Ons vind hierdie onbeskroomde stelling in die Bybelse boek Jesaja: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Hoe moet ons dit verstaan?
Vervulde profesie is een van die belangrike bewyse dat die Bybel meer as die werk van mense is en dat dit werklik is wat dit beweer om te wees – die Woord van God. Min mense verstaan vandag dat wat duisende jare gelede geskryf is. geopolitieke gebeure in die een-en-twintigste eeu verduidelik. Dit is egter presies wat ons kan sien indien ons bloot net ons oë oopmaak.
Daar word beraam dat soveel as ’n derde van die Bybel profeties van aard is. Sommige mense is vaagweg vertroud met die boek Openbaring, hoewel min van hulle dit verstaan. Ander mense erken dat Jesaja, Jeremia en Eségiël profete was maar neem aan dat al hulle geskrifte vir die antieke Jode bedoel was. Niks kan verder van die waarheid af wees nie, want baie van hulle profesieë is bedoel vir die dae wat nog voorlê – dit is egter nie net vir die Jode alleen nie – soos wat hierdie artikel sal aantoon.
Profesie word in byna elke boek van die Ou en Nuwe Testamente gevind. Jesus het die toekoms voorspel in Sy gedetailleerde Olyfbergprofesie, wat in drie van die Evangelies opgeteken is. Die apostels Paulus en Petrus het profeties van eindtydgebeure gepraat. Judas, die halfbroer van Christus, het ’n kort profetiese brief geskryf. Selfs die boek Psalms bevat profesieë – kyk na Psalm 2 as een van vele voorbeelde.
Hoeveel mense besef dat die heel eerste boek van die Bybel, Génesis, vol profesieë is en dat die meeste daarvan vandag in óns tyd vervul word? Dit is ongeveer 3,500 jaar gelede geskryf en bevat van die belangrikste en mees toepaslike profesieë vir ons tyd, wat ons help om sin te maak van ons samelewing.
Beloftes aan Abraham se nageslagte
Die boek Génesis stel ’n man met die naam Abram bekend in die konteks van beloftes – profesieë – wat reeds duisende jare voor die vervulling daarvan, gegee is. God het vir Abram hierdie belofte gegee: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Génesis 12:2-3). Baie belydende Christene besef dat die laaste deel van daardie belofte, die seën vir al die gesinne in die wêreld – die komende Messías, Jesus van Násaret – voorspel het. Hierdie gedeelte behels egter veel meer. Let daarop dat God vir Abram gesê het dat hy ’n groot nasie sou word, sy naam sou groot wees en dat God diegene sou seën wat hom geseën het en diegene vervloek wat hom vervloek het. Daardie beloftes was nie in Christus of Sy Kerk se tyd vervul nie. Dit het eerder ’n veel omvattender vervulling.
Die beloftes wat aan Abram gemaak is – wie se naam later na Abraham verander is – is van een geslag na die volgende geslag oorgedra en in meer besonderhede uitgebrei. Wat Abraham se kleinseun Jakob betref, lees ons: “Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom” (Génesis 35:11). Terwyl die beloftes wat aan Abraham gemaak is, duidelik die koms van Christus insluit, is dit ewe duidelik vir enigiemand met ’n ontvanklike gemoed dat daardie beloftes, nasies behels – spesifiek “’n nasie, ja, ’n menigte van nasies”. Was dit net mooi-klinkende woorde of was dit die woorde van die Skepper-God? Indien dit Sy woorde was wat beteken dit? Dit is nodig dat u die antwoord ken. Die waarheid is dat dit onmoontlik is om sin te maak van wat in ons era gebeur indien u nie hierdie beloftes verstaan en hoe dit ons hedendaagse samelewing raak nie.
Na-aan die einde van Génesis leer ons wat die oorsprong van die enkele nasie en die menigte van nasies is wat sou ontstaan. Soos Bybelkenners weet, het Jakob – wie se naam na Israel verander is – 12 seuns gehad. Sy gunsteling seun was Josef, maar jaloesie het Josef se broers aangehits om hom as ’n slaaf te verkoop en hulle vader te mislei om te dink dat hulle broer deur ’n wilde dier doodgemaak is.
Josef het in Egipte beland, waar hy deur ’n reeks merkwaardige gebeure, hoë aansien bereik het. Jare later het Israel agter die waarheid gekom en sy seun in Egipte ontmoet in ’n waarlik emosionele reünie. Dit is hier waar ons lees van ’n baie diepgaande profesie. In ’n vreemde wending het Jakob – dit is Israel – Josef se twee seuns as sy eie aangeneem.
“Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Símeon ... die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het – mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Génesis 48:5, 16).
Dit is interessant – “in die land in menigte.” Waar is daardie menigte vandag? Het almal daarin uitgesterf? Of is hulle deur die Jode geabsorbeer, soos baie mense aanvaar? Trouens, hierdie kan nie Jode wees nie, aangesien die Jode afstammelinge is van Josef se broer Juda. Onthou, dit was Juda wat sy broers oortuig het dat daar geen voordeel daarin was om hulle broer Josef dood te maak nie.
Hierna het Jakob vir Efraim en Manasse in ’n ongewone seremonie geseën, waartydens hy sy hande op die kop van elkeen van die aangenome seuns geplaas en voorspel het wat van hulle sou word. Sodoende het hy sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim geplaas, wat die groter seën simboliseer en sy linkerhand het hy op Manasse geplaas. Joseph het protesteer toe hy besef wat besig was om te gebeur en gedink sy pa maak ’n fout. “Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer (Efraim) groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word” (vers 19).
Hier het ons dan die antwoord: Die belofte wat jare tevore aan Jakob gegee is met betrekking tot ’n enkele groot nasie en ’n menigte van nasies, raak nou duidelik. Hierdie belofte sou nie vir die Jode wees nie, ook nie vir Jakob se eersgeborene Ruben of vir enige van sy ander seuns nie. Die belofte van ’n groot nasie en ’n menigte nasies het aan Josef se twee seuns behoort. Sommige mense glo dat die nasie en menigte van nasies ontstaan het toe tien stamme van Juda en Benjamin afgeskei het en die huis van Israel en die huis van Juda gevorm het, maar dit is verkeerd. Die belofte van ’n groot nasie en ’n menigte nasies was nooit aan die Jode gemaak nie, ook nie aan enige van die ander stamme van Israel nie. Dit was net vir die stam van Josef – uitsluitlik vir sy twee seuns. Waarom is dit dat so min mense hierdie eenvoudige waarheid van die Skrif verstaan?
“In die laaste dae”
Voordat hy gesterf het, het Israel al twaalf sy seuns bymekaargeroep en voorspel wat van hulle sou word in die laaste dae – meer as 3,700 jaar in die toekoms. “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar. Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!” (Génesis 49:1-2).
Israel het voortgegaan om te voorspel wat van die afstammelinge van sy twaalf seuns “aan die einde van die dae” sou word. Hierdie profesieë is nie deur die Jode vervul nie, behalwe die een profesie wat Jakob aan sy seun Juda gegee het. Laat ons dus begin met daardie seun. Wat het Jakob vir die Jode profeteer oor die eindtyd?
“Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer [heerskappy] sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo [Messías] kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaamheid wees” (Génesis 49:8-10).
Het die Messías nie van die Jode af gekom, net soos wat dit meer as 1,700 jaar vooruit voorspel is nie? Laat die skrywer van die boek Hebreërs antwoord: “Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie” (Hebreërs 7:14). Sal Hy nie in die nabye toekoms terugkeer nie?
Let ook op dat die Jode in die laaste dae groot militêre mag sou uitoefen. Was dit ’n gelukkige raaiskoot deur Jakob of is dit geïnspireer deur dieselfde God “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie”? Laat diegene wat oplet, vandag na die gebeure in die Midde-Ooste kyk. Het die Jode nie hulle hande om die nek van hulle vyande nie? Is dit nie beter om hulle nie uit te lok nie? Liewe vriende, dit was nie altyd so nie, maar dit is vandag so – aan die einde van die eeu.
Dit is deur ander profesieë bevestig dat daar aan die einde van die dae ’n Joodse staat sal wees met Jerusalem onder beheer van die Jode. Dit was vir die grootste deel van 1,900 jaar nie die geval nie. Vandag vind ons egter dat Jerusalem ’n netelige probleem is vir alle volke, ’n Joodse staat, met feitlik die hele wêreld in opstand teen hulle. “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sagaría 12:2-3).
Let ook daarop dat Sagaría, Jakob se profesie met betrekking tot die Jode se militêre bekwaamheid in die laaste dae bevestig. “In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaría 12:6). In Sagaría 14 word vertel van hoe die hele wêreld teen die Jode in opstand sal wees voor die Wederkoms van die Messías. Maak u Bybel oop en lees self Sagaría 14!
Wat van Ruben?
