’n Groot deel van die hedendaagse opvoeding is gegrond op ateïstiese of selfs anti-God konsepte. In die millennium sal God se lewenswyse ’n absolute ommekeer bring in opvoeding, maar u kan die egte waardes van opvoeding nóu ervaar!

Wat neem deesdae die plek van die Tien Gebooie en gebed, wat nie meer algemeen in ons klaskamers voorkom nie, in? Selfs al is baie van die land se voorste en prominentste universiteite in die naam van Christendom gestig, ignoreer meeste van die hedendaagse opvoeders die grondslag vir waarheid, naamlik God se Woord. Hulle onderrig dat daar geen absolute reg of verkeerd is nie en dat daar geen uiteindelike gesag, behalwe die self, is nie. Studente word selde in God se ewige wet onderrig; hulle leer eerder van humanisme en materialisme.

Hoe het dit gekom dat ons opvoedkundige stelsel ’n klemverskuiwing ondergaan het? Baie universiteite wat gestig was om Bybel-onderrig te gee en om God se morele wet te handhaaf, het teen die 1960’s die toevlug vir nihilisme en anti-God sentimente geword. Sedert die 19de eeu het hulle die stelsel en later die ideale van die Duitse universiteite en filosowe aangeneem.

Een van die bekendste onder hierdie filosowe was Friedrich Nietzsche, wie se filosofie nie slegs ateïsties nie, maar sterk anti-God was. Hy het geskryf: “God is dood; maar soos mense maar is, mag daar vir nog duisende jare grotte wees waarin sy skadu getoon word. En ons - ons moet ook nog sy skadu oorwin” (The Gay Science, Nietzsche, 1882, deel 108). Nietzsche is nou dood, maar sy filosofie leef vandag steeds in anti-God gedagtes voort. Gedurende die opskudding van die 1960’s, het dit selfs uit die filosofie boeke in die nuusopskrifte beland, toe die bekende Time-tydskrif op die voorblad van sy uitgawe van 8 April 1966 gevra het: “Is God dood?”

Baie intelektualiste van die 18de en 19de eeue het gesien dat die Christendom van sy oorspronklike apostoliese oorsprong afgedwaal en die heidense gebruike van die omliggende samelewing aangeneem het. Pleks daarvan om die moderne opvoeding op die Christendom se ware Apostoliese fondasie te herbou, het baie intelektualiste daarna gestreef om daardie fondasie heeltemal te vernietig! Hulle het een soort valse opvoeding en godsdiens verwerp, maar wou dit vervang met goddelose opvoeding, eerder as met goddelike opvoeding.

Die ware fondasie vir opvoeding

Die Christendom wat deur Jesus Christus en die Apostels beoefen is, het ’n voorbeeld vir alle tye gestel. Daardie voorbeeld het die beoefening van die geestelike wet van God, die Tien Gebooie, sowel as die weg van liefde ingesluit wat deur Jesus Christus onderrig is. Christus sê aan Sy volgelinge: “As julle in My woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

Beteken dit dat hierdie aarde se 2 biljoen belydende Christene almal oor die waarheid beskik? Het dit hulle vry gemaak? Ons weet dat groot dele van hierdie aarde in donkerte en onkunde gehul is; ganse kulture, volke en nasies word deur vals opvoeding verblind. Maar hoe skaars is ware opvoeding én ware kennis?

Ons lees ’n skokkende stelling in die boek Openbaring: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Hierdie groot gevalle engel, wat die duiwel en Satan genoem word, mislei nie net die minderheid nie, maar die oorgrote meerderheid van mense. Om eenvoudig deel te wees van ’n derde van die mensdom wat hulself “Christenne” noem, is geen waarborg dat ’n mens nie mislei is nie!

