Ons almal wil graag ’n gelukkige huwelik hê maar is dit moontlik? Ja, dit is! Pas hierdie beginsels toe en ontdek die huwelik wat u altyd wou hê.

Selfs terwyl die Westerse nasies vergeet het wat die huwelik werklik is, kan u die gelukkige huwelik hê wat God vir u bedoel het. Die waarheid oor die huwelik word nie in enige nasie se wetgewing gevind nie; dit word gevind in die gesonde beginsels vir ’n Christelike huwelik soos vervat in u Bybel! Gebruik hierdie beginsels om u ongelukkige huwelik gelukkig te maak of om u gelukkige huwelik, selfs gelukkiger te maak!

Vir baie mense in vandag se samelewing is die huwelik net nie wat dit was nie! Paartjies in die Verenigde State en baie ander lande, trou later as ooit tevore in hulle lewe ... en hierdie paartjies wat in die huwelik wil tree, sluit nou manlike en vroulike pare in. In die uiterste gevalle ondersoek ’n paar mense, selfs sologamie en poligamie – om met jouself te trou of ’n “huwelik” met drie of meer persone. Die meeste van ons rol vandag ons oë en spot met die idee dat ons nasies ooit sulke reëlings sou aanvaar. Ons behoort nie te vergeet dat die meeste mense ’n dekade of twee gelede, die idee van ’n “huwelik” met dieselfde geslag belaglik en selfs ondenkbaar gevind het nie!

Die Pew Foundation het onlangs berig dat die gemiddelde ouderdom waarop Amerikaners vir die eerste keer trou, nog nooit so hoog was nie: 30 jaar vir mans en 28 jaar vir vroue (“8 Facts about love and marriage in America”, Pew FacTank, 13 Februarie 2019). Om te hertrou is ook aan die toeneem: In 2013 was 23% getroude mense minstens een keer tevore getroud, in vergelyking met slegs 13% in 1960 (ibid.). Te midde van dit alles het egskeiding onder ouer Amerikaners toegeneem. Sedert 1990 het die egskeidingsyfer vir mense ouer as 50 byna verdubbel en byna verdriedubbel vir mense ouer as 65 (“Gelei deur die ‘Baby Boomers’ [mense wat gebore is tussen 1946 – 1964] het egskeidingsyfers verhoog vir Amerika se 50+ populasie,Pew FacTank, 9 Maart 2017). Dit is duidelik dat die tendense en statistieke nie bemoedigend is vir die huwelik nie.

Die goeie nuus is dat u ’n individu is, nie ’n statistiek nie. Dit maak nie saak wat ander mense doen nie, u kan ’n gelukkige huwelik hê – indien u die onfeilbare leiding van die Bybel volg en die gevaarlike tendense van die moderne samelewing weerstaan.

Die huwelik kán vreugdevol wees. Dit kan egter ook ’n uitdaging wees. Ek weet dit uit dekades van persoonlike ervaring. In die meer as 50 jaar wat ek en my vrou getroud is, het ons soms probleme ondervind vanweë ons menslike natuur. Die Bybel gee egter vir ons waardevolle riglyne en geheime vir ’n suksesvolle, Godgesentreerde huwelik. Hierdie beginsels sal nuttig wees indien u en u gade Christene is, maar dit kan selfs help al is een van u ’n ongelowige. Indien u hierdie beginsels in u huwelik toepas, soos ek en my vrou gedoen het, sal die resultate u nie teleurstel nie! U kan ’n ongelukkige huwelik in ’n gelukkige huwelik verander of ’n gelukkige huwelik selfs gelukkiger maak!

Kommunikasie bou brûe

Vind u en u gade dat persoonlike verskille u uitmekaar hou of kan u die verskille oorbrug om groter begrip en waardering vir mekaar te kry? In my eie lewe het ek geleer dat wanneer ons in liefde kommunikeer ek en my vrou ’n baie gelukkiger paartjie is. My vrou was ’n musiekonderwyseres en ’n talentvolle violis voordat ek met haar getroud is. Ek, aan die ander kant, is opgelei as ’n ingenieur. Sommige mense mag aanvaar dat my analitiese denke haar subjektiewe manier van situasies beskou sou aanvul, maar ons het gevind dat ons hard moes werk om mekaar te verstaan.

Onthou dat kommunikasie ook effektiewe, geduldige luister beteken en nie nét effektiewe praat nie! Hoe dikwels wanneer paartjies in gesprek tree, “hoor hulle mekaar maar luister nie”? Ons behoort met begrip te luister, met ander woorde, probéér om die ander persoon se standpunt in te sien. Probeer om u gade se gevoelens en behoeftes te verstaan! Toon respek deur u volle aandag te gee. Ek mag dalk nooit ten volle verstaan hoe my vrou dink nie, maar ek het geleer om die wysheid wat sy verkry het uit haar perspektief, te waardeer.

