Hoe kan so ’n klein eiland-koninkryk so ’n belangrike invloed gehad het op die vorming van die moderne beskawing?

Baie mense veronderstel dat geskiedenis ’n vervelige onderwerp oor lankvergete name, datums, veldslae en plekke is. Die feite van die geskiedenis, wanneer dit deur die lens van Bybelse profesie beskou word, openbaar egter hoe die hand van God die loop van geskiedenis volgens ’n voorafbepaalde plan gelei het. Die Bybel verklaar uitdruklik God “... maak nasies groot en laat hulle omkom” (Job 12:23) en “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21). Dit word duidelik geïllustreer in die merkwaardige opkoms van Engeland deur ’n reeks gebeurtenisse wat nie net die verloop van geskiedenis verander en die moderne wêreld gevorm het nie, maar ook talle antieke Bybelprofesieë vervul het.

 

Spesifieke antieke profesieë

Die Ou Testament bevat ’n reeks spesifieke profesieë oor die toekomstige nasate van Abraham, Isak en Jakob, wie se twaalf seuns die voorvaders van die twaalf stamme van Israel geword het. Na afloop van die tydperke van ballingskap in Assirië en Babilon, het hierdie stamme na Noordwes-Europa en die Britse Eilande migreer, waar die “laastedag”-vervulling van hierdie profesieë sou plaasvind. Dit is geprofeteer dat Abraham se nasate magtig sou word en ’n seën vir al die volke van die aarde sou wees (Génesis 12:1-3). Hulle sou vermenigvuldig soos die stof van die aarde en die sterre in die hemel (Génesis 13:16; 15:5) en “die poort van sy vyande in besit neem” (Génesis 22:17; 24:60). Jakob se twee kleinseuns, Manasse en Efraim sou onderskeidelik ’n “groot” nasie en ’n groot “menigte van nasies” word (sien Génesis 48:19-22). In die “laaste dae” sou die afstammelinge van hierdie twee seuns – die seuns van Josef – oor die wêreld heen versprei as ’n nasie wat kolonies gestig het en hulle het hulle in die keurigste plekke van die aarde gevestig, maar sou van ander Israeliete in Noordwes-Europa geskei wees (Génesis 49:1, 22-26). Die geskiedenis van Engeland se merkwaardige opkoms tot ’n wêreldmoondheid, openbaar hoe hierdie antieke profesieë vervul is.

 

Die opmars van die geskiedenis

Geskiedkundiges erken dat Westerse nasies die wêreld vir die afgelope 500 jaar oorheers het. Engeland se opkoms tot ’n moondheid het in ongeveer 1500 begin met Henry VIII wat van die Katolieke kerk in Rome weggebreek het en Engeland se koers in lyn gebring het met die Protestantse Hervorming en die nuwe idees wat dit verteenwoordig het. Die nederlaag van die Spaanse Armada in 1588 het Philip II se poging om Engeland in te val en die Protestantse nasie in die Rooms-Katolieke skoot terug te bring, beëindig, terwyl die Engelse vloot aansien verwerf het. Hierdie kritieke seegeveg was ’n keerpunt in die geskiedenis, waar 80 Engelse skepe gesien het hoe die “onoorwinlike” 130-skip Armada meer as een derde van sy vaartuie verloor – gedeeltelik as gevolg van onstuimige weer.

In 1759 het die Britse vloot weer met behulp van die weer, ’n Franse vloot in Quiberon Baai aan die Franse kus verwoes. Hulle het toe ’n inval in Engeland in die wiele gery wat deur Frankryk se koning Louis XV beplan was. Die jaar 1759 word die “Jaar van Wonderwerke” genoem as gevolg van die Engelse oorwinnings tydens die Sewejarige Oorlog, toe Engeland byna die hele Franse Kanada asook ander gebiede ingepalm het. In 1805 is ’n ander inval in Engeland gefnuik toe die Britse Admiraal Nelson ’n gesamentlike Franse en Spaanse vloot by Trafalgar aan die kus van Spanje verwoes en 22 van die 33 vyandige skepe gekelder het terwyl die Britte self niks verloor het nie. Napoleon se nederlaag by Waterloo in 1815 deur die Britse Hertog van Wellington en sy Europese bondgenote het Engeland uiteindelik as ’n wêreldmoondheid laat uitstyg.