Presies wat is hierdie waarheid waarmee Satan die hele wêreld mislei? Natuurlik is daar wetenskaplike waarhede wat getoets kan word. Die wetenskap kan, tot ’n mate, die “wat” en “hoe” van natuurwette verduidelik, maar tog kan dit nie die “waarom” van ons bestaan verduidelik nie! Daardie waarhede is buite die strekking van natuurwette en kan slegs deur die Een wat daardie wette geskep het, verduidelik word. Wat sê die Skepper oor waarheid? Toe Jesus, die aand voor Sy kruisiging, tot Sy Vader gebid het bid Hy vir Sy dissipels: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Ja, die Woord van God is waarheid! U moet aan uself bewys dat die Bybel die openbaring van die Skeppergod is. Die apostel Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee …” (2 Timotheus 3:16). Die Griekse woord wat as “ingegee” vertaal is, is theopneustos, wat beteken “goddelik ingeasem”. Die Nuwe Vertaling vertaal dit as: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...” Toe Paulus dit geskryf het, was die boeke wat ons die “Ou Testament” noem, die enigste gekodifiseerde “Skrif”, tog verkies talle Christene vandag om die eenvoudige leringe van die Ou Testament ten gunste van Nuwe Testamentiese geskrifte te ignoreer. Maar die Nuwe Testament self vertel ons anders. Alle Skrif is deur God ingegee!

Hoe leer ’n mens?

Ware opvoeding moet gegrond wees op die waarheid wat God in Sy Woord onthul. Hoeveel universiteit administrateurs, professors of studente ken egter die ware doel en betekenis van die lewe? Die meeste van hulle aanvaar die evolusionêre idee dat die mens slegs ’n dier is.

Tog onderskei ’n geestelike komponent in ’n menslike brein, die dierebrein van die menslike verstand. Wetenskaplikes weet dat die mens se brein veel meer “werksverrigting” vir sy gewig lewer, as enige ander spesie se brein. ’n Paar wetenskaplikes het afgelei dat hierdie kapasiteit slegs verduidelik kan word deur die teenwoordigheid van ’n geestelike komponent. Hoewel hierdie wetenskaplike gevolgtrekking nie algemeen aanvaar word nie, stem dit ooreen met wat die Skrif onthul. Die apostel Paulus skryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korintiërs 2:11).

Hierdie is nie ’n onsterflike siel nie. Dit is ’n geestelike wese gekombineer met ’n brein, wat mense baie meer as diere bemagtig. Dit harmoniseer die wetenskap en die Bybel en verduidelik ’n aspek van die menslike verstand wat vir die meeste opvoeders en “kundiges” verborge bly. Sir John Maddox, redakteur emeritus van Nature, skryf in ’n Time-tydskrif ’n gedeelte oor “Denkvermoë”:

Hoe die brein daarin slaag om te dink is ’n raaisel met ’n millenniale tydskaal. Alle diere het breine sodat hulle kan rondbeweeg. Seine van die sintuie - die oë, ore, neus of vel, soos die geval ook al mag wees - stuur boodskappe na die rugmurg, wat die ledemate na behore beweeg. Denkvermoë behels egter die oorweging van alternatiewe reaksies, waarvan baie nie ondervind word nie, maar slegs verbeel word. Die vermoë van bewustheid, van wat in die kop aangaan, is ’n ekstra raaisel. ’n Eeu van nou af, sal winkels (of webwerwe) wat elektronika verkoop, allerhande toestelle adverteer wat sommige van die werkinge van die brein namaak, maar neuro-wetenskaplikes sal steeds sukkel om die dinkmasjien in ons almal se koppe te verstaan. (“The Century’s Greatest Minds,” Time, 29 Maart 1999, bl. 206)

Maddox, ’n wêreldbekende fisikus, voorspel dat die raaisel van die menslike denkvermoë selfs ’n eeu van nou af nog nie opgelos sal wees nie. Met die begrip van die Skrif kan ’n mens sien dat opvoeding wat slegs op materiële en fisiese kennis gegrond is, jammerlik beperk is. Wanneer ’n opvoedkundige stelsel die bestaan van God en van die gees verwerp, verwerp dit fundamentele werklikheid en waarheid!

