Deesdae se wêreldse samelewing moedig die valse opvatting aan dat die teorie van ewolusie, bevestigde wetenskap is. Dit is egter ver van die waarheid af en dit is nodig dat u dit weet!

In Desember 2022 het die bekende veilingslokaal, Sotheby’s ’n handgeskrewe, 1865-manuskrip van Charles Darwin opgeveil, wat die evolusie-teorie verdedig wat hy in 1859 gepubliseer het in sy beroemde On the Origin of Species by Means of Natural Selection, of The Preservation of Favored Races in the Struggle for Life. Die bod is toegeslaan op £719,000 – sowat USD$882,000. ’n Mens kan wonder, waarom sou iemand só ’n hoë prys vir 'n enkele boek betaal?

Daar is talle faktore, maar Darwin se indrukwekkende rol in die menslike geskiedenis is waarskynlik die grootste faktor. Sotheby’s het Darwin se Origin of Species “een van die grootste prestasies van wetenskaplike ontdekkings”, genoem. Met verwysing na dieselfde boek het die wetenskaplike geskiedskrywer, Bern Dibner eenmaal geskryf: “This, the most important single work in science, brought man to his true place in nature” (Heralds of Science, 1955, bl. 92). Dit is verseker ’n indrukwekkende lofbetuiging.

Sedert Darwin sy boek meer as 160 jaar gelede vir die eerste keer gepubliseer het, is die teorie van evolusie deur natuurlike seleksie een van die belangrikste wetenskaplike teorieë in die geskiedenis. Die mate waarin dit die hedendaagse lewe op feitlik elke terrein van begrip gevorm het, sou moeilik wees om te oorskat. Met ’n onmeetlike impak op wetenskap, filosofie, onderwys, politiek en sekerlik ook godsdiens, het dit ’n kragtige invloed op die vorming van die samelewing en beskawing uitgeoefen.

Baie invloedryke opinies verseker ons dat hierdie teorie ongetwyfeld waar is – met ander woorde, bo alle twyfel bewys en dat niemand wat enigsins intelligent of opgevoed is, dit eers sal waag om dit te bevraagteken nie. Baie intelligente individue sal volhou dat evolusie telkens as die waarheid bewys is en dat al die bewyse wat ons tot ons beskikking het, evolusie as ’n feit van die natuur bevestig. Ten minste een van die teorie se mees toegewyde aanhangers beweer dat om die waarheid van evolusie te betwyfel, daarop dui dat ’n mens onkundig, dom, stapelgek of boos is.

Dalk behoort ons seker te maak dat ons almal verstaan wat bedoel word met die term evolusie. Volgens die evolusie-teorie het lewe báie lank gelede in ’n baie eenvoudiger vorm onstaan – miskien iets soortgelyk aan ’n mikroskopiese bakterie en dat die stryd om oorlewing oor miljarde jare, geringe toevallige variasies in die afstammelinge van daardie eerste lewensvorms beloon het – variasies wat hulle ’n voordeel gegee het; dalk om vinniger kos te vind, meer suksesvol te reproduseer en terselfdertyd die daaropvolgende lewensvorms te vertraag wie se toevallige aanpassingsvermoë minder gunstig was vir oorlewing.

Volgens evolusie het hierdie eenvoudige, natuurlike, onintelligente en ongeleide proses – natuurlike seleksie wat op willekeurige variasies inwerk – daardie mikroskopiese, bakterie-agtige organismes oor ’n paar miljard jaar verander in die verstommende en asemrowende verskeidenheid van lewensvorms wat ons vandag rondom ons sien, met inbegrip van die mens – sónder ’n Goddelike Ontwerper of Skepper.

Is dit egter akkuraat? Is die bewyse régtig so onweerlegbaar? Is die evolusie-teorie werklik so onbetwisbaar?

Indien alle lewe soos ons dit vandag ken, inderdaad die resultaat is van niks anders as verstandlose prosesse nie, dán ja, dan is Darwin se boek ’n uitstaande prestasie in die menslike geskiedenis, ’n belangrike ontdekking wat die mens werklik in ’n posisie plaas wat niks besonders of merkwaardig is nie – net ’n toevallige lewensvorm op ’n toevallige planeet, met géén uiteindelike doel nie. Daarom het die lewe hoegenaamd geen werklike betekenis nie – dit wil sê indién daardie teorie waar is.