Indien Jakob se beloftes vir die Jode akkuraat is – wat van sommige van die ander eindtydse seuns van Israel? Daar is nie genoeg ruimte in hierdie artikel om elkeen van hulle te bespreek nie maar wat wél van spesiale belang is, is Israel se eersgeborene, Ruben. Die eersgeboortereg-seëninge van groot nasionale rykdom en mag, van ’n groot nasie en ’n menigte van nasies, moes na Ruben gegaan het maar dit het nie. Hoekom nie? Jakob het verduidelik: “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag! Opbruising soos van waters – jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig” (Génesis 49:3-4). Verskeie hoofstukke vroeër lees ons van Ruben se diskwalifiserende sonde: “En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor” (Génesis 35:22).
Ja, Ruben sou groot waardigheid en mag hê, maar hy was onstabiel en het ’n groot sonde gepleeg. Hierdie eienskappe is aan sy nageslag oorgedra, met geweldige gevolge wat verduidelik word in ’n skrifgedeelte wat byna universeel afgeskeep word: “En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, [Efraim en Manasse] maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad” (1 Kronieke 5:1-2).
Is hierdie niks meer as mooi-klinkende woorde wat deesdae vir ons geen betekenis inhou nie? Kan dit ons dalk help om “aan die einde van die dae” ten volle te verstaan? Soos ons reeds daarop gewys het, word hierdie gedetailleerde profesieë vir die Jode tans vervul – sowat 3,700 jaar later! Dit is moeilik vir enige persoon wat op hoogte van sake is om dit te ontken. Wat dan van Ruben? Waar is hy te vinde aan die einde van die eeu?
Min mense besef vandag dat die Jode eintlik maar slegs ’n klein deel van Israel is. Inderdaad is nóg minder mense daarvan bewus dat die profesieë wat Israel (Jakob) teen die einde van sy lewe vir sy seuns gemaak het, ernstig opgeneem behoort te word. Om hierdie feite te verontagsaam, is om die geldigheid van die Bybel te verontagsaam! Óf hierdie beloftes is waar, óf daar kan nie op die Bybel staatgemaak word as die Woord van God nie. Dus, weereens, wáár is Ruben vandag in die wêreld te vinde?
Frankryk is bekend vir “die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!” ’n Mens hoef nie verder as Versailles en die Louvre te kyk nie. Die land blink uit in kultuur en baie sjefs gaan na Franse kookkuns-skole omdat die Franse se kookkuns regoor die hele wêreld bekend is. Die Olimpiese Spele van 2024 in Parys het ons ook daaraan herinner dat hulle weet hoe om ’n vertoning aan te bied (later meer hieroor). Wat egter van “mag”? Frankryk was ’n groot koloniserende mag naas Brittanje, Spanje en die Nederlande. Napoleon het vir ’n kort tydjie oor ’n groot deel van Europa regeer. Deesdae word geglo dat die Franse weermag die vierde grootste in die wêreld is. Net Rusland, die Verenigde State en China is groter. Frankryk het nogtans nog nooit die mag van die nasies van Britse afkoms en Amerikaanse volke bereik nie – hulle het nooit naby Engelse of Amerikaanse oppergesag gekom nie. Wanneer dit by direkte konfrontasies gekom het, het Frankryk dikwels in die tweede plek geëindig, hetsy by Waterloo (wat Napoleon se poging om Europa te beheer beëindig het) of die Plains of Abraham (’n beslissende geveg wat uiteindelik daartoe gelei het dat Frankryk, Oos-Kanada aan die Britte afgestaan het).
Terselfdertyd was daar ’n eensgesindheid tussen Frankryk en Brittanje maar veral met Amerika. Die Franse het Amerika gehelp tydens die Amerikaans-Engelse revolusie. Dit is Frankryk wat aan Amerika die “Statue of Liberty” gegee het. Brittanje en Amerika het Frankryk in twee wêreldoorloë te hulp gesnel. Konflik tussen hierdie lande het behels wie die hoogste posisie beklee en Brittanje en Amerika eindig gewoonlik as die “dominante lande”. Die belofte van groot mag en landbourykdom wat in Génesis 49:22-26 en Deuteronómium 33:13-17 beskryf word, sou eerder na die seuns van Josef gaan: Efraim (die nasies van Britse afkoms) en Manasse (die Amerikaners). Ruben se eersgeboortereg is “aan die seuns van Josef [Efraim en Manasse], die seun van Israel, gegee ...” Wat was aan Josef se seuns gegee? ’n Groot nasie en ’n groot menigte van nasies!
