Die duiwel en sy demone dis ’n vreemde wêreld op waar goed sleg en sleg goed is. Sal u Satan se leuens verwerp of sal u die slagoffer van sy misleidings word?

Lank gelede het die aartsengel Lucifer in opstand gekom waarna hy Satan, die “teëstander” van God geword het. Hierdie bose wese het sedertdien hard gewerk om God se skepping te vernietig waar hy ookal kon. Hy wil hê dat u sy leuens aanvaar asof dit die werklikheid is. Sal u die slagoffer van sy bose planne vir u vernietiging word?

Baie min mense verstaan die belangrikheid van die groot veranderings wat in ons samelewing aan die gang is. Sedert die tyd van Sodom en Gomorra was mense oor die algemeen nog nooit op so baie maniere verward nie. Dit is veral nou sigbaar met die enorme misbruik van tegnologie. Deur die verkryging van byna algehele beheer oor die media, is die einste Satan die duiwel in staat om die denke, gesindhede en optredes van miljoene mense, veral van die jonger geslag, te “manipuleer”.

Ons wat nou fisies ouer is en deur swaarkry baie lewenslesse moes leer, behoort al te geleer het, om nie met die stroom saam te gaan en ons te laat meesleur met die nuutste sosiologiese en sielkundige kinkels en draaie wat deur Satan die duiwel georkestreer word nie. Ons het, moontlik deur dekades heen, gevind dat baie van hierdie idees eenvoudig nie werk nie! Wanneer ’n verwarde jong radio- of TV-omroeper die voorbereide teks lees wat sê dat mense se burgerregte geskend word wanneer afwykende jong manne hulleself nie as jong dames kan “verklaar” en sodoende daarin slaag om dames se ruskamers en storte te gebruik nie – saam met ons jong dogters en eggenotes – raak ons ontsteld omdat ons weet en intens verstaan dat hierdie idees heeltemal verkeerd is. Dit “werk eenvoudig nie” en sal nie goeie resultate tot gevolg hê nie!

Namate miljoene meer jong mense onder die invloed van Satan die duiwel in so baie van hierdie “moderne” situasies geplaas word, is dit duidelik dat Satan deegliker as ooit beheer oor elke aspek van ons samelewing verkry as gevolg van die deurdringende aard van ons media. Satan kan mense letterlik met hierdie verkeerde idees “bombardeer” deur middel van televisie, radio, koerante, die Internet en baie ander vorms van die media, waarop baie mense verskeie kere per dag “ingeskakel” is.

Die Almagtige God het geweet dat dit sou gebeur. Hy het dus reguit aan die vroeë Christene verduidelik hoe hulle “tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2).

Die Bybel maak dit duidelik dat Satan die duiwel ’n magtige engel was wat teen die Skepper in opstand gekom het en nou deur God toegelaat word om “die god van hierdie wêreld” te wees, wat “die sinne verblind het sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).

Die ware Seun van God, Jesus Christus, wat ten volle besef het dat Hy en die Vader nietemin vir Satan “toegelaat” het om eers in daardie amp aan te bly, het kort voordat Hy gesterf het aan Sy dissipels gesê: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom, en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Ten einde die mensdom tot die besef te bring van hoe ver ons sonder God sal daal, laat die ware God vir Satan die duiwel toe om ’n totale “alternatiewe heelal” daar te stel – op so ’n manier waarop mense oor baie aspekte van die lewe dink dat dit nie net hulle denke, maar ook hulle optrede beïnvloed.

Aangesien Hollywood die seksuele verhouding tussen ’n man en ’n vrou uitbeeld – nie as deel van ’n bindende verpligting in die huwelik nie – maar as ’n “speelding” om op enige manier geniet te word, soos wat verwarde mense dit wil gebruik, het Satan die diepgaande gevoel van respek vernietig wat mans en vroue oor seks en alles wat dit behels behoort te hê. Satan manipuleer herhaaldelik die wêreldse vervaardigers, skrywers en regisseurs van Hollywood films en TV-programme om jong mans en dames uit te beeld wat eenvoudig net in verskillende situasies “saamwoon”. Dikwels gebruik Satan die “komiese aard van die situasie” om dit na meer “pret” te laat lyk en om enigeen wat dan sulke losbandige gedrag sou teenstaan as dom te beskou.

Satan is inderdaad baie slim hiermee. Hy is in staat om die manier waarop jong mense dink te manipuleer – ook die manier waarop ons almal dink, indien ons nie versigtig is nie!

