Volgens vele internasionale maatstawwe word Kanada dikwels geloof as een van die beste plekke in die wêreld om te woon. Verslae praat van goeie vooruitsigte vir indiensneming, onderwys, mediese sorg en ’n lewensstyl, alles binne grense wat ruim en aanloklik is. Ten spyte van hierdie baie voordele, soek ’n groot persentasie van die bevolking ontsnapping in die gebruik van gedagte-veranderende dwelms. Hennep of dagga is die onwettige middel wat die meeste in Kanada gebruik word.

’n Groeiende kommer?

Die omvang van daggagebruik is kommerwekkend. ’n 2014 verslag verklaar: “Die aantal jeugdiges (22%) en jong volwassenes (26%) wat in 2013 dagga gebruik het, was meer as twee-en-’n-half keer dié van volwassenes van 25 jaar en ouer (8%)” (“Marijuana and Youth”, Canadian Centre on Substance Abuse).

Hoewel baie mense dagga verkeerdelik as skadeloos beskou, het die Partnership for a Drug Free Canada vir jare al betroubare wetenskaplike studies aangebied wat die gevare en die maatskaplike en ekonomiese koste van hierdie dwelm bewys. Ten spyte van gesondheidsdeskundiges se onderskrywing van hierdie studies, dryf maatskaplike druk nogtans die politieke agenda na die wettiging van hierdie gevaarlike dwelm. Politieke magte aan die linkerkant het saamgesnoer om hierdie doel te bereik en beweer dat die wettiging en regulering beter beheer sal meebring as om ’n verbod te handhaaf.

Wie is reg? Is kommer oor hennep (cannabis) ongegrond? Baie mense aanvaar sekerlik dat, as die gebruik van dagga so wydverspreid is, dit nie baie skadelik vir die samelewing behoort te wees nie. Volgens die Canadian Centre on Substance Abuse (ibid.) het die Kanadese jeug die hoogste syfer van daggagebruik van enige land in die ontwikkelde wêreld.

Sommige entoesiaste propageer die gebruik van dagga vir “mediese” doeleindes, hoewel die meeste mediese kenners skepties is. Let op hierdie 2014 verklaring van die Kanadese Mediese Vereniging:

“Die KMV glo nog dat daar onvoldoende wetenskaplike bewyse beskikbaar is om die gebruik van dagga vir kliniese doeleindes te ondersteun. Hulle is ook van mening dat daar onvoldoende gegewens oor kliniese risiko’s en voordele is, met inbegrip van die behoorlike dosis om dagga te gebruik en oor die potensiële interaksies tussen hierdie dwelm en ander medikasies” (“New ‘Marijuana for Medical Purposes Regulasions’: What Do Doctors Need to Know?”).

In ’n brief waarin die groep se standpunt aan die Kanadese Minister van Gesondheid verduidelik word, stel die KMV dit eweneens dat daar “min bewyse ten opsigte van die doeltreffendheid van dagga is” (“Letter to Minister Aglukkaq”, 28 Februarie 2013).

In 2015 het die Edmonton Journal oor navorsing van die Kanadese Sentrum vir Dwelmmisbruik berig: “Tieners wat vroeg begin dagga rook en dit dikwels doen, stel die verlaging van hul IK-tellings in gevaar ...” Die artikel gaan voort: “‘Die groeiende aantal bewyse oor die uitwerking van daggamisbruik tydens adolessensie is ’n rede tot kommer’, sê Amy Porath-Waller, die KSD se hoofnavorser oor die kwessie. ‘Ek dink ons behoort baie bekommerd te wees ... Daar is ’n behoefte om vir ’n wyle stil te staan en daaraan te dink dat dit die toekoms van ons land is. Ons wil sekerlik ons jeug voorberei sodat hulle produktiewe lede van die samelewing kan wees in terme van indiensneming. Daar is dus beslis rede dat Kanada bekommerd behoort te wees oor daggagebruik (cannabis) onder jong mense.’ Sy gaan voort: ‘Ewe kommerwekkend is die persepsie onder baie Kanadese jeug dat dagga heilsaam is en geen uitwerking op hulle vermoë om te bestuur of hulle prestasie in die skool sal hê nie” (“Teen pot use can lower IQ: study”, 15 April 2015).

“Waar daar ’n rokie trek ...”