Hoe kan ons egter luister as ons skaars met mekaar praat? Daar is in sommige studies bevind dat baie paartjies minder as 20 minute per week in gesprek deurbring! Dit sou ideaal wees as ons dit kon verander, maar in besige tye en moeilike ekonomiese omstandighede is dit makliker gesê as gedaan. Gelukkig het navorsers ’n strategie gevind wat u kan gebruik om munt te slaan uit die kort tydjie wat u saam het – die vier-minuut-kontak-reël. In hulle boek Contact: The First four Minutes, verduidelik dr. Leonard Zunin en sy vrou, Natalie Zunin: “Die sukses of mislukking van ’n huwelik ... kan afhang van wat tussen ’n man en vrou gebeur gedurende net agt minute van die dag – vier in die oggend wanneer die paartjie wakker word en vier wanneer albei ná die werksdag tuiskom” (bl.133). U taal, houding of uitdrukking aan die begin van die dag kan die hele dag se verhouding beïnvloed. Leer om ’n positiewe, liefdevolle gesindheid te openbaar gedurende die eerste vier minute wat u aan die begin van die dag bymekaar is. Wys dat u omgee. Wees respekvol, liefdevol en geduldig. Onthou: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik” (1 Korinthiërs 13:4). Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit so: “Die liefde is geduldig en vriendelik”.

Die Apostel Paulus gee ons ’n ander fundamentele beginsel om doeltreffend te kommunikeer: “... maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:15). Sommige mense praat die waarheid maar is kwetsend. Christene wat volwassenheid in Christus bereik, sal besorgd wees oor die effek wat hulle woorde en boodskap op die luisteraar het.

Wees versigtig in u gesprekke. Praat die waarheid in liefde! Maak seker dat u in liefde luister. U mag dalk meer in gemeen hê met u gade as waarvan u bewus is. Ek is nooit as musikant opgelei nie, maar ek het grootgeword in ’n huishouding waar my pa die viool bespeel het. My vrou se waardering vir pragtige musiek het my lewe verryk as gevolg van die feit dat ek die blootstelling wat ek as kind daaraan gehad het kon voortsit. Dit het my selfs aangemoedig om klavier te probeer speel. Ek is nie opgelei nie en ek is nie baie goed nie, maar om ’n paar minute op die klavier te speel, selfs as ’n amateur, kan vir my baie kalmte bring en my vrou spreek dikwels haar waardering daarvoor uit. Dit bring ons selfs nader aan mekaar!

Romantiek voeg vreugde by

U het waarskynlik al die uitdrukking gehoor, “Dit is die klein dingetjies wat tel”. Elke vriendelike woord van waardering maak ’n verskil. Navorsing het ook getoon dat iets so eenvoudig soos ’n drukkie spanning tussen man en vrou kan verminder. Behalwe vir spontane drukkies, maak ek en my vrou dikwels ’n punt daarvan om mekaar ’n drukkie te gee wanneer ons uitmekaar gaan om aan verskillende projekte in die huis te werk. Jare gelede het ek ’n versekeringsverslag gelees waarin verklaar word dat mans wat hulle vroue soen voordat hulle werk toe gaan, minder motorongelukke maak en 30% meer geld verdien as dié wat hulle vrouens nie soen nie. Natuurlik het ek ’n gereelde gewoonte daarvan gemaak om my vrou te soen voordat ek werk toe gaan. Eendag het ek haar egter nie gesoen nie en ek het met my motor agteruit teen ’n boom vasgery! Alhoewel daar baie min skade was, het ek my les geleer. Ek maak nou seker dat ek my vrou elke oggend soen!

Ander liefdevolle en weldeurdagte dade kan daartoe bydra om die romanse lewendig te hou. ’n Bedagsame en liefdevolle man gee dikwels vir sy vrou ’n bos blomme op ’n huweliksherdenking en sal dit selfs op ander onvoorspelbare tye heeltemal as ’n verrassing doen. ’n Kreatiewe en liefdevolle vrou kan haar man verras met ’n spesiale geskenk of ete. Hierdie klein blykies van waardering kan ’n groot verskil maak. God het ook bedoel dat man en vrou een vlees sal word en die fisiese plesier van seks in die huwelik sal geniet! Kort nadat hulle geskape is het God vir Adam en Eva gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder” (Génesis 1:28). Die Bybel is baie duidelik: God het seks geskep vir die huwelik en om ’n gesin tot stand te bring. Onthou egter die Bybel onthul ook dat die huwelik nét tussen ’n man en ’n vrou is. In die Bybel – en in die werklike wêreld van geestelike, Goddelike wet – is daar nie so iets soos “dieselfde-geslag huwelike” nie! Die Bybel openbaar duidelik dat enige seksuele verhouding buite die huwelik sonde is! “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4).