Baie mense verkondig natuurlik luidkeels dat die evolusionêre teorie waar is. Die verdediger van evolusie, Jerry Coyne, skryf in sy gewilde boek, met die titel Why Evolution Is True: “Evolusie is ’n feit. En verre daarvan om Darwinisme te betwyfel, steun die bewyse wat wetenskaplikes oor die afgelope een en ’n halwe eeu ingesamel het, dit heeltemal – wat ’n bewys is dat evolusie plaasgevind het en dat dit grootliks gebeur het – soos wat Darwin voorgestel het – deur middel van die werking van natuurlike seleksie” (2009, bll. Xiii-xiv). Coyne se oortuiging is nie vreemd in wetenskapkringe nie. Dit is inteendeel redelik algemeen.

Baie mense wil ongetwyfeld hê dat evolusie waar moet wees. Darwin se teorie het ’n mate van ’n ontsnappingsroete geword vir diegene wat hoop om die pragtige diversiteit en kompleksiteit van lewe sonder ’n Skepper te verduidelik. Soos bekende bioloog Richard Dawkins eenkeer gesê het: “Darwin het dit moontlik gemaak om ’n intellektueel vervulde ateïs te wees” (The Blind Watchmaker, 1996, bl. 10).

Is hy reg? Weereens, slegs indién dit bewys kan word dat evolusie waar is.

Dit is in werklikheid nié bewys nie.

Ten spyte van bewerings dat al die bewyse dit heeltemal ondersteun, is die waarheid dat evolusie ’n hele rits skandalige geheimpies het waaroor ons in klaskamers en populêre wetenskaplike programme nie te hard praat nie. Hierdie artikel sal die gordyn lig om net ’n paar van daardie skandalige geheimpies te ondersoek.

 

Elke sel hou gevaar in

Die eerste skandalige geheim wat ons sal ontbloot, is dat selfs die eenvoudigste lewende sel die evolusie-teorie kelder.

In Charles Darwin se tyd was daar min oor selle bekend. Eensellige organismes soos amebes is deur Darwin se tydgenoot, George Henry Lewes, beskryf as bloot “’n mikroskopiese klont jellieagtige stof, of protoplasma ... heeltemal sonder tekstuur en gevolglik ook sonder enige organe” (Problems of Life and Mind, 1877, bl. 38). In ander selle, soos dié in ons liggaam, kon ’n kern waargeneem word, maar die doel daarvan was ’n raaisel – die sel was andersins oor die algemeen sonder bepaalde kenmerke, met min besonderhede wat waargeneem kon word.

Gedurende daardie tyd, toe die kleinste, eenvoudigste eenheid van lewe eenvoudig gelyk het – net ’n bietjie jellie met ’n paar vervelige kenmerke – was dit maklik om ’n mens te verbeel dat op een of ander manier, binne daardie geheimsinnige “lewegewende” jellie, enigiets kon gebeur. Soos wat mikroskope egter verbeter het en tegnieke ontwikkel is om die geheime van die aktiwiteite binne-in die sel sigbaar te maak, het ons ontdek dat hierdie sogenaamde eenvoudige “jellie-agtige stof” gevul is metd die ingeboude vermoë van verstommende funksionele kompleksiteit, ingenieursvernuf en meesterlike ontwerp.

Ongeveer ’n miljard chemiese reaksies vind byvoorbeeld elke sekonde in ’n menslike sel plaas. Dit is ook nie toevallige chemiese reaksies nie. Elke menslike sel is gevul met duisende der duisende proteïene van tienduisende verskillende variëteite – molekulêre ingeboude vermoë wat ontwerp is om saam te werk en elk ’n spesifieke doel te bereik, wat hulle omgewing manipuleer om nuwe strukture te skep en oues uitmekaar te haal in ’n dinamiese samewerking van kompleksiteit wat die ruimtependeltuig in vergelyking daarmee primitief laat lyk.