Die mensdom se mislukte opvoedingstelsel

Indien ons moderne opvoedingstelsel nie die antwoorde oplewer waarna ons soek nie, moet ons ten minste beïndruk wees met die stelsel self, dan nie? Universiteite kan beslis sommige areas van materiële kennis suksesvol onderrig, maar wat gebeur wanneer hierdie instansies afgesny is van die waardes wat hulle leiding moet gee?

Wat gebeur in die moderne universiteit? Een ongelukkige akademikus skryf die volgende: “Die gemiddelde Amerikaner hou vol met die gedagte dat die klaskamer die middelpunt van aktiwiteite op universiteit is. Universiteit administrateurs moedig sulke denkbeeldige idees aan omdat dit goeie openbare betrekkinge (en betrekkinge met die wetgewers) handhaaf. Onder hulself weet hulle egter hoe oudmodies en platweg onakkuraat dit is. Toe ’n vise-kanselier van een van die Groot Tien universiteite in Amerika gevra is om die missie van sy skool te beskryf, noem hy vyf aparte verantwoordelikheidsgebiede: ekonomiese ontwikkeling, diens aan die staat, skepping van nuwe kennis, opleiding van graadstudente en heel, heel laaste, onderrig” (Profscam, Sykes, 1988, bl.29).

Die moderne universiteit het van sy oorsprong afgedwaal. Dit minimaliseer nie slegs die onderrig van waardes nie, maar ook die waarde van onderrig. Daar is sekerlik waarde in navorsing, ekonomiese ontwikkeling en openbare diens, maar ware opvoeding, soos dit deur die Bybel voorgestel word, oortref die produsering van kennis. Dit moet geestelike waardes onderrig waarsonder al die ander studies na ondergang sal lei!

Kan iemand werklik opgevoed wees sonder om die verskil te ken tussen reg en verkeerd? Die apostel Paulus verdoem daardie intellektualiste ten sterkste wat die waarheid en werklikheid van God verwerp: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, hoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:18-22).

Regdeur die Bybel is baie sterk aanklagte teen anti-God opvoeding: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die HERE nie aan nie” (Psalm 14:1-4).

God wil ’n heilige en regverdige karakter in Sy mense ontwikkel. God wil hê dat Sy mense toeneem in die soort goddelike kennis wat hulle sal lei om “tot God te roep” om tot Sy Heilige Gees toe te gee en om goed te doen (sien ook Mattheus 4:4; Lukas 4:4).

Om die uitwerking van moderne universiteite se anti-God opvoeding teen te werk en studente te help om ’n goddelike karakter te ontwikkel, het Herbert W. Armstrong drie kolleges, gegrond op ware goddelike opvoeding gestig. Hul leuse was “Herwin Egte Waardes”. Studente is onderrig om Bybelse waardes op elke lewensterrein toe te pas, insluitende op die terrein van kuns, literatuur, wetenskap, musiek, humor en menseverhoudinge. Die hoofredakteur van hierdie tydskrif, Dr. Roderick C. Meredith het as vise-kanselier by elk van hierdie kolleges gedien en mnr. Armstrong bygestaan in die uitvoer van hierdie noodsaaklike onderneming. Ons kan “egte waardes herwin” sonder ’n kollege omgewing, deur God se Woord te bestudeer en Bybelse kennis toe te pas in alles wat ons dink, sê en doen. Sodoende kan ons die impak van Jesus se stelling “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10) beter begin besef.

Hoe herken ’n mens lewe in oorvloed? Die Grieke het na wysheid gesoek en die Jode na wonderlike tekens van God se krag. Die apostel Paulus verduidelik dat die Seun van God beide hierdie elemente ver bo die beperkinge van die sterflike mensdom verpersoonlik het: “Want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korintiërs 1:22-25).

Inderdaad word baie min van diegene wat die wêreld “wys” of “edel” noem, met ander woorde die rykes, magtiges en intellektualiste, deur God geroep. “Nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam … sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korintiërs 1:26-27, 29).

