Faraday was ’n wetenskaplike wie se ontdekkings voortgaan om ons lewens elke dag te beïnvloed. Sy lewe bied ons meer as wat baie mense besef.

Op 25 Augustus 1867 het Michael Faraday, FRS Fellow of the Royal Society op die ouderdom van 75 jaar gesterf. Hy het die ontdekkings wat hy aan die wetenskaplike gemeenskap en die wêreld bemaak het – die vrug van sy briljantheid en toewyding – in sy helder voetspore nagelaat.

Wie was Michael Faraday en wat was sy bydrae tot die ryk nalatenskap aan die Britse wetenskaplike prestasies? Deur sy lewe en die keuses wat hy gemaak het te ondersoek, kan ons belangrike persoonlike eienskappe ontdek wat sy wetenskaplike pogings oortref – karaktereienskappe waaruit ons almal kan leer en voordeel trek.

Die beginjare

Michael Faraday is in 1791 in Newington, Surrey, Londen, Engeland gebore. Die gesin was nie welaf nie; sy vader was ’n grofsmid en sy moeder ’n huisbediende vir die grootste deel van haar lewe. Die gesin het soos baie ander gesinne met twee kinders in armoedige en nederige omstandighede gesukkel.

Faraday se vroeë onderrig was minimaal. Op 13-jarige ouderdom het hy vir ’n plaaslike boekwinkel begin aflewerings doen ten einde te help om in die gesin se behoeftes te voorsien. Met verloop van tyd het hy die eienaar beïndruk en is tot die amp van ’n leerlingboekbinder bevorder.

Eerder as om sy vrye tyd te verkwis, het hy ernstig begin om die boeke rondom hom te lees en is hy uiteindelik deur wetenskaplike boeke aangetrek. Sy nuuskierigheid is geprikkel deur die Encyclopædia Britannica as ’n hulpmiddel tot die verkryging van elektriese kennis, asook Conversations on Chemistry, ’n chemiese handboek vir nie-tegnies aangelegde persone.

Met finansiële hulp wat deur ’n kliënt van die boekwinkel aangebied is, was Faraday in staat om sy onderrig voort te sit. Hy het ’n lesing deur een van die wêreld se voorste wetenskaplikes, Sir Humphry Davy, bygewoon. Davy het klas gegee en eksperimente in die nuwe veld van elektrochemie aan die Royal Institution (RI) in Mayfair, Londen uitgevoer. Die vier lesings wat Faraday bygewoon het, het hom diep geraak. Ter waardering het hy ’n 300-bladsy boek met die hand geskryf, dit gebind en aan Davy oorhandig. Volgens Faraday: “Die antwoord was onmiddellik, goedhartig en gunstig” (Encyclopædia Britannica, 11de Uitg., bl. 173). Na ’n laboratoriumongeluk waarna Davy vir ’n tyd lank nie kon skryf nie, het Faraday vir hom notas geneem. Kort daarna is die jong man ’n werk as chemiese assistent aangebied.

’n Loopbaan word ontwikkel

Teen die ouderdom van 21 het Faraday met ’n nuwe loopbaan by die Royal Institution begin deur saam met Davy te werk. Faraday het hard gewerk en met die skryf van Davy se akademiese referate gehelp. As gevolg van Faraday se nederige herkoms en lae stand in die maatskaplike struktuur van daardie tyd, is weinig van sy vroeë pogings aan hom toegeskryf. ’n Deurbraak is gemaak nadat Faraday eervolle erkenning in een van Davy se referate ontvang het: “Dank verskuldig aan mnr. Michael Faraday vir besondere hulpvaardige bystand”.

In die jaar 1816, op ouderdom 24, het Faraday sy eerste verhandeling in die Kwartaalblad van Wetenskap gepubliseer. Op 29-jarige ouderdom is hy bevorder tot “Superintendent van Huis en Laboratorium” van die RI. In 1833 op die ouderdom van 41 jaar, het hy die Fullerian Professor of Chemistry geword, ’n posisie wat sy rol gedefinieer het.

Faraday se nalatenskap

Michael Faraday se ontdekkings was talryk. Sy ontdekking van elektromagnetiese rotasie (die vroegste voorloper van die elektriese motor) in 1821 was ’n groot deurbraak. Dit was egter tien jaar later in 1831, tydens pogings om ’n elektriese stroom te genereer deur van magnete gebruik te maak, dat hy aan ’n vriend geskryf het: “Ek is nou net weer met elektromagnetisme besig en dink ek het ’n goeie ding beet, maar kan nie sê nie. Dit mag onkruid in plaas van ’n vis wees wat ek uiteindelik na al my moeite mag uittrek”. Gelukkig sou tyd bewys dat sy pogings glad nie doelloos was nie!