God beveel ons om lief te hê!

Is liefde ’n “opsie”? Glad nie! God beveel my, as ’n man, om my vrou lief te hê! Ek moet aan God rekenskap gee vir my gesindheid, diens en toewyding aan haar. Let daarop dat God nie allerhande soorte opsies gegee het om dit vry te spring nie. Hy sê nie,as u vrou volmaak is, dan moet u haar liefhê” nie. Nee! God beveel u om u vrou lief te hê. Dit is u verantwoordelikheid! Om u vrou lief te hê is ’n vereiste – nie ’n opsie nie! Die Skrif vermaan ons: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente” (Efésiërs 5:25-29).

Vroue het ook ’n opdrag van God: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees” (Efésiërs 5:22-24).

Let daarop dat God nie sê dat u u slegs aan ’n volmaakte man behoort te onderwerp nie. Ek weet nie van enige volmaakte mans nie. Slegs Christus is volmaak! Namate elkeen van ons egter sy eie Godgegewe verantwoordelikhede opreg en ywerig vervul – hoe onvolmaak ook al – sal God daardie huwelik selfs meer seën! Onthou ook, net in die vorige verse, skryf Paulus dat alle Christene ’n dankbare gesindheid moet handhaaf. Hoe? Paulus sê: “... terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God” (Efésiërs 5:20-21). As man en vrou het u elkeen hierdie verantwoordelikheid teenoor u gade.

Moet nooit oneerboedig wees teenoor u gade nie!

Indien ons met onsself eerlik is, moet ons erken dat ons menslike swakhede het en soms volgens ons vleeslike menslike natuur optree. Mans en vrouens sal mekaar ontstel en soms argumenteer. Selfs na ’n huwelik van 50 jaar het ek en my vrou af en toe onenigheid. Hoe kan ons ons bes doen om dit op te los? Die antwoord kan gevind word in ’n belangrike beginsel uit die Skrif: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Filippense 2:3).

Waardeer u u gade genoeg? Respekteer u u eggenoot werklik as ’n mens wat geskape is na die beeld van God? Die Bybel beveel elkeen van ons om ander hoër as onsself te ag. U moet die heel beste vir u gade verlang en ook bereid wees om alles te doen wat u kan ter ondersteuning van sy of haar ontwikkeling. Sien u eggenoot se ontwikkeling raak en doen wat u kan om dit aan te moedig met u eie optrede van geduld en ondersteuning en met u liefdevolle voorbeeld. Dit is baie belangrik om te onthou daar is geen regverdiging om u gade, fisies of verbaal, te mishandel nie. Indien u dit doen, moet u u daarvan bekeer! U behoort u gade van meer waarde te ag as uself. U behoort hom of haar nie as ’n deurmat of slaansak te gebruik nie. Soms kan ’n argument hand-uit ruk en ons kan dinge sê waaroor ons later spyt is. As dit gebeur, verootmoedig uself voor God en vra vir Sy vergifnis en maak ook seker dat u u maat om verskoning vra. Ek weet persoonlik dat dit soms moeilik is om te sê, “Ek is jammer”. Dit is egter die moeite werd om dit te doen en kan baie daartoe bydra om die verhouding te genees en te herstel!

Hou in gedagte dat u en u gade “mede-erfgename van die genade van die lewe is” (1 Petrus 3:7). Dit is noodsaaklik om te verstaan hoe waardevol elke mens vir God is en dit sluit u eggenoot in, ongeag u mening oor hom of haar. Elke mens op aarde het die potensiaal om in die Goddelike Gesin van God gebore te word as een van Sy verheerlikte, onsterflike kinders. Paulus skryf: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18). Wees altyd bewus van u gade se wonderlike potensiaal.

Vergifnis genees verhoudings

Hoe dikwels het u argumente met u gade? Dit is nodig dat almal van ons selfbeheersing, hoflikheid, eer en respek beoefen. Soms is die beste strategie in ’n argument om te onthou: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Soms is dit nodig dat ons ons eie verantwoordelikheid erken. Moontlik het ons persoonlik bygedra tot die probleem. Ek weet dit kan baie moeilik wees wanneer ons trots in die pad is. Ek het dit self ervaar. Om net te sê, “Ek is jammer” kan heelwat bydra tot die oplossing van konflik. Dit is beslis nodig dat ons mekaar vergewe. Onthou die wonderlike opdrag in u Bybel: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32).