Dit is hoeveel God ydelheid haat! Diegene wat hulself so wys ag dat hulle “voor Hom sou roem,” is nie diegene wat God sal roep nie! God onthul eerder Sy waarheid aan “dwase” Christene mits hulle ’n bekeerde, nederige en leerbare gees het! Soos die apostel Paulus skryf: “As iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang” (1 Korintiërs 3:18-19).

God: Die grootste Leermeester

Ware opvoeding moet gegrond wees op die waarheid van God. Alle ander grondleggings is tevergeefs, slegs ’n Christen met die bereidwilligheid om by die Groot Leermeester te leer en Sy voorbeeld te volg, sal ’n behoorlike fondasie bou om ware kennis te ontvang. Jesus Christus onderrig Sy studente: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Dan noem Hy verskeie van die Tien Gebooie op.

Waarom is die Tien Gebooie die fondasie van ware opvoeding? Omdat hulle ons reguit vertel wat reg en wat verkeerd is! Hulle onthul die weg van vrede en voorspoed wat God vir die ganse mensdom beoog. Wat gebeur met diegene wat God se duidelike wette ignoreer? Soos die apostel Paulus skryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Is dit enigsins ’n wonder dat immoraliteit en perversiteit die Westerse samelewing die afgelope paar dekades verwoes het? Afgetrede Amerikaanse appèlregter Robert H. Bork waarsku: “Ons is goed op pad na die morele chaos wat die einde van radikale individualisme is … Gomorra is ons waarskynlike bestemming” (Slouching Towards Gomorrah, Bork, 1996, bll. 331, 343).

In teenstelling skryf Koning Dawid oor die opvoeding wat uit ’n grondige fondasie spruit: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer” (Psalm 119:97-102).

God het Koning Dawid onderrig en Hy wil al Sy mense onderrig. Wanneer u eers die geestelike wette begin toepas wat God in die Bybel onderrig en wat Jesus Christus in die “Bergpredikasie” uitgebrei het, kan u groter begrip en ware kennis bekom. Soos ons in Psalm 111:10 lees: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand”.

Namate u streef om God te gehoorsaam, sal Hy geestelike kennis deur die Heilige Gees aan u openbaar. Paulus verduidelik voorts die verskil tussen die kennis van ’n bekeerde Christen en die kennis van ’n nie-bekeerde persoon: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korintiërs 2:11-12).

Net soos ’n dierebrein nie die “dinge van ’n mens” kan verstaan nie, kan die vleeslike, natuurlike verstand van ’n mens ook nie die “dinge van God” verstaan nie. Paulus verduidelik verder: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korintiërs 2:14). Geestelike waarheid word geestelik onderskei; dit kan nie deur natuurlike menslike intellek bekom word sonder die gawe van God se Heilige Gees nie (Handelinge 2:38).

Omdat ons hedendaagse wêreld ware opvoeding verwerp het, ken dit nie die weg na ware vrede nie, maar Christene kan die waarheid ken en uitsien na die Wêreld van Môre, waar alle nasies uiteindelik studente van die Groot Opvoeder sal word. Hoe sal daardie opvoeding daar uitsien? Die Skrif gee ons hierdie bemoedigende beskrywing: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

Sodanige vrede sal slegs na die wêreld kom deur ware opvoeding in die komende Koninkryk van God, maar u kan daardie vrede nou in u eie lewe ondervind. Ware opvoeding is opleiding in die waarheid - en die Bybel is die beginpunt van die waarheid. Dit onthul hoe om God en u naaste lief te hê. Dit onderrig die ware leefwyse. Soos Jesus in Johannes 14:6 sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”. Hierdie tydskrif bestaan om u te help in u studie van daardie waarheid en ons het die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus saamgestel om u te help om u begrip van die kosbare waarhede van u Bybel te verbreed. Skryf gerus vandag daarvoor. God wil hê dat al Sy mense opgevoed word in Sy weë.