Die resultaat van Satan se weë

Satan probeer dus om nou “die reëls te vervaag” waarbinne ons as manne en vroue in ’n ordentlike samelewing veronderstel is om te leef en op te tree. Satan wend nou uiterste pogings aan om die “meningsvormers” in Hollywood en die media oor die algemeen en selfs ook politici te beïnvloed om met die idee saam te stem en te glo dat, op een of ander onverklaarbare manier, mans kan “besluit” om vroue te word, vroue kan “besluit” om mans te word, asook ander soorte absurde idees. Só is dit gerapporteer op CNSnews.com (2 Junie 2015):

“Dr. Paul R. McHugh, die voormalige hoofpsigiater van die Johns Hopkins hospitaal en die huidige voortreflike bedieningsprofessor in psigiatrie, het gesê dat transgeslagtelikheid ’n ‘geestesversteuring’ is wat behandeling regverdig, dat seksuele verandering ‘biologies onmoontlik’ is en dat mense wat seksuele geslagsveranderende chirurgie aanbeveel, daaraan medepligtig is om geestesversteuring aan te moedig.

Dr. McHugh, die skrywer van ses boeke en ten minste 125 kollega-geresenseerde mediese artikels, het sy opmerkings in ’n onlangse kommentaar in die Wall Street Journal gemaak, waarin hy verduidelik het dat transgeslagtelik veranderde chirurgie nie die oplossing vir mense is wat aan ’n ‘afwyking van “aanname” ly nie’ – die idee dat hulle man- of vroulikheid verskillend is as wat die natuur biologies aan hulle toebedeel het.

Hy het ook oor ’n nuwe studie gerapporteer wat toon dat die selfmoordsyfer onder transgeslagtelike persone wat geslagsveranderende chirurgie ondergaan het, 20 keer hoër is as die selfmoordsyfer onder nie-transgeslagtelike persone”.

Dink!

Jesus Christus het gesê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Matthéüs 7:20). Die “vrugte”, die resultate van die homoseksuele lewensstyl, is absoluut gruwelik!

Feitlik alle owerhede erken dat die tempo van voortydige dood met die beoefening van homoseksuele gedrag baie hoër is as vir heteroseksuele mense. Hierdie verwarde individue verkort eenvoudig hulle leeftyd deur hulle afwykende gedrag. Statistieke dui daarop dat hulle oneindig meer emosionele probleme as normale mense ervaar. Dr. McHugh se opmerking oor die sterftesyfer van transgeslagtelike mense wat twintig keer hoër is as die van normale mense, is verstommend! Onder die invloed van die onsigbare Satan die duiwel, “doen” Hollywood, nuusverslaggewers en selfs baie van ons wetgewers in die Kongres en elders, eenvoudig “mee” aan hierdie afwykende leefstyl en alle ander soorte gedragsvorme wat lyding, wroeging en ontydige dood meebring!

Waarom? Weereens is dit as gevolg van ’n onsigbare mag wat hulle eenvoudig nie verstaan nie. Aangesien hulle die enigste ware bron van grondige kennis, die Bybel, verwerp het, is hulle onwillig of net nie in staat om die feit te verstaan dat daar ’n werklike perverse geestelike wese is, wat elke aspek van ons huidige samelewing sterk beïnvloed nie. Satan die duiwel is regtig die “god” van hierdie huidige samelewing!

Op een of ander manier is Satan daartoe in staat om sommige vroue voortdurend daarna te laat “hunker” om soos mans te wil wees. Hulle word toenemend deur ander vroue, asook deur die media en ander invloede aangemoedig om hulleself voortdurend te dwing om dinge te probeer doen waarvoor hulle nie fisies of emosioneel voorberei is nie. Dus het ons ’n paar vroue wat feitlik “vasbeslote” is om deur te druk om seesoldate, weermag veldwagters en in ander spanningsvolle militêre betrekkings te wees wat buitengewone krag en vaardighede verg, waarmee vroue nie van nature toegerus is nie.

Al hierdie dinge neem hulle natuurlik weg uit die huis en weg van hulle mans en kinders. Satan is dus weereens op hierdie manier in staat om die normale gang van sake te ontwrig, om die gesinstruktuur te benadeel en om mense op alle gebiede te forseer na wat nie normaal is nie en wat nie ware en blywende geluk aan die grootste deel van die samelewing bring nie. Duisende klein kindertjies word van hulle eie “mamma” ontneem wat hulle by die huis kon versorg sodat hulle behoorlik grootgemaak kan word as die volgende geslag mense wat na die beeld van God geskape is.

