Groteske maskers en kostuums ... vreesaanjaende afbeeldings van rolprentmonsters ... kopbene van suiker en uitgesnyde pampoene ... offers aan dooies by hul grafte. Hierdie jaar sal miljoene mense oor die wêreld heen Halloween (Allerheiligeaand), die Dag van die Heiliges, die Dag van die Gestorwe Heiliges en die Dag van die Dooies herdenk. Gaan u ook?


Die meeste mense weet deesdae dat die moderne Halloween [Allerheiligeaand] sy oorsprong het in heidense tradisies van voor Christus se tyd – nogtans het hulle geen gewetenswroeging om deel te neem aan ’n dag wat sterk steun op morbiede voor-Christelike bygelowe nie. Waarom is dit so? Wat behoort dit vandag vir ’n Christen te beteken?

Wat het antieke Halloween se feesvierings behels? “Die twee hoofkenmerke van antieke Hallowe’en was die aansteek van vreugdevure en die opvatting dat, van alle nagte van die jaar, hierdie die een is wanneer spoke en hekse die waarskynlikste sal rondloop ... Verder was dit die Druïdes se geloof dat op die vooraand van hierdie fees, Saman, die heer van die dood, al die bose siele wat tydens die laaste twaalf maande veroordeel was om in die liggame van diere te woon, bymekaar roep” (“Halloween”, Encyclopaedia Britannica, 11de uitg. Vol. 12, bll. 857-8).

Hoe het dit dan gebeur dat belydende Christene begin het om ou Keltiese gebruike te volg? In 610 n.C. het Pous Bonifacius IV die Fees van Alle Heilige Martelare ingestel om jaarliks op 13 Mei gevier te word. In 835 het Pous Gregorius IV hierdie feesviering na 1 November verskuif, ’n datum wat hy bepaal het as “Dag van die Heiliges”, ter ere van martelare vir hulle geloof. Watter aktiwiteite word verbind met daardie dag? In sommige Katolieke lande bestaan, selfs vandag nog, ’n populêre volkstradisie dat die mense se afgestorwe geliefdes een keer per jaar na hul vorige wonings terugkeer op daardie dag, wat ook bekend staan as die “Dag van die Dood”. Die tydskrif Mabuhay, beskryf ’n kleurvolle tradisie in die Filippyne, waar families op die “Dag van die Heiliges” (1 November) “na begraafplase stroom om kerse op te steek en blomme te offer ... aan afgestorwe familielede...” (“Halloween High Jinks”, November 1997, bl. 34).

Die feesdag op 2 November, bekend as “Dag van die Gestorwe Gelowiges” was ingestel, gebaseer op “die [Rooms-Katolieke] leerstelling dat die siele van die getroues wat tydens hulle dood nog nie gereinig was van vergeeflike sondes nie of wat nie boete gedoen het vir vorige oortredings nie, nie die Geluksalige Aanskoue kan verkry nie; en dat hulle moontlik gehelp kan word om dit te verkry deur gebed en deur die offer van die mis” (“All Souls Day”, Encyclopaedia Britannica, 11de uitg. Vol.1, bl. 709). Dit veronderstel ’n proses waarvolgens diegene wat nog leef, seremonies kan uitvoer wat op een of ander wyse die toestand van die wat gesterf het, kan verbeter.

In Mexico word “Dia de los Muertos” of “Dag van die Dood” gevier deur begraafplase te versier met kerse, gousblomme en die oorlede familielede se gunsteling kosse, so asof hulle probeer om die dooie geliefdes te oorreed om terug te keer vir ’n familie re-unie. Lees net hoe sommige van die feesvierendes hierdie fees vier: “Party dra skedelmaskers van hout, bekend as calacas. Baie gesinne bou altare, wat ofrendas genoem word, in hul huise en gebruik foto’s, kerse, blomme en kos ... Speelgoed en kos, insluitende brood en suikerklontjies, word gemaak in die vorm van simbole van die dood, soos skedels en geraamtes” (“Dag van die Dood”, Encyclopaedia Britannica aanlyn).