Indien u ’n gratis eksemplaar bestel van ons gedetailleerde hulpbron, Evolution and Creation: What Both Sides Miss – of lees dit aanlyn by TomorrowsWorld.org – sal u ’n diagram sien van ’n motorproteïen wat sommige bakterieë gebruik om hulle te help om dit te aktiveer. Saamgestel uit 78,216 verskillende atome, is dit net een voorbeeld van die groot wêreld van die komplekse sellulêre ingeboude vermoë wat Darwin en sy tydgenote hulle nooit sou kon indink nie. Lewe is onmoontlik sonder hierdie komplekse molekulêre ingeboude vermoë en selfs die kleinste veronderstelde evolusionêre veranderings sal veranderings aan hierdie ingeboude vermoë of selfs die ontwerp van nuwe ingeboude vermoë vereis.

Dit is so onwaarskynlik soos dit klink. Die biochemikus Douglas Axe, het die waarskynlikheid ondersoek dat selfs een proteïen van enige beduidende funksionaliteit enigsins per toeval kan vorm en beraam dat dit 1 uit 1064 is – dit wil sê 1 uit ’n getal wat bestaan uit ’n 1 gevolg deur 64 nulle (“Estimating the Prevalence of Protein Sequences Adopting Functional Enzyme Folds,” Journal of Molecular Biology, 2004, volume 341, uitgawe 5).

Saam met sy kollega Ann Gauger het Axe die moontlikheid ondersoek dat een proteïen uit ’n ander soortgelyke proteïen sou kon ontwikkel, met net ’n handjievol noodsaaklike veranderings aan die DNS. Hulle het gevind dat, teen die huidige tempo waarop mutasies plaasvind, dit 1027 jaar sou neem voordat so ’n verandering sou plaasvind – 1027 is ’n 1 gevolg deur 27 nulle, of een oktiljoen. Om dit in perspektief te plaas, hou in gedagte dat die wetenskaplike gemeenskap dit eens is dat ons heelal slegs 13,7 miljard jaar oud is en een miljard het slegs nege nulle. Met ander woorde, een proteïen wat in ’n ander ontwikkel, gaan net nie gebeur sonder intelligente ingryping nie.

Die eenvoudigste lewende sel kelder weereens die evolusie-teorie.

 

Ontwerp is in ons DNS

Die aard van DNS, die molekule wat ons so pas genoem het, is nóg een van evolusie se skandalige geheimpies omdat DNS ’n abstrakte koderingstelsel verteenwoordig wat na intelligensie verwys. Deoksiribonukleïensuur of kortweg DNS, wat onbekend was in Darwin se tyd, is verantwoordelik vir die oordra van die inligting wat nodig is om elk van die proteïene te vervaardig om lewe moontlik te maak. Elke kern in elke individuele normale sel in die menslike liggaam bevat ongeveer twee meter DNS wat in ’n mikroskopiese kolletjie verpak is – dit alles bevat die inligting wat nodig is om my en u te bou.

DNS gebruik basispare wat vier verskillende verbindings kombineer wat dieselfde funksie vervul as die ene en nulle in rekenaarkode [binêre stelsel], wat aan ons sellulêre ingeboude vermoë die gedetailleerde inligting verskaf wat nodig is om die komplekse proteïene te vervaardig wat lewe vereis. Proteïene lees ons DNS-kode en gebaseer op daardie inligting, kombineer nuwe proteïene van presies opeenvolgende aminosure saam – wat elke sel ’n komplekse chemiese fabriek maak, wat doelgerig gerangskikte nanoskopiese [onsigbaar klein] sellulêre ingeboude vermoë en van die mees ingewikkelde chemiese verbindings skep wat oral in die heelal voorkom.

Wat is die oorsprong van hierdie inligting – hierdie abstrakte programmeringskode? Evolusie kan nie die krediet daarvoor kry nie – dit is immers ’n verstandlose, doellose proses. Trouens, waar het DNS vandaan gekom? Proteïene kan nie vervaardig word sonder DNS nie en tog word DNS self deur proteïene saamgestel.

