Ware Christene het ’n besondere roeping waaraan hulle getrou moet bly tot die einde toe. Baie van diegene wat bereid is om die eer van God eerder as dié van mense te soek, sal moontlik deur onbeskryflike beproewings en vervolging gaan. Hulle sal definitief baie moed en vasberadenheid moet hê.

Dít is kenmerke waaroor bykans elke groot Bybelse leier en die meeste werklik groot mans en vroue in wêreldlike leierskapsposisies beskik. Moed is iets wat vir sommige mense natuurlik kom, maar dit kan ook tot ’n groot mate ontwikkel word deur opregte en volgehoue inspanning. Moed is ’n eienskap wat almal van ons werklik nodig sal hê in die nabye toekoms indien ons die ware Christenskap van die Bybel wil uitleef.

Want Jesus sê: “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar” (Johannes 15:20). En weer: “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle OM DIE LEWE BRING, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Johannes 16:1-2).

Jesus Christus maak ook die stelling in die evangelie volgens Mattheus: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. … En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (Mattheus 10:34, 38-39). En die apostel Paulus waarsku alle ware Christene spesifiek: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timotheus 3:12).

Het u geleer om te deurdink en te “deurbid” wat u in ’n situasie sal doen waar gehoorsaamheid aan God u lewe kan kos? Elkeen van ons moet dit doen en ons moet “voed” op die dinge wat sal neig om moed en vasberadenheid in ons basiese karakter te bou. Ons moet dink oor moed, lees oor moed en bid vir moed.

Een van die mees inspirerende voorbeelde van moed in moderne tye is dié van Sir Winston Churchill, Eerste Minister van Brittanje gedurende haar donkerste uur met die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Op daardie stadium was Brittanje met ammunisie en mannekrag oortref en alle aanduidings was daar dat Brittanje naby haar einde as vry nasie was. Die volgende is ’n aanhaling van sommige van wat Winston Churchill tot die Britse volk gespreek het tydens daardie tyd van beproewing:

Tot die Britse Laerhuis op 4 Junie 1940:

Hoewel groot streke van Europa en talle van die ou en bekende State in die hande van die Gestapo en al die verfoeilike apparaat van Nazi-heerskappy geval het of mag val, sal ons nie slaplê of misluk nie. Ons sal voortgaan tot die einde. Ons sal veg in Frankryk, ons sal veg op seë en oseane, ons sal veg met toenemende moed en mag in die lug; ons sal ons Eiland ten alle koste verdedig.

Churchill het op 18 Junie 1940 weereens dié stelling tot die Britse Laerhuis gemaak:

Hitler weet dat hy ons in hierdie Eiland moet breek of die oorlog verloor. Indien ons teen hom kan opstaan, mag die hele Europa vry wees en die lewe van die wêreld kan voortgaan in uitgestrekte, sonnige hooglande. Maar indien ons misluk, sal die hele wêreld, insluitende die Verenigde State en alles wat ons ken en voor omgee, wegsink in die duister poel van ’n nuwe donker era, wat nog meer geheimsinnig en moontlik meer uitgerek word deur die ligte van die verdraaide wetenskap.

Laat ons ons dus staal vir ons pligte en onsself troos sodat, al staan die Britse Ryk en Gemenebes vir ’n duisend jaar, mense sal sê: “Dít was hul tyd van glorie”.

En op 14 Julie 1940, praat Churchill oor die radio met die hele Britse volk:

En nou het die tyd aangebreek dat ons alleen in die bresse moet tree en die ergste wat die tiran se mag en vyandskap kan doen, in die gesig moet staar ….

Ons veg op ons eie; maar ons veg nie net vir onsself nie. Hier in die sterk Stad van Toevlug wat die titelaktes van menslike vooruitgang bewaar en baie belangrik is vir die Christen samelewing; hier, omring met seë en oseane waarin die Vloot regeer, beskut van bo deur die vaardigheid en toewyding van ons lugmag -- wag ons onverskrokke op die dreigende aanval.

Miskien kom dit vannag. Miskien kom dit volgende week. Miskien kom dit nooit nie. Ons moet onsself ewe gereed bewys om ’n skielike geweldadige skok, of dít wat moontlik ’n swaarder toets is, ’n uitgerekte waak, die hoof te bied. Maar of die beproewing skielik, uitgerek, of beide is, ons sal geen voorwaardes aanvaar nie, ons sal geen onderhandeling duld nie; ons mag genade betoon -- maar ons sal geen genade vra nie.

My vriende, die tyd mag aanbreek wanneer ons ook “OP ONS EIE in die bresse moet tree”. Ons moet dalk ook sê soos die oorspronklike apostels gesê het toe hul lewens deur die verskanste godsdiensstelsel van hul tyd bedreig was: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29).

Soos ons die geïnspireerde vertellings van toentertyd se manne en vroue van God lees, moet ons daaroor dink en mediteer: “Laat ons só wees!”

Want ons Vader wat in die hemel is beveel ons deur Sy Woord: “Waak, staan in die geloof, wees manlik [manmoedig], wees sterk” (1 Korintiërs 16:13). Na Moses se dood, toe Josua in sy plek moes voortgaan, sê God vir Josua: “Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie sterk en vol moed ….” (Josua 1:6-7).

Presies watter staal sal u en ek toon in die jare wat voorlê? Sal ons verslap? Sal ons in verskeie situasies ons oortuigings prysgee? Sal ons selfs aansluit by die dierlike stelsel wat in Openbaring 17 voorspel word, om ons “eie bas” te red? Sal ons, ten spyte van God se waarskuwings, die “merk van die dier” aanvaar (Openbaring 13:16-17)?

Presies hoe diep is ons oortuiging van die WERKLIKHEID van God en die absolute waarheid van Sy geïnspireerde Woord?

Voor die komende duisternis toesak, moet elkeen van ons weereens absoluut vir hom- of haarself BEWYS dat God inderdaad die baie werklike Geestespersoon is wat die heelal geskep het en nou daaroor HEERS. Ons moet seker wees. Ons moet weet -- en weet dat ons weet -- wat die basiese waarhede oor God en Sy doel is.

Deur die bladsye van die Wêreld van Môre tydskrif en ons boekies, bande en baie behulpsame Bybelstudiekursus, sowel as op ander wyses sal ons u probeer bystaan om die ware God te leer ken. Ons sal u bystaan om ’n onwrikbare GELOOF in die God van die Bybel te bou -- die God wat baie BINNEKORT in mensesake gaan ingryp en Sy Seun as Koning van konings na hierdie aarde stuur.

Maar in die jare voor daardie glorieryke gebeurtenis, mag ons inderdaad by tye “OP ONS EIE staan”. Ons sal diepe, bomenslike geloof en MOED nodig hê om vas te byt en getrou te bly. Daarom is dit nóu die tyd om daardie kragtige verhouding met die Lewende God te bou en deur Sy Gees die moed en vasberadenheid te ontwikkel om deur die komende beproewings en toetse te gaan, wat erger is as wat ons nou kan begryp.

Dit is nou daardie tyd!