Die mensdom streef daarna om dit in die ruimte te waag. Sal ons egter vrede of oorlog na die sterre neem? Wat openbaar Bybelprofesie oor ’n komende oorlog in die hemele? U behoort te weet.

Sal die mensdom dit verder as die Aarde waag om nuwe moontlikhede en geleenthede te vind? Sal nasionale en internasionale konflikte moontlik na die ruimte bokant ons uitbrei? Sal militêre ideale gevare in die hemele veroorsaak? Sal daar in die toekoms ruimte-oorloë wees? U behoort te weet!

Die meeste van ons op aarde kan na die hemel opkyk en die maan sien. Dit is verbasend om te dink dat twaalf mense werklik al op die oppervlak van die maan geloop het! Sal die mens eendag die maan koloniseer? Sal ruimtevaarders dit al die pad na die planeet Mars waag?

Sedert president John F. Kennedy se bewind het die meeste Amerikaanse presidente, ruimtevaart en die land se Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie (NASA), ’n prioriteit gemaak. In die 1970’s, ná die maanlandings, het wentelbaanprojekte soos die Internasionale Ruimtestasie en die Ruimtependeltuig belangrikheid verwerf. Terwyl hy nog met sy veldtog besig was, het die V.S. president Donald Trump aan Florida-kiesers gesê: “Ek sal NASA vrystel van die beperking om primêr as ’n logistieke agentskap vir wentelbaanaktiwiteite, nader aan die aarde, te wees. In plaas daarvan sal ons op ruimtenavorsing fokus. Onder ’n Trump-administrasie sal Florida en Amerika die leiding neem op die weg na die sterre” (Orlando Sentinel, 25 Oktober 2016).

Die V.S. is nie alleen in sy belangstelling in die ruimte nie. In Oktober 2016 was miljoene mense hartseer toe die Europese Ruimte-agentskap (ESA) se Schiaparelli-peiler verlore geraak het terwyl dit na die oppervlak van Mars neergedaal het. Soos CNN berig het: “ESA se direkteur-generaal, Jan Wörner, het gesê Schiaparelli se primêre doel was om te toets of hulle ’n suksesvolle Mars-mikro-analiseerder sal kan laat land. ‘Om data aan te teken tydens die neerdaling was deel daarvan en dit is belangrik dat ons leer wat gebeur het, sodat ons vir die toekoms kan voorberei’”(20 Oktober 2016).

Ons as mense was nog altyd deur die hemele gefassineer en ons behoort beslís so te wees. Soos die Psalmdigter skryf: “Die hemele vertel die eer van God; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Namate ons belangstelling ons toenemend in die ruimte in trek, sal die hemele vreedsaam bly? Sal die mensdom in staat wees om sy neiging tot konflik te weerstaan in die gebied bo ons planeet? Wat het Bybelse profesie te sê oor toekomstige konflikte in die hemele?

Groeiende belangstellings en ideale

Dit lyk of die mens se begeerte na ruimteverkenning en prestasies met elke verbygaande dekade toeneem. Soos president Trump in 2016 tydens sy verkiesingsveldtog gesê het, sien baie mense ruimteverkenning as sou dit voordelig hier op aarde wees.

“Ruimteverkenning het aan Amerika soveel gegee, waaronder geweldige trots op ons wetenskaplike en ingenieursbekwaamheid. ’n Sterk ruimteprogram sal ons kinders aanmoedig om na WTIW [Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde] onderwysresultate te streef en miljoene werkgeleenthede en biljoene dollars in beleggings na hierdie land te bring. Die sterkerwordende effek van ’n lewendige ruimteprogram is legio en kan ’n positiewe, konstruktiewe impak op die trots en rigting van hierdie land hê. Waarneming vanuit die ruimte en verkenning buite ons eie ruimte-omgewing behoort voorrang te geniet. Ons behoort ook wêreldwye vennote te soek, omdat die ruimte nie net aan Amerika behoort nie. Die hele mensdom baat daarby om uit te reik na die sterre” (sciencedebate.org/20answers).