Die ontdekking van DNS behoort eintlik ’n groot sukses vir evolusie te gewees het – die geheim van hoe die eienskappe van lewe aan ons nageslag oorgedra word, is uiteindelik geopenbaar. In plaas daarvan was DNS egter ’n ramp vir evolusie. Die idee van ’n massiewe, inligtingsryke molekule wat ’n abstrakte programmeringskode bevat wat in staat is om die inligting te behou en te organiseer wat nodig is om die komplekse ingeboude vermoë van lewe te vervaardig, is onversoenbaar met evolusioniste se idee dat lewe in kompleksiteit ontwikkel het deur verstandlose, gebrekkige inligting en natuurlike prosesse.

Evolusioniste kan nie ontken dat DNS ’n abstrakte koderingstelsel verteenwoordig wat op intelligensie dui nie.

 

Die gapings in Darwin se teorie

Die volgende skandalige geheimpie van evolusie laat ons toe om die bordjies te verhang met betrekking tot diegene wat sou spot oor sogenaamde “blinde” geloof in ’n Skepper. Die geheim is dat sedert Darwin se tyd, die gapings in die fossielrekord meer geword het – nie minder nie.

Die evolusie-teorie is gebaseer op die idee dat stadige en bestendige opeenhoping van klein variasies plaasvind, aangesien groot “spronge” ’n aktiewe ontwerper of beplanner sou impliseer. Die resultaat, volgens evolusie, behoort geleidelike oorgange in die fossielrekord te wees – diere wat geleidelik, byna onmerkbaar “verander in” nuwe diere deur klein, egalige veranderings.

Dit is egter nie wat die fossielrekord toon nie. In plaas van ’n geleidelike, deurlopende oorgang van wesens, toon die rekord dat daar gapings tussen verskillende soorte wesens bestaan. Charles Darwin was bewus van hierdie probleem en het selfs in sy welbekende boek daaroor geskryf: “Geologie openbaar verseker nie sulke fyn grade van organiese kettings nie en dit is waarskynlik die mees voor die hand liggende en ernstigste beswaar wat teen die teorie gemaak kan word. Ek glo dat die verduideliking te vinde is in die uiterste onvolmaaktheid van die geologiese rekord” (On the Origin of Species, 1883-uitgawe, bl. 265). Dit wil sê, Darwin het gehoop dat verdere fossiel-ontdekkings al daardie gapings sou vul terwyl paleontoloë hulle werk voortsit.

Wel, hulle het inderdaad ’n groot aantal fossiele ontdek en die fossiel-rekord is omvangryk. Ons vriend Darwin sou egter ontsteld gewees het. Die gapings het bly voortbestaan soos Michael Denton opgemerk het in sy invloedryke werk, Evolution: A Theory in Crisis:

“Die volle prentjie van lewe op aarde vandag is so onderbroke, die gapings tussen die verskillende tipes so voor die hand liggend dat, soos Steven Stanley ons in sy boek Macroevolution herinner, indien ons kennis van biologie beperk was tot daardie spesies wat tans op aarde bestaan, “ons kan wonder of die leerstelling van evolusie enigsins as iets meer as ’n verregaande veronderstelling sou kwalifiseer”. Sonder intermediêre of oorgangsvorms om die enorme gapings wat bestaande spesies en groepe organismes skei te oorbrug, kan die konsep van evolusie nóóit ernstig opgeneem word as iets meer as ’n wetenskaplike hipotese nie” (1985, bll. 157-158).

Natuurlik word die oënskynlik “aaneenlopende” lyne van evolusionêre vooruitgang dikwels opgehaal vir vertoon om voor te gee dat die gapings nie naastenby so skadelik is soos wat dit wél is nie. In handboeke en artikels wat die evolusionêre teorie verdedig, sal ’n mens teoretiese volgordes vir walvis-, perde- en selfs menslike evolusie sien. Tog is hierdie opeenvolgings nie net bedrieglik nie en is hierdie lyne van afkoms glad nie bewys nie – soos ons bespreek het in ons 2020-uitsending “Evolution: A Whale of a Tale”, wat u gratis aanlyn by TomorrowsWorld.org kan bekom. Die feit bly staan dat indien evolusie waar was, behoort sulke opeenvolgings die norm te wees, nié die seldsame uitsondering nie. Dit was ’n doring in Darwin se vlees wat vandag, meer as 160 jaar later, net so lastig bly.

