Watter woord in moderne “kerkedom” word die minste verstaan? Die antwoord sal u dalk verbaas!


Dit is die woord wat God se dienaars herhaaldelik beskryf het as die eerste stap na ware Christendom, die eerste stap na die ewige lewe. Toe Johannes die Doper gekom het om die weg te baan vir Jesus Christus se bediening, het hy begin deur te sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 3:2). Die evangelie volgens Markus boekstaaf “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes” (Markus 1:4-5).

Toe kom Jesus Christus en verkondig “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (verse 14-15) en “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 4:17).

Op Pinksterdag, toe die Nuwe-Testamentiese kerk eintlik begin is, het God die apostel Petrus geïnspireer om die duisende mense wat hom gehoor het, uit te daag “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Die ganse Nuwe Testament toon duidelik dat God se Heilige Gees na ware bekering en opregte aanvaarding van Jesus Christus as Heer en Verlosser verleen word. Dit is 'n noodsaaklike punt wat dikwels heeltemal misgekyk “of verwater” word deur “algemene” hedendaagse kerke!

Ek weet dat sekere hoofstroom evangeliste die woord “bekeer” van tyd tot tyd gebruik, hoewel nie naastenby so gereeld soos wat hulle behoort nie. In byna elke geval versuim hulle egter heeltemal om 'n ware Bybelse verduideliking te gee vir wat bekering behels. Let op hoe die bogenoemde verse verduidelik dat u uself moet bekeer en gedoop word vir die “vergifnis van sondes”. Indien u u bekeer en behoorlik gedoop word, sal u sondes vergewe word.

Die eerste stap is dan vanselfsprekend “bekering” van sonde!

Maar wat is “sonde”?
Waarom versuim so baie mense wat hulself Christus se leraars noem om u in te lig oor die geïnspireerde Bybelse definisie vir “sonde”? Omdat dit outomaties hul “glo net”-evangelie sal verdoem! Omdat dit duidelik sal toon hoe oppervlakkig en onbesonne hul “gee net jou hart vir die Here”-boodskap werklik is!

Let asseblief noukeurig op die Bybelse definisie vir sonde: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). In leketaal is “sonde” die verbreking van die Tien Gebooie!

Tog sal bykans elke “hoofstroom Protestante” leraar die mantra opsê: “Jy word gered deur genade, daarom hoef jy nie die Tien Gebooie te onderhou nie!” Party mense sal toegee dat die Tien Gebooie 'n “goeie algemene riglyn” vir die lewe is, maar daarop aandring dat Christene “nie gebonde is om dit te onderhou nie, omdat hulle nou onder die nuwe verbond is.” Of dalk sal hulle sê: “Christus het die Tien Gebooie aan die kruis vasgespyker, daarom is daar nou mee weggedoen.”

Verstaan u?
Indien u my woord in twyfel trek hieroor, gaan vra asseblief u eie pastoor: “Word Christene vandag beveel om al tien van die Tien Gebooie te onderhou?” Indien u die vraag so vra sal u beslis die een of ander variasie op die antwoorde of verskonings hoor wat ek pas genoem het!
Waarom?

Die Tien Gebooie is teenstrydig met ons Westerse leefstyl.

Indien ons vriende wat Christene in naam is, werklik Jesus se opdrag en voorbeeld gevolg het, sou hulle al die oorloë moes staak! Tog het baie van ons oorloë oor die afgelope paar honderd jaar daarop neergekom dat “Christene” deur “Christene” gedood is. Die Eerste Wêreldoorlog het getoon hoe Duitsers veg teen mede-Katolieke en -Protestante in Brittanje, Frankryk en die Verenigde State. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland en Italië teen miljoene mede-“Christene” in Pole, Tjeggo-Slowakye, Frankryk, België, Brittanje, die Verenigde State en Kanada geveg.

Jesus het egter Sy volgelinge duidelik vertel: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mattheus 5:43-44).

Kort voordat Hy vermoor is, sê Jesus vir Pilatus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Ons belydende “Christendom” wat so teen die Wet gekant is, laat egter sy leraars en priesters toe om hul troepe aan beide kante te “seën” in tye van oorlog!

Soos u weet sal die oorgrote meerderheid van Amerikaanse, Britse, Kanadese en Suid-Afrikaanse kerkgangers baie ontsteld wees as hul leraars hulle gereeld en kragtig vertel dat hulle nie lidmate van goeie naam kan bly wanneer hulle van hul lewensmaats skei vir enige onbybelse rede of wanneer hulle in owerspel, egbreuk of homoseksualiteit leef nie!

Sjoe! Die afname in lidmaatgetalle sal skrikwekkend wees as belydende leraars van Christus die volle Waarheid van die Bybel gepreek het! As hierdie leraars ook gereeld en kragtig teen leuens, bedrog, ydele gebruik van God se Naam of verlustig aan pornografie, dobbelary en soortgelyke onsedelikheid gepreek het, wie sou in die hoofstroom “Christenkerke” oorgebly het?

