Dit kom voor asof niemand – geen politikus, geen diplomaat, geen geleerde – werklik die oorsprong van die probleme in die Midde-Ooste verstaan nie! Waarom is daar sulke aanhoudende geweld? Waarom is daar soveel haat tussen die Palestyne en die Jode?

Dit is slegs in die lig van God se Woord dat ons kan verstaan! Daar is nêrens waar u ’n ware en vollediger verduideliking kan vind van wat in die Midde-Ooste aangaan nie. Ons kan dit slegs verstaan vanuit die bladsye van die Bybel.

 

’n Geheimsinnige verwysing

Israel se Eerste Minister premier, Benjamin Netanyahu, het dalk per toeval ’n wenk gegee van die waarheid wat betref die konflik, in ’n brief wat hy in November 2023 aan sy nasie se verdedigingsmagte geskryf het, ná die gruweldade van 7 Oktober 2023. Hy het geskryf: “Die huidige stryd teen die moordenaars van Hamas is nog ’n hoofstuk in die geslagtelange verhaal van ons nasionale herstellingsvermoë. ‘Onthou wat Ámalek aan julle gedoen het’”.

Deur Deuteronómium 25:17 aan te haal – “Dink aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,” – het Netanyahu ’n ontembare vuurstorm van twis ontketen. Sommige mense het dit as ’n oproep tot volksmoord gesien, terwyl ander mense beweer het dat hy die steun van godsdienstige konserwatiewes gesoek het om genoeg stemme te behou om aan bewind te bly. (Sien mnr. Peter Nathan se artikel, “Jerusalem: Die pad vorentoe” in die November-Desember 2024-uitgawe).

Min mense – waarskynlik nie eers die eerste minister self, verstaan werklik die diepgaande verband tussen daardie aanhaling en die werklike oorsaak van die huidige probleme in die Midde-Ooste nie!

Baie mense is geneig om alle konflik in die Midde-Ooste te sien as konflik tussen Isak en Ismael, wat Abraham se eersgebore seuns deur Sara en Hagar was. Ondanks die vyandigheid tussen die nageslagte van hierdie broers, beklemtoon die Bybel dit nie in besonder nie. Ja, soos Psalm 83 openbaar, is Ismaeliete samesweerders teen Israel in die eindtyd – soos wat die Wêreld van Môre al baie keer genoem het. Die huidige konflik is egter nie hoofsaaklik tussen hierdie twee broers nie!

My Vriende, ons moet nóg dieper in God se Woord vir die waarheid delf. Ons kan met Netanyahu se stelling begin deur te vra: Wie is Ámalek?

 

Wie is Ámalek?

Ons begin verstaan deur van Ámalek in Exodus 17 te lees. Israel het pas die Rooi See oorgesteek en toe “het Ámalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg” (vers 8). Hierdie aanval staan in die Bybel se geskrifte uit as buitengewoon aanstootlik vir God. Die Ewige was só kwaad deur die optrede van die Amalekiete dat Hy in geen onsekere terme verklaar: “Waarlik, die hand op die troon van die Here! Oorlog het die Here teen Ámalek van geslag tot geslag” (vers 16).

Trouens, die meeste vertalings van Exodus 17:16 slaag nie daarin om die intensiteit van God se aanstoot te openbaar nie. Die bekende Bybelgeleerde Adam Clarke, wat dit raaksien, gee nog ’n moontlike vertaling vir hierdie vers: “Omdat die hand van Ámalek teen die troon van God is, daarom sal ek van geslag tot geslag oorlog voer met Ámalek”.

God sê dat Ámalek se hand teen Sy eie troon opgehef was!

Waarom was hierdie aanval só ernstig in God se oë? Baie ander volke buiten die Amalekiete het Israel aangeval – selfs tydens die verowering van die Heilige Land. Waarom het God Ámalek se optrede in so ’n ernstige lig beskou?

Kom ons lees meer besonderhede in Deuteronómium 25: “Dink aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was hy God nie gevrees het nie” (verse 17-18).

Hou in gedagte dat hierdie ’n beskrywing is van ’n terroriste-aanval. Wat is die drie kenmerke van terroriste-aanvalle? Hulle val van agteraf aan, hulle val weerlose burgerlikes aan en hulle kom nie van aangesig tot aangesig met die weermag nie.

Dit is presies wat ons op 7 Oktober 2023 gesien het. Hamas het van agter aangeval, hulle het nie voor die weermag te staan gekom nie en hulle het weerlose burgerlikes aangeval. Hulle het die swakkes en hulpeloses aangeval, net om om te draai en weg te kruip agter hulle eie vroue en kinders in Gasa-tonnels. Dít is hoe Hamas te werk gaan!

Die Amalekiete het in sy terroriste-aanval teen antieke Israel vir God baie aanstoot gegee – wat ooreenstem met die terrorisme van Hamas!

Ons kan dus sien waarom Netanyahu se brief ’n mens aan die terrorisme van Ámalek sou herinner. Die werklike verband tussen Ámalek en die huidige probleme is egter baie dieper gesetel!

 

’n Geboortereg wat verag is

Ons lees in Génesis 36 dat Ámalek die kleinseun van die antieke aartsvader Esau was wie gebore is vir Esau se eersgebore seun Élifas (verse 9-12). Waarom is dit belangrik?

Esau was die tweelingbroer van Jakob, wie uiteindelik die vader sou wees van die twaalf stamme van Israel – met inbegrip van die Jode van Juda en die land sou beërf wat aan Abraham en Isak beloof is. Selfs in hulle moeder se skoot het Esau en Jakob teen mekaar gestoot (Génesis 25:21-23)! God het selfs vóór hulle geboorte aangedui dat hierdie tweeling die stamvaders van twee volke sou wees wat deur die eeue teen mekaar sou veg, soos ons sal sien.

