God het die profeet Amos geïnspireer om te boekstaaf: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12). Hierdie profesie verwys na ’n tyd wanneer die “einde ... vir my volk Israel gekom” het (Amos 8:2), en dit het ’n tweeledige toepassing op sowel die antieke nasie van Israel as die hedendaagse nasies wat van antieke Israel afstam. ’n “Honger” na die hoor van die waarheid het voorgekom toe die nasies van Israel oorgeneem was deur ’n vreemde mag wat die verkondiging en beoefening van die ware Bybelse geloof verbied het. Dit het ongeveer 720 v.C. gebeur toe die Assiriërs die noordelike tien stamme van Israel in ballingskap weggevoer het. Dit sal weer gedurende die Groot Verdrukking gebeur wanneer die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel gestraf sal word vir hulle sondes (Mattheüs 24:9; Hosea 5:5; Jeremia 22:5-9).

Die profeet Daniël verduidelik hoe hierdie “honger” na die hoor van die waarheid in die laaste dae gaan plaasvind. Daniël het in ’n toekomsblik ’n “klein horinkie” gesien wat die laaste sewe herlewings van die Romeinse Ryk (die vierde dier; sien Daniël 7:7-8, 19-20) oorheers het. Hierdie klein horinkie sou ’n vooraanstaande godsdienstige figuur (en sy kerk) wees, wat lasterlike leerstellings, wat die Skrif weerspreek, sal verkondig. Hierdie “horinkie” sou daaraan werk om die kalender van godsdienstige voorskrifte te verander, en sou diegene wat die Skrif navolg, vervolg (Daniël 7:21, 24-25).

Die geskiedenis boekstaaf dat die biskoppe van Rome voorgesit het in die rade wat die weeklikse dag van aanbidding verander het vanaf die Bybelse Sabbat (die dag wat deur Jesus, Sy dissipels en die Christene in die apostoliese era onderhou is; sien Lukas 4:16; Handelinge 13:42-44; 16:11-13; 17:2), na Sondag. Heidense sonaanbidders het alreeds Sondag onderhou; een rede vir die verandering was dat dit makliker sou wees vir die heidene om tot hierdie nuwe vorm van “Christelikheid” te bekeer. Op ’n soortgelyke manier is die Bybelse Pasga vervang deur Paasfees (Engels “Easter”), en die vieringe van die winter sonstilstand [25 Desember] was “verchristelik” om heidene in die kerk in te trek. Die Romeinse wet het hierdie kerklike besluite ondersteun om nie-Bybelse leerstellings en praktyke in die naam van “Christelikheid” te aanvaar. Die pousdom het in die afgelope paar jare Sondag as ’n dag van aanbidding herbeklemtoon, en het daarop aangedring dat Europese wette Sondag wetlik vaslê as ’n vakansiedag. Sodanige wette kan in die toekoms aktief gebruik word om onderhouding van die Bybelse Sabbat te ontmoedig en om gelykvormigheid in Sondagonderhouding te bevorder.

Daniël het ook in ’n toekomsblik ’n ander “klein horing” gesien wat sal veroorsaak dat die daaglikse offers in die tempel in Jerusalem gestaak word en dat “die waarheid op die grond neergewerp” sal word (Daniël 8:8-14). Hierdie tweeledige profesie is aanvanklik vervul deur Antiochus Epiphanes toe hy Jerusalem in 168 v.C. verwoes, ’n standbeeld van Zeus in die tempel opgerig en varkbloed op die altaar geoffer het – ’n groot belediging vir die Joodse volk. Antiochus het druk uitgeoefen op die Joodse priesters om hulle godsdienstige praktyke te kompromitteer en die proses van vergrieksing te aanvaar. Die Expositor’s Bible Commentary, in sy uitleg van Daniël 8:11-12, stel dit dat Antiochus se dade ’n voorafskaduwing is van “’n besliste poging wat deur ’n onverbiddelike diktator aangewend gaan word om Bybelse geloof heeltemal te onderdruk” aan die einde van hierdie tydvak, en wat gaan probeer om godsdienstige eenvormigheid daar te stel.