Ironies genoeg beskuldig evolusioniste die gelowiges dikwels daarvan dat hulle geloof het in ’n “God van gapings” wat op magiese wyse al die dinge doen wat hulle nie kan verduidelik nie. Wanneer ons dan tog die bordjies verhang met betrekking tot die onverklaarbare leemtes in die fossiel-rekord, plaas dit evolusioniste in die posisie van blinde geloof en glo hulle in hulle eie “god van gapings” of meer akkuraat, in “Darwin se teorie van gapings”.

 

Dit is in die oë

Om ons skandalige geheim van evolusie te ontbloot, hoef ’n mens nie ’n kenner van sellulêre biochemie, ’n genetikus of ’n fossielsoekende paleontoloog te wees nie. Al wat ’n mens hoef te doen is om in die spieël te kyk na u merkwaardige, evolusie-uitdagende oë want evolusie bied steeds geen geloofwaardige verduideliking vir hoe nuwe organe vorm nie.

Organe soos die oë verteenwoordig immers nie net verskillende gespesialiseerde weefsel nie, maar onderling gekoppelde stelsels – dikwels stelsel op stelsel – fyn ingestel en voortreflik gestruktureer om saam te werk. Wanneer een deel ontbreek, kan die hele stelsel misluk. Om die orgaan te verbeter sou behels dat elke stukkie of deeltjie in samewerking met al die ander deeltjies ontwikkel. Hierdie is ’n vlak van koördinasie wat evolusie eenvoudig nie kan bereik nie.

Die probleem is nie lank gelede nie in die Britse koerant, The Guardian, opgesom. Eerstens bied die artikel die tradisionele verduideliking vir die veronderstelde evolusie van die oog – die verduideliking wat deur duisende onderwysers en professore, dekades lank al aan talle studente gegee word. Hulle storie is dat diere wat om een of ander rede ligsensitiewe selle het, ’n reeks geringe mutasies ondergaan wat toenemend oorlewingsvoordele oordra. ’n Ligte swelling van die vleis rondom die selle kan moontlik help om die lig te fokus en uiteindelik word die spasie verseël deur ’n deurskynende bedekking van die een of ander aard om dan stadig die lens vorm. Dan ontwikkel spiere om die lens beter te vorm en te laat fokus. The Guardian gaan voort:

“Dit is die basiese storie van evolusie, soos dit in ontelbare handboeke en topverkoper wetenskap-handboeke weergegee word. Die probleem, volgens ’n groeiende aantal wetenskaplikes, is dat dit absurd, kru en misleidend is.

Een daarvan is dat dit halfpad deur die storie begin en neem as vanselfsprekend die bestaan van ligsensitiewe selle, lense en irisse aan, sonder om te verduidelik waar dit in die eerste plek vandaan kom. Dit verduidelik ook nie genoegsaam hoe sulke delikate en brose komponente saamgesmelt het om ’n enkele orgaan te vorm nie. Dit is ook nie net oë waarmee die tradisionele teorie sukkel nie. “Die eerste oog, die eerste vlerk, die eerste plasenta. Hoe het dit ontstaan? Die verduideliking hiervan is die fundamentele motivering van evolusionêre biologie” sê Armin Moczek, ’n bioloog aan die Indiana Universiteit. “Ons het nogtans steeds nie ’n goeie antwoord nie. Hierdie klassieke idee van geleidelike verandering – een gelukkige toevalligheid op ’n slag – was tot dusver onsuksesvol” (“Het ons ’n nuwe evolusie-teorie nodig?” (28 Junie 2022).

Kortliks, evolusie verklaar dat dit kan verduidelik hoe ons liggame so uitsonderlik georden is en merkwaardige funksionele organe kwansuis geleidelik deur millennia heen gevorm het – maar in werklikheid het dit nie ’n benul van hoe dit gebeur het nie. Hierdie skandalige geheimpie, dat evolusie steeds geen goeie verduideliking bied vir hoe nuwe organe kan vorm nie, is vernietigend vir ’n teorie wat meer as 160 jaar gelede ontstaan het en steeds bly daardie vraag onbeantwoord.

