Sal ons ooit vrede in die Midde-Ooste sien? Bybelse profesie openbaar dat gebeure in daardie streek die toekoms van die hele wêreld sal bepaal. Weet u waarvoor om op die uitkyk te wees?


Die Verenigde State het miljarde rande spandeer om die oorlog in Irak te veg. Kosteramings wissel tussen $648 miljard aan direkte militêre uitgawes – ’n syfer wat verlede Julie deur die Amerikaanse Kongres se Navorsingsdiens gegee is – tot soveel as $3 biljoen wanneer alle oorlogsverwante kostes bygereken is – volgens Joseph Stiglitz, medeskrywer van The Three Trillion Dollar War, ’n ekonoom aan die Universiteit van Columbië.Amerikaanse kommer oor die oorlog was ’n belangrike kwessie in verlede November se verkiesing. Duisende soldate en ontelbare Irakese burgerlikes het gesterf of is permanent vermink as gevolg van die oorlog in Irak.

“Wanneer die Midde-Ooste nies, kan die res van die wêreld – veral Amerika en Westelike Europa – griep kry”, het Yossi Melman, ’n Israelse joernalis, opgemerk. Konflikte in die Midde-Ooste word dikwels erg in Amerika gevoel, en die teenoorgestelde is ook waar. Op een of ander manier lyk dit of die Midde-Ooste voortdurend ’n brandpunt van wêreldkonflik bly. Trouens, die oorlog in Irak is slegs maar die jongste in ’n lang reeks gewelddadige botsings in daardie streek. Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer die Midde-Ooste – of, inderdaad, die hele wêreld – vrede sal ervaar?

Die goeie nuus is dat u Bybel ’n tyd voorspel wanneer wêreldvrede uiteindelik oor planeet Aarde sal heers, maar daardie tyd sal slegs aanbreek na ’n tydperk van intense oorlog en lyding soos wat ons wêreld nog nooit voorheen ervaar het nie. Nogtans, as ons weet vir watter profetiese tekens ons op die uitkyk moet wees, dan kan ons hoop en vertroue hê in God se beloofde toekoms van vrede, selfs terwyl ons nog te midde van verskriklike gevegte en verwoesting verkeer. In hierdie artikel gaan ons na vyf profetiese sleutel-tekens kyk waarvoor ons almal op die uitkyk moet wees.

Teken 1: Militêre bondgenootskappe Oos van die Eufraatrivier

Onthou u nog die Iran-Irak oorlog? Dit het van 1980 tot 1988 geduur en meer as ’n miljoen mense is gedood. Die Eufraatrivier het ’n prominente rol in daardie oorlog gespeel en Bybelse profesieë toon dat dit weer sentraal in geprofeteerde eindtydse gebeure sal wees.

Die Eufraatrivier vloei van Turkye deur Sirië en Irak na die Persiese Golf. Die nasie van Iran lê direk oos van Irak. Tydens die geprofeteerde Dag van die Here, sal ’n geweldige groot leër van 200 miljoen soldate weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg in die Midde-Ooste in.

In die boek Openbaring lees ons van ’n kragtige leër vanuit die Ooste wat miljarde mense sal dood. Die apostel Johannes beskryf dit as die sesde basuinplaag. Let op waar hierdie groot mag sal byeenkom. “En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (Openbaring 9:13-14).

Ja, die Eufraatrivier is die fokuspunt van hierdie profesie. Johannes vervolg: “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:15-18).

Hierdie is ’n beskrywing van ’n wêreldoorlog waarin miljarde mense sal sterf, wanneer ’n leër van 200 miljoen weswaarts oor die Eufraatrivier gaan stoomroller om een derde van die planeet se bevolking te vernietig! Dit is waarom Jesus aan ons sê dat tensy daardie dae verkort sou word, geen vlees lewendig gered sou word nie (Mattheüs 24:21-22).

Watter wêreldmagte lê oos van die Eufraat? Kyk na ’n landkaart en u sal onder andere die nasies van Iran, Indië, China, en Rusland vind. Maak seker dat u daardie nasies se militêre ontwikkelings en internasionale bondgenootskappe dophou. Hou daardie nasies dop vir groeiende beleggings in militêre mag, insluitende kernwapens!

Teken 2: Groter eenheid tussen Israel se tradisionele vyande

In Junie 1967 het Israel, in wat later bekend sou word as die “Sesdaagse oorlog”, geveg. Teen die gesamentlike magte van Egipte, Sirië en Jordanië, het Israel die Sinai Skiereiland, die Golan Hoogland, die Wesoewer en Oostelike Jerusalem verower. Hierdie oorwinning het Israel toegang verleen tot Jerusalem se antieke heilige plekke, insluitende die Westelike Muur (ook bekend as die “Klaagmuur”) by die Tempelberg. Tydens die afsluiting van die oorlog het Israel aangebied om die Wesoewer terug te gee aan Palestynse beheer as hul Israel se algehele eienaarskap van Jerusalem sou aanvaar. Gamel Abdul Nassar, Egipte se destydse president, het met sy Arabiese bure saamgestaan om “Nee!” te sê op Israel se land-vir-vrede aanbod.

