VRAAG: Jesus het gesê: “Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?” (Markus 7:18-19). Beteken dit dat Christene enigiets kan eet wat hulle wil?

ANTWOORD: Mense gebruik soms Markus 7:18-19 as regverdiging om voedsel wat hulle verlang te eet wat deur die Bybel “onrein” genoem word. Dit is egter belangrik om hierdie vers in konteks te verstaan om waarlik te begryp wat Christus die mense geleer het.

Let op na die verse wat net daarna volg: “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein” (verse 20-23).

Dit is duidelik dat Jesus klem gelê het op die belangrikheid van goddelike optrede. Hy het egter ook na voedsel verwys. Let op die parallelle weergawe van hierdie opdrag in Matthéüs 15. Hier verduidelik Christus – in die konteks van die handewas rituele, nie van dieet vereistes nie – “Elke plant wat My hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word” (Matthéüs 15:13). Dit was ’n les oor goddelike optrede – nie oor wat op ons middagete se spyskaart behoort te wees nie!

Indien hierdie ’n letterlike opdrag oor dieet was, behoort ons onsself af te vra: “Kan Christene vandag arseen en ander gifstowwe eet, maar verwag om nie daardeur aangetas te word nie?” Natuurlik nie! Die gedeelte sê dat alle voedsel deur ’n mens gaan. Dit sê egter nie dat onrein vleis as “voedsel” beskou word nie – Christus het nie aan ons gesê dat ons arseen kan eet nie en ook nie om die vleis van diere te eet wat die Skrif duidelik in Levítikus 11 as “onrein” bestempel nie.

Die apostel Petrus het hierdie begrip in Handelinge 10 bekragtig. God het aan Petrus ’n visioen van ’n laken wat uit die hemel neerdaal gegee. Op hierdie laken was sommige van die diere wat hy as “onrein” beskou het. In die visioen het ’n stem aan Petrus gesê om die diere te slag en te eet maar Petrus het geweier en God het weer met hom gepraat en gesê: “En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie” (Handelinge 10:15).

Het Petrus dit verstaan as ’n herroeping van die wet op rein en onrein vleis? Beslis nie! Petrus het self die les van die visioen verduidelik en gesê: “God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (vers 28). God het die visioen aan Petrus gegee om aan te toon dat hy vir Jode sowel as heidene behoort te preek en op dieselfde wyse saam geselskap te hou. Daar is nêrens in die Bybel aangeteken dat Petrus onrein voedsel geëet het voor of na hierdie visioen nie!

’n Eindtydse profesie in die boek Jesaja toon dat wanneer Christus terugkeer, Hy oordeel sal vel oor diegene wat volhou om onrein diere te eet, met inbegrip van die mense wat “varkvleis eet” (Jesaja 66:17). Indien Christus mense werklik veroorloof om varkvleis te eet, sal hierdie profesie nie sin maak nie, tensy ons aanvaar dat Christus beplan om mense te straf omdat hulle Hom gehoorsaam!

Die Bybelse wette met betrekking tot rein en onrein vleis, is nie slegs ’n manier waarop God Sy volk afsonder nie. Dit is wette wat die fisiese gesondheid van diegene beskerm wat dit gehoorsaam. Soos Eerdman’s Handbook of the Bible ons herinner: “Hierdie lyste [van rein en onrein diere] het ’n betekenis wat dikwels geїgnoreer word. In plaas daarvan om vol fiemies en voorkeure te wees, beklemtoon hierdie lys ’n feit wat nie ontdek is tot laat in die vorige eeu nie ... dat diere siektes dra wat gevaarlik vir die mens is” (bl. 176). Diegene wat God se Wet nou gehoorsaam, kan die seëninge ervaar wat Hy Hom voorgeneem het vir Sy skepping.

Om meer te leer van die Bybel se wette van rein en onrein vleis en hoe dit u fisies en geestelik kan help, skryf asseblief aan die Streekkantoor naaste aan u (sien die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) en vra u gratis eksemplaar van ons artikel aan, “Wil u dít werklik eet?” Deur God se dieetriglyne te volg, mag u gesondheid en u lewe, verander!