Bybelprofesieë onthul u toekoms – asook die toekoms van die wêreld. Wat beteken dit vir u lewe?


Baie mense wat godsdiens as stokperdjie beoefen is nuuskierig oor Bybelprofesie, maar hulle weet nie wat die ware betekenis en doel daarvan is nie. Sommige belydende Christene verwerp Bybelprofesie as onbenullig en onbelangrik. Hulle mag toegee dat profesie interessant kan wees, maar hulle sê dat dit nie iets met verlossing te doen het nie.

Kan u insien wat ontbreek in daardie benadering? Soos Jesus in Sy eie woorde sê: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Ware Christene sien uit na die geprofeteerde toekoms wanneer “hierdie evangelie van die koninkryk ... verkondig [sal] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (vers 14).

Ons hoop as Christene is in hierdie profesie wat nog vervul moet word! Ware Christene is nou besig om voor te berei om verander te word, om in daardie Koninkryk te kan ingaan met Christus se wederkoms. Soos die apostel Paulus skryf: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korinthiërs 15:51-54).

Die opstanding van getroue Christene sal plaasvind met die “laaste basuin” – die sewende basuingeskal, wat in Openbaring 11:15 aangekondig word. Diegene wie “volhard tot die einde toe sal gered word”, soos Jesus gesê het. Vir party mense sal die “einde” die einde van ’n getroue Christelike lewe wees. Ander sal nog lewe met Christus se wederkoms. Al hierdie getroue Christene sal opgewek en/of verander word met Christus se wederkoms en sal die geprofeteerde Koninkryk van God ingaan.

Party mense erken nie dat daar ’n toekomstige Koninkryk van God is nie. Hulle mis die betekenis van Paulus se aanmaning dat “vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie” (1 Korinthiërs 15:50). Indien u ’n vlees-en-bloed Christen is, is u nou besig om voor te berei om die Koninkryk te beërwe, maar u het nog nie die Koninkryk geërf nie! U sal u volle erfenis eers kan ontvang tydens die tyd van die opstanding (Johannes 3:5-6).

Jesus Self beklemtoon dat hierdie erfenis sal plaasvind aan die einde van hierdie tydperk: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheüs 25:34).

Wat is profesie?

Sommige mense probeer verkeerdelik om profesie te skei van God se plan van verlossing, maar dit kan nie gedoen word nie. Wat presies is profesie? Eerstens, laat ons kyk wat dit nie is nie. Soos Unger’s Bible Dictionary sê: “Profesieë is nie bedoel om die toekoms openbaar te maak vir ydele nuuskierigheid nie, maar vir die groter doel om lig te verskaf aan diegene wie se geloof versterking nodig het” (Moody Press, 1967, bl. 892).

Het u geloof versterking nodig? Unger’s gaan voort:. “Die openbaring van toekomstige gebeure mag noodsaaklik wees in tye van mismoedigheid, om hoop aan te wakker of om dit te versterk, om vertroue in te boesem wanneer ons terugval en om die gelowiges te waarsku teen boosheid wat hulle bedreig. Die voorspellings teen Babel, Tirus, Egipte, Ninevé en ander koninkryke, was aan die volk van God gegee om hulle te vertroos, deur aan hulle die ondergang van hul vyande te kenne te gee”(ibid.).

Unger definieer profesieë baie eenvoudig: “Die mondelinge of geskrewe boodskap van ’n profeet” (ibid., bl 893). Die Griekse woord is prophetes, wat beteken “vooruit-verteller” of “geïnspireerde spreker”. Die Anchor Bible Dictionary stel dit só: “In die sekulêre wêreld was die woord ‘profeet’ gebruik ... dit beteken ‘iemand wat namens ’n god praat en sy wil uitlê’ aan mense” (Vol. 5, bl. 496).

God se ware profete het Sy wil aan die mensdom openbaar. Hulle het ook waarskuwings gerig aan die volke van antieke Israel, asook aan baie ander nasies. Byvoorbeeld, na die dood van Juda se koning Jojada het die nasie die ware God verlaat en afgode aanbid: “... en hulle het die huis van die Here, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ’n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle” (2 Kronieke 24:18). Hoeveel mense vandag aanbid die moderne afgode van mag, besittings en posisie? In die bladsye van hierdie tydskrif, en op die Tomorrow’s World-beeldsendings, waarsku ons ons Westerse nasies om hulle te bekeer. Hoe het God gereageer toe Juda en Jerusalem afgodery bedryf het? “En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die Here terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie” (vers 19).

Uiteindelik het God die koninkryk van Juda in Babiloniese ballingskap gestuur vir hulle boosheid. Ons behoort te luister na God se waarskuwings aan ons vandag! God se Woord, die Bybel, gee aan ons ontnugterende profesieë en waarskuwings waarop ons behoort ag op te slaan!

