Baie mense is van mening dat hulle ná hulle dood die ewigheid in die hemel sal deurbring, alhoewel die waarheid oor God se plan vir ons toekoms veel meer inspirerend is as dit. Dit is nou die tyd om voor te berei!

Jesus sê dat die sagmoediges die aarde sal beërf, maar miljoene mense glo dat hulle vir ewig in die hemel sal leef na hulle afsterwe. Wat sê u Bybel werklik?

Miljoene mense – heel waarskynlik biljoene – glo dat saligheid in die hemel die beloning is van dié wat gered word. Hierdie geloof word gedeel, nie net deur die meeste mense wat hulleself Christene noem nie, maar ook deur lede van baie ander godsdienste regoor die wêreld.

Christene glo in die woorde van Jesus Christus. Jesus het Sy mees basiese en fundamentele leerstellings onderrig in wat algemeen as die “Bergpredikasie” bekend staan (Matthéüs 5-7). Hoe het Hy Sy onderrig begin? “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:3-5).

Let noukeurig op. Het Jesus gesê dat dié wat arm is van gees, na die hemel sal gaan, terwyl die sagmoediges die aarde sal erf? Nee! Hy het gesê dat dié wat arm van gees is met die Koninkryk van die hemele geseën sal word. Die Koninkryk van die hemele sal na die aarde kom wanneer Christus terugkeer! Dit is wanneer die mense wat gered is opgewek word en die Koninkryk sal erf.

Jesus onderrig ons om te bid: “... laat U Koninkryk kom” (Matthéüs 6:10). Het Hy ons gevra om te bid vir iets om te kom wat reeds hier is? Indien die Koninkryk alreeds hier is, waarom het die wêreld dan sulke gruwels soos die twee groot Wêreldoorloë van die vorige eeu beleef, asook die verskriklike volksmoorde wat teen die Armeniërs, Jode, Kambodjane en vele ander volke uitgevoer is? Selfs vandag nog, ontwyk vrede ons. Soos die voormalige president van die Sowjet-Unie, Mikhail Gorbachev, onlangs gesê het: “Dit wil alles voorkom asof die wêreld vir oorlog voorberei” (Time.com, 26 Januarie 2017). Ja, dit is vir die wêreld nodig dat God se Koninkryk kom!

Christus leer ons dat daar ’n Groot Verdrukking sal wees voordat Sy Koninkryk gaan kom. Hoe intens sal hierdie verdrukking wees? Hy sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:22). Gelukkig het Christus beloof om in te gryp en om met Sy Wederkoms ’n einde te maak aan die oorlogvoerende mensdom se pogings om die aarde te vernietig. Indien u noukeurig op wêreldgebeure let, sal u besef dat indien God nie ingryp nie, huidige militêre tendense tot totale wêreldvernietiging sal lei – die uitwissing van die mensdom. Sedert die eerste atoombom in 1945 oor Hirosjima ontplof het, beskik die mensdom oor die vermoë om hulleself te vernietig met soveel gemak soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Tegnologie het sedertdien kragtiger geword! Indien aan hulleself oorgelaat, sal oorlogvoerende nasies hulleself uiteindelik vernietig. So onlangs soos 26 Januarie 2017, het die Bulletin of Atomic Scientists die minuutwyser van hulle beroemde “Oordeelsdag-horlosie” met 30 sekondes aangeskuif. Hulle is van mening dat die wêreld net twee-en-’n-half simboliese minute vóór middernag is – ’n aanduiding van die algehele verwoesting van die mensdom.

Dit is duidelik dat die Koninkryk van God nie alreeds hier is nie! Jesus Christus is nie tans besig om Sy heerskappy oor die hele aarde uit te oefen nie, anders sou daar nie die chaos en verwoesting wees wat ons nou sien nie. Christus moet terugkeer om alle nasies te red – geestelik en fisies.