Al hierdie “feeste van die dood” is gebaseer op dieselfde algemene tema – om met die dooies kontak te maak, om hul te paai, te dien en selfs te aanbid. Is sodanige gebruike egter op die Bybel gegrond? Behoort Christene dit deesdae te vier? Wat sê God?

Waar is die dooies nou?

Baie antieke godsdienstige tradisies veronderstel dat die dooies iewers elders as in die graf is. Baie mense aanvaar dat diegene wat ons deur die dood ontval het, óf in die hemel, óf in die hel óf in ’n soort tussentydse bewustelike staat verkeer. Die Bybel vertel egter baie duidelik aan ons waar die dooies is!

Kyk wat die apostel Petrus gesê het tydens sy preek op Pinksterdag: “Broeders, ek kan vryuit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie ...” (Handelinge 2:29, 34).

Dawid het nie na die hemel gegaan nie! Toe die apostel Petrus eeue na Dawid se dood gepraat het, het hy bevestig dat Dawid nog steeds in sy graf is waar hy geplaas was na sy dood en dat hy nog altyd wag op die opstanding! Wat ’n kontras is Petrus se woorde in teenstelling met die misplaaste oortuiging, wat deesdae so wyd verspreid is onder belydende Christene, dat die heiliges, op hierdie oomblik, uit die hemel op ons neerkyk nie!

Jesus Christus se uiteensetting is duidelik: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Hy het werklik uit die hemel neergedaal en het teruggegaan na die troon van die Vader in die hemel (Johannes 20:17). Volgens Sy geloofwaardige getuienis, het niemand anders dit gedoen nie!

Wat is die dooies dus besig om te doen? Die antwoord is nóg geheimsinnig, nóg spookagtig. Die dooies “slaap” eenvoudig in hulle grafte, sonder bewussyn, wagtende om geroep te word tot opstanding. Wat sal gebeur wanneer Christene opgewek word? Die apostel Paulus verduidelik: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).

Ons kan ontsaglik baie bemoediging daaruit put indien ons die waarheid aangaande die dood en opstanding verstaan, soos wat dit in die Bybel verkondig word. Ons hoef ons nie te kwel oor of te verwar met die vreesaanjaende bygelowe wat deur die “feeste van die dood” bevorder word nie.

Kan ons met die dooies kommunikeer?

Indien die dooies sonder enige bewussyn in hul grafte is – nie wakker en liggaamlose geeste in die hemel nie – kan ons met hulle kommunikeer? Keer afgestorwe familielede werklik terug na hul lewende naasbestaandes op die “Dag van die Dood”, soos sommige mense glo? Wat sê die Bybel?

Salomo verduidelik: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie ...” (Prediker 9:5). Toe die regverdige Koning Dawid uitgeroep het om uit gevaar gered te word, het hy God herinner: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” (Psalm 6:6). Salomo en Dawid het albei besef dat menslike wesens, wanneer hul sterf, ophou om van enige iets bewus te wees.

Die Bybel se weergawe van Koning Saul se besoek aan die “dodebesweerster” verwar soms die oppervlakkige lesers wat wonder of die geeste van afgestorwenes na hul dood bestaan. Met die eerste oogopslag mag dit lyk of ’n medium wel die gees van Samuel op Koning Saul se versoek opgeroep het (1 Samuel 28:8-15). Het die medium egterwerklik Samuel teruggeroep? Die Skrif verduidelik dat Saul “begryp” [veronderstel] het dat dit Samuel was (vers 14). Die beskrywing was eenvoudig van “’n ou man ... met ’n mantel om” – heel moontlik het ’n onreine gees verskyn in ’n gedaante wat na Samuel gelyk het. Die Skrif toon dat leuengeeste wel uitgaan om mense te bedrieg, soos hierdie een wat gepoog het om Saul te bedrieg (1 Konings 22:22-23).