Daniël profeteer, na nog ’n ander toekomsblik, dat ’n magtige eindtydse leier wat bande sal hê met ’n herleefde Romeinse stelsel, ’n sewe-jarige verbond gaan sluit wat die Joodse volk aanvanklik sal toelaat om weer voort te gaan met offers, “en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Daniël 9:26-27). Hierdie verbond sal begin as ’n teken van godsdienstige verdraagsaamheid, maar na drie-en-’n-half jaar sal “alle skyn van godsdienstige verdraagsaamheid laat vaar word” namate hierdie heerser sal probeer om gelykvormigheid met ’n verdorwe godsdiens af te dwing (Expositor’s Bible Commentary). Hierdie invloedryke eindtydse godsdienstige leier, en sy pogings om ware Bybelse godsdiens te onderdruk en te vernietig, word duidelik verbind aan die handelinge van vals leraars aan die einde van hierdie tydvak (Daniël 12:11; Mattheüs 24:3, 11, 15; Openbaring 17:1-5).

Nuwe-Testamentiese begrippe

Die Nuwe Testament verskaf sleutelbegrippe oor eindtydse gebeure wat sal bydra tot “’n honger ... om die woorde van die Here te hoor”. Jesus sê van die jare wat Sy wederkoms direk sal voorafgaan: “Want baie sal onder my Naam kom ... en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:5). Vals leraars sal preek oor ’n ander Jesus en ’n ander evangelie verkondig, wat die Skrifte sal weerspreek (2 Korintiërs 11:1-4). Moet nie deur hierdie vals Jesus en die ander evangelie mislei word nie! Jesus, Sy Apostels en die Kerk wat Hy gestig het, het ’n sewendedag Sabbat onderhou (vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag), en het die jaarlikse Bybelse Heilige Dae onderhou. Geskiedkundige bronne en die Bybel self bevestig dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Die Bybel stel dit dat niemand behalwe Jesus na die hemel opgevaar het nie (Handelinge 2:29, 34; Johannes 3:13). Mense is nie geskape om na die hemel te gaan, op wolke te sit en harpe te bespeel nie, maar eerder om op hierdie aarde saam met Jesus Christus in die toekomstige Koninkryk van God te heers (Mattheüs 19:28; Openbaring 1:6; 5:10; Daniël 2:44-45; 7:27). Hierdie feitelike Bybelse inligting sal aan die einde van die tydvak onderdruk word, omdat dit sal bots met tradisionele oortuigings wat bevorder word deur die godsdienstige sisteem wat die wêreld dan sal oorheers.

Die Bybel dui aan dat, namate ons die einde van hierdie tydvak nader, militante godsdienstige werksaamhede sal toeneem (Openbaring 6:1-2). In die laaste dae sal mense “’n gedaante van godsaligheid” hê, maar dit sal nie onwrikbaar op die Skrifte gebaseer wees nie (2 Timotheüs 3:1-5; 4:1-4). ’n Invloedryke godsdienstige persoon sal bonatuurlike magte gebruik om mense leuens te laat glo, en sal die waarheid onderdruk (2 Thessalonicense 2:1-12). Vals leraars sal “verderflike ketterye heimlik ... invoer” en die spot dryf met Bybelse leerstellings en sleg praat van die waarheid terwyl hulle die Skrif verdraai om hulle verkeerde idees te ondersteun (2 Petrus 2:1-3; 3:1-18). Hierdie klimaat van openbare opinie, wat krities is oor en wegdoen met ware Bybelse Christelikheid, is vandag besig om te ontwikkel. Dit sal ’n hoogtepunt bereik in ’n poging om ware Bybelse leringe te vernietig – ’n poging wat gelei sal word deur ’n magtige godsdienstige figuur wat verbind sal wees aan ’n herlewing van die Romeinse stelsel in Europa. Dit is noodsaaklik dat ons verstaan waarheen wêreldgebeure vandag lei, dat ons “die Here [soek] terwyl Hy nog te vinde is” (Jesaja 55:6) omdat ’n tydperk van donkerte aan die kom is (Johannes 9:4) – en daarmee saam kom “’n honger ... om die woorde van die Here te hoor”.