Gedurende 2009 het President Barack Obama Junie 2009 as “Lesbiese, Hemofiele, Biseksuele en Transgeslagtelike Trots Maand” verklaar in die Verenigde State. Deur dit te doen, het hy sy hoop uitgespreek dat Amerikaners daartoe sal kom om hierdie seksuele neigings as normaal en aanvaarbare gedrag te beskou! In die aankondiging van sy verklaring het President Obama opgemerk dat hy die eerste Amerikaans President is wat ’n openlike homoseksuele persoon aangestel het in ’n Senaat-bevestigde pos in die eerste 100 dae van sy presidentskap.

Alhoewel baie leiers in die homoseksuele gemeenskap glo dat President Obama nie ver genoeg gegaan het nie, vind miljoene Amerikaners wat die waarde van God se wet verstaan – en die belangrikheid van die biologiese familie in die opvoeding van kinders as deel van ’n gesonde samelewing – die President se optrede skokkend en amper ongelooflik! Wat die President – en selfs baie wat hom teenstaan – faal om te besef, is dat deur sy optrede, antieke Bybelse profesieë reg voor ons oë besig is om gestalte aan te neem! Die President se optrede gaan gevolge meebring wat nóg hy nóg sy ondersteuners verwag.

Morele en sosiale verval

Die woorde en dade van President Obama is ongelukkig maar net die punt van die ysberg van sosiale verandering wat die Westerse kultuur deurtrek en dreig om die skip van Bybelse moraliteit wat een van die onderskeidende eienskappe van die Westerse beskawing was, te sink. Skoolkinders in Amerika, Brittanje, Kanada, Australië en Europa is die afgelope dekade geïndoktrineer met die idee dat homoseksualiteit normale gedrag is en dat enigeen wat die idee bevraagteken agterlik, bekrompe – en moontlik ’n godsdienstige dweper is.

Onskuldige kinders en nie-homoseksuele mense word aangemoedig om deel te neem aan “Homoseksuele Trots” okkasies om hul ondersteuning vir die homoseksuele agenda te toon. In Amerika het die Nasionale Opvoeding Assosiasie (wat onderwysers in Amerikaanse skole verteenwoordig) besluit om hulle gewig agter dieselfde-geslag huwelike, homoseksuele aannemings en ander aspekte van die “homoseksuele” agenda, in te gooi. In Australië, waar die Homoseksuele en Lesbiese Mardi Gras nou die nasie se grootste jaarlikse sosiale gebeurtenis is, het predikers die homoseksuele gemeenskap om verskoning gevra omdat hulle hul lewenstyl as boos bestempel het. In Amerika en Brittanje het verskeie hoofstroom kerkdenominasies aktiewe homoseksuele persone tot die bediening verorden. Openlike homoseksuele paartjies word na kerkbyeenkomste genooi om hulle agenda te bevorder. Onlangs het die leier van die Konserwatiewe Party, David Cameron, ’n “buitengewone apologie” uitgereik vir wetgewing wat deur sy party goedgekeur is om die bevordering van homoseksualiteit in skole te verban. Hy het dit gedoen in ’n poging om die stemme van meer as 2.6 miljoen Britse homoseksuele te werf. Cameron het verder ook belowe dat, indien hy verkies word, hy homoseksuele regte sal bevorder. Hy sê dat steun vir sy party die eerste homoseksuele Eerste Minister van Brittanje sal oplewer. Een homoseksuele leier het Cameron se opmerkings as “histories” beskryf. Die huidige Arbeider Eerste Minister, Gordon Brown, is ook openlik besig om die “homoseksuele” stem te probeer werf.

God se Woord is vergete!

Ongelukkig, wat werklik “histories” is oor ons hedendaagse era, is dat gedrag wat vir duisende jare beskou was as ’n sosiale en morele euwel – ’n perversie en ’n gruwel in God se oë – nou bevorder word nie slegs as “normale” gedrag nie, maar as iets wat elkeen as goed moet aanvaar. Bowendien word mense vertel dat diegene wat vaskleef aan die Bybelse oortuigings betreffende goed en kwaad, eintlik slegte mense is wat hardnekkig vasklou aan wat President Obama bestempel as “uitgediende argumente en verouderde gesindhede”. Dit is verbasend hoedat meer en meer belydende Christelike predikante nie slegs homoseksuele gedrag kondoneer as aanvaarbaar nie; hulle verwelkom selfs aktiewe homoseksuele persone in die bediening en vra om verskoning vir hulle ou (Bybelgebaseerde) idees dat die homoseksuele leefwyse sondig en boos is!

Die Bybel openbaar duidelik dat God ’n vrou vir ’n man geskape het, en ’n man vir ’n vrou – en dat die huwelik tussen ’n man en ’n vrou moet wees (Genesis 2:18, 23-25). Die Skrif stel dit duidelik dat God die stede van Sodom en Gomorra vernietig het oor hulle boosheid en onsedelikheid – en homoseksualiteit word spesifiek uitgewys as een van hulle booshede (sien Genesis 13:13; 19:5-7). God het Moses uitdruklik gelas om die kinders van Israel te waarsku dat homoseksualiteit ’n gruwel in Sy oë is (Levitikus 18:22; 20:13). Nogtans toe die Israeliete van God weggedryf en die handelswyses van hulle heidense bure aangeneem het, was homoseksualiteit een van die praktyke wat die afvallige Israeliete aangeneem het (Rigters 19:22). Die apostel Paulus – ’n vurige voorstander van Bybelse Christelikheid – skryf duidelik in die Nuwe Testament dat wanneer mense die leringe van God verwerp, hulle na sondige idees sal wegdryf, dit sal aanvaar en bevorder, insluitende homoseksualiteit – en dat hulle in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling sal ontvang (Romeine 1:22-32).

Profesieë en gevolge

Wat “progressiewe” sosiale hervormers blykbaar nie verstaan nie, is dat God in die bladsye van die Bybel voorspel het wat werklik vandag in die hedendaagse Israelitiese nasies plaasvind. Lank gelede het God Moses geïnspireer om die Israelitiese mense te waarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronomium 31:29). God waarsku deur die profeet Jesaja: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20) – en dit is wat ons vandag sien! God voorspel ook deur Jesaja, “die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ’n dwaalweg gebring” (Jesaja 9:15). Dit is nie die gewone lidmate van die kerk of kiesers wat bepleit dat gedrag wat eens as ’n gruwel beskou was, nou as normaal aanvaar moet word nie; dit is die kerkleiers en politici en regters wat hierdie idees op die gemiddelde persoon afdwing.

God openbaar in die Skrif egter dat hierdie verkeerde dade gevolge gaan hê in die jare wat voorlê! God waarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper ... En Ek sal ’n swaard oor julle bring ... Ek sal julle onder die volke verstrooi” (Levitikus 26:14-33). Die profeet Hosea vermaan: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis [van God se wette en weë]; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hosea 4:6).

In die lig van hierdie profesieë is dit geen verrassing dat gedurende dieselfde tyd wat die leiers van hedendaagse Israelitiese nasies die aanvaarding van gedrag bevorder wat God ’n gruwel noem, daardie nasies hulle invloed verloor en aan toenemende probleme onderwerp word nie. Dit is nodig dat ons ontwaak tot die feit dat daar ’n God in die hemel is wat Sy mense verantwoordelik sal hou vir hulle dade (Jeremia 2:17-19; Hosea 4:7-10). Die God van die Bybel duld nie leiers of seën nie nasies wat boosheid bevorder en goed veroordeel nie!