Sewe jaar later, op 6 Oktober 1973, was Israel weer in oorlog betrokke. In wat bekend staan as die “Yom Kippur Oorlog” – omdat dit op die Versoendag van daardie jaar begin het – het Israel ’n inval deur Egipte en Sirië afgeweer. Uiteindelik het Israel, Egipte en Sirië saamgestem tot ’n wapenstilstandplan van die Verenigde Nasies wat daardie konflik beëindig het.

Sedertdien was daar sporadiese militêre aanslae, asook die jarelange intifada (Arabies vir “afskud”) waartydens die Palestyne hul verset te kenne gegee het – somtyds bloedig – teen wat hulle as onbillike Israelse beheer beskou het. Gevegte en bloedvergieting het ook voortgeduur tussen vegtende Palestynse faksies; President Mahmoud Abbas, van die Palestynse Regering, het op een stadium sy nasie beskryf as “op die rand van burgeroorlog” as gevolg van struwelinge tussen sy Fatah organisasie en die Islamitiese militante groep, Hamas.

Geskiedenis toon dat hoewel intra-Arabiese konflikte mag voortduur, vegtende Arabiere nie sal huiwer om saam te staan om teen Israel te veg nie. Meer as een keer het Iran se President Mahmoud Ahmadinejad al gedreig om Israel “uit die streek uit te verwyder”. Iran gaan ook voort met die ontwikkeling van kernwapens. Alhoewel tradisionele geskille tussen Arabiere en Moslems sal voortduur, bly op die uitkyk vir groeiende eenheid tussen hierdie magte wanneer dit Israel raak. U Bybel toon dat ’n toekomstige “Koning van die Suide” verskeie Arabiese nasies sal verenig en dat hierdie verenigde mag deur die “Koning van die Noorde” as ’n bedreiging gesien sal word en dat dit konflik rondom Jerusalem sal vererger (Daniël 11:40-45). Dit sal ’n verskriklike konflik veroorsaak, wat ons hele wêreld sal skud, maar studente van die Bybel sal in staat wees om te besef dat hierdie ook ’n teken is van Jesus Christus se naderende Wederkoms.

Teken 3: Internasionale pogings om Jerusalem te beheer

Histories en godsdienstig is Jerusalem belangrik vir volgelinge van Judaïsme, die Christendom en Islam. Al hierdie godsdienste kyk na Jerusalem as die terrein van belangrike gebeure wat sentraal staan tot hulle geloof. Die Jode koester Jerusalem as die stad van die groot profete en as die hoofstad van die Koninkryk van Israel en Juda onder Koning Dawid en sy seun Koning Salomo.

Salomo se tempel, ook bekend as die “Eerste Tempel”, was in die tiende eeu voor Christus in Jerusalem gebou onder direkte toesig van Koning Salomo en het bly voortbestaan as Juda se plek van aanbidding totdat die Babiloniërs dit in die sesde eeu voor Christus vernietig het, toe die volk van Juda in ballingskap weggevoer is. Nadat die Jode uit Babel teruggekeer het en dit herbou is as die “Tweede Tempel”, het dit die fokuspunt van Joodse aanbidding gebly totdat dit in 70 n.C. deur Romeinse leërs vernietig is.

Jerusalem word ook beskou as die derde heiligste stad van Islam, ná Mekka en Medina. Dit is die tuiste van die “Rotskoepel” – ’n massiewe moskee met ’n goue koepel wat die Tempelberg oorheers het sedert 691 n.C. en bly nog steeds, sover bekend, die oudste bestaande struktuur wat deur Moslems gebou is. Moslems verwys na die Tempelberg as die Haram al-Sharif (“Die Edele Heiligdom”) en glo dat die Rotskoepel die plek aandui vanwaar Mohammed, vergesel deur die engel Gabriël, na die hemel opgevaar het.

Christene kyk natuurlik na Jerusalem as die stad waar Jesus Christus gekruisig en weer opgewek is, maar ook as die plek van Sy geprofeteerde Wederkoms – wanneer Sy voete eerste die grond sal raak op die Olyfberg, oos van Jerusalem (Sagaria 14:4).