In die lig van hierdie merkwaardige oorwinnings, is dit die moeite werd om die profesie wat Moses oor die Israeliete opgeteken het, te onthou: “En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard” (Levítikus 26:7-8). Jare later het Winston Churchill met sy terugblik op hierdie en ander gebeure wat die opkoms van Engeland omring het, opgemerk: “Ek het ’n gevoel dat ons ’n Beskermheer het omdat ons ’n groot doel het en ons sal daardie Beskermheer hê solank as wat ons daardie doel getrou dien” (We Have a Guardian: Some Instances of Divine Intervention in British History, William Brooke Grant, bl. 3).

 

’n Wêreldwye Ryk

Gedurende die tydperk toe Engeland besig was om ’n wêreldwye vloot-oppergesag te vestig, het internasionale handel ook langs die seeroetes in die Atlantiese Oseaan ontwikkel. Terselfdertyd het die Russe, Sjinese en Arabiere aan die anderkant van die wêreld die “Sy Roete” (Silk Road) vir verkeer vanaf die Weste gesluit. Die nasies langs die noordwestelike kus van Europa was geografies ideaal geskik om voordeel te trek uit hierdie keerpunt in die geskiedenis, maar Engeland wat op ’n eiland geleë is en van haar Israelitiese neefs in Europa afgeskei is – was “die beste van almal geplaas” om voordeel te trek uit die ontluikende Atlantiese ekonomie (Ian Morris, Why the West Rules – For now, bl. 500).

Die vroeë 1800’s het die Industriële Revolusie gebring. Hierdie groot verandering in die samelewing het om verskeie redes in Engeland begin: ’n Nasionale gees van vindingrykheid en innovering wat tot die ontwikkeling van stoomkrag gelei het; die plaaslike toegang tot steenkoolneerslae en die gebruik van smee-yster om masjiene vir fabrieke te maak wat materiaal en wapens kon vervaardig. Dit het die Engelse in staat gestel om ekonomies voorspoedig te wees en hulle militêre mag oor die wêreld te vertoon. As gevolg hiervan het lone in Engeland gestyg, lewensverwagting het verleng en die groeiende bevolking het na ander dele van Engeland se uitbreidende wêreldwye Ryk migreer.

Op sy hoogtepunt het die Britse Ryk ’n kwart van die wêreld beset en daaroor geheers, die groot seepoorte van die wêreld beheer en die Engelse taal regoor die wêreld versprei, waar dit nou die amptelike taal van meer as 80 lande en gebiede is. Tydens die “Anglobilisasie” van die wêreld het Britse sendelinge en koloniale administrateurs, Bybels en Bybelse waardes van eerlikheid, doeltreffendheid, harde werk en opvoeding teweeggebring, asook medisyne, sanitasie, parlementêre regering, spoorweë en selfs krieket en sokker – wat die lewens en kulture van hele vastelande verander het. Soos die Britse geskiedkundige Niall Ferguson geskryf het: “Die wêreld wat ons vandag ken, is in ’n groot mate die produk van die Britse Ryk-tydperk” (Empire: How Britain Made the Modern World, bl. xxv).

Baie mense het al probeer om die verstommende sukses van die Britse Ryk te verklaar, waar ’n klein eilandjie daarin kon slaag om die wêreld te oorheers. Sommige mense spekuleer dat dit die gevolg van geografie, klimaat of hulpbronne was, terwyl ander bespiegel dat dit net geluk was – ’n blote toevalligheid. Die geskiedkundige Ian Morris beweer dat hierdie unieke gebeurtenis “nie duisende jare gelede vooraf bepaal is nie en ook nie die gevolg is van ’n toevallige sameloop van omstandighede nie” (Morris, bl. 25). Morris reken die opkoms van die Weste en in besonder Engeland, was die gevolg van wette van biologie, sosiologie en geografie. Hierdie bespiegelende idees ignoreer egter die feit dat God spesifieke profesieë in die Bybel laat aanteken het met betrekking tot wat in die laaste dae met Abraham se nageslag sou gebeur. Die geskiedkundige feite oor die opkoms van Engeland bevestig die geldigheid van antieke profesieë wat openbaar dat God ’n plan vir die seuns van Jakob gehad het. Engeland se wêreldryk het die verloop van die geskiedenis verander en duidelik bewys dat “die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil” (Daniël 5:21).