Wat sal ons in die ruimte vind indien ons voortgaan om na die sterre te reik? Die populêre kultuur het vir dekades hulle verbeel dat ruimtewesens die Aarde se ruimtereisigers sal ontdek. Soms word aan hierdie vreemde wesens gedink as welwillend en vriendelik. Soms is die vreemde wesens egter net so gewelddadig en oorlogsugtig soos mense.

Bestaan daar vreemde wesens? Die Universiteit van Cambridge se fisikus Stephen Hawking dink so en hy dink ons moet versigtig wees. Soos deur The Times gerapporteer, was hy van mening dat die bestaan van buite-ruimtelike lewe buite die aarde as ’n feitelike sekerheid oorweeg behoort te word en dat ons enige kontak met hulle behoort te vermy en hy sê: “Indien vreemde wesens ons ooit besoek, dink ek die uitkoms sal baie wees soos toe Christopher Columbus die eerste keer in Amerika geland het, wat nie baie goed vir die inheemse Amerikaners uitgedraai het nie” (“Don’t talk to aliens, warns Stephen Hawking”, 25 April 2010).

Terwyl dr. Hawking se spekulasies meer na fiksie as goeie wetenskap klink, word die pogings om die mens se teenwoordigheid in die ruimte uit te brei, voortgedryf deur praktiese sowel as politieke strewes.

Moderne nasies het begeer om die ruimte te beheer. Sedert die tyd dat Amerikaners en die res van die wêreld die Russiese satelliet, Sputnik, kon sien wat in Oktober 1957 bo-oor die aarde gewentel het, was die ruimtewedloop aan die gang. President Kennedy het wetenskaplikes en die industrie saamgesnoer om voor die einde van die 1960’s ’n man op die maan te plaas. In 1984 het president George W. Bush ’n terugkeer na die maan beoog om ’n basis vir ’n uiteindelike bemande sending na Mars te vestig. In 2010 het president Obama vir ruimtevaarders ’n doelwit gestel om op ’n asteroïde te land en in 2016 het president Trump herhaaldelik steun gegee vir Amerika se doelwitte om verby die Aarde na Mars te reik.

Selfs nou is ruimtewetenskaplikes besig om vir nuwe en gewaagde ruimteprojekte voor te berei. Op 19 Januarie 2017 het ses wetenskaplikes ’n geodesiese koepel [’n struktuur met die vorm van ’n koepel en díe unieke vorm bestaan uit driehoekige “rame” wat baie akkuraat en styf in mekaar pas] van 1,200 vierkante voet [110 vierkante meter] in Hawaii binnegegaan om lewe op Mars na te boots. Volgens ’n verslag van Associated Press in Januarie 2017, [Let wel 2017], sal die vier manne en twee vroue “geen fisiese kontak met die buitewêreld hê nie en sal hulle met ’n 20-minute vertraging in kommunikasie met hulle ondersteuningspersoneel werk of die tyd wat dit sal neem vir ’n e-pos om die Aarde vanaf Mars te bereik. Die NASA-befondsde projek sal die sielkundige probleme bestudeer wat verband hou met lewe in geïsoleerde en ingeperkte toestande oor ’n lang tydperk. Die Universiteit van Hawaii bedryf die koepel wat as Hawaii Space Exploration Analog and Simulation of HI-SEAS bekend staan en NASA het meer as $2 miljoen toegeken aan die verskillende stadia van die projek”.

Mense is baie ernstig in hulle vasberadenheid om dit in die ruimte te waag, ten spyte van ons fisiese beperkings. Daardie realiteit het andere gelei om ruimte-nedersettings nader aan planeet Aarde te oorweeg. Een tydskrif, wat toegewy is aan ruimteverkenning, adAstra, maak melding van die hoë koste verbonde aan ruimte-nedersettings wat aan gevaarlike ruimtebestraling blootgestel word. “Mense het al vir dekades lank oor ruimte-nedersettings gedroom, maar hierdie drome is nie verwesenlik nie. Waarom nie? Omdat die bou van tradisionele ruimte-nedersettings se ontwerpe buitengewoon moeilik is. Gelukkig is daar ’n baie makliker manier” (“A Radically Easier Market-Driven Path to Space Settlement”, deur Al Globus, bl. 26). Die artikel gaan voort: “Dit is ons ongelooflike goeie geluk dat daar ’n ruimtelike gebied baie naby aan die Aarde is waar bestralingsvlakke baie laer is as wat oorspronklik vermoed is. Dit is die lae Aarde wentelbaan (LEO) direk bokant die ewenaar (of ELEO). Die Aarde se magnetiese veld beskerm dié gebied van alles behalwe ’n klein fraksie van ruimtebestraling”.