Gelukkig kom Jesus spoedig om die wêreld fisies te red. Hy het ’n plan vir die mensdom se geestelike verlossing. Dié plan word deur die Heilige Dae wat Jesus en die Apostels onderhou het openbaar en is ook aan die eerste Christene geleer om te onderhou. Die meeste belydende Christene weet dat die heel eerste stap in hierdie plan om die mensdom te red, die verlossing is wat God deur die bloed van Jesus Christus aan berouvolle sondaars bied. Baie mense besef nie dat Jesus en die Apostels Sy offer en Sy verlossing van die mensdom herdenk het deur die Nuwe-Testamentiese Pasga met ongesuurde brood en wyn te onderhou nie. Christus en die Apostels het hierdie jaarlikse gedenkdiens gehou en Christene opdrag gegee om dieselfde te doen.

Let op hoe die apostel Paulus Jesus se offer beklemtoon: “... want ook ons paaslam [Pasga-lam] is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). In die volgende vers leer Paulus selfs die heidene om die Fees te onderhou – die Fees van Ongesuurde Brode. U mag dalk hierdie bepalings ongewoon vind, maar vir diegene wat Jesus Christus wil volg is dit van lewensbelang en vol hoop en bemoediging! Jesus het nooit Kersfees en Paasfees gevier nie, só ook nie die Apostels of die Christene wie hulle geleer het nie. Van die begin af het Christene die Bybelse feeste onderhou deur Jesus se eie voorbeeld na te volg. Om meer oor die ware Bybelse Feeste te leer wat God se plan van verlossing vir die mensdom uitbeeld, bestel gerus u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Die Heilige Dae: God se meesterplan.

Waar is die Koninkryk?

Die apostel Johannes het verduidelik dat God Sy dienaars geroep en “gekoop [het] uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9). Wat sal hulle bestemming wees? Sal hulle vir ewig hemel toe gaan? Die apostel Johannes verduidelik in die volgende vers: “... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

God het nie aangebied om ons te red sodat ons ledig in hemelse saligheid kan rus nie. Hy roep ons om konings en priesters te word wat Jesus Christus – die Koning van die konings – sal bystaan in die vestiging van blywende vrede op aarde. Dit is waarom Jesus sê die sagmoediges – diegene wat Jesus nederig volg in plaas van hulle eie wil – sal die aarde erf. Wanneer ons bid, “laat U koninkryk kom,” bid ons vir die koms van die Koninkryk wat vrede na die ganse mensdom sal bring en waarin getroue Christene hulle geliefde Verlosser, Jesus Christus, as konings en priesters onder Sy leiding sal dien.

Deur die jare heen het sommige mense andere onderrig dat die kerk op die aarde die Koninkryk is. Ander mense glo weer dat die Koninkryk in ’n mens se hart is. Die Koninkryk van God is egter ’n letterlike koninkryk, waarvan Jesus Christus die Koning sal wees!

Wat presies is ’n koninkryk? Elke koninkryk bestaan uit vier basiese elemente: ’n Regeerder, ’n grondgebied, wette en onderdane. Hoe is dit egter van toepassing op die Koninkryk van God?

Wie is die heerser van God se Koninkryk? Die Bybel beantwoord hierdie vraag op verskillende plekke. Let op wat die apostel Johannes skryf: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self” (Openbaring 19:11-12). Jesus Christus, wat baie krone dra, sal terugkeer na die aarde as seëvierende Koning!

Hier is nog ’n beskrywing van Jesus se voorkoms tydens Sy Wederkoms: “En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).

Ja, die Heerser van die toekomstige Koninkryk van God sal Jesus Christus Self wees! Bid u “laat U koninkryk kom”? Sien u gretig uit na Jesus se Wederkoms na hierdie aarde? Die apostel Johannes het beslis. Hy het die voorlaaste vers in u Bybel met sy gebed en hartstogtelike hoop afgesluit: “Amen, ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

Wanneer Jesus Christus kom, sal die hele aarde Sy grondgebied wees! Die ganse mensdom sal Sy onderdane wees. Die Skrif beskryf dat die hele wêreld die weg na vrede sal leer. Elke jaar sal mense na Jerusalem gaan om hulle Koning te aanbid. Die hele aarde sal leer om dieselfde Bybelse Heilige Dae te onderhou wat Jesus en die Apostels onderhou het. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16).