Die vloek van aborsie

Satan val nog ’n aspek van die menslike bestaan aan en dit is die waarde van ‘n menslike lewe. Sedert seks nou ’n “speelding” geword het – om geniet te word of dit “goeie vrugte” voortbring of nie – word mense wysgemaak dat dit nie nodig is om hulleself te “beheer” in die manier waarop hulle seks beoefen nie. Inteendeel, hulle hoor hulle kan maar voortgaan om buite die huwelik kinders te kry, of wanneer hulle wil. Niemand sê vir hulle om op te hou nie! Hierdie beginsel van selfbeheersing sou kwansuis neerkom op ’n “skending van vroueregte”!

Met hierdie begrip, is vroue dus “vry” om ongeoorloofde en sorgelose seks te hê en dan klein mensies te vermoor wat verwek is as gevolg van hulle onverantwoordelike optrede. Daardie vermoorde kindjie is dikwels ook ’n vrou – wat van háár “vroueregte”? Soos gewoonlik is Satan die duiwel deur middel van die media – en selfs deur valse leraars wat hulle as dienaars van Jesus Christus voordoen – gedurig besig om mense aan te moedig om voort te gaan om “hulle pret te hê” en te glo daar sal geen straf betrokke wees nie. In plaas daarvan om dus ’n moeder te wees, word ’n vrou dan ’n moordenares!

Deesdae verskyn talle artikels en verslae wat die diepgewortelde sielkundige letsels toon wat deur duisende van hierdie vroue beleef word, nadat hulle in hierdie praktyk van kindermoord ingepraat is deur die sogenaamde “owerhede”! Sulke verwarde jong vroue word gewillige slagoffers van die perverse redenasie van sielkundiges, sosioloë en ander wat hulle wysmaak dat ’n fetus – die begin van ’n menslike wese in hulle eie liggaam – nie ’n “mens” is nie. Aan hulle word vertel dat dit sommer net afval is waarvan hulle “ontslae kan raak” en van die gevolge vergeet.

Indien ons egter geleer het dat die Bybel werklik die “denke van God in druk” is – dat dit werklik die Woord of Boodskap is wat van die Skepper uitgegaan het – dan behoort ons God se wil oor hierdie onderwerp te verstaan! Volgens u Bybel het die Almagtige God hierdie woorde aan Jeremia gesê: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ’n profeet vir die nasies gemaak” (Jeremia 1:5).

Wat sou gebeur het indien Jeremia se moeder geleer was dat hy net “afval” was wat in die vullisdrom gegooi kon word, eerder as iemand wat as ’n mens aan die Skepper “bekend” en alreeds deur Hom as ’n profeet van die Almagtige God geheilig of “afgesonder” was?

Die apostel Paulus was weereens deur God geïnspireer om te beskryf hoe God hom “afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het” (Galásiërs 1:15). Dus het die Almagtige God dié groot Apostel uitgekies en afgesonder, selfs binne-in sy moeder se skoot. Hy was nie in ’n vullisdrom gegooi as iemand se menslike afval nie! Kan ons selfs begin om die ellendigheid van ons hele samelewing te verstaan wanneer meer as 50 miljoen onskuldige menslike wesentjies reeds op hierdie manier vermoor is as gevolg van ons moderne sonde van aborsie?

Ons enorme hebsug

Menigmaal kyk ons nie “agter die skerms” om te besef dat sommige van hierdie sondes wat reeds genoem is, minstens gedeeltelik verkondig word, as gevolg van menslike hebsug en die begeerte om geld te maak nie. Hoeveel meer geld kan ’n dokter verdien deur vroue honderde rande te laat betaal om hulle babas te vermoor? Hoeveel meer geld kan die media verdien deur die homoseksuele lewenswyse te bevorder eerder as om die euwels daarvan uit te wys en dit stop te sit voordat dit ons hele samelewing oorneem?

Dit is vir al ons lesers noodsaaklik om ten volle te besef hoe dikwels leiers in die media – veral in die advertensiewese en handel – skaamteloos na enige moderne neiging sal “gryp” wat hulle dink die samelewing sal oorneem en beïnvloed sodat dit vir hulle winsgewend kan wees! Hulle is gewoond daaraan om onbewus van God te wees en Hom altyd buite rekening te laat – hulle is bereid om deel te hê aan feitlik enigiets waarmee Satan die duiwel in sy “alternatiewe heelal” te voorskyn kom! Vir dié van ons wat nogtans in die Bybel glo, waarsku God, die Almagtige: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timótheüs 6:9-10).