Die artikel maak melding van ’n markgedrewe benadering waar toeriste vir die koste sal betaal. Sommige ruimtetoeriste het in werklikheid soveel as $20 miljoen betaal om die ISS, die Internasionale Ruimtestasie, te besoek. Hierdie ruimtevisioenêre verwag dat, aangesien hierdie lae wentelbaan-nedersettings mettertyd meer gewild gaan raak, meer ruimtetoeriste vir ’n groot deel van die koste sal betaal. Hulle verwag dat meer luukse en gesofistikeerde nedersettings ’n realiteit sal word. Die artikel sluit af: “Die volgende stap is natuurlik om groepe van nedersettings na Alpha Proxima te stuur en te begin met die duisend miljoen-jaar projek van vergroening van ons sterrestelsel”.

Mense neem hulle natuur saam met hulle

Baie mense is opgewonde oor die idee van die ontwikkeling van menslike nedersettings in die ruimte. Sal daar vrede en rustigheid in die ruimte vir hierdie soort ontwikkeling wees? President Kennedy het in 1962 met insig  gevra of “hierdie nuwe oseaan, ’n see van vrede of ’n nuwe skrikwekkende teater van oorlog sal wees”. Indien die mensdom op die ou end nie volgehoue wêreldvrede onder die nasies op die Aarde kon bereik nie, wat laat ons dink dat ons blywende vrede tussen die nasies in die ruimte sal kan bereik?

Terwyl die visioenêre van ruimte-nedersettings droom, is daar werklike gevaar van oorlog in die ruimte. Die Verenigde State, China, Rusland en ander nasies berei voor vir uiteindelike oorlog in die ruimte. Wat sal die resultaat wees van toekomstige oorloë in die ruimte?

U Bybel gee die antwoord. U Bybel openbaar ’n toekomstige Derde Wêreldoorlog. Baie mense verwys daarna as die slag van Armageddon. Sal die volgende wêreldoorlog tot buite ons atmosfeer uitbrei? Sal nasies in die ruimte met kragtige en eksotiese wapens veg?

SpaceNews Magazine het in 2016 aan die destydse kandidaat Donald Trump gevra: “Wat sou u prioriteite vir die V.S. regering se militêre ruimteprogram wees?” Hy het geantwoord: “Ons behoort daarop te konsentreer dat ons die dodelikheidsfaktor in gevegte verbeter en om die bewustheid van ’n situasie te verhoog en ook om ons intelligensie-vermoëns uit te brei. Ons moet ook verseker dat ons vroeë waarskuwingsvaardighede sterk bly, asook om in oorlog en vrede na die beste van ons vermoëns te kommunikeer en leiding te gee” (16 Oktober 2016).

“Gevegs-dodelikheid?” Beteken dit dat oorlog in die ruimte voorlê? Sommige mense in Europa en Rusland dink so. Brittanje se koerant The Sun het as volg berig:

“Viktor Baranet, ’n Russiese militêre ontleder, het aan Sputnik News gesê dat albei nasies in die geheim werk om hulle ruimte-oorlogvermoëns uit te brei en ander nasies sal waarskynlik hulle leiding volg. Hy het gesê: ‘Die V.S. gaan volstoom voort om ruimtewapens te ontwikkel.’ Baranet beweer dat Rusland vrede in die hemele wil hê, maar word gelok deur Amerika se smousery. ‘Ek dink dat as Washington aanhou om Rusland se oproepe vir die demilitarisering van die ruimte te ignoreer, die sogenaamde “gevegsruimtevaarders” ’n werklikheid sal word,’ het hy bygevoeg. ‘Die mensdom sal moet besluit of die ruimte gemilitariseer gaan word of nie’” (27 Oktober 2016).