Elke nasie op aarde sal die Koning aanbid en die Huttefees onderhou. Baie mense besef nie dat die Heilige Dae vandag nog vir Christene met betekenis gevul is nie. Die Nuwe-Testamentiese Kerk is op die dag van die Pinksterfees gestig, hoewel baie mense vandag vergeet dat Pinkster een van die Bybelse Heilige Dae is wat God aan Sy volk gegee het. Ons lees in die boek Handelinge dat ’n menigte mense byeengekom het om die Pinksterfees te onderhou. Die Apostels het vir hulle gepreek en duisende mense is tot bekering gebring. Mense het saam vergader om die dag te onderhou omdat die Bybel dit beveel het! “Dan moet jy die fees van die weke hou vir die Here jou God” (Deuteronómium 16:10), “die fees van die oes” (Exodus 23:16), “En op die dag van die eerstelinge” (Númeri 28:26). Vandag verstaan ware Christene dat Pinksterfees daardie stadium in God se plan van verlossing herdenk wanneer Hy die “eerstelinge” tot redding roep uit die teenswoordige wêreld om hulle voor te berei om in die Millennium onder Christus te heers.

Wat is die “Evangelie”?

Jesus Christus die Messias, het gekom om ’n boodskap te bring wat baie mense mag dink hulle ken, maar wat verbasend min eintlik regtig verstaan. Wat het Jesus verkondig? “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Jesus het onderrig dat dit tyd was om op te hou sondig, Sy boodskap te glo en vir die toekomstige Koninkryk van God voor te berei.

Het u u bekeer? Om “te bekeer” beteken om te erken dat u gesondig het en die Tien Gebooie, God se Wet, oortree het. Dit beteken nie net om jammer te wees en ’n afkeer in u sondes te hê nie, maar om daardie sonde sóveel te haat dat u daarvan wegdraai en ’n nuwe lewe sonder daardie sonde begin lei. Bekering beteken om u daartoe te verbind om u lewe met God se hulp te verander. Wat is sonde? Johannes skryf: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.”

U kan nie die Evangelie glo tensy u dit verstaan nie! Mense wat hulle glo in Jesus Christus glo in werklikheid nie of handel nie volgens wat Hy verkondig het nie. Jesus vra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Indien u werklik ’n Christen is, sal u doen wat Jesus beveel het. Indien u werklik ’n Christen word, sal u Jesus nie op ’n abstrakte manier as ’n “Verlosser” aanvaar wie u nie gehoorsaam nie, maar as u Heer en Meester en u sal dan daarna streef om Hom met die hulp van die Heilige Gees te gehoorsaam. Soos Paulus skryf: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam” (1 Korintiërs 6:19-20).

Ware Christenskap is ’n lewenswyse. Sodra u u bekeer, die Evangelie glo en u lewe aan Jesus Christus verbind deur die doop, kan Hy in u deur die Heilige Gees leef. Dan kan u as ’n Christen groei en u lewe van selfsug verander na een van diens en liefde vir God en u medemens. Diegene wat vandag deur God geroep word, word nie net vir hulle eie heil geroep nie. Soos ons vroeër gesien het, roep Hy hulle ter voorbereiding om in Sy toekomstige Koninkryk as konings en priesters te dien. Die eerste geleentheid om te regeer sal in die Millennium wees – die tydperk van ’n duisend jaar wat in u Bybel beskryf word, wanneer Jesus oor ’n geneesde aarde sal heers. Soos Johannes skryf: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Van waar sal Christus regeer?

Waarvandaan sal Jesus oor die aarde regeer? Hy sal vanuit Jerusalem regeer. Hy sê: “Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon;” (Sagaria 8:3). Trouens, wanneer Hy regeer, sal Jerusalem ’n ander naam hê. Die heel laaste vers in die boek Esegiël verklaar dat “die naam van die stad sal van vandag af wees: Die Here is daar!” (Eségiël 48:35). In Hebreeus is daardie naam Yahweh Shama. Van daar sal Hy oor Sy Koninkryk heers: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9).

