Sou dit nie wonderlik wees as u aan die wêreld kon demonstreer watter fantastiese mens u is deur net op sosiale media te plaas waar u eet of nie eet nie?

Gegewe die huidige stand van polarisasie in ons samelewing, behoort dit nie ’n verrassing te wees dat iets so eenvoudig soos die opening van ’n kitskosrestaurant, nie net iets kontroversieel en nuuswaardig geword het vir belangrike hoofopskrifte nie. Dit is egter ook een van die vinnigste maniere om mense se merkwaardige voorbeeld van “moderne deugde” met die wêreld te deel.

Op 6 September het Chick-fil-A sy eerste tak in Toronto geopen. Soos dikwels gebeur wanneer gewilde Amerikaanse kettingwinkels dit na die noorde waag in ’n poging om die Kanadese verbruikersmark te betree, is Chick-fil-A verwelkom deur lang rye gretige kliënte. Baie liefhebbers van braaihoenders het twaalf ure lank tou gestaan om die nuutste toetrede tot die voedselbedryf in Toronto te beproef.

Nie almal het dit egter so verwelkom nie. Die openingsgeleentheid is ook deur betogers begroet wat ’n verskeidenheid griewe geopper het en klante toegesing het met uitroepe van “Skande, skande!” Die betogers het hulle veragting uitgespreek teenoor die V.S. hoender-spesialiste en beweer dat daar verskeie redes vir hulle griewe is. Een van die toonaangewende organiseerders was die Toronto-gebaseerde aktivistegroep met die naam “The 519”. Jaymie Sampa, die 519 se bestuurder van inisiatiewe teen geweld, het gesê: “In ’n tyd wat ons ’n toenemende wêreldneiging na en retoriek oor haatgedrewe waardes het, gaan hierdie betoging om standpunt daarteen in te neem” (“Grand Opening of Toronto Chick-fil-A generates both excitement and anger”, GlobalNews.ca, 5 September 2019). Die 519 se betrokkenheid is in reaksie op die verklarings van die Cathy-familie, die eienaars van die pluimvee-reus, oor hulle ondersteuning van die tradisionele gesinseenheid, wat gebaseer is op die huwelik van een man met een vrou. Diereregte aktiviste het aan die betogings deelgeneem en sommige mense het selfs probeer om die opening as “anti-inheems” te beskryf (“LGBTQ2, animal rights protesters overshadow grand opening of Chick-Fil-A in Toronto”, GlobalNews.ca, 6 September 2019).

 

Die toename in morele pronkery

Buiten die uiterste morele verwarring by sulke betogers, is dit die breër verskynsel waaraan gerus aandag gegee kan word, wat by sulke gebeure ten toon gestel word. Sulke voorvalle van uitermatige openbare protes teen kleinhandelaars en ondernemings – vertonerig en met ’n houding van morele veroordeling, maar wat tog op die ou einde min tot selfs niks bereik nie – is duidelik besig om toe te neem. In ’n tyd waarin mense foto’s van hulle maaltye op Instagram plaas en elke daad op Facebook en Twitter bekend maak, het alledaagse keuses soos waar om ’n hoendertoebroodjie of ’n sweetpak te koop, geleenthede geword om mense se meerderwaardige morele status te openbaar.

Polarisasie verbrokkel ons samelewing, met sosiale media wat as die opstoker dien. Gedurende ’n tyd waarin dit nog nooit so maklik was om uit te vind wat enigiemand se sienswyse is nie, kan ’n enkele twiet “uitlating” dat iemand polities aan die verkeerde kant van ’n saak is, lei tot onmiddellike oproepe vir ’n boikot. Sedert die V.S. president Donald Trump sy planne aangekondig het om ’n fondsinsamelings-geleentheid in Beverly Hills by te woon, het die akteur Eric McCormack, wat in Toronto gebore is, “op Twitter by die Hollywood Reporter gepleit om ‘vriendelik verslag te lewer oor almal wat hierdie geleentheid bywoon, sodat die res van ons duidelikheid kan kry oor met wie ons nie wil saamwerk nie’” (“Will & Grace stars backtrack calls to out and boycott Trump backers in Hollywood,WashingtonExaminer.com, 4 September 2019). Terwyl McCormack dit later ontken het, omdat die bewerings dat hy ’n “swartlys” in die McCarthyistiese styl bepleit, kom hierdie soort aanval al hoe meer voor. Sulke gedrag word aan albei kante van die politieke spektrum gevind. Hoeveel politieke konserwatiewes in die Verenigde State het toe die korporasie die omstrede voetbalspeler Colin Kaepernick gekies het om Nike se handelsmerk te bevorder, nie in hulle openbare verklarings getwiet dat hulle nooit weer ’n Nike-skoen sou koop nie?