’n Ander Skrifgedeelte beklemtoon ook hierdie punt: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” Kolossense 3:12-14).

Gebed bring paartjies nader aan mekaar!

Baie van u wat hierdie artikel lees, is getroud met ongelowiges. Mense wat al ’n geruime tyd die Wêreld van Môre lees, verstaan dat u nie iemand kan oorreed om in Christus te glo nie. U kan egter tot God bid vir Sy ingryping en vir die sukses van u huwelik. Verder het u ’n kragtige handleiding tot u beskikking – toerusting wat kragtiger is as u woorde. Ons lees, “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1). U liefdevolle Christelike voorbeeld kan ’n besonder positiewe invloed op u gade hê.

Indien u en u gade albei gelowiges is, probeer om hardop saam te bid. Ek was al baie verbaas om te ontdek hoeveel intieme en persoonlike gedagtes te voorskyn kom wanneer ons dit met mekaar en met God deel in gebed.

Gee 100 persent!

U het dalk al die ou gesegde gehoor, “Die huwelik is ’n 50-50-onderneming”. Daardie gesegde is heeltemal verkeerd! Kan u sien wat daarmee verkeerd is? Die huwelik is ’n algehele toewyding, maar die 50-50-benadering behels dat u vir uself ’n persoonlike uitweg uitsonder indien u gade se 50% nie genoeg is nie. Onthou Paulus skryf dat ons “die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Of, soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” Ware liefde is om te gee sonder om enigiets terug te verwag. Wanneer man en vrou albei 100% gee, het u ’n sterk band, ’n sterk oorvleueling met mekaar wat toegeeflikheid en die vermoë bied om krisisse en probleme te hanteer. Wanneer een gade deur ’n moeilike tyd gaan, sal die ander een daar wees, gereed om te help. Daarenteen verseker die 50-50-benadering dat u u eggenoot se ondersteuning sal verloor wanneer u dit die meeste nodig het!

Hou in gedagte dat u dit nie moet verwaarloos om van u persoonlike tyd af te staan nie! ’n Paar jaar gelede, toe ek baie aan sport deelgeneem het, was ek geneig om my vrou af te skeep wanneer dit by tyd wat ons saam moes deurbring gekom het. Ek onthou nog een keer toe ek besluit het om tyd saam met haar te spandeer aan ’n spesiale aktiwiteit waarvan sy sou hou. Sy wou op ’n kano gaan roei, wat beslis nie my gunsteling aktiwiteit was nie. Ons het tog op ’n Sondagmiddag op die Oos-Texas-meer gaan roei, omring deur dennebome, blou lug, watervoëls en vrede! Wat ek as ’n opoffering van my tyd beskou het, het gelei tot ’n versterkte verhouding – my vrou het die aktiwiteit geniet en my moeite waardeer. Verbind uself daaraan om meer te gee as wat u in die verlede gedoen het. Verbind uself daartoe om maniere te vind om aan u gade tyd af te staan. Wanneer u dit doen, sal u frustrasies verminder en God sal u seën in u verhouding. Weereens, soos Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”

Namate u daaraan werk om die kwaliteit van u huwelik te verbeter, kan u ’n ander voordeel ervaar: ’n Langer lewe! In ’n artikel in die November 2018-uitgawe van Health Psychology was daar ’n berig dat, nadat daar gekontrolleer is vir ander faktore soos ouderdom en vooraf-bestaande siektes, individue wie gerapporteer het dat hulle huwelik “baie gelukkig of redelik gelukkig” is, gemiddeld ’n langer lewensduur gehad het as individue wat hulle huwelik as “nie so gelukkig” beskryf het (“Marital satisfaction and mortality in the United States”, Health Psychology, November 2018, bll. 1041-1044). Nee, ’n gelukkige huwelik sal u nie vir ewig laat leef nie, maar selfs die wetenskap dui daarop dat dit tot ’n langer lewe kan lei!

Geagte lesers, u kan ’n gelukkige huwelik hê en u kan dit selfs gelukkiger maak! U hoef nie te wag vir u eggenoot om te verander nie. Trouens u kan u eggenoot nie dwing om te verander nie, maar u kan uself verander en u voorbeeld van liefde en diensbaarheid kan ’n baie positiewe invloed hê op u gade. U kan dit egter nie alleen doen nie. U het die hulp van u Verlosser nodig! Soos Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Ons leef in ’n wêreld van verwarring, waar minder mense verstaan wat die huwelik veronderstel is om te wees. U hoef egter nie ’n slagoffer van daardie verwarring te wees nie. Volg hierdie beginsels en u kan gelukkig lewe as man en vrou en voordeel trek uit die beste huweliksraad wat beskikbaar is – die raad van God en Sy Woord!