Ja, die Bybel wys duidelik dat ons nie met die dooies kan kommunikeer nie. Die dooies is nie bewus van die lekkernye en offers wat na hulle grafte gebring word nie. Hulle hoor of put geen voordeel uit gebede wat tot hulle of ten behoewe van hulle gebid word nie.

Aan die ander kant sien ons wel daarna uit om ons geliefde vriende en familie in die opstanding te sien! Dit is ook sekerlik reg om die nagedagtenis van ’n afgestorwe familielid te eer tydens die begrafnisdiens, veral ter wille van treurende naasbestaandes. Ons “eer die nagedagtenis” van ons oorlede ouers en grootouers, nie deur allerhande snuisterye op hul grafte te sit, of in die hoop om hul geeste in ons huise te verwelkom nie, maar eerder deur hulle opbouende lesse en voorbeelde na te volg en deur eer te betoon aan die goeie naam wat hulle gevestig het terwyl hulle nog gelewe het.

Slegs onskuldige, skoon pret?

“Ek glo nie al daardie leë rituele nie” mag sommige mense sê. “Ek hou maar net daarvan om pret te hê op ’n feesdag”. Is daar, per slot van rekening, enigiets verkeerd met die Halloweenkostuums wat ons in hedendaagse Amerika sien? Kan daar tog enige probleme wees met ’n maskerbal, spookstories of insameling van lekkernye? Behoort ons beswaar aan te teken teen plastiese, batteryaangedrewe “kabouters” in afdelingwinkels wat verbygangers aangluur? Niemand neem tog meer deesdae al daardie bangmaakgoed ernstig op nie, of hoe?

Heel moontlik is daardie benadering self deel van die probleem. Die geesteswêreld moet ernstig opgeneem word. Dit bestaan werklik en dit is gevaarlik vir diegene wat nie op hul hoede is nie. Die gevare van die okkult word dikwels teruggeskuif tot die status van verspotte speletjies, asof ons maar skotvry kan saamspeel solank ons net “in die gees daarvan kan kom!”

Sekerlik, miljoene mense probeer presies dit doen. Tot huisversiering fundi Martha Stewart bied advies aan oor hoe om ’n mens se voorste grasperk te versier met flikkerende pampoene, om ’n spookagtige, prettige omgewing te skep. Sy verduidelik voorts: “Die opwinding van Allerheiligeaand is in die lug, die atmosfeer is gelaai met skouspele en klanke en vrese wat by dié nag hoort ... Wat ons probeer doen is om die vakansiedag se fosforglimmende geeste met hul eie spel te klop, om hul bedreiging te verban deur dieselfde palet van flikkerende amber en pikswart skadu’s te gebruik wat hulle aanwend om ons bang te maak” (Halloween: The Best of Martha Stewart Living, bll. 11-12).

Vir diegene wat bedrewe is met ’n houtsnymes, beskryf outeur Tom Nardone se boek, Extreme Pumpkins: Diabolical Do-It-Yourself Designs to Amuse Your Friends and Scare Your Neighbors, “ontwerperspampoene” wat ’n mens self kan skep. Nardone gee voorskrifte om ontwerpe te skep soos: “Kanibaalpampoen”, “My kop is aan die brand-pampoen”, “Breinchirurgie-pampoen”, “Doodgeskokte pampoen”, “Verdrink-in-’n-sak-pampoen”, “Skedelpampoen”, “Bloedgevulde pampoen” en “Satanistiese pampoen”.

Hierdie wenke deur Stewart en Nardone word alles as ’n grap en “tong-in-die-kies” bedoel – maar behoort ons dit ligtelik op te neem? God openbaar dat daar ’n werklike geestelike wese is, bekend as die Duiwel. Dit is nie ’n sukkelende bose gees met ’n hooivurk nie, die Duiwel is eerder ’n kragtige, haatdraende wese wat die hele wêreld misleihet (Openbaring 12:9) en wat een derde van die engele verlei en oorreed het om in opstand te kom teen God (Openbaring 12:4). Jesus Christus het Satan uit die hemel sien val (Lukas 10:18). Die grimmige engele wat Lucifer in die opstand gevolg het en wat demone geword het – word beskryf as onreine geeste en onreine en haatlike voëls (Openbaring 18:2).