Die profete was God se boodskappers. Hulle het onderrig asook onthullings bekend gemaak. Unger se kommentaar op die rol van die profete is soos volg: “Die voorspellende element was ’n gereelde deel van die inhoud van die profeet se boodskap, maar dit is nie die enigste element nie. Die profete verskyn dikwels in die rol van maatskaplike en politieke hervormers, predikers met roerende boodskappe van geregtigheid en godsdienstige herlewing, asook om voorspellers van oordeel of seën te wees, soos die geleentheid dit vereis het. Die profeet se boodskap was immer godsdienstig en geestelik, en het die wil van God aan die mense oorgedra en hul opgeroep tot volkome gehoorsaamheid” (bl. 893).

Dus, soos ons gesien het, het God profete gestuur om nasies te help hervorm van hulle onsedelikheid. Die profete het ook God se plan vir die toekoms openbaar. Na Sy opstanding uit die dode het Jesus Christus na sommige van die talle profesieë oor Homself verwys: “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan” (Lukas 24:44-45). Toe Jesus van die “Skrifte” gepraat het, het Hy verwys na wat ons nou die Ou Testament noem. Die Ou Testament was in drie afdelings georganiseer: Die Wet, die Profete en die Geskrifte. Die boek Psalms is die eerste boek in die Geskrifte. Jesus het die belangrikheid van Bybelprofesieë wat Sy eerste koms en Sy Messiasskap voorspel het, beklemtoon. Baie Ou-Testamentiese profesieë voorspel ook Sy wederkoms.

Profesie is grondliggend

Profesie is die grondslag van die Nuwe-Testamentiese Kerk. Soos Paulus skryf: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:19-20).

Die Skepper God het Sy profete geïnspireer om aan ons onderrig, openbaring en waarskuwing te gee. Dit is dus belangrik om te weet wie ’n ware dienaar van God is, en wie hulle valslik daardie rol toe-eien. Jesus waarsku ons: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheüs 24:11). Hoe kan u weet wie God se ware dienaars is? Die Skrif gee aan ons die antwoord. “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20).

Indien iemand vandag aanspraak maak om ’n profeet te wees, maar die duidelike woorde van die Skrif weerspreek, deur sy eie woorde te plaas bó die geloof “wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas vers 3), is hy ’n valse profeet. God se dienaars verkondig en gee onderrig volgens Sy Woord, die Bybel! Dit geld vir my, en vir hierdie tydskrif. Toets ons – bevestig ons woorde in u Bybel – maak seker u toets ander mense wat sê dat hulle God se Woord verkondig.

Baie mense wat godsdiens as stokperdjie beoefen skep wilde wanvoorstellings van profesie deur hul “gunsteling idees” te neem en dan te probeer om hulle in die konteks van die Skrif te plaas. Soms is hierdie selfgemaakte profete onskuldige mense wat mislei is, maar soms is hulle bedrieërs wat probeer om die onskuldiges te mislei. Wees versigtig!

Vier doeleindes van profesie

Bybelprofesie is vir baie doeleindes gegee. Ons sal hier vier doeleindes wat die mees vernaamste is, in aanmerking neem. Eerstens, Bybelprofesie waarsku mense en nasies om hulle te bekeer, sodat hulle straf kan vermy.

Johannes die Doper het baie mense emosioneel geraak deur sy prediking. Wat was sy boodskap? “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 3:1-2). Jesus Christus het spoedig daarna hierdie selfde boodskap van bekering verkondig (sien Markus 1:14-15).

Hoe het mense reageer op Johannes se prediking? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes. Maar toe hy [Johannes] baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Mattheüs 3:5-8).

Ons moet almal ag slaan op hierdie waarskuwing en vrugte dra wat bekering waardig is. Indien ons werklik berou tot bekering het, belowe Jesus Christus beskerming vir diegene wat getrou is. Die apostel Johannes het hierdie boodskap wat Christus aan die Kerk in Philadelphia gegee het, opgeteken: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10).

’n Uur van beproewing gaan oor ons rebelse en goddelose wêreld kom. Jesus waarsku ons dat ’n Groot Verdrukking gaan kom (Mattheüs 24:21). God sal egter diegene beskerm wat luister na Sy profetiese waarskuwings en hulle lewens verander. Die boek Jona toon aan ons ’n seldsame voorbeeld van ’n volk wat regtig geluister het na ’n waarskuwing van God en hul weë verander het. Sal ons ook nasionaal en individueel bekeer?

God het besluit om Ninevé te vernietig, tensy sy inwoners hulle bekeer. Hulle het toe bekeer! Hoe het God oor hulle berou gevoel? “En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hul verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie” (Jona 3:10). Die profetiese waarskuwing het God se seën oor die volk tot gevolg gehad. Sal ons reageer op vandag se profetiese waarskuwings soos antieke Ninevé gedoen het? Indien ons dit nie doen nie, sal ons die geweldige straf van die Groot Verdrukking ervaar.

