Ons sukkel soms om te verstaan hoe ons ons kinders kan help om op die regte pad te bly. Hierdie eerste van twee artikels help ons om die versoekings te identifiseer waaraan ons so maklik mag toegee.

Welmenende en liefdevolle ouers sukkel en wonder waarom hulle kinders ’n verkeerde rigting inslaan. Sommige ouers is met skuld oorlaai en voel dat hulle misluk het. Andere slaag nie daarin om te erken dat dit heel moontlik iets mag wees wat hulle verkeerd gedoen het nie en blameer groepsdruk, die skole of dat hulle kinders in verkeerde geselskap beland het. Geen regdenkende mens kan groepsdruk en die invloed van die hedendaagse sekulêre onderwys in twyfel trek nie. Dit bied ’n beduidende uitdaging vir enige ouer, maar waarom is sommige ouers meer suksesvol om hulle kinders groot te maak as ander? Kom dit neer op geluk of die val van die dobbelsteen?

Waarom raak kinders die spoor byster? Is daar faktore wat u kanse kan verbeter om gelukkige, goedgemanierde kinders groot te maak wat produktiewe burgers kan word? Is daar foute wat vermy kan word?

Deur my 45 jaar in die bediening, waarvan ek 25 keer by somerkampe gewerk het, het ek met baie tieners en gesinne gewerk. Ek het tieners geken wat skuldig bevind was aan byna alles: Gewapende roof, inbraak en betreding, winkeldiefstal, manlike en vroulike prostitusie, handsakdiefstal en meer buite-egtelike swangerskappe as wat ek kan tel. Waarom? In hierdie eerste deel van twee aflewerings gaan ons na vyf redes kyk waarom kinders die pad byster raak.

Oorsaak nommer 1: Skynheiligheid

Daar is niks erger as skynheiligheid wat sal veroorsaak dat ’n kind vir sy ouers en hulle waardes geen respek sal hê nie. Wanneer ons hulle een manier leer, maar op ’n ander manier leef, kom kinders dit agter. Hulle is meesters om skynheiligheid by ander mense raak te sien, terwyl hulle self meesters van skynheiligheid is. Hoeveel ouers sê, “moenie doen wat ek doen nie, doen wat ek sê”? Ouers wat dreig “ek sal jou mond met seep uitwas as ek hoor dat jy weer daardie woord gebruik”, maar dan dieselfde woord uit hulle eie mond laat kom, veroorsaak dat hulle kinders respek vir hulle verloor. Om ’n kind te leer om goeie sportmanskap te beoefen, sal nie werk as die pa self swak sportmanskap beoefen op die baan, op die pawiljoen of terwyl hy na sport op televisie kyk nie. Kinders moet weet dat hulle ouers konsekwent is in wat hulle sê en wat hulle doen. Om anders te doen, stuur die boodskap uit dat u nie werklik glo in wat u sê nie.

Geen ouer gaan volmaak leef nie, maar ons belangrikste voorbeeld en lewenswyse moet so na as moontlik wees aan dit wat ons ons kinders leer. Dit is belangrik om te verstaan dat daar ’n verskil is tussen ’n seldsame ouerlike fout en ’n skynheilige lewe. Almal sal genade betoon, selfs ons kinders, wanneer hulle besef dat ons iets buite ons karakter gedoen het. Met ander woorde, diegene rondom ons weet dat ons gewoonlik sekere dinge nie doen nie, maar dit tydelik “verloor” het. Om dit anders te stel, ’n mens kan skuldig wees aan ’n skynheilige optrede, maar nie ’n skynheilige persoon wees nie.

Kinders moet oortuig wees dat hulle ouers opreg is ten spyte van hulle onvolmaakthede – dat wat hulle hul kinders leer, dít is wat hulle werklik glo. Somtyds sal ’n verskoning, eerder as ’n regverdiging, van ’n ouer wat strydig met sy karakter ’n daad begaan het, ver gaan om ’n band tussen ouer en kind te bou.

’n Bestendige, nie-skynheilige lewe begin vroeg. Ek onthou dat ek ’n sitkom gesien het waar die pa met sy lewenslange vriende, herinneringe opgehaal het oor wat hulle gedoen het voordat hulle getroud was. ’n Bietjie later het die pa opgemerk dat sy seun verwese buite sit. Hy vra toe sy seun wat verkeerd is en díe het iets soos hierdie geantwoord: “Pa sê altyd dat ek nie dronk behoort te word nie, met motors behoort te jaag nie, ens., maar dan praat Pa en Pa se vriende oor hoeveel pret julle gehad het toe julle daardie selfde dinge gedoen het”. Die punt is gestel! Ons sondes van die verlede kom soms wanneer ons dit die minste verwag terug om ons seer te maak.

Oorsaak nommer 2: Gebrek aan wysheid

Ouers moet ’n redelike mate van gesonde verstand en wysheid besit en uitoefen indien hulle wil hê dat hulle kinders hulle moet respekteer en navolg. ’n Bybelse spreekwoord sê aan ons: “Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by ’n dwaas nie” (Spreuke 26:1). Geen ouer kan heeltemal tred hou met ’n vinnig veranderende wêreld nie, maar om kinders suksesvol groot te maak, moet ons erken wat ons nie weet nie en onsself oor krities belangrike onderwerpe onderrig wanneer dit nodig is.

