Baie hedendaagse geleerdes aanvaar, as 'n geloofsartikel, dat dit onmoontlik is om die toekoms akkuraat te voorspel. Verder sê hulle dat die Bybel maar net deur die mens geskryf is en nie 'n ongeëwenaarde God-geïnspireerde boek is nie. Tog sê God in die Bybel dat Hy die toekoms kan voorspel en dit teweegbring! Die Een wat die profeet Jesaja geïnspireer het, verklaar: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Hedendaagse hooftrekke op wêreldnuus bewys hierdie verbasende verklarings, aangesien profesieë wat duisende jare gelede gegee is, in ons tyd gestalte kry!

Antieke profesieë

Toe God die antieke Israeliete uit Egipte gebring het, het Hy 'n verbond met hulle gesluit. God het belowe dat hulle geseën sou word as hulle Sy wette gehoorsaam het, maar dat hulle moeilike tye in die gesig sou staar as hulle ongehoorsaam was (sien Levitikus 26; Deuteronomium 28). Die hartseer verhaal van die Skrif is dat die antieke nasies Israel en Juda besluit het om God se opdragte te ignoreer en in plaas daarvan “hul eie ding te doen” (sien Rigters 21:25). Omdat die Israeliete teen God gerebelleer en die verbond in opstand gekom het—“Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32)—gee God 'n reeks gedetailleerde profesieë wat in die toekoms 'n vernietigende impak op hulle sal hê. Die Bybel voorspel dat wanneer sondige Israelitiese nasies 'n beroep op hul bondgenote doen om hulp in toekomstige nood, daardie bondgenote hulle sal verag en teen hulle sal draai: “minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe”(Jeremia 4:30).

Hierdie profesie word op talle ander plekke in die Skrif herhaal, met spesifieke bykomende besonderhede. God waarsku deur die profeet Jeremia: “Al jou minnaars het jou vergeet [versaak] ... Ek het jou geslaan soos 'n vyand ... omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes... aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (Jeremia 30:14, 24). God waarsku Jerusalem en die huis van Israel dat “haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword. Haar teëstanders het die oorhand gekry... [en Israel sal kla] Ek het geroep na my liefhebbers—hulle het my in die steek gelaat.” (Klaagliedere 1:2, 5, 19). God het die profeet Esegiël op soortgelyke wyse gebruik om te beskryf wat met Israel en Juda sou gebeur: “Ek [het] haar oorgegee in die hand van haar minnaars... Kyk, Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring... Omdat jy My vergeet het” (Esegiël 23:9, 22, 35).

Hierdie profesieë het meer as 2 500 jaar gelede 'n aanvanklike vervulling gehad toe die volke Israel en Juda onderskeidelik in 721v.C. en 604v.C. in aanhouding weggevoer is deur naburige volke. Die profesieë is egter tweeledig en sal uiteindelike vervulling “in die laaste dae” vind. Die Amerikaners en die ander Britse afstammelinge is die hedendaagse huis van Israel (vra gerus ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika, Brittanje asook Suid-Afrika, aan vir meer oor hierdie onderwerp.) Profesie onthul dat die bondgenote van die hedendaagse Israelitiese nasies hulle sal begin verag, hul mededingers sal word en uiteindelik teen hul voormalige vriende en weldoeners sal draai. Skrikwekkende ontwikkelinge op die hedendaagse wêreldtoneel—veral in Europa—wys ons dat hierdie profesieë hul uiteindelike vervulling nader!

Profesieë vervul

Die Anglo-Amerikaanse nasies het die Tweede Wêreldoorlog gevoer om Europa te bevry van Fascisme en om Pasifiese nasies te bevry van Japannese vorstelike oorheersing. Die Anglo-Amerikaanse nasies was vir meer as 50 jaar weldoeners van die lande wat hulle “oorwin” het, het hul ekonomie ondersteun en hulle bygestaan in verdediging teen kommunistiese bedreigings. Dinge het egter om en by die einde van die 20ste eeu begin verander. Die val van die Berlynse Muur in 1989 het die Sowjetbedreiging uit Europa verwyder, die behoefte vir Amerikaanse beskerming uitgeskakel en die weg vir die Europese Unie gebaan. Die aanval van 11 September 2001 op die VSA het 'n wêreldwye “oorlog teen terrorisme” sowel as die inval van Afganistan en Irak teweeggebring. Die Amerikaans-geleide inval van Irak het Europa aanvanklik verdeel, maar 'n bondgenootskap tussen Duitsland, Frankryk en Rusland tot gevolg gehad wat die Frans-Duitse “Europese kern” weer versterk het (Super State, Haseler, bl. ix, 2).