Vir jare het Jerusalem se belangrikheid vir drie van die wêreld se grootste godsdienste die administrasie daarvan die fokus gemaak van internasionale polemiek. Alhoewel Israel beide Oos- en Wes-Jerusalem beheer het sedert 1967, wil baie ander regerings sien dat Jerusalem internasionaal beheer moet word. Die oorspronklike 1947-Verdelingsplan vir Palestina deur die Verenigde Nasies (VN Algemene Vergadering Resolusie 181) het voorgestel dat Jerusalem behandel word as ’n corpus separatum – ’n internasionale beheerde gebied – en alhoewel hierdie status nooit werklikheid geword het nie, hoop baie mense dat iets dergeliks behaal sal word. In 1984 het Pous Johannes Paulus II in sy apostoliese brief, Redemptoris Anno, geskryf hy hoop dat aan Jerusalem ’n “spesiale internasionale gewaarborgde status” verleen kan word. Wie is veronderstel om daardie status te waarborg? Die V.S. se Staatsekretaris Henry Kissinger het in 1975 voorgestel dat Jerusalem ’n internasionale stad moet word, en dat beheer oor heilige plekke en godsdienstige administrasie aan die Rooms-Katolieke pous gegee word.

Sal so ’n internasionale beheer oor Jerusalem werklikheid word? Die Bybel openbaar dat daar skokkende gebeure gaan plaasvind, waardeur Jerusalem nie deur Israel beheer sal word nie, maar in plek daarvan deur ander regeringsmagte. Die apostel Johannes skryf: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Ja, Jerusalem (“die heilige stad”) sal vir 42 maande beheer word deur nie-Jode, voor Jesus Christus se Wederkoms! ’n Groot wêreldmoondheid, beskryf as die “Dier” in die boek van Openbaring, sal die Midde-Ooste binneval en beheer oor Jerusalem oorneem vir die drie-en-’n-half jaar wat Jesus Christus se Wederkoms sal voorafgaan! Gedurende daardie tyd sal twee profete van God met groot mag getuienis lewer en weerstand bied teen die heidense mag wat dan die Midde-Ooste sal domineer (Openbaring 11:3-14).

Teken 4: Diereoffers word her-ingestel in Jerusalem deur die Jode

Indien u die boeke van Daniël en Mattheüs in u Bybel gelees het, mag u gewonder het oor die geheimsinnige “gruwel van die verwoesting”. Wat is dit en wat sal dit in eindtydse profesieë beteken? Laat ons eerstens kyk na Jesus se eie woorde: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16).

Dit is duidelik ’n belangrike teken om te verstaan. Dit dui die tyd aan wanneer God se mense moet vlug om te ontsnap van die laaste drie-en-’n-half jaar in die volgorde van vernietigende eindtydse profetiese rampe.

Histories het die Griekse heerser Antiochus Epifanus in 167 v.C. ’n dekreet uitgevaardig waarvolgens die Jode verbied was om offers in die Tempel te bring. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31). Histories het Antiochus nie net ’n einde gemaak aan die daaglikse offers nie, maar het ook ’n standbeeld van Jupiter Olimpus in die tempel opgerig en almal beveel om dit te aanbid.

Hierdie gebeurlikheid, ook beskryf in Daniël 8, voorspel ’n geprofeteerde eindtydse mylpaal. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). Ja, 1 290 dae voor Jesus Christus se Wederkoms sal diereoffers weer ’n keer afgeskaf word. Jesus waarsku ons as Christene om bedag te wees op ’n eindtydse gruwel van verwoesting! Net soos Antiochus Epifanus die tempel in 167 v.C. ontheilig het en ’n einde gemaak het aan die offers, so sal ’n onheilige owerheid weer Joodse offers in die toekoms afskaf. Trouens, die apostel Paulus waarsku van ’n groot valse profeet wat in die heiligdom sal staan. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

’n Groot vals profeet sal groot wonderwerke verrig en miljoene mense bedrieg. Hy sal verering van homself bewerk en aanspraak maak op ’n mantel van heiligheid. Hierdie groot vals profeet sal verstommende wonders verrig, selfs vuur uit die hemel laat neerdaal en hy sal miljoene mense reg oor die wêreld bedrieg (Openbaring 13:13-14). Ons moet egter nie bedrieg word deur hierdie tekens en wonderwerke nie! Die Skrif beveel ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie (1 Thessalonicense 5:21).

Daar is egter ’n vangplek. Die Jode het sedert 70 n.C., toe die Romeine die tempel in Jerusalem vernietig het, geen diereoffers gebring nie. Ten einde eindtydse offers te kan stopsit, is dit nodig dat hulle eers moet begin! Wanneer daar weer met diereoffers in Jerusalem begin word, sal u weet dat die profesieë waarvan Jesus gepraat het nou tot ’n punt gedryf word!