Wanneer mense regtig in hierdie versoekings en begeertes verval, sal hulle einde – “verderf en ondergang” wees – soos die bogenoemde Skrifgedeelte aantoon. Onthou, dit is nie net om geld te “hê” wat boos is nie, maar die “liefde” vir geld, wat nie “die” wortel is nie maar ’n wortel van “alle euwels”. God het sekerlik geweet waarvan Hy praat en ons sien dit voor ons oë ontvou met verskeie groot maatskappye wat vinnig is om die staat van Noord-Carolina te “boikot” omdat hulle ’n wet uitgevaardig het waarin jong mans aangesê word om kleedkamers volgens hulle ware biologiese identiteit te gebruik en nie volgens enige “voorkeur” identiteit waarmee hulle te voorskyn kom, net om die kleedkamers van vroue te gebruik nie!

Dit is egter nodig dat almal van ons oor die situasie van ons menslike begeertes en gewilligheid nadink om ’n “skikking aan te gaan” ten einde geld te maak. Waarlikwaar, geld het ’n groot kwessie in moderne tye geword en mense is bereid om op baie maniere hulleself aan Satan die duiwel “te verkoop” om “vooruit te gaan” deur meer geld te maak. Wat die meeste mense nie besef nie, is dat die einde van al hierdie dinge die dood is.

Indien ’n kompromie met die regte lewenswyse aangegaan word, mag dit op die korte duur “voorkom” asof mense somtyds vooruitgaan en gelukkiger is. God se Wette is egter soos die wet van swaartekrag. Dit werk altyd. U sal altyd swaarkry wanneer u die Tien Gebooie verbreek! Daarom sê God se geïnspireerde Woord aan ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Selfs nou, terwyl ek hier skryf, verskyn al hoe meer artikels en insiggewende berigte in die media wat verskillende afvallighede beskryf wat gedurig verskeie aspekte van ons huidige samelewing “oorneem” – soos wat dit “Satan se alternatiewe heelal” geword het! Selfs terwyl ek hier skryf, kyk ek na ’n artikel uit ’n onlangse uitgawe van die Christianity Today tydskrif – ’n basies gerespekteerde en bestendige “hoofstroom” publikasie wat nie toegee aan verregaande aansprake of aanvalle nie. Die skrywer Hazel Torres skryf:

“Soos dit deur die Christelike skrywer en akademikus Timothy George gedefinieer is, is sologamie ’n ‘huwelik van iemand met homself – die manlik- of vroulikheid daarvan is nie relevant nie, hoewel dit lyk asof dit meestal vroue is wat dit doen’.

Alhoewel hierdie vreemde ‘huweliksreëling’ glo reeds al vir meer as 20 jaar bestaan, het dit nie juis baie aftrek gekry nie – tot onlangs ...

Sedert 2015 het minstens vier vroue reeds met hulleself getrou – in weelderige seremonies wat met ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou ooreenstem.

In Januarie 2015 het die Houston Chronicle berig dat Yasmin Eleby ‘met haarself getroud is by die Houston Museum of African American Culture ... in ’n weelderige seremonie met 10 bruidsmeisies, plus familie en ander gaste wat saamgekom het om die geleentheid te vier’ (3 Februarie 2016)”.

Bogenoemde is ’n herbevestiging van die apostel Paulus se waarskuwing oor die filosowe en “groot denkers” van sy tyd:

“Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Romeine 1:26-28).

Ons huidige samelewing – wat nou “Satan se alternatiewe heelal” word – volg dieselfde patroon soos wat mense doen “om God [nie] in erkentenis te hou nie. God het hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie” en ’n algehele slegte menslike samelewing, wat tot swaarkry, smart en voortydige dood vir toenemende miljoene mense lei. Dit is alles omdat mense nie gewillig is om te glo dat God werklik is nie. Hulle is nie bereid om te doen wat God so duidelik in Sy geïnspireerde Woord sê nie. Dus sal God binnekort in menslike sake ingryp, soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie en Christus weer na hierdie aarde terugstuur om ’n samelewing te vestig waar Hy Sy Wet in die harte en binneste van alle mense sal plaas (Jeremia 31:31-33).

My Vriende, hierdie hele onderwerp is so oneindig wyd dat ek by hierdie punt gaan ophou. Ek is egter van plan om ’n volledige boekie oor hierdie belangrike onderwerp voor te berei, wat ons later sal aankondig. Ek hoop u sal hierdie boekie lees en bestudeer om u te help om die “denke van Satan” ten volle te begryp en hoe dit in werklikheid besig is om u samelewing en die hele wêreld rondom u oor te neem.

Mag God almal van ons help wat gewillig is om “wakker te word” en uit hierdie huidige samelewing te kom, wat beslis ’n moderne “Babilon” is! Die Ewige God beveel elkeen wat die ewige lewe in Sy Koninkryk wil hê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4-5).