering, wat gaan ons dan doen? In die geïnspireerde “gelykenis van die ponde” (of “goue muntstukke” in die Nuwe Vertaling), word aan God se getroue dienaars heerskappy oor stede in Christus se regering gegee: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:11-19).

“Maar,” sal party van die liberale geleerdes kwytraak, “dit was net 'n gelykenis. Julle dink tog nie dat Jesus vertel het van ware heerskappy oor regte stede hier op aarde nie, of hoe?”

Ja! Ek dink dit beslis!
Selfs die apostel Paulus, wat nie in gelykenisse gepraat het nie, verduidelik: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3).

Vir bykans 2 000 jaar het verskeie geleerdes, monnike, biskoppe en teoloë met mening probeer om die konsekwente lering van die Skrif te “verwater” dat 'n letterlike regering op hierdie aarde opgestel gaan word onder die regstreekse heerskappy van Christus en die herrese heiliges! Tog het die vroeë Christene almal hierdie geïnspireerde waarheid verstaan en geglo. Ter beskrywing van die oortuigings van die vroeë Kerk in sy betekenisvolle werk, The Decline and Fall of the Roman Empire, skryf bekende geskiedkundige Edward Gibbon:
“Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die tweede koms van Christus. Net soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hul bestaan in hul huidige staat, volgens 'n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf word, vir sesduisend jaar vasgestel. Volgens dieselfde vergelyking is daar afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou bykans verstreke is, opgevolg word deur 'n blye Sabbat van eenduisend jaar; en dat Christus, met die triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik opgewek is, op aarde sou regeer tot die aangewese tyd vir die laaste en algemene opstanding.”

So erken een van die mees vooraanstaande geskiedkun-diges oor hierdie tydperk dat die oorspronklike Christene geglo het presies wat ons u in hierdie tydskrif vertel! Hulle het beslis geglo dat die ware heiliges “op die aarde sou regeer.”

In Daniël onthul die Almagtige God dat aan die tyd van die einde: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Inderdaad, soos die apostel Petrus dit stel, praat God van Christus se komende heerskappy oor die aarde en die “tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21).

Ons het ook gesien dat Christus en die Vader 'n spesifieke regeringstruktuur beplan met besliste verantwoordelikhede vir Abraham, Moses, Dawid, die Apostels en ander ware heiliges van God. Ons, die “heiliges”, mits ons sal toegee om Christus oor ons lewens te laat beheer uitoefen, sal ook verantwoorde-like posisies gegee word om individuele stede of moontlik departemente in Christus se regering te beheer, met heerskappy wat sal plaasvind van die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem, af. Wat 'n opwindende lewe lê pas voor ons in Christus se komende Koninkryk!

Christus se GLORIERYKE Koninkryk

In Sagaria 14:1-4 gee God se Woord vir ons 'n uiteengesette beskrywing van Christus se Wederkoms en die vroeë jare van Sy Koninkryk: “Kyk, daar kom 'n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê.” Dan onthul God in vers 9: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde.” Christus en die heiliges sal dus op die aarde wees, nie in die hemel nie!

Volgende, dadelik na Christus se Wederkoms, sal Hy al die nasies straf wat teen Jerusalem geveg het (verse 12-13). Dan, sal “die rykdom van al die nasies rondom ... ingesamel word: goud en silwer en klere—'n groot hoeveelheid” (vers 14). God sal die fisiese volke van Israel en Juda seën met ontsagwekkende rykdom wanneer hulle hulle bekeer het en na die land Israel gebring word ná hul nasionale gevangenskap.

Wat gebeur dan?
Wat volgende gebeur, na Christus se Wederkoms, is iets waarvan die meeste “algemene Christene” niks gehoor het nie, want hulle is nooit oor die Sabbat en godsdiensfeeste geleer wat deur God vir die ganse mensdom deur al die eeue gegee is nie. Let hierop: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie” (verse 16-17).

Die belydende Christen-mense van die wêreld is geleer dat God se Sabbatte en Feeste “Joods” is en dus nie onderhou behoort te word nie. Die lewende Christus sal hierdie mense skud deur letterlik hul water af te sny en deur uiteindelik ”plae” op hulle te laat neerkom, sou hulle botweg weier om te kom en “nie opgaan om die huttefees te vier nie” (vers 18).

Egiptenare, Chinese, Amerikaners—almal sal leer om hierdie besielende Fees van God (en al God se Feeste!) te “vier” wat die millenniale heerskappy van Christus uitbeeld en ook die gevolglike groot “fees van die oes” van siele wanneer God se waarheid die aarde sal deurweek. Toe God hierdie Feeste die eerste keer vir antieke Israel gegee het, is die herfsfees (in die Noordelike Halfrond) genoem die “Fees van die Insameling” (Eksodus 23:16). Jesus en die Apostels het hierdie Fees onderhou (Johannes 7:1-14), asook al God se Feeste. Binnekort sal God die hele wêreld leer om hierdie Feeste te onderhou wat Sy groot plan uitbeeld. Skryf gerus vir ons baie insiggewende boekie, Die Heilige Dae: God se meesterplan, indien u meer oor hierdie belangrike onderwerp te wete wil kom.