Wanneer Christus terugkeer om oor die aarde te heers, sal Hy en die verheerlikte heiliges oor die nasies heers – oor fisiese mense. Christus sal die nasies die lewensweg leer wat vrede meebring. Vandag se Christene – wat as geestelike wesens opgewek sal word (die “eerstelinge”) – sal onder Sy leiding as konings en priesters oor stede en nasies heers (sien Lukas 19:17; Openbaring 2:26). Hierdie konings en priesters sal die wêreld aangaande God se waarheid opvoed. Let op hierdie inspirerende Skrifgedeelte wat diegene beskryf wat in die Millennium in God se weë opgelei sal word: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien” (Jesaja 30:20). U kan een van daardie onderwysers wees. Wat sal die verheerlikte heiliges – die konings en priesters – aan mense leer? “... en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (vers 21).

In die Millennium sal die onderwysers God se Wet onderrig. Die profeet Jesaja gee ons ’n inspirerende voorsmakie van wat sal kom. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

Die mensdom se dikwels teenstrydige en onregverdige wette sal nie meer bestaan nie. God se Wette sal uit Jerusalem geleer en administreer word. Die Tien Gebooie is die grondslag van daardie Wette. Onthou, Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” – Hy het voortgegaan om ’n paar van die Tien Gebooie te lys (Matthéüs 19:17). In werklikheid het Jesus in Sy “Bergpredikasie” voortgegaan om die Tien Gebooie uit te brei. Hy het dit meer omvattend en bindend gemaak, omdat Christene die Tien Gebooie in die gees behoort te onderhou, nie net in die letter nie!

Wat sal die effek van God se Regering hier op aarde wees? “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; hulle sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Wanneer Christus terugkeer, sal Hy die hele wêreld opvoed in die weg van vrede. “Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:7-9).

In die Wêreld van Môre sal alle nasies die ware God van die hemel en aarde ken – die God van u Bybel – en Hy sal diegene seën wat Sy Gebooie onderhou, net soos Hy nog altyd gedoen het. Let op hierdie inspirerende gedeelte uit die boek Deuteronómium waar die seëninge beskryf word wanneer ons God se Wet gehoorsaam. “[E]n hou die gebooie van die Here jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees. Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning; ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het” (Deuteronómium 8:6-10).

U glorieryke toekoms

Kan u in u geestesoog u deelname sien in die opvoeding van die nasies om God se Gebooie te gehoorsaam en om alle mense te help om die oorvloedige lewe te hê soos wat God aan hulle beloof? Indien u een van die “sagmoediges” is – iemand wat eerder God se wil soek as u eie – kan God u gebruik om Sy weë aan ander mense te leer.

Ons planeet staan selfs vandag nog soos ’n juweel uit in die uitgestrektheid van die ruimte. Daar kom egter ’n tyd wanneer God die aarde met vuur sal reinig en suiwer en hernu voordat die hemel na die aarde sal kom (2 Petrus 3:10-13). Soos die apostel Johannes skryf: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:2-5).

U kan deel wees van daardie ontsaglike toekoms. In Romeine 8:17 noem God Sy kinders Sy erfgename en “mede-erfgename van Christus”. As erfgename van God, sal getroue Christene nie net die aarde beërf nie – maar ook die heelal. Ons lees: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32). Dan ook weer: “Alle dinge het U onder sy [die mens] se voete gestel” (Hebreërs 2:8).

In hierdie laaste twee verse is die Griekse uitdrukking wat as “alles” vertaal word, ta panta, wat letterlik “die alles” beteken – met ander woorde, alles wat sigbaar en onsigbaar is. Ja, getroue Christene sal uiteindelik die hele heelal erf! Vandag droom baie van ons om na die verste uithoeke van die sterrestelsel [melkweg] te reis. Ons verwonder ons aan die skoonheid van die sterre, die newelvlekke en ander ontsagwekkende en pragtige kenmerke van ons heelal. Die tyd sal aanbreek wanneer vandag se getroue Christene in staat sal wees om teen die spoed van ’n gedagte deur die heelal te reis!

Ja, God wil hê dat u die aarde en nog baie meer erf! Soos Hy aan ons sê: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Mag God ons almal help om Hom en Sy Koninkryk te soek, sodat ons binnekort die aarde, die heelal en alle dinge kan erf!