As Hoofredakteur van hierdie tydskrif het ek ’n Godgegewe verantwoordelikheid om werklik al ons intekenare te dien. Op hierdie oomblik is spanning in baie nasies na aan kookpunt! Miljoene mense in Amerika is werklik ontsteld oor die verkiesing van Donald Trump – dit was ’n skok vir die media elite, wat glad nie voorsien het dat dit sou gebeur nie. Bykomende miljoene mense is ontsteld en diep bekommerd oor die “Brexit” stem wat aandui dat Brittanje sonder twyfel uit die Europese Unie sal onttrek. Dit sal ’n groot omwenteling in hierdie Europese projek tot gevolg hê. China en Rusland is deur die onlangse gebeure geraak en spanning is oor die hele wêreld aan die toeneem! Namate ons in hierdie Werk van die grote God voortgaan om die volle waarheid oor wie ons is te verkondig asook van wat werklik voorlê, sal miljoene mense erg aanstoot neem en dit sal tot die vervolging van God se ware volgelinge lei, net soos Jesus Christus profeteer het.

Sal u gereed wees? Sal u die geloof en moed openbaar wat u beslis in die jare wat voorlê nodig sal hê? Sal u geestelik sterk genoeg wees om te “volhard tot die einde” toe?

Geen lafaards in God se Koninkryk nie!

Na aan die einde van die Bybel gee God ’n paar belangrike “aanduidings” van watter soort mense Hy in Sy ewige Koninkryk as toekomstige “konings en priesters” wil hê om in die komende Koninkryk van God in hierdie wêreld onder Jesus Christus te heers. God se Woord sê: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8). Let daarop dat almal van ons “oorwinnaars” behoort te wees. Let veral daarop dat die eerste eienskap wat God noem ons uit die ewige lewe sal hou, is “lafhartigheid”!

Wat!

Elkeen van ons moet ’n sterk en blywende geloof ontwikkel dat die Almagtige God werklik is en dat Hy ons “nooit [sal] begewe en nooit [sal] verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Daarna moet elkeen van ons gewillig wees om dit deur te voer en aan ons Skepper gehoorsaam te wees, selfs wanneer dit “gewaagd” lyk om dit te doen. Almal van ons onthou die stories van Daniël in die leeukuil, die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednégo in die vuuroond asook die voorbeeld van die Apostels wat gedreig is oor die verkondiging van die waarheid. Soos hulle die Joodse leiers wat hulle gedreig het geantwoord het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29).

Deur die bladsye van hierdie tydskrif, die Tomorrow’s World TV-programme, ons verskeidenheid boekies en die uitstekende Wêreld van Môre Bybelstudiekursus, hoop ons om u te help om deeglik te bewys dat God werklik is en dat Hy u nooit sal begewe of verlaat nie. Elkeen van u behoort uself nou te begin afvra of u werklik gewillig is om die beproewinge en toetse wat voorlê te trotseer, soos nasies wat uitmekaar spat, etniese oorloë, oproer oor voedsel en ander rampe begin om ons nasies uitmekaar te skeur.

Geloof wat tot gehoorsaamheid lei

Een van die dapperste manne wat in die bladsye van die Bybel genoem word, is koning Dawid van antieke Israel. Dawid wys herhaaldelik In sy geskrifte in die Psalms die noodsaaklikheid uit van absolute geloof in die grote God wat ons lewens in ’n rigting stuur en beskerm – wie uiteindelik in beheer van wêreldsake is. Let op na die konstante klem in Psalms om u geloof of “vertroue” in die Almagtige God te plaas. In Psalm 5:12 is Dawid geïnspireer om ons mee te deel: “Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle ...” In Psalm 7:2 skryf hy: “Here, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my; ...” In Psalm 9:11 sê hy: “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou. omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!” Dwarsdeur hierdie en talle bykomende verse wat God deur Dawid geïnspireer het, bevestig ons Skepper hoe belangrik dit vir Hom is dat ons sal leer om ware vertroue en geloof in Hom te hê. Wanneer u van hierdie geloof regdeur die Bybel lees, is dit dié geloof wat tot gehoorsaamheid lei en die gewilligheid om te doen wat God sê, maak nie saak wat nie!

Ons behoort dikwels die pragtige weergawe te lees en te herlees, van die uiteindelike “toets” wat God aan die “vader van die gelowiges”, die aartsvader Abraham gestel het. Die Almagtige God het ná Abraham se gewilligheid om sy enigste seun aan Hom te offer, gesê: “... want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie” (Génesis 22:12). Later sê God: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (vers 18). Weereens sien ons dat absolute geloof wat tot gehoorsaamheid lei ’n belangrike element is in die tipe karakter wat God begeer elkeen van ons sal hê wanneer ons die “vader van die gelowiges”, Abraham, sal volg en die ewige lewe gegee word in die Koninkryk van God.

Die enigste manier om daardie moed te ontwikkel

Onthou asseblief! God sal nie enige siel “red” waaroor Hy nie heers nie. U moet gewillig wees om te doen wat God sê en die geloof en moed hê om Hom te gehoorsaam in die gevaarlike tye wat binnekort voorlê, maak nie saak wat gebeur nie. Die enigste manier om daardie geloof en moed te ontwikkel is deur opreg te “soek na God” en om ’n innige verhouding met Hom deur Sy Seun, Jesus Christus te hê. Christus moet letterlik Sy lewe deur die Heilige Gees in u leef! Soos die apostel Paulus geïnspireer was om te skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galásiërs 2:20).

Indien u die Bybel werklik bestudeer, die kragtige boekies wat ons absoluut gratis aan u stuur noukeurig lees en bestudeer om dit aan uself te bewys en só leer om “met God te wandel”, dan – en slegs dan – sal die ewige lewe in God se Koninkryk u beskore wees! God se Koninkryk is nie ’n “gevoel in u hart” nie. Dit is ’n werklike regering onder Jesus Christus wat op hierdie aarde binne die volgende klompie jare gevestig gaan word. Al hierdie gebeure wat in u Bybel geprofeteer is gaan u persoonlike lewe kragtig beïnvloed.

Die Almagtige God wil nie ’n klomp geestelike “sissies” in Sy toekomstige Regering hê wat nie hulle volle vertroue in Hom sal stel en nie gehoorsaam sal wees aan Sy Seun, Jesus Christus, wat binnekort as Koning van die konings gaan terugkeer nie. Dit is waarom God sê: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:8).

Geagte Intekenare, neem asseblief nie hierdie dinge ligtelik op nie! Na aan die einde van Sy geïnspireerde Woord, sê God aan u en my dat ons werklik dié soort lewende geloof moet ontwikkel wat ons sal voorberei om te doen wat God sê en om ons Skepper te gehoorsaam, selfs wanneer heerlikheid en mag en majesteit aan ons ver bo ons verwagting in die Koninkryk van God gegee sal word. Dit is dus ’n duisend maal oor en oor “die moeite werd”. Dit is iets waarin ek en u diep betrokke behoort te wees!

Kry dus u Bybel en bestudeer hierdie openbaring van God op u knieë! Bid elke dag van u lewe vuriglik en gereeld tot God. Mediteer oor Sy Woord en dink diep ná oor waarom u hier is, waarheen u op pad is en hoe om daar uit te kom. Niks is belangriker indien u vir ewig wil lewe nie.