Baie jare nadat Jesus gekruisig is, inspireer God Jakobus – Jesus se broer – om te skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword” (Jakobus 2:10-11).

So, my vriende, al tien van die Tien Gebooie is definitief bindend op ware Christene. Betreffende die tyd wanneer Christus se volgelinge na veiligheid moet vlug, net voor die komende Groot Verdrukking, vertel Hy ons: “En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie” (Mattheus 24:20). Twyfel enigiemand opreg dat Jesus gepraat het van die sewendedag Sabbat wat Hy en Sy dissipels altyd saam met die res van die Jode onderhou het? Let op hoe God Jesaja geïnspireer het om te skryf oor Christus se eerskomende Millenniale heerskappy op die aarde: “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:23). Daar is nooit met God se heilige Sabbat “weggedoen” nie en dit sal onderhou word – soos Jesaja geïnspireer is om te voorspel – deur “alle vlees” gedurende Christus se eerskomende heerskappy op die aarde!

Het u egter die geloof en moed om nou – in hierdie tyd – te doen wat God sê? Het u die visie en krag om Jesus Christus as Heer en Meester te gehoorsaam en om Hom Sy lewe in u te laat leef deur die Heilige Gees?

Die meeste belydende Christene het nie daardie soort geloof en toewyding nie. Hoewel baie Joodse godsdiensleiers in Jesus se tyd geglo het dat Hy die Messias was, het die druk om by die meerderheid “in te skakel”, hulle teruggehou. Soos die apostel Johannes verduidelik: “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:42-43).
Wat van u?

Waarvan bekeer 'n mens jou?

Soos 1 Johannes 3:4 dit duidelik stel: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (NV). Hoewel baie belydende Christene sê “ons het net liefde nodig”, antwoord die apostel: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Die ware “liefde tot God” wat Jesus wil hê ons moet hê, vloei met die rivier van die Tien Gebooie langs. God se manjifieke geestelike Wet vertel ons hoe om God lief te hê en hoe om ons naaste lief te hê. Jesus Christus en die Apostels het die Wet vergroot (Jesaja 42:21) of die aanwending daarvan uitgebrei om die betrokke gees of gesindheid in te sluit; hulle het nie “weggedoen” met God se Wet nie.

Jesus verduidelik byvoorbeeld dat ons nie net verbied word om egbreek te pleeg nie, maar ons mag nie eens wellustige en owerspelige gedagtes in ons verstand koester nie. “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheus 5:27-28). “Doen dit weg” met God se gebod teen egbreuk? Natuurlik nie! Dit maak dit meer bindend, want God se regverdige Wet is – soos Jakobus geskryf het – die “wet van vryheid” (Jakobus 2:12). Indien dit universeel gevolg word, sou dit ons inderdaad bevry van die probleme van oorlog, egbreuk, gebroke gesinne, diefstal, vrees, frustrasie en leegheid. Die ganse wêreld sal waarlik 'n veel beter plek wees!

Hoe durf misleide predikante mense vertel dat God se wonderlike wet van die lewe mee “weggedoen” is!

Hierdie verskriklike valsheid verblind trouens miljoene opregte mense van die wete hoe om hulle te bekeer! In baie hoofstroom kerke word mense net 'n algemene idee van sonde gegee en word hulle bykans nooit vertel dat sonde spesifiek die verbreking van die Tien Gebooie is nie! In die Bergpredikasie verdoem Jesus Christus sulke vals leraars direk. Hy sê: “Baie sal daardie dag vir My sê: 'Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?' Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mattheus 7:22-23, NV).

“Julle wat die wet van God oortree”? Van watter wette praat Jesus hier? As God in die vlees, het Jesus geweet dat vals leraars sou probeer wegdoen met die groot geestelike gebooie en dít verwater wat God eintlik deur Jesus gegee het toe Hy die “Woord” was – die “Rots” (1 Korintiërs 10:4) – die Een wat letterlik as God se Woordvoerder die Tien Gebooie by die berg Sinaï gespreek het!

Toe Hy in die menslike vlees gekom het, het Jesus die mense altyd vertel dat dit Sy leefwyse was om die Tien Gebooie te gehoorsaam! Toe 'n jongman Hom kom vra wat die weg na die ewige lewe is, antwoord Jesus: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Soos Jesus in die Bergpredikasie verduidelik: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:19). So – in Jesus se gedagtes – is al God se gebooie absoluut noodsaaklik. Nie een van hulle is ooit “aan die kruis vasgespyker” of “mee weggedoen” nie, soos u sal sien wanneer u al die teksverse op eerlike wyse bymekaarbring.