Is daardie besluit geneem? Dit is weliswaar geneem! In Julie 2016 het die V.S. lugmag se Ruimtebeheer ’n oorsig van sy planne gegee vir wat die “Space Mission Force” genoem word. Wat sal hierdie mag doen? Uit die verslag: “Ons ruimtemagte moet hulle vermoë demonstreer om te reageer op ’n denkende teenstander en opereer as oorlogsvegters in hierdie omgewing ... Indien ons nie hierdie transformasie vinnig kan ondergaan nie, sal ons ons mededingende voordeel in die ruimte verloor en ons vermoë in gevaar stel om teenstanders suksesvol op alle gebiede te konfronteer” (SpaceNews.com, 20 Julie 2016).

Meer as tien jaar gelede het China sy vermoëns in die ruimte demonstreer deur ’n geleide missiel in die ruimte te lanseer om ’n weersatelliet te vernietig. Hierdie voorval het die V.S. se besorgdheid oor die kwesbaarheid van sy eie ruimtesatelliete verhoog.

Die tegnologie van oorlogvoering raak beslis al meer gevorderd! Gewapende hommeltuie nader aan die aarde word as die volgende tendens in militêre hardeware oorweeg. In Januarie 2017 het New Scientist gerapporteer oor die V.S. weermag se pogings om ’n missiel te vervaardig wat ’n “menigte gewapende hommeltuie oor ’n teiken-area sal kan dra”. Soos in die artikel gestel: “Terwyl daar baie besorgdheid oor ‘moordrobotte’ was, word hierdie soort tegnologie nie spesifiek deur internasionale reg gereguleer nie”. Is dit moontlik dat die ruimte bokant ons atmosfeer ’n “nuwe, skrikwekkende oorlogsteater” kan word, waarin gevorderde en selfs kunsmatig-intelligente tegnologieë ontketen kan word?

Die Bybel profeteer oorlog in die hemel!

U Bybel openbaar interessant genoeg, duidelik dat daar in die toekoms ’n dramatiese oorlog in die ruimte sal wees – maar ’n konflik baie kragtiger as enigiets wat tans deur die presidente en generaals van die planeet Aarde ontwerp of beplan word!

Satan die duiwel sal God se troon in die hemel aanval! Dit sal ’n stryd wees tussen God se engele-leër en Satan se demoniese leër. Openbaring 12:7 beskryf hierdie konflik eenvoudig: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer ...” Wie sal daardie stryd wen? “... en hulle [Satan en die gevalle engele] kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (verse 8-9).

Hierdie gebeurtenis sal ’n eindtydse volgorde van gebeure inlui wat sal lei tot die Wederkoms van die Messias, Jesus Christus. Satan sal daardie oorlog in die hemel verloor. Hy sal so kwaad wees dat hy sy toorn teen fisiese menslike wesens hier op aarde sal loods. Hoe sal u weet dat ’n groot ruimte-oorlog plaasgevind het? Die hemelse boodskap gaan voort in Openbaring 12:12 met sy sombere waarskuwing: “... wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

Gevaarlike tye lê voor! Selfs die wêreld se wetenskaplikes erken dit vandag! Op 26 Januarie 2017 het die Bulletin of the Atomic Scientists sy beroemde Oordeelsdag Horlosie dertig sekondes nader aan middernag geskuif, wat die toenemende gevaar van wêreldwye kernverwoesting simboliseer. Die New York Times het daardie selfde dag gerapporteer dat teen twee-en-’n-half minute dit “die naaste is wat die horlosie aan middernag was sedert 1953, die jaar nadat die Verenigde State en die Sowjet-Unie mededingende toetse met die waterstofbom uitgevoer het”.