’n Tweede doel van Bybelprofesie is dat dit mense in ballingskap waarsku om hul te bekeer. Profesie onthul dat baie mense wat hul nie bekeer voor die Groot Verdrukking nie, God se profetiese waarskuwings sal onthou en hul sal bekeer gedurende die Groot Verdrukking te midde van pyn en lyding. God gee hierdie waarskuwing – en belofte – aan diegene wat in die toekoms nasionale slawerny en ballingskap sal ly: “En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die Here jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronomium 4:27-31).

Jesus sê dat die Evangelie van die Koninkryk ’n getuienis is aan alle nasies: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Baie mense sal die Evangelie hoor, maar hulle in die begin nie daaraan steur nie. As gevolg daarvan sal hulle nie die Groot Verdrukking kan vryspring nie. Profesie dui nogtans daarop dat baie van dié wat die ware Evangelie gehoor het, hulle sal bekeer tydens daardie toekomstige tyd van nasionale gevangenskap. Indien u een van hulle is, onthou asseblief God se belofte wanneer u in gevangenskap is. Hy sal u red. Hy sal u verlos, indien u Hom met u hele hart en met u hele siel soek!

’n Derde doel van Bybelprofesie is om die toekomstige Koninkryk van God op aarde, aan te kondig. Vir byna 6,000 jaar, het die mensdom die weg van sonde, selfsug, oorlog en gierigheid geloop. Die mensdom het nie die weg van vrede geleer nie. Slegs onder die heerskappy van die Prins van Vrede – ons Verlosser, Jesus Christus – sal mense altyd blywende wêreldvrede kan geniet.

Profesie gee aan ons die bemoedigende nuus dat Jesus Christus Sy koninkryk hier op hierdie aarde sal vestig, en getroue Christene sal saam met Hom ’n duisend jaar lank regeer (Openbaring 20:4-6). Dan volg die “Groot Wit Troon Oordeel”, wanneer al die mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit God se Waarheid te hoor, opgewek sal word en hul eerste werklike geleentheid sal ontvang om Sy boodskap te aanvaar en volgens Sy wyse te leef. U kan van die profesieë aangaande die Millennium in Jesaja 2, 11 asook 35, en in Miga 4 lees. Dit is inspirerende profesieë wat aan ons ware hoop gee.

Edersheim’s Prophecy and History in Relation to the Messiah merk op: “Die een deurlopende en aansporende idee van die Ou Testament is die koninklike heerskappy van God op aarde ... Hierdie Messiaanse idee is die enigste deurslaggewende rede waarom die Ou Testament beskou word as ’n openbaring”. (bll. 48,135). Jesus Christus sal terugkeer as Koning van die konings en die Here van die here, soos dit in Openbaring 19:16 gestel word. “Die koninklike heerskappy van God op aarde”, soos Edersheim dit beskryf, sal wêreldvrede en voorspoed bring.

Dwarsdeur die geskiedenis het regering sonder God verskriklike lyding meegebring. Sonder God se geprofeteerde ingryping sal die mensdom se goddelose maniere van regeer, planeet Aarde na wêreldvernietiging lei – algehele vernietiging. Soos Jesus sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:22). Die Bybel voorspel dat daar ’n tyd van herstel vir die aarde sal wees. Onthou Petrus se belofte dat God “Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21). God sal die aarde herstel tot natuurlike, onbesoedelde skoonheid en voorspoed, onder die goddelike regering en Koninkryk van God. Ons kan ons almal verheug in daardie goeie nuus.

’n Vierde doel van Bybelprofesie is dat dit God se algehele soewereiniteit en mag bewys. Niks kan God se plan van verlossing kelder nie. Daardie plan word geopenbaar in u Bybel, van Genesis tot Openbaring. God het ’n ongelooflike doel vir elke mens wat aan Hom gehoor gee. Daardie doel is om God se verheerlikte, onsterflike kinders te wees, vir alle ewigheid. Soos ons reeds gelees het: “... hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:53). God se groot mag, deur Sy Seun en ons Verlosser, Jesus Christus, sal dit laat gebeur.

Die Almagtige God verklaar Sy mag en soewereiniteit: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ’n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ’n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11). God, die Almagtige, sal Sy doel en profesie kragdadig vervul.

Die profeet Amos waarsku ons dat daar ’n tyd sal aanbreek wanneer die waarheid wat u nou lees, nie beskikbaar sal wees nie: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12).

U behoort op die waarheid te reageer terwyl dit beskikbaar is. Lees hierdie tydskrif en kyk na die Tomorrow’s World-beeldsendings. Die belangrikste van alles, lees u Bybel en pas die waarhede daarin toe in u lewe!

Jesus Christus bied ’n wonderlike belofte aan diegene wat Hom soek, wat opreg graag wil verstaan: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). U kan geseënd wees, indien u ywerig God se Woord bestudeer en die baie profesieë daarin verstaan.