 

Ontmasker die towenaar

Laat ek bieg: Ek weet dit word as ’n klassieke film beskou, maar ek was nog nooit ’n groot aanhanger van The Wizard of Oz nie. Die eerste keer toe ek dit gesien het was ek nog ’n jong kind en eerlikwaar, ek het die vlieënde ape nogal spookagtig gevind! Soos wat ek ouer geword het, het een toneel uit die film egter in my geheue bly vassteek en ’n groot gunsteling geword.

Dit is naby die einde van die film dat Dorothy en haar groepie die skrikwekkende Wizard of Oz konfronteer omdat hy nie sy beloftes nagekom het nie. Terwyl hulle dit doen, skiet vlamme uit, donderslae weerklink en die towenaar praat met hulle terwyl ’n reuse, groen, monsteragtige kop wat voor hulle in die lug sweef, skree: “Moenie die woede van die groot en magtige Oz opwek nie!” Intussen draf Dorothy se hond Toto na ’n groen gordyn wat aan die linkerkant hang en trek dit eenkant toe om ’n klein, grys ou mannetjie te openbaar wat ’n masjien gebruik om die illusie te skep waarna hulle almal kyk terwyl hy in ’n mikrofoon praat om sy stem te versterk en dit skrikwekkend te laat klink.

My gunsteling deel van daardie toneel is wanneer die ou man omdraai, besef dat hulle hom kan sien en terugdraai na die mikrofoon om daarop aan te dring:

 “Steur u nie aan daardie man agter die gordyn nie!”

Die redes wat aangevoer word om mense te oortuig om nie die evolusie-teorie te bevraagteken nie, stem baie hiermee ooreen. Daar is baie vertoon, wat gepaard gaan met indrukwekkende aankondigings oor “bewyse” en baie dramatiese metodes gebruik om mense te laat dink daar is niks om te betwyfel nie, asóók druk wat uitgeoefen word op diegene wat dit bevraagteken. Soos die towenaar van Oz, het evolusie dus nie sy beloftes nagekom nie. Die teorie beloof om ’n verduideliking te gee van die mens se oorsprong, ’n verduideliking wat hoegenaamd geen God en geen intelligensie nodig het nie – net ’n aanvanklike mikro-organisme; blinde, onverskillige, natuurlike prosesse en ’n paar miljard jaar. Die reuse, intimiderende swewende kop verkondig ’n geleidelike oorgang oor hierdie jare: “from goo to you, by way of the zoo”, soos die skrywer Harold Hill dit eenmaal gestel het.

Ons behoort bereid te wees om die gordyn te lig – om nie beïnvloed te word deur die vertoon nie. Ons behoort te bevraagteken wat aan ons wysgemaak word en dapper genoeg wees om evolusie uit te daag omdat dit nie sy beloftes nakom nie. Om van ’n ander versinsel melding te maak: Dit was dalk ’n moeilike dag toe u die eerste keer agtergekom het dat Kersvader nie werklik bestaan nie. Daardie besef het u soveel nader aan die ware werklikheid van die regte lewe gebring en soveel verder weggelei van ’n wêreld van versinsels. Die herkenning van die skandalige geheimpies van evolusie, kan u ook help om uself te distansieer van daardie wêreld van versinsels.

Die vrae wat evolusioniste probeer beantwoord bly nogtans bestaan: Waar kom ons vandaan? Hoe het lewe ontstaan? Is daar enige doel met dit alles? Indien wel, wat kan daardie doel wees?

U kan duidelik, sonder die teatrale vertoon en drama, die regte antwoord op daardie vrae soek. Terwyl u dit doen en indien u waarlik met ’n ontvanklike gemoed en hart soek, sal u met God se hulp u weg vind na die enigste moontlike beginpunt in die soeke na daardie antwoord wat gevind word in die heel eerste sin van die Bybel. “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Génesis 1:1).

Almal van ons by Die Wêreld van Môre hoop dat u die moed sal vind om meer gereeld agter die gordyn in te loer.