Wat sê God, hoe behoort ons Satan te bejeën? Hy sê nie aan ons om verspottespookagtige speletjies wat interaksie met die geestelike wêreld bespotlik maakte speel nie. Hy sê nie aan ons om ons moderne weergawe van antieke Druïdiese rituele uit te beeld nie. Hy sê eerder: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader...” (Jakobus 4:7-8). God raai ons aan om bedag te wees op die Duiwel se planne sodat ons sy strikke kan vermy (2 Korinthiërs 2:11). Die Skrif herinner ons daaraan dat Christene in ’n stryd gewikkel is “... teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12).

God se weë of heidense onheil?

Halloween verheerlik onheil. Dit word beskou as ’n tyd om “alle inhibisies oorboord te gooi” en “alle reëls op te skort”. Skrywer Hugo Slim herinner ons: “Halloween het baie van die ou voor-Christelike speletjies en rituele as deel van die feesviering behou. Speletjies wat appels betrek, aantrek van kostuums vir die dag en vergeldingspeletjies word steeds deur kinders op elke Halloween geniet” (Feast of Festivals, bl. 176). Hy gaan voort om ons in te lig: “Die vermomming deur kostuums en pampoenlanterns verskaf ook die ideale dekmantel waaronder met ’n vyand afgereken kan word. Halloween word dus ’n onvermydelike en aanvaarbare tyd om ou griewe terug te betaal deur die antieke gebruik van “trick or treat”, ’n speletjie wat uiters populêr is by baie kinders” (bll. 177-178).

Keur God egter sodanige feestelikhede goed? Die apostel Petrus verduidelik aan ons Christene behoort lewenstyle wat teenstrydig is met God se weg, prys te gee: “Want dit is genoeg dat ons ... afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye” (1 Petrus 4:3). Ons moet eerder fokus op “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). Die onreine en bandelose wortels van Halloween is nie versoenbaar met God se voorskrifte vir Christene nie.

Interessant genoeg, sommige historici glo daar is ’n verband tussen antieke “Dag van die Dood” en die vernietiging van Noag se heidense, losbandige geslag. Noag se vloed begin “... in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand” (Genesis 7:11). Een jaar later, in die tweede maand, op die sewe-en-twintigste dag, het Noag uit die ark uitgegaan (Genesis 8:14-16). Indien ons die datum van Noag se vloed bereken volgens die Joodse siviele kalender, val die sewentiende dag van die tweede maand iewers tussen laat Oktober en vroeg in November. Soos skrywer Frederick Filby opgemerk het: “Dus het die ou wêreld vergaan en ’n jaar later het ’n nuwe era in dieselfde maand begin. Albei hierdie feite is onuitwisbaar vasgelê in die geheue van die menslike ras. Vir baie mense reg oor die wêreld bring November die Dag van die Dood. In ’n aantal antieke en primitiewe kalenders bring November ook ’n Nuwe Jaar gedurende ’n tyd wanneer daar geen sonstilstand of dag-en-nag-ewening of enige ander sterrekundige gebeurtenis is wat dit regverdig nie” (The Flood Reconsidered, bll. 106-107).

Historikus Alexander Hislop identifiseer Osiris se reis as ’n verdraaide weergawe van Noag se redding deur God, en plaas dit rondom dieselfde tyd: “Die tyd toe Osiris ‘in sy kis toegesluit was’ en toe daardie kis op die water gesit was om te dryf, soos deur Plutarch beweer word, stem presies ooreen met die tyd toe Noag in die ark ingegaan het. Daardie tyd was ‘die 17de van die maand Athyr, toe die oorstroming van die Nyl se oewers opgehou het, toe die nagte langer geword het en die dae korter’” (The Two Babylons, bl. 136).