Die apostel Paulus vertel ons: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korintiërs 7:19). Ook naby die heel einde van die Nuwe Testament beskryf God Sy ware Heiliges – diegene wat egte Christene is: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Soos ons gesien het, is mense van God afgesny – nie in staat om die kosbare Heilige Gees te ontvang nie – totdat hulle hulle waarlik van “sonde” – die oortreding van God se Wet – bekeer. Dan moet hulle Jesus Christus in nederigheid aanvaar, nie net as persoonlike Saligmaker nie, maar ook as “Heer” – die Een wat hulle waarlik sal gehoorsaam! Soos die apostel Paulus skryf: “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:7-9).

Wat is ware bekering?

Die onbekeerde, selfsugtige, “vleeslike” verstand van die mens, wil sy eie sin hê. Daarom sal dit nie tot God se Wet onderworpe wees nie, verduidelik Paulus. Deur die Gees van God, kan ware Christene egter die vleeslike gesindheid en die luste van die vlees “beheer” en binne God se Wette wandel as 'n leefwyse. 'n Mens moet egter eers bekeerd raak, ten einde God se Heilige Gees te ontvang. Om jou te “bekeer”, beteken om te verander. Ja, dit beteken 'n mens moet jammer wees, maar 'n mens moet so jammer wees dat hy of sy werklik omkeer en die ander rigting inslaan!

Ware bekering behels dus 'n algehele oorgawe van 'n mens se verstand, hart en wil aan die Skeppergod en vereis die aanvaarding van die dood van Sy Seun as betaling vir sonde, want sonde vereis die dood. Dit is waarom Christus die doodstraf namens ons moes “betaal”. Soos die apostel Paulus skryf: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Sonde is so afskuwelik – so veragtelik in God se oë – dat dit outomaties dood in die vuurpoel meebring, tensy daar waarlik van bekeer word. Die beste voorbeeld van ware bekering word waarskynlik in Dawid se gebed na sy sonde met Batseba aangetref. Dawid roep uit tot God: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou” (Psalm 51:3-6).

Let daarop dat Dawid nooit probeer het om dit wat hy gedoen het te regverdig nie. Hy noem dit “sonde” en erken dat hy “gereinig” moet word. Hy erken ook dat sy sonde nie hoofsaaklik teen Batseba was nie, ook nie teen haar man, Uria, wat hy laat vermoor het nie, maar teen God Self! Dawid beskryf sy behoefte om van die “bloedskuld” gered te word (vers 16). Uiteindelik erken Dawid: “Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (vers 19).

Hierdie gesindheid van algehele bekering en oorgawe aan God was 'n hoofrede waarom God Dawid 'n “man na my hart” genoem het (Handelinge 13:22). God het Dawid ook liefgehad omdat hy soveel diepliggende liefde vir God se Gebooie en Wette gehad het – so anders as die leraars van vandag wat sê dat God se manjifieke Wet te streng, te moeilik of te beswarend is. Dawid skryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig” (Psalm 119:97-98).

Jesus roep uit: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Jesus is nie u “Heer” tensy u Hom gehoorsaam nie! Trouens, u is nie 'n ware Christen tensy u bereid is om God te gehoorsaam en te doen wat Hy sê nie! Kan dit enigsins eenvoudiger wees?

Kan “genade” en “boetedoening” ware BEKERING vervang?

Lank na die dood van Jesus en die oorspronklike Apostels, het misleide priesters en teoloë gedurende die Middeleeue begin om die hele konsep van ware Christenskap op vreemde wyses te verdraai. Hulle het die idee van “boetedoening” eerder as bekering begin onderrig. Mense het selfs probeer om hul pad uit sonde te “koop” deur “aflatings” van priesters te koop. Martin Luther – die stigter van Protestantisme – was so verafsku deur hierdie vieslike praktyk, dat hy die Protestante Hervorming begin het. Luther was ongetwyfeld opreg – soos die meeste Protestante vandag is, maar hy het net gedeeltelik uit 'n algeheel Babiloniese stelsel uitgekom!

Omdat hy die Rooms-Katolieke “kerkwette” as streng en misleidend beskou het, het Luther die gedagte bedink dat Christene “bevry” is van gehoorsaamheid aan God se Wet. Hy het die idee van redding deur “genade” alleen bekendgestel. In sy Duitse vertaling van die Nuwe Testament, het Luther Romeine 3:28 wat lui: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet”, trouens opsetlik verkeerd vertaal. Luther het dit vertaal om te lui dat “die mens geregverdig word deur die geloof alleen...” Toe een van sy kritici hierdie vertaalfout regstel, het Luther uit die hoogte geantwoord: “Sou jou Pous self enige nuttelose gegriefdheid toon oor die woord sola, kan jy vinnig antwoord: Dit is die wil van dr. Martin Luther dat dit so moet wees” (Alzog, Manual of Universal Church History, bl. 199). Luther gee geen rede vir so 'n onskriftuurlike verandering nie. Wanneer dit by Luther se eie persoonlike oortuigings oor leerstellings kom, was hy waarlik 'n eiewillige man.