Die openingseremonies van die Olimpiese Spele in 2024 in Parys het geïllustreer wat Jakob oor Ruben voorspel het: onstabiliteit en losbandige seksuele waardes. Baie mense was ontsteld oor die oënskynlike bespotlike nabootsing van Leonardo da Vinci se Laaste Avondmaal, wat in Parys uitgebeeld is met goedkeuring, godslasterlike en seksuele onsedelikheid – soos wat gesien was in ander aspekte van die openingseremonies. Van al die noordwestelike nasies van Europa, vervul Frankryk by uitstek Israel se profesie van die stam van Ruben, gedurende die laaste dae.
Wat van Josef?
Jakob se eindtyd-profesieë met betrekking tot sy twaalf seuns is oor die algemeen redelik kort – net ’n sin of twee. Hy gee egter baie aandag aan Josef, die ontvanger van die geboorteregbeloftes. Ons het nou op Juda en Ruben gefokus, maar die beloftes aan Juda is baie betekenisvol omdat dit voorspel dat die Messías uit sý stam sou kom en dat Christus met Sy Wederkoms die eindtydse Joodse staat en inderdaad die hele mensdom van totale vernietiging sal red. Ruben is betekenisvol omdat hy eintlik die geboorteregbeloftes van nasionale rykdom moes ontvang naamlik ’n groot nasie en ’n menigte van nasies, maar hy is gediskwalifiseer. Nou kom ons by die stam aan wie daardie geboorteregbeloftes gegee is naamlik Josef. Hier is hoe die Skrif die stam van Josef “aan die einde van die dae” beskryf:
“Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur (hy sal oor die aarde uitsprei). Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, (hy sal baie vyande hê) maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelikste gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Génesis 49:22-26).
Net soos Jakob geprofeteer het oor sy twaalf seuns, het Moses dieselfde gedoen en Moses het ook meer tyd bestee om die eersgeboortereg-seëninge te beskryf wat nie na Ruben of die Jode sou gaan nie, maar na hulle broer Josef, van wie hy gesê het:
“En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die Here is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê, en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het – laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers. Sy eersgebore stier – heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!” (Deuteronómium 33:13-17).
Dit is moeilik om nie die nasies van Britse afkoms en die Amerikaanse volke te kan herken in hierdie beskrywing van ongeëwenaarde natuurlike rykdom nie. Wanneer ons na twee broers sou soek wie se nageslag ’n enkele groot nasie en ’n menigte van nasies – enige tyd in die geskiedenis, nog minder teen die tyd van die einde – wie anders sou moontlik by hierdie beskrywing inpas? Ons verwys dikwels na die Britte en Amerikaners as “neefs”, maar “broers” is ’n meer gepaste benaming. Wie was dit wat hulle vyande na die einde van die aarde gedryf het aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog? Wie anders het so ’n oorvloedige landbou- en minerale rykdom ervaar soos nie net die Amerikaners nie, maar ook die Britse afstammelinge van Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika?
Ongelukkig het al Jakob se seuns, God se seëninge verkwis, Hom as hulle Skepper verwerp, hulle rug op Sy Wette gedraai en Sy insettings geminag. Die gevolg is rampspoed vir Sy eersgeboortereg-volk, sowel as vir die ander seuns van Jakob (Levítikus 26:14-39). “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak” (Deuteronómium 28:43). Is ons só blind dat ons nie kan sien wat rég voor ons oë gebeur nie? Dit is nie toevallig dat die Israelitiese nasies, miljoene onwettige immigrante aanskou wat hulle lande bewoon nie.
Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, bestel ’n gratis kopie van Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit bevat baie meer besonderhede as wat hierdie artikel toelaat in die beperkte ruimte wat beskikbaar is. Hierdie profesieë is daar vir enigiemand wat weetgierig genoeg is om dit te ondersoek en hulle oë oop te maak om die ooglopende te sien. Terwyl ons wêreld in duie stort, wys die profesieë wat in die Skrif vervat is vir ons meer as net die bekommernisse van die verlede – dit wys vir ons niks minder as wat reeds vooraf in die geskiedenis opgeteken is nie.
Dieselfde God wat eens kragtig bevestig het dat Hy die einde van die begin af verklaar, lei selfs nou wêreldgebeure volgens Sy onveranderlike plan. Indien ons kan verstaan waarheen ons samelewing op pad is – indien ons enigsins seker wil wees van wat ons nasies in die komende dae in die gesig gaan staar – het ons geen ander keuse as om die belangrikheid van hierdie profesieë ernstig op te neem nie. Ons leef in ’n tyd van wêreldwye oproer. In sulke tye is dit belangriker as ooit om te erken hoe belangrik God se Woord is en om die belangrikheid van Sy geïnspireerde Woord te erken, net soos dit is om waarlik te soek na God se doel met die mensdom.