Volgens ’n Kanadese Sentrum oor Dwelmmisbruik beleid se inligtingstuk, koppel kliniese bewyse die gebruik van dagga aan kognitiewe inkorting en ’n verhoogde risiko van psigose (sielsiekte) – ’n risiko wat met gebruik op vroeë ouderdom toeneem en hoër vlakke met gebruik bereik. Die inligtingstuk waarsku ook: “Ondervinding in die VSA dui daarop dat die afname in regulering, met inbegrip van buigsame reëlings vir persoonlike of aangewese produsente en kleinhandelverkope, geneig is om tot die verhoogde tempo van diversie [misbruik] te lei’” (“Marijuana for Medical Purposes”, 15 Julie, bl. 8).

Die Partnership for a Drug Free Canada (PDFC) opper ander mediese kwessies. Byvoorbeeld, daggarokers vertoon baie van dieselfde simptome as tabakrokers. Dit kan abnormale voorkoms van borsverkoue, verhoogde hoes en slymproduksie insluit. ’n 2015 PDFC verslag lui: “Afgesien van die THC-inhoud, is die hoeveelheid teer wat deur daggarokers ingeasem word en die vlak van koolstofmonoksied wat geabsorbeer word, drie tot vyf keer hoër as onder tabakrokers” (“Marijuana”).

Sommige dokters wys daarop dat die warmer verbrandingstemperatuur ook kan lei tot verhoogde verlies van die trilhaartjies in die longe wat weer kan lei tot siektes soos emfiseem. Dit is interessant om daarop te let dat die Kanadese Kankervereniging reeds vir jare al ’n veldtog teen die rook van tabak voer en wydverspreide openbare steun verwerf het – nogtans is dit dieselfde mense wat verstandige rook van tabak teenstaan, wat dikwels wil voorgee asof hulle nie omgee dat hulle in dagga ’n stof het wat baie maal dodeliker vir die menslike long is nie.

Ons het gesien dat mediese verenigings die gebruik van die sogenaamde “mediese dagga” teenstaan omdat daar geen vaste kliniese bewyse is dat die dwelm effektief is nie. Vereiste dosisse vir spesifieke kwale is nie nagevors nie, konsentrasie van die aktiewe bestanddeel THC wissel met plantmonsters (en maak dosisse onmoontlik om te bepaal) en daar is die negatiewe newe-effekte wat verslawing insluit. Vir diegene wat op die mediese voordeel van THC aandring wys dokters daarop dat dosis beheerde, noukeurig afgemete medikasie reeds bestaan: Dronabinol (Marinol®) en nabilone (Cesamet®). Dokters kan reeds enigeen van hierdie medikasies voorskryf. Dus, waarom is daar so ’n uitroep vir mediese dagga? Kan dit wees dat die goedgekeurde, klinies gemoniteerde medikasie toelaat dat die THC op die liggaam inwerk, maar nie aan die gebruiker ’n bedwelming gee nie?

’n Belangriker doel

Politieke leiers behoort deur ’n besef aangespoor te word van wat goed is vir die mense, maar diegene wat groepe wat net genotsugtige plesier soek probeer behaag – of wat moontlik entrepreneursbelange het om die produk in glansverpakking op winkelrakke te sien – mag meer geïnteresseerd wees in hulle eie welsyn as dié van die nasie.

Daggagebruik is onwettig in Kanada vir ’n goeie rede: Dit is skadelik vir die gebruikers en die nasie. Dit en ander soortgelyke dwelms (en ander wat selfs meer dodelik is) beroof die individu van potensiaal en laat verlore drome en verpletterde lewens agter.

Dit is tragies wanneer mense, jonk of oud, “’n staat van bedwelming” beskou as hulle belangrikste plesier in die lewe. Sulke mense leef sonder om van die doel vir hulle menslike bestaan kennis te dra. Daar is egter so ’n doel wat geken en bereik kan word. Ons nugter menslike verstand is ’n skat, skitterend deur ’n grote Skepper ontwerp – een wat beplan is om aan die mensdom ’n ontsagwekkende toekoms te bied, met potensiaal waarvan nie in die menslike sfeer gedroom kan word nie. Vir meer inligting kan u ons gratis boekie aanvra, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? Geen chemiese middel wat aan die mensdom bekend is kan begin om die wonderlike gevoel van vervulling te verskaf wat God aan diegene beskikbaar sal stel wat leer om plesier te put uit ’n lewe volgens Sy lewenswyse nie.