In die 1960’s het die Beatles en ander “rock”-groepe ’n dwelmkultuur bekend gestel waarvan ons Westerse wêreld nog nooit herstel het nie. Baie ouers het aan hulle tieners vertel dat as hulle dagga sou rook, hulle verslaaf sou raak en allerhande slegte dinge sou gebeur. Die feite het nie altyd ooreengekom met die waarskuwings nie. Nie almal raak verslaaf nie en hulle het ook nie almal doodgegaan nie. Ouers was reg om hulle tieners te waarsku om nie daaraan te raak nie. Hulle het instinktief geweet dat daar gevare was, maar soms was hulle waarskuwings nie met die nodige kennis en begrip gegee nie.

Dagga is vandag baie sterker as wat dit in die 60’s was en vir sommige mense is dit verslawend. ’n Mens kan argumenteer of dit sielkundig of fisiologies verslawend is, maar ek het persoonlik diegene geken wat dit probeer het en weer opgegee het, sowel as diegene wat werklik daaraan verslaaf geraak het. Die punt is dat wanneer ons kinders sien dat ons nie weet waarvan ons praat nie, hulle respek vir ons sal verloor. Dit is baie beter om te erken dat ons nie weet nie en dan saam met hulle die onderwerp ondersoek eerder as om hulle spreekwoordelik “om die bos te lei”. Ouers moet ook waak teen dwase optrede in die openbaar of privaat.

Oorsaak nommer 3: Onregverdigheid

Hoe dikwels hoor ons dat kinders uitroep, “dit is nie regverdig nie”? Wel, die meeste van die tyd is dit regverdig, maar dit is belangrik vir kinders om te weet u is regverdig in u omgang met hulle. Dit beteken nie dat regverdigheid gelyk is aan gelykheid nie. John Wooden van UCLA was een van die grootste, dalk die grootste basketbal-afrigter van alle tye. Sy spanne het in twaalf jaar, tien nasionale kampioenskappe gewen en in sy boek, They Call Me Coach, het hy hierdie insiggewende opmerking gemaak: “Ek behandel my spelers nie almal dieselfde nie, ek behandel hulle regverdig”.

Wanneer u u dogter toelaat om die motor op die ouderdom van 16 [Suid-Afrika 18] te bestuur en nie dieselfde voorreg aan u seun gun nie, sal u waarskynlik die klagte hoor: “Dit is nie regverdig nie”! Eerder as om sy protes te ignoreer, is dit belangrik om te verduidelik waarom u daardie besluit geneem het. “Jou suster het bewys dat sy verantwoordelik is. Sodra jy bewys dat jy verantwoordelik kan optree, sal jy ook die sleutels van die gesinsmotor kry”. Die feit is dat ons nie op eie houtjie datums vir ons kinders kan stel wat nie verband hou met hulle volwassenheid en karakter nie, maar dit is belangrik dat hulle hoor waarom ons sekere besluite neem. Dit sal hulle nie stuit om te protesteer nie, maar dit is belangrik om te verduidelik waarom ons besluite regverdig is. Dit is nie nodig om dit aan hulle “te bewys nie”, aangesien dit dikwels nie moontlik is nie, maar diep in hulle hart mag hulle die waarheid besef.

Terselfdertyd moet ons nie altyd hulle klagtes oor regverdigheid ignoreer nie. Ek onthou ’n gesin met twee kinders. Die jonger een kon met omtrent enigiets wegkom, maar die ouer een kon oënskynlik niks reg doen nie. Sy het verstaan dat sy nie regverdig behandel word nie en die skade wat aangerig is, was tragies. Dit is goed om selfondersoek te doen wanneer ons hoor, “Dis nie regverdig nie”! Stop en dink. Heel moontlik is dit nie regverdig nie en indien dit die geval is, maak ’n aanpassing in die manier wat ingeslaan is. ’n Ouer moet nie deur sulke klagtes mislei of geïntimideer word nie, maar moet selfondersoek doen en ja, regverdig wees.

Oorsaak nommer 4: Gebrek aan blootstelling

Dit behoort nie nodig te wees om vir ons te vertel hoe belangrik dit is om tyd saam met ons kinders deur te bring nie, hetsy hulle kleuters of tieners is. Dit moet ’n topprioriteit wees. Dit is so maklik om met ander aktiwiteite besig te raak. Selfsugtigheid is ’n teken van ons tyd. Baie egpare verkies om nie kinders te hê nie, bloot omdat kinders hulle vryheid en pret sal inperk. Ander egpare hét egter kinders, maar leef die kinderlose leefstyl.