Dit mag nou vir ons moeilik wees om ons die opwinding en vreugde van tallose mense van regoor die wêreld in te dink wanneer hulle na Jerusalem kom om God se Feeste te onderhou, want hulle sal weet dat Christus die Koning letterlik persoonlik daar sal wees, nie net in Gees nie. Hulle sal gaan om hulle te verheug in God se seëninge in die Wêreld van Môre en om die Koning van konings te aanbid!

God is die oorsprong van prag en alle goeie musiek. Hy het koning Dawid, koning Salomo en andere gelei om manjifieke kore te reël om met spesiale geleenthede lofliedere tot God te sing (1 Kronieke 15:16; 2 Kronieke 5:12-13). Kan u u die ontsagwekkende musiek indink wat gepaard sal gaan met God se Feeste en die aanbidding van die lewende Christus in Jerusalem? Kan u u die grootse optogte indink van hooggeplaastes en mans en vroue van alle vlakke van die samelewing, wat na die Heilige Stad gaan—opgewonde vir die geleentheid om hul Skepper van aangesig tot aangesig te sien en te aanbid? Baie sal vir Christus, die Koning, pragtige geskenke bring. Byna almal sal kosbare items bring waarmee hulle die “Here van die Leërskare” sal aanbid wat persoonlik op Sy troon in Jerusalem sit!

Omdat Jesus Christus “gister en vandag dieselfde [is] en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8), sal daar gedurende Sy duisendjarige heerskappy ongetwyfeld baie sodanige geleenthede wees soos dit wat hierbo genoem word. Die honderde sangers en musikante het in volmaakte harmonie gesing, lofprys gebring en God aanbid toe “die huis van die HERE, vervul [is] met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul” (2 Kronieke 5:14)!

Gehoorsaamheid bring SEëNINGE

Die profeet Jesaja vertel ons: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

God se groot geestelike Wet—die 
Tien Gebooie—sal die grondslag vorm vir Christus se regering in die Wêreld van Môre. Deur die onderrig en leiding van Christus en Sy herrese heiliges, sal die hele wêreld leer hoe om God lief te hê en te aanbid en hoe om waarlik hul naaste lief te hê en vir hulle om te gee. God se Woord beskryf daardie tyd: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).

Jesaja beskryf wat sal gebeur wanneer duisende Israeliete teruggebring word uit slawerny en selfs baie van hul kinders aan hulle terugbesorg word: “Slaan jou oë rondom op en kyk—hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan” (Jesaja 60:4-5).

Let op die fisiese seëninge wat op 'n herenigde Israel en Juda uitgestort sal word: “Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die HERE jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het. En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog” (Jesaja 60:9-11).

Dat sal wees soos toe God vir Job dubbel gegee het wat Hy van hom geneem het (Job 42:10). Waarlik, die bedorwe en arrogante afstammelinge van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel word vandag onder die Amerikaners en volke van Britse herkoms, asook die vredeliewende volke van noordwes Europa aangetref. Versoek gerus en bestudeer ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika, indien u nog nie hierdie grondliggende waarheid verstaan nie.

Tensy 'n ongekende nasionale bekering binnekort plaasvind, sal ons mense verneder, gekasty en in nasionale slawerny weggevoer word! Dan, wanneer ons begin het om ons “les te leer”, sal God ons volke terugbring na die land Israel en hulle op waarlik ontsagwekkende wyse seën.

Dan, soos ons gesien het, sal die wet van Jerusalem af uitgaan. Die ganse wêreld sal God se ware weë leer en vrede en vreugde sal uiteindelik die ganse wêreld deurweek! Uiteindelik sal die “nuwe verbond” verstaan en toegepas word deur beide die “die huis van Israel en die huis van Juda” (Jeremia 31:31). Want God sê: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees” (vers 33).

Wanneer Satan aan die begin van God se heerskappy verban word (Openbaring 20:1-3), sal mense gou hul vyandiggesindheid teenoor God en Sy groot geestelike wet oorwin. Dan sal daar 'n uiterlike vrede oor die ganse aarde en 'n “innerlike vrede” die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) op die mensdom neerdaal op 'n wyse wat nog nooit tevore in die menslike geskiedenis ervaar is nie.

Dan sal Christus se eerskomende wêreldregering aan bewind wees. Ons kan deel wees van daardie regering mits ons bereid is om waarlik aan God oor te gee en werklik te doen wat Hy beveel! Ons kan baanbrekers wees wat Christus bystaan om hierdie verwarde wêreld te herorganiseer en die nasies God se weë te leer. 'n Glorieryke toekoms wag op hierdie ganse aarde met die Wederkoms van Jesus Christus!