Dit is nodig dat al ons lesers verstaan: Dit sal nodig wees dat u God vir beskerming vertrou tydens die gevaarlike tye wat voorlê! Gedurende die tyd van Satan se toorn, gedurende die Groot Verdrukking waarvan Jesus in Matthéüs 24:21-22 gepraat het, sal Satan die hoofliggaam van God se Kerk aanval. God beskerm die vrou of die Kerk in die woestyn [of wildernis] (Openbaring 12:13-16). Satan val dan die oorblyfsel van God se ware Kerk aan – ware Christene wat “die Gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17). Let wel! Ware Christene het die getuienis van Jesus Christus en hulle hou die gebooie van God. Diegene wat getrou is, sal in die eerste opstanding wees om Christus in die lug te ontmoet by die blaas van die laaste basuin, soos dit in 1 Korinthiërs 15 en 1 Thessalonicense 4 beskryf word.

’n Inval van “buiteruimtelike wesens”?

Ons het vroeër gelet op die vrese van sommige mense, soos Stephen Hawking, wat betref ’n inval uit die ruimte. Wanneer Christus terugkeer, sal almal Hom aanvanklik nie as hulle Verlosser aanvaar nie. Sommige mense sal Hom as ’n buiteruimtelike indringer vrees, wat kom om hulle mag weg te neem.

Kan u vir u ’n kombinasie voorstel van al die nasies se militêre magte wat losgelaat word teen Jesus Christus wanneer Hy uit die hemel neerdaal? Dit is presies wat die apostel Johannes in Openbaring 19:19 beskryf! “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.” Die gekombineerde leërs van rebelse nasies sal teen Christus veg wanneer Hy uit die hemel terugkeer!

Hoe sal Christus reageer? Ons word in Openbaring 19 vertel: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid ... En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (verse 11, 14-16).

Jesus Christus sal daardie geveg wen, al die nasies verower en die leërs verwoes wat Hom teenstaan. Dank God dat Satan net ’n kort tydjie sal hê om groot verdrukking te veroorsaak voordat hy gebind word en vir ’n duisend jaar in die bodemlose put gegooi sal word. U kan van daardie oordeel in Openbaring 20:1-3 lees. U behoort egter te waak en te bid en die geprofeteerde ruimte-oorlog wat voorlê te verstaan, asook die volgorde van profetiese gebeure rondom daardie wêreldgebeurtenis. (Oorweeg dit om ons gratis boekie Openbaring: Die Verborgenheid Onthul, aan te vra wat hierdie profesieë in detail verduidelik.)

Na oorlog in die ruimte, ’n wêreld van vrede!

Christus sal alle nasies oorwin wat Hom teenstaan. Ons het gesien dat Openbaring 19 die leërs van die nasies van die wêreld beskryf wat saam vergader om oorlog teen die terugkerende Messias te voer. Wat gebeur met hierdie menslike leërs en die geestelike magte agter hulle? “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (verse 20-21).

Die oorwinnende Koning van die konings sal Sy regering vestig om al die nasies te regeer. Die Koninkryk van God sal met geregtigheid en onpartydigheid oor die planeet Aarde regeer. Dit is die goeie nuus waarin ons ons verheug!

Wie sal die ruimtewedloop wen? Die bemoedigende antwoord is: Jesus Christus sal die ruimtewedloop wen! Hy het al die mag in die heelal. Soos dit in Hebreërs 1:3 gestel word dat Christus “alle dinge dra deur die woord van sy krag”.

Ons behoort uit te sien na die uiteindelike toekoms van vrede op aarde, vrede in die ruimte en vrede in die hemele. Openbaring 21 openbaar dat die Nuwe Jerusalem vanuit die hemel na die aarde sal neerdaal. Die apostel Johannes beskryf die toneel in vers 1: “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan”. Dit sal nie 50 geslagte van menslike pogings neem nie, nog minder ’n “duisend miljoen-jaar projek van vergroening van ons sterrestelsel” soos deur ruimtewetenskaplikes beoog word. Die Almagtige God sal ’n glorieryke toekoms vir die hemele en die aarde verseker. Mag God u help om voor te berei vir daardie wonderlike bestemming.