Die versoeking om sosiale media te gebruik vir so ’n openbare gepronk is duidelik. “In ’n wêreld waar elke persoon ’n een-man/een-vrou Publieke Verhoudings departement op sosiale media-platforms soos Facebook, Instagram en Twitter is, word ‘morele pronkery’ – beledigende uitlatings op sosiale media wat nie met dade gepaard gaan nie – gerieflik en kosteloos” (“When Do Consumer Boycotts Work?” NYTimes.com, 7 Februarie 2017). Dit kos niks, maar toon tog aan die wêreld wat ’n deugsame mens u is en simboliseer doeltreffend waaraan ons samelewing vandag waarde heg.

 

Die gevaar van ’n lugspieëling

Wat is die gevaar van sulke deugde-verkondiging en morele pronkery? Die gevaar van enige lugspieëling is nie die gewaande teenwoordigheid van iets wat nie regtig daar is nie – dit is die risiko om van ’n logiese handelswyse af te wyk in die najaging van die lugspieëling. Om ’n oase in die woestyn te sien wat slegs ’n hersenskim is, is op sigself nie vernietigend nie. Indien ’n mens egter die lugspieëling as die werklikheid sien, kan dit veroorsaak dat ’n mens die waarheid misloop.

Die werklike gevaar van sulke deug-seine en sosiale media-aktivisme is dat dit ons subtiel in die versoeking lei om te glo dat die deug bepaal word deur watter hoendertoebroodjie ons verkies, in plaas van die veel moeiliker taak om ’n lewe van eerlikheid, integriteit en karakter na te streef. Wanneer ons fokus op watter restaurante, klerewinkels of sportspanne ons behoort te vermy, sal die gewigtiger sake van karakter waarskynlik vergeet word.

Nie so lank gelede nie, was die volgende verstandige advies gewild onder hoërskool raadgewers: “Kies jou vriende volgens hulle karakter en jou sokkies volgens hulle kleur. Die keuse van jou sokkies volgens hulle karakter maak nie sin nie en jou vriende volgens hulle kleur is ondenkbaar”. Dit wil voorkom asof ons deesdae aangemoedig word om ons sokkies te kies volgens die karakter van die ontwerper, die vervaardiger, die handelaar, die advertensie-maatskappy en enigiemand anders wat moontlik met die sokkies geassosieer kan word voordat dit by ons voete uitkom.

Daar is natuurlik niks inherent daarmee verkeerd om mense in te lig oor waarom u ’n besigheid ondersteun of nie ondersteun nie. Ons behoort egter sulke standpunte of optredes op ’n gebalanseerde manier te oordink en te ondersoek wat dit verteenwoordig of nie verteenwoordig nie. Ons behoort te verstaan dat deur ’n sekere hoender-toebroodjie-onderneming te vermy of te ondersteun, baie min oor die betogers en ondersteuners se eie morele waardes sê. ’n Twiet sê dikwels baie oor wat ons wil hê ander mense sal dink wie ons is, maar in werklikheid sê dit min oor wie ons regtig is. Dit hou ook die gevaar in dat ons verward oor onsself en ons eie morele status raak, aangesien ons mislei word deur ons eie openbare pogings met betrekking tot publieke verhoudings.

 

’n Antieke vergelyking

Alhoewel die deugde-verkondiging in ons huidige tyd tot nuwe uiterstes geneem word, is die konsep self niks nuuts nie. Jesus het die godsdienstige leiers van Sy tyd dikwels bestraf vir optredes wat verband hou met die morele pronkery wat vandag so hoogty vier. In Matthéüs 23:27-28 is daar ’n vlymskerp veroordeling van sulke gedrag: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.” God is nie beïndruk met uiterlike vertoon van morele meerderwaardigheid nie en ons behoort ook nie te wees nie.

Die profeet Miga het die deugde beskryf wat God in ons wil vind: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).

Om te leer hoe die Tien Gebooie van Exodus 20 ingestel is met die bedoeling om hierdie drie wonderlike karaktertrekke aan die mensdom te leer en nog baie meer, maak seker dat u ons gratis boekie Die Tien Gebooie lees.