Hoe kan u voorberei vir moeilikheid sonder om te swig voor vrees?


Die spreker by ons besigheid se ontbyt was ’n vooraanstaande prokureur wat bekend was vir sy diens aan die gemeenskap. In sy opmerkings, het hy verwys na die genot wat dit hom verskaf het om met die Boy Scouts van Amerika-program te werk, veral met die Cub Scouts.

Hy het vertel van ’n ervaring met ’n groepie van die Cub Scouts op ’n oornag uitstappie. Hulle het die stap en voetslaan deur die bos, swem en ander vermaaklike kamp-aktiwiteite baie geniet. Ná aandete, ná die gesels om die kampvuur, was dit tyd vir die seuns om te gaan slaap.

Dit het stil geword terwyl die seuns in hul slaapsakke ingekruip het vir die nag en die prokureur en ander leiers was bly om ’n bietjie verposing te hê na die besige bedrywighede van die dag. Na ’n paar minute van stilte, het een seun egter gepraat en met bewing in sy stem gevra: “Leier, gaan ons dan nie bid nie?” Die leier het vinnig geantwoord: “Ja seker, ons kan dit doen. Jy kan eerste wees”. Die seun het daarop uit sy slaapsak gekruip. Op sy knieë, met groot erns, het hy hardop gebid: “Here! Red ons van die bere!”

Tot op daardie oomblik was daar geen bespreking of kommer aangaande bere nie en skynbaar was daar niemand anders wat belanggestel het om te bid nie. Nadat die jong kampeerder egter sy opregte gebed tot God afgesluit het, het die ander kampeerders – nou bedag op die gevare om in die bos te slaap – elkeen, op sy beurt, uit sy slaapsak gekruip en sy opregte, dringende gebed gedoen vir die beskerming teen die bere.

Hierdie humoristiese en hartroerende storie herinner ons daaraan dat ons soms ook onbewus is van ’n probleem, werklik of denkbeeldig, totdat iemand anders ons bewus maak daarvan.

In die gevaarlike tye waarin ons leef, behoort ons sekerlik bedag te wees op gevare en moontlike probleme. Nogtans behoort ons nie te oorreageer nie, nog minder behoort ons bevrees te wees. Die Bybel het baie te sê oor hierdie onderwerp. Gevare, probleme, beproewings en toetse is niks nuuts in die menslike ervaring nie, die Een wat die Skrif geïnspireer het, gee ons waardevolle instruksies en riglyne om die uitdagings van die lewe die hoof te bied met ’n kalm gees en met vrede in die gemoed.

Dink byvoorbeeld na oor hierdie pêrel van wysheid: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Diegene wat wys is, is bedag op wat rondom hulle aangaan en is voorbereid wanneer ’n slegte of skadelike situasie dreig om te gebeur. Indien hulle daarvan bewus is, kan hulle in staat wees om sodanig te reageer dat skade of verlies nie kan plaasvind nie. Ons behoort inderdaad in alle omstandighede bedag te wees op wat rondom ons aangaan.

Ongelukkig is sommige mense té versigtig – selfs bevrees – sonder enige werklike regverdiging. Dink na oor wat ons lees in Spreuke 26:13: “Die luiaard sê: Daar is ’n leeu op die pad, ’n leeu op die pleine”. In hierdie geval is die veronderstelde gevaar nie werklikheid nie, dit is slegs ’n verskoning om aksie te vermy en na te laat om te doen wat gedoen behoort te word.

Daar is baie angs in ons huidige tydvak. Die Bybel sê egter aan ons dat as ons in die eerste plek die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, hoef ons nie bang te wees nie (Mattheüs 6:33). Jesus Christus het hierdie vertroostende woorde met Sy dissipels gedeel: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Op ’n later tydstip is die apostel Johannes geïnspireer om te skryf: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite” (1 Johannes 4:18).

Dus, terwyl ons altyd bedag behoort te wees op die “bere” wat ons mag teëkom in ons lewens, behoort ons nie beangs te wees nie, solank as wat ons daagliks opkyk na ons hemelse Vader vir beskerming en gemoedsrus, terwyl ons óns deel doen deur te leef soos Hy wil hê ons moet leef.

Om meer te leer, vra asseblief ons gratis boekie, Die Tien Gebooie, aan. U kan aan die Streekskantoor die naaste aan u skryf (adres gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) om u eie gratis kopie te bekom, of u kan dit aanlyn lees of ’n gedrukte kopie bestel by www.wvm.co.za. Dit sal aan u toon hoe u lewe die vrugte kan dra van ’n lewe volgens God se lewenswyse!