Kyk uit vir verwikkelinge in Israel wat lei tot die herinstelling van diereoffers. Dit mag nie noodwendig beteken dat ’n volskaalse tempelstruktuur weer gebou moet word nie. Kyk wat het gebeur toe die Jode uit Babiloniese ballingskap in ongeveer 536 v.C. teruggekeer het. Hulle het ’n heilige plek gehad, maar nog nie ’n tempel nie. Die boek Esra beskryf hoe hulle by die “huis van God” gekom het, voordat hulle ’n tempel gehad het waarin hulle kon offer (Esra 3:6). Ons lees later, in die verse wat volg, oor hoe die fondament van ’n tempel gelê is.

Die punt is dat offers in ’n “heilige plek” gebring moet word – maar ons het in Esra gesien dat offers daagliks gebring kan word selfs sonder ’n fisiese gebou wat ’n tempel genoem word! Tans word slegs Moslems toegelaat om op die Tempelberg te aanbid. Die heiligste plek wat huidig deur die Joodse godsdienstige owerheid beheer word, is die Westelike (of “Klaagmuur”). Op een of ander manier sal offers hervat word, alhoewel ons nog sal moet sien presies waar en hoe dit sal geskied. Wees op die uitkyk vir ’n groot nasionale krisis in Israel, om hierdie gebeurtenis te bespoedig!

Teken 5: ’n Europese supermoondheid beheer Jerusalem

Ons het gesien dat voor Jesus se Wederkoms, Israel se vyande sal saamsnoer teen die klein beleërde nasie. Ons het gesien dat daar druk uitgeoefen sal word om beheer oor Jerusalem uit Israelse hande weg te neem en dit in die hande van ’n internasionale administrasie te plaas. Ons het gesien dat hierdie krisis godsdienstige Jode sal aanspoor om diereoffers weer in te stel. Vir watter ander teken moet ons op die uitkyk wees?

Die Bybel toon dat kort voor Jesus Christus se Wederkoms, ’n Europese supermoondheid beheer oor Jerusalem sal oorneem. Die profeet Daniël beskryf die opkoms van ’n suidelike mag wat teen ’n noordelike mag sal bots. Kyk: “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land [of die Heilige Land], en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40-42).

Die koning van die Noorde sal die “Pragtige Land” binneval – die omgewing van die huidige staat Israel. Bybelgeleerdes identifiseer Ammon (wat saam met Edom en Moab uit die koning se hand ontsnap) as hedendaagse Jordanië, en gee daartoe aanleiding dat baie mense glo dat Jordanië ’n bondgenootskap sal aangaan met die Europese moondheid. Wie sal almal deel wees van hierdie bondgenootskap teen Israel? Lees Psalm 83. Assirië (hedendaagse Duitsland), sal ’n alliansie lei wat Moab, Ammon en Edom insluit. Kyk na die landkaarte in u Bybel om hul historiese liggings te bepaal; en indien u dit nie alreeds gedoen het nie, skryf om ’n gratis kopie van ons insiggewende artikel: “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?” om te leer oor Duitsland se rol as die hedendaagse Assirië.

Wat sê die Skrif aan ons aangaande die koning van die Noorde? Ons het gesien dat hy ook bekend staan as die “Dier” – maar wie is die Dier? Lees hierdie kantaantekening uit die Douay-Rheims (Nuwe Katolieke Uitgawe) van die Bybel oor die dier van Openbaring 17:11. “Die dier van wie hier gepraat word, skyn die Romeinse Ryk te wees, net soos in hoofstuk 13”. Met ander woorde, beide die Dier van Openbaring 17 en Openbaring 13 verteenwoordig die Romeinse Ryk. Hierdie Katolieke Bybel lewer die volgende kommentaar oor Openbaring 13:1: “Die beeld van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier is die beeld van koninkryke van die wêreld, koninkryke wat gegrond is op hartstog en selfsugtigheid, wat in elke tydperk antagonisties is teenoor Christus en wat daarna streef om die dienaars van God te onderdruk. Keiserlike Rome verteenwoordig hierdie mag”.

Ja, die “Dier” is ’n herlewing van die antieke Romeinse Ryk. Indien u wêreldgebeure dophou, het u moontlik opgemerk dat die Europese Unie die politieke, militêre en ekonomiese karaktertrekke ontwikkel van die ryk wat in die Skrif beskryf word. U kan in Openbaring 18 van die ekonomiese mag van hierdie ryk lees.

Namate ons die Groot Verdrukking nader, sal ware Christene toenemend vervolg word, maar Jesus lig ons in oor hoe om op te tree wanneer godsdienstige vervolging toeneem. “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:19-20).

Ons is nou in die geprofeteerde tydperk bekend as die eindtyd. Ons behoort voorbereid te wees op die Wederkoms. Christus sal Koning wees oor die hele aarde en vanuit die nuwe wêreldhoofstad, Jerusalem, regeer. “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (Sagaria 14:8-9).

Dank God dat hierdie wonderlike wêreldregering onder Jesus Christus spoedig sal kom. Mag ons almal met ons hele hart bid: “Laat U Koninkryk kom!”