Deur sy denke intens op ’n enkele poging te fokus, het Faraday ’n nuwe gedagte in minder as drie maande tot volwassenheid gebring: Hy het ’n elektriese stroom met behulp van kinetiese energie (rotasie) opgewek wat tot die skepping van die elektriese kragopwekker gelei het – andersins bekend as die dinamo! “Feitlik alle elektriese krag word opgewek deur Faraday se beginsels te gebruik; dit maak nie saak of die primêre bron van energie steenkool, olie, gas, kernkrag, hidro of wind is nie” (“Michael Faraday’s generator”, rigb.org). Dit is hoe ons huise selfs vandag nog van krag voorsien word.

In 1845 ontdek Faraday die diamagnetisme verskynsel wat in werklikheid die skepping van ’n tydelike magneet is wat deur ’n eksterne magnetiese veld veroorsaak word. Terwyl hierdie ontdekking nie dadelik erkenning ontvang het nie, het dit sedertdien tot voordeel van die hele wêreld gestrek.

Faraday se loopbaan by die RI het oor sowat 54 jaar gestrek. Na ’n leeftyd van toegewyde en gespesialiseerde navorsing en voordelige ontdekkings, is sy nalatenskap verseker. Onder ander toekennings is die eenheid vir die meet van elektriese kapasitansie – die farad – na hom vernoem. Dit is bekend dat Albert Einstein foto’s van drie wetenskaplikes in sy kantoor gehou het – een daarvan was van Michael Faraday. In 1973 is die Faraday Museum wat in die Royal Institution geleë is, ter ere van hom ingewy.

Sy grootste prestasie moontlik – iets wat bly bestaan wat elkeen van ons kan ontdek – lê in die tipe karakter wat hy hom ten doel gestel het om te ontwikkel en waaraan hy net so hard as aan sy wetenskap gewerk het.

Nederige begin, nederige einde

“Sy briewe en gesprekke was altyd vol van wat ookal ’n gesonde belangstelling kon aanwakker en vry van enige iets wat slegte gevoelens kon aanblaas. Wanneer hy tydens seldsame geleenthede buite die gebied van wetenskap in dié van omstredenheid gedwing was, het hy die feite gestel en toegelaat dat hulle hulle eie gevolgtrekkings maak. Hy was sonder trots en oordrewe selfhandhawing” (The Scientific Papers of James Clerk Maxwell, bl. 792). Die Encyclopædia Britannica berig dat Faraday teregwysing gewillig aanvaar het en in sy gevorderde leeftyd met genoeë dinge laat vaar het wat buite sy eertydse vermoë was om te doen.

Te dikwels is ’n ondergewaardeerde eienskap in die samelewing dié van nederigheid. Het u ’n hoë opinie van uself? Worstel u met eiewaan? Faraday was opreg in sy Bybelse oortuigings. Hy het sonder twyfel die Bybelse vermaning gelees wat sê: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6). Voordele vergesel nederigheid, ’n magnetisme waarvan Faraday heel moontlik bewus was.

Ten spyte van moderne ateïstiese bewerings tot die teendeel, kan dié mense wat in God glo wel uitstekende wetenskaplikes uitmaak. Talle mense vertoon ongewone vlakke van nederigheid – moontlik as gevolg van die beskeie aard van hulle ontdekkings.

Getrou aan homself, het hierdie man van nederige afkoms ’n aanbod van die hand gewys om saam met Brittanje se konings, koninginne en beroemde wetenskaplikes, soos Sir Isaac Newton, Charles Darwin en ander in die “nasionale mausoleum” van Westminster Abdy begrawe te word. Dit sou een van die hoogste eerbetonings aan ’n man van sy invloed en aansien wees.

In plaas daarvan het Michael Faraday verkies om met ’n nederige begrafnis in Londen se Highgate Begraafplaas langs Sarah, sy vrou van 46 jaar, begrawe te word. Die wêreld het baie van Michael Faraday se wetenskaplike pogings en ontdekkings geleer en terwyl niemand sonder foute en tekortkominge is nie, kan ons selfs ’n waardevoller les leer uit sy nederige benadering tydens ’n lewe van merkwaardige prestasies.