Na aanleiding van hierdie dramatiese gebeure, het die uitoefening van Amerikaanse mag in die wêreld 'n hoogs omstrede aangeleentheid geword, met meningsopnames wat toon dat Europeërs “nie meer vertroue in die Amerikaanse leierskap het nie” “en toenemend vrees vir 'n veramerikaanse toekomstige wêreldorde “ontwerp deur denkers in Washington” (Haseler, bl. x). Eintlik het die opposisie teen die Amerikaans-geleide oorlog teen Irak “Europeërs verenig in 'n gemene saak” om 'n nuwe Europese supermoondheid te bou wat “die potensiaal het om die Amerikaanse mag in die wêreld uit te kanselleer en in toom te hou” (ibid., bl.3, x). Frankryk het “die oproep vir 'n mededingende Europese supermoondheid om Washington te konfronteer, gelei (London daily Telegraph, 5 November 2004). Dr. Stephen Haseler, 'n professor van regering in Lon-den, maak die opmerking dat hierdie opkomende Europese supermoondheid in alle erns mededingend sal word met die VSA” en idees van Amerikaanse heerskappy sal uitdaag namate dit 'n mededingende mag word wie se belange sal bots met die belange en aktiwiteite van die VSA (ibid., bl. 6). Hy stel dit ook dat “gebeure self sal help om Europese eenheid te smee en te help om aarselende Europeërs saam te dryf” (ibid., bl. 3). Die Bybel onthul dat God ingryp om wêreldgebeure te rig (sien Daniël 2:20-21; 4:17).

Emmanuel Todd, 'n Franse politieke teoretikus en demograaf, het 'n gelyksoortige opmerking gemaak, dat “die onbestendige militaristiese gedrag van die Verenigde State... [en] Amerika se dreigende eensydige gedrag, integrasie van Europa bespoedig het en die Russiese toenadering onherroeplik vorentoe verskuif het. Hul gekombineerde vermoëns—die ekonomiese krag van Europa en Rusland se strategiese kern afskrikmag—sal voldoende wees om toekomstige Amerikaanse skietlustige oproerigheid in toom te hou” (After the Empire, Todd, bl. xx, xxiii). Todd beskryf dat Europeërs en ander mense in vandag se wêreld die stadium bereik het waar hulle Amerika as 'n groot bydraende oorsaak vir wanorde regdeur die wêreld beskou ... 'n struikelblok vir wêreldvrede en 'n rusiemaker in plaas van 'n vredemaker” (ibid., bl. xvii, 21, 169). Hy verduidelik dat Amerika se militêre avonturisme, sy bevordering van ongereguleerde kapitalisme (wat die samehang en stabiliteit van Europa se meer gesosialiseerde ekonomiese stelsel bedreig) en “sy nuwe onverdraagsaamheid met die res van die wêreld besig is om” Amerika se eertydse bondgenote in Europa te vervreem” en kan lei tot die “aktivering en opstand van die ver-regses” (ibid., bl. 180-181).

Todd merk ook op dat “diepsinnige magte aan die werk is wat verwant is aan die spanning wat 'n skeiding voorafgaan en dat hierdie spanning 'n skeiding gaan afdwing” tussen Amerika en Europa (ibid., bl.171, 175). Todd sê dat Amerika nooit na die Tweede Wêreldoorlog kon droom hoe 'n versoening tussen voormalige vyande (bv. Frankryk en Duitsland) “sou lei tot die geboorte van 'n mededingend strategiese entiteit nie. Hierdie progressiewe skuif van simpatie en aanmoediging tot verdenking en dan bitterheid en uiteindelik teenstand, is verstaanbaar” (ibid., bl.172). Soos Todd dit stel, “al die bestanddele is daar vir 'n hewige konflik tussen Europa en die Verenigde State in die nabye toekoms” (ibid., bl. 186).

God het lank gelede al geprofeteer dat, sou Sy verkore volk besluit om Sy wette te vergeet en teen Sy opdragte in opstand te kom, die bondgenote (“minnaars”) van die Israelitiese nasies hul mededingers en woedende teenstanders sou word. Hierdie profesieë, wat duisende jare gelede in die Bybel aangeteken is, is besig om vandag gestalte te kry, iets wat ons waarsku dat die einde van hierdie era en die Wederkoms van Jesus Christus baie naby is!