Ek onthou die tyd toe my vrou die bure se kleuter opgepas het. Soms wanneer die ma van die werk af gekom het om haar huis toe te neem, het die dogtertjie gehuil omdat sy nie huis toe wou gaan nie. Dit moes ’n waarskuwing vir die ouer gewees het, aangesien die meeste kleuters tyd saam met hulle moeders wil deurbring – selfs aan hulle wil vasklou. Wanneer ’n klein kindjie meer geheg is aan ’n ander volwassene of wanneer die kind ouer word, meer geheg is aan sy maats as aan sy ouers, is dit ’n gevaarteken. Klein kindertjies kan ons geduld beproef met hulle “gekerm” en gedurige vrae oor hoe alles in hulle klein wêreldjie werk, maar om tyd saam met hulle deur te bring is belangrik. Die ou argument van “kwaliteit tyd saam deurbring” teenoor “kwantiteit tyd saam deurbring” is dwaas. Albei is nodig.

Etlike dekades gelede het die gewilde Harry Chapin-liedjie “Cat’s in the Cradle” ’n kragtige boodskap uitgedra. Dit begin met ’n seuntjie wat in die wêreld kom en wie se pa te besig is “om vliegtuie te haal en om rekeninge te betaal”, wat beteken het die seuntjie het geleer “om te loop terwyl ek weg was”. In vers twee wil die tienjarige graag bal speel, maar Pa antwoord: “Nie vandag nie, ek het te veel om te doen”. “Dis goed”, antwoord die seuntjie terwyl hy wegloop en dink: “Ek gaan soos hy wees, ja. Jy weet, ek gaan soos hy wees”. Elke vers van die liedjie word gevolg deur variasies van dieselfde refrein namate die liedjie vorder:

And the cat’s in the cradle and the silver spoon,

Little boy blue and the man in the moon,

“When you coming home Dad?”

“I don’t know when,

But we’ll get together then,

You know we’ll have a good time then”.

“Then” het egter nooit gekom nie. Dit was eers toe die seun van die kollege af huistoe kom, dat die pa uiteindelik tyd gekry het vir sy seun, maar teen daardie tyd het sy seun sy eie agenda en geen tyd meer vir Pa gehad nie. Eers nadat hy afgetree het, besef hy dat sy seun net soos hy grootgeword het – te besig om tyd saam met sy gesin deur te bring. Hoe dikwels hoor ons: “Hulle word so vinnig groot! Waar is al die tyd heen?” Verlore tyd kan nooit ingehaal word nie en ordentlike welmenende ouers raak soms te besig om kosbare tyd saam met hulle kinders deur te bring, totdat dit te laat is.

Ons verstaan dat tieners tyd saam met ander tieners wil deurbring. Dit is normaal maar het u al ooit opgemerk dat sommige tieners net daardie tyd weg van hulle eie huise wil deurbring? Indien u kinders meer tyd saam met ander kinders saam wil deurbring as saam met u, is die teenmiddel om nie in te gee nie, maar om u blootstelling met u kinders te verhoog. Neem hulle om vis te vang. Neem hulle om te gaan inkopies doen by die winkelsentrum. Speel speletjies saam met hulle en neem hulle na hul gunsteling kitskosplek. Vind ’n projek, soos om tuin te maak, om saam met hulle sport te beoefen. Selfs al sou hulle dit nie dié keer waardeer nie, sal daar ’n tyd kom wanneer hulle sal.

Oorsaak nommer 5: Gebrek aan onderrig

Die boek Deuteronómium gee ouers opdrag oor hoe om God se gebooie aan hulle kinders te leer. “... en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe” (Deuteronómium 6:7-9).

Die onderrig moet ywerig wees. Soms formeel en soms ontspanne, maar dit moet nie onderhandelbaar wees nie en dit moet toepaslik wees vir die geleentheid. Ek word herinner aan ’n storie wat ’n goeie vriend aan my vertel het. Hy was ongeveer ses jaar oud toe hy in ’n restaurant was om saam met sy pa iets te drink. Sy pa het ’n vyf sent muntstuk uit sy sak gehaal en dit op sy randjie laat staan. Hy het toe na sy seuntjie gekyk en gevra: “Aan wie behoort dit?” Sy seun het geantwoord: “Aan Pa”. Die vader het toe aan sy seuntjie gevra: Indien hy dit sonder sy pa se toestemming sou neem, wat sou dit hom maak? “’n Dief”, het die seuntjie geantwoord. Die vader het toe waardevolle advies gegee: “Seun, as jy iets neem wat aan iemand anders behoort of dit nou duisend dollar of vyf sent is, dan maak dit van jou ’n dief”. Die man het die res van sy lewe daardie les onthou. Hy het voordeel getrek uit ’n pa wat hom verbind het om sy seun aktief te onderrig.

In deel twee van hierdie artikel sal ons na nog vyf oorsake kyk waarom kinders die spoor byster raak. Intussen, indien u nog nie ons publikasie, Suksesvolle ouerskap volgens God se riglyne, gelees het nie, skakel asseblief, skryf of besoek ons webwerf om u eie gratis eksemplaar aan te vra.
 

Deel 2: https://www.wvm.co.za/lees-artikel.php?id=765&title=waarom-kinders-die-spoor-byster-raak---deel-2