Wonderbaarlike gebeure van die afgelope millennia openbaar ’n wonderlike waarheid vir vandag.
God het die Heilige Gees aan Sy Kerk gegee op Pinksterdag, maar baie min mense verstaan vandág die betekenis van hierdie Heilige Dag. God se Heilige Gees is noodsaaklik vir ’n ware Christelike lewe maar mense is onbewus van wat dit is, wat Pinkster werklik behels en wat hierdie dinge vandag vir Christene beteken!
Baie mense verwar die gebrabbel wat in hedendaagse “charismatiese” kerke waargeneem word as openbaring van die Heilige Gees. Hulle is verkeerd en die waarheid het ’n baie dieper betekenis. Kan u met dieselfde Gees vervul word as Christus se eerste dissipels? Ja u kan!
Die 50 dae na Jesus Christus se kruisiging en opstanding was ’n onvergeetlike tyd vir Sy dissipels. Hulle Leermeester het uit die dood opgestaan na ’n wrede teregstelling en het hulle 40 dae lank onderrig. Meer as 500 mense het Hom op een slag gesien (1 Korinthiërs 15:6). Die dissipels het saam met Hom geëet, met Hom gepraat en selfs die wonde aangeraak waar sy liggaam deurboor was.
Dit was egter nie al nie. Na 40 dramatiese dae van onderrig, het die Verlosser in die wolke opgevaar terwyl Sy dissipels met verwondering en verbasing toegekyk het. Hy het hulle egter nie alleen agtergelaat nie! Hy het beloof dat hulle toegerus sal word “met krag uit die hoogte” – ’n belofte van hulle Vader om hulle toe te rus met lewenskragtigtigheid wat hulle nog nooit tevore ervaar het nie (Lukas 24:49).
Die dissipel Lukas, beskryf Christus se bemoedigende woorde: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Handelinge 1:4-5).
Van watter gebeurtenis het die opgestane Christus gepraat? Wat was hierdie “belofte” wat sou kom? Die meeste Bybelgeleerdes ken die basiese verhaal, maar baie van hulle is nie ten volle bewus van die diepgaande impak wat hierdie belangrike vyftigste dag van daardie belangrike tydstip af verder in die toekoms op die Kerk van God sou hê nie. Dit was die dag van Pinkster – die dag van wonderwerke waarop die Nuwe Testamentiese Kerk begin het!
Wat het op daardie wonderlike Pinksterdag in 31 n.C. gebeur? Lukas teken die dag se gebeure aan:
“EN toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale [bekende tale, nie onverstaanbare gebrabbel nie], soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Handelinge 2:1-4).
Die aanvang van die Nuwe Testamentiese Kerk is gekenmerk deur verstommende beelde en klanke. Dit was ’n indrukwekkende vertoning van Goddelike krag, wat herinner het aan die ontsagwekkende skouspel wat God vertoon het op die dag toe Hy die Wet aan Moses op die berg Sinai gegee het (Hebreërs 12:18-21). Trouens, volgens die Joodse tradisie was die Wet van God baie eeue vroeër by die berg Sinai, op Pinksterdag gegee!
Die krag van die heelal
Wat egter belangriker was as die sigbare en hoorbare, was die gebeure wat nie gesien of gehoor kon word nie. Hierdie openbaring van God se majesteit het die uitstorting van die krag van die heelal aangedui: God se Gees. Dieselfde krag wat die son en die sterre laat ontvlam het – die krag wat die planete gevorm en begin het – sou nou létterlik in die mens op Aarde woon (Johannes 14:17).
Is daardie selfde Gees besig om u te verander? Motiveer dit u? Wil u ’n meer diepgaande persoonlike verandering in u lewe ondervind? Wil u meer bewyse hê dat u deur die Gees van God gelei word? Wil u graag méér persoonlik betrokke wees by die Werk wat Christus vandag doen? Indien u die begeerte het om daarna te soek, ís daar antwoorde beskikbaar.
Vir ’n oorsig van God se plan van verlossing, soos dit geopenbaar word deur die jaarlikse Heilige Dae, bestel gerus ’n gratis eksemplaar van Die Heilige Dae – God se meesterplan of lees dit aanlyn by wvm.co.za.