Van toe af het die meeste Protestante leraars en teoloë grootgeword met die konsep dat ons op die een of ander wyse “bevry” is van onderhouding van God se gebooie! In hul eie denkwyse verwar hulle die fisiese verordeninge van antieke Israel met die geestelike Wet van die Tien Gebooie – hoewel die twee heeltemal verskil! Hulle probeer hulle indink dat die Tien Gebooie nie meer vereis word onder die nuwe verbond nie, maar God se woord maak dit duidelik dat die geestelike Wet van God – die Tien Gebooie – die einste grondslag van die Nuwe Verbond is! Waar Paulus spesifiek die Nuwe Verbond beskryf, sê hy: “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees” (Hebreërs 8:10).

Herhaaldelik, regdeur die Ou en Nuwe Testamente, gee God 'n konsekwente onderrig oor gehoorsaamheid aan Sy geestelike Wet, die Tien Gebooie. Selfs voordat die Ou Verbond gegee is, is Abraham – “die vader ... van almal wat glo” (Romeine 4:11) – geseën “omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Genesis 26:5). Ons het gesien dat Dawid God se Gebooie liefgehad het en dat hy genoem word as 'n toekomstige koning onder Christus om oor miljoene mense in die Wêreld van Môre te regeer (Esegiël 37:24).

Toe het Jesus gekom en die jongman vertel wat die weg na die ewige lewe gevra het: “Onderhou die gebooie”! En, teenstrydig met misleide Protestante lering, het die apostel Paulus beslis gehoorsaamheid aan God se Wette toegepas, God se Sabbatte en die Heilige Dae onderhou en in 1 Korintiërs 7:19 geskryf: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God”!

God se weg is KONSEKWENT!

In die eerskomende regering van Jesus Christus, sal alle nasies God se Gebooie onderhou! Dit sal die grondslag wees vir die ganse leefwyse in Christus se eerskomende heerskappy oor hierdie aarde! Ter beskrywing van God se Koninkryk wat in die “einde van die dae” kom, skryf die profeet Miga duidelik dat God se Wet onderrig en gehoorsaam sal word. “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2).

Die waarheid is dat elke mens uiteindelik sy lewe en wil aan God moet oorgee en – deur Christus wat in hom woon – die gebooie van God moet onderhou, wat Sy hele leefwyse weerspieël! Hebreërs 13:8 vertel ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”, en die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Christus – wat Sy lewe in u leef deur die Heilige Gees – sal u help groei en oorwin om God se gebooie as 'n leefwyse te onderhou, net soos Hy gedoen het. Want Hy is dieselfde. Hy verander nie Sy basiese geestelike standaarde nie. Verstaan dit asseblief!

Die einste beginpunt van ware Christenskap is om ten volle onderhewig te wees aan God en om u te bekeer van die oortreding van Sy gebooie en die ganse leefwyse wat dit verteenwoordig! Dan moet 'n mens tot 'n diepe besef van God se liefde kom deurdat Hy Sy Seun gegee het as Saligmaker en 'n mens moet Jesus waarlik aanvaar as Verlosser en Here! Dan sal daar geen argumente wees nie – 'n mens sal nie kan wegkom van die duidelike, konsekwente voorbeeld wat Jesus, die Apostels en die hele Kerk van God vir honderde jare gestel het nie, totdat heidendom die naam van belydende Christenskap oorgeneem het en net 'n paar klein groepe ware Christene oorgebly het! Daardie “afval” is baie keer in die Nuwe Testament voorspel (sien Handelinge 20:29-31; 2 Thessalonicense 2:3-12; Judas 3-4). Dit is waarom die apostel Johannes geïnspireer is om te skryf oor “die duiwel en Satan, wat die hele wêreld mislei” (Openbaring 12:9).

Mag God elkeen van ons help om bereid te wees om ten volle oor te gee om die wil van ons Skepper te doen en om Sy gebooie te onderhou. Deur dit te onderhou, bring waarlik 'n wonderlike leefwyse mee! Ons moet nie bang wees vir die ontbrekende “B”-woord nie! Ons moet ons aan die begin van ons Christenlewens bekeer en aanhou bekeer en toeneem in genade en in kennis, ons hele lewe lank. God se Woord sê vir ons: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). Slegs dan kan u die hulp van God se Heilige Gees ontvang en besit “wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). 
Slegs dan sal u waarlik die leefwyse leer en beoefen wat u sal voorberei vir diens in Christus se eerskomende Koninkryk wat op hierdie aarde gevestig gaan word (Openbaring 5:10).