Indien die tyd van die vloed egter volgens die Joodse heilige kalender (wat in die lente begin) bereken word, sou dit ongeveer in die middel tot laat Mei gewees het, na aan die datum wat oorspronklik gekies was vir die “Fees van al die Heilige martelare”. Soos John Garnier skryf in Worship of the Dead: “In Rome ... in meer antieke tye, was die ‘fees van die geeste’ wat glo die siele van afgestorwe vriende was, “Lemuria” genoem en op 11 Mei gevier. Dít was ook die sewentiende dag van die tweede maand van die jaar gedurende daardie tyd” (bl. 6).

Gaan vierings van die “Dag van die Dood” verder terug in antieke tye as wat ons mag vermoed – moontlik selfs tot by die vernietiging van ’n losbandige en gewelddadige beskawing? Om die minste te sê, lyk dit of daar ’n tempterende parallel is en bes moontlik is daar dalk ook ’n direkte verband.

Verwerp heidense tradisies

Toe God die Israeliete voorberei het om die Beloofde Land binne te gaan, het Hy aan hulle spesifieke en kragtige opdragte gegee dat hulle Hom nie moes probeer eer deur die beoefening van “tradisies” van die nasies rondom hulle nie. Hulle moes nie die gebruike van die heidene absorbeer nie. Hulle moes sodanige gebruike verwerp en in die plek daarvan getrou God se opdragte en voorskrifte volg.

Moses het die Israeliete beveel: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie” (Deuteronomium 12:29-31).

God roep deesdae Christene om Hom te gehoorsaam en te aanbid op ’n wyse wat Hy verkies, nie deur mensgemaakte, vals tradisies te volg nie. Indien Jesus Christus u na Hom toe geroep het om Sy Waarheid te verstaan, roep Hy u uit hierdie wêreld uit. In die laaste ure van Sy lewe, het Christus gebid dat Sy dissipels nie van hierdie wêreld moet wees nie, alhoewel hulle in die wêreld leef: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:15-16).

Mag God aan u die begrip en onderskeidingsvermoë gee om uit die wêreld uit te kom, Hom heelhartig te volg en die feeste van die dood te verwerp!


Insetsel

In die Verenigde State het die 31ste Oktober die derde besigste partytjiedag van die jaar geword, naas Oujaarsaand en Super Bowl Sondag.
“Ons het gevind dat klante aan Halloween begin dink kort na Werkersdag” sê Karen Burk van Wal-Mart, in ’n berig in New York Times (“After Labor Day Go Directly to Halloween”, 17 September 2007).

Elke jaar, lank voor 31 Oktober, begin bemarkers aandag gee aan hierdie populêre vakansiedag. “Pyn kan vreesaanjaend wees”, waarsku ’n Advil promosie, versier met hekse en ander Halloween karakters, verlede September. Verlede jaar het Sears ’n geraamte gebruik as voor-Halloweense “segsman” vir ’n gereedskapsreeks. Hierdie tyd van die jaar verskeep lekkergoedvervaardigers ekstra “happie-grootte” weergawes van hulle produkte, dikwels in die oranje-en-swart kleurskakering van Halloween temas, in die plek van die tradisionele kleure.

Halloween het groot besigheid geword. Die Nasionale Kleinhandel Federasie het beraam dat die gemiddelde Amerikaner in 2007 $64.82 [ongeveer R453.74] aan Halloween inkopies spandeer het – meer as die $41.77 [ongeveer R292.39] van 2003. Kostuums verteenwoordig die grootste deel van die uitgawe, gevolg deur lekkers en versierings – selfs Halloweense groetekaartjies, ’n toenemende verskynsel.

God het Sy mense opdrag gegee om nie deel te neem aan heidense seremonies wat afgelei is van die Romeinse Saturnalia (omtrent soos Oujaarsaand partytjies), of van aanbidding van bose geeste en die dooies (soos Halloween) nie. Christene behoort nie na heidense gebruike om hulle te kyk en te vra: “Hoe het hierdie nasies hul gode gedien? – dat ek ook so kan doen” (Deuteronomium 12:30), nie.