As die eersgeborene van die twee (Génesis 25:25), het Esau oorspronklik die eersgeboortereg gehad – met inbegrip van die reg om die Heilige Land te besit wat God aan Abraham en Isak beloof het. Daardie land sou Esau s’n wees en sou aan sy nageslag oorgedra gewees het – met inbegrip van Ámalek.

Hoe het dit gebeur dat Jakob en die volk van Israel die land geërf het, in plaas van Esau en sy nageslag?

Nadat Esau teruggekeer het huis toe na ’n jagtog het hy gevind dat sy broer Jakob besig was om ’n rooi lensiebredie voor te berei. Esau was moeg en honger en het sy broer gevra om die bredie met hom te deel. Jakob het ingestem om vir hom daarvan te gee – maar slegs op voorwaarde dat Esau sou sweer om die eersgeboortereg aan hom oor te dra (Génesis 25:29-33). Sonder om daaroor na te dink het Esau dit toe gedoen: “Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” (Génesis 25:33-34).

Esau het sy eersgeboortereg prysgegee en dus het hy afstand gedoen van die reg om die Heilige Land te erf, wat toe in plaas daarvan na Jakob se nageslag sou gaan. Deur daardie eersgeboortereg prys te gee – om dit te verag, sê die Bybel – het Esau ’n ernstige swakheid van karakter geopenbaar. Hy het sy primitiewe basiese instinkte in sy besluitneming laat seëvier (Hebreërs 12:16).

Die gevolge van sy besluit was vir ewig, soos Psalm 105 verklaar: “Hy, die Here, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte – die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel” (vers 7-11).

Die eersgeboortereg, met inbegrip van die Heilige Land, is dus vir ewig aan die seuns van Jakob gegee. God het Jakob se naam verander na “Israel”, wat “Oorwinnaar met God” beteken (Génesis 32:28), terwyl Esau van toe af “Edom” genoem is, wat “rooi” in Hebreeus beteken, omdat hy sy eersgeboortereg verkoop het vir ’n bak rooi bredie (Génesis 25:30; 36:8).

Esau het voortgegaan om met vroue uit die Hetiete, Kanaäniete en Ismaeliete te trou en ’n volk gevestig wat as Edomiete bekend sou word, wat aanvanklik in die streek gewoon het wat Edom of Iduméa, suid van die Beloofde Land, genoem is.

 

Die Edomiete se “voortdurende haat”

Terwyl Esau en Jakob wel later in hulle lewens versoen geraak het (Génesis 33), maak die Bybel melding van ’n ewige haat en wrok wat voortgeduur het tussen hulle nageslagte, namate die Edomiete voortdurend gehunker het na die geërfde land wat hulle voorvader verkwansel het vir ’n bak lensies.

Nebukadnésar van Babilon het Juda verower en die tempel vernietig. Daarna het die Edomiete van die suide hulle saam met die Babiloniërs geskaar. Psalm 137:7 dui aan dat die Edomiete oor die vernietiging van Jerusalem gejuig en gesê het: “Here, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” Obadja teken God se veroordeling van Edom aan “Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg” (vers 10) en let daarop dat die Edomiete by die Babiloniërs aangesluit het in die vernietiging van Jerusalem en selfs die vlugtelinge wat ontsnap het doodgemaak het.

Die profeet Eségiël skryf oor die Edomiete se afgunstige begeerte om die land te besit: “Omdat jy sê: Die twee nasies (die land wat deur die noordelike en suidelike stamme van Israel beset was) daar en die twee lande sal myne wees, en ons sal dit in besit neem – terwyl tog die Here daar gewees het – daarom, sowaar as Ek leef, spreek die Here Here, Ek sal handel volgens jou toorn en jou naywer waarmee jy uit jou haat teen hulle gehandel het; en Ek sal onder hulle bekend word as Ek jou oordeel” (Eségiël 35:10-11).

God se Woord is duidelik: Selfs ná duisende jare verlang Esau se nageslag steeds daarna om die land te “besit” en vir hulleself te sê dat dit “myne sal wees”, wat daartoe lei dat hulle in “afguns”, “woede” en “haat” optree.

God het vir Amos geïnspireer om aan te teken: “Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy sy broer [Jakob, Israel] met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou” (Amos 1:11). Weereens sien ons dat die woede van Esau se nageslag oor die verlore erfenis ’n ewigdurende gramskap is en dat Edom “gedurigdeur sy grimmigheid behou.”

Daardie hatige gesindheid teenoor Israel en daardie eeue-lange hunkering na die verlore erfenis wat die Edomiete kenmerk – kan gesien word in die terroriste-aanval van die Amalekiete. In hulle gewelddadige begeerte om die beloofde land vir hulleself in besit te neem – wat hulle voorvader vir ’n bak sop verkoop het – veg hulle in werklikheid teen wat God vasgestel het. Soos wat Exodus 17 sê, deur dit te doen, hef hulle hulle hand op teen die troon van die Almagtige God, Self!

Wie is Ámalek dan? Ámalek is ’n besonder gewelddadige afstammeling van die Edomiete – wat van Esau afstam – wat steeds aanspraak maak op die verlore erfenis as hulle eie en teen wie God oorlog verklaar het “van geslag tot geslag”!

 

Wie is die Palestyne?

My vriende, laat ons nou terugkeer na die hede en vra, Wie is die Palestyne?

Ons kan sekerlik ooreenkomste tussen deesdae se Palestyne en die Edomiete van die Bybel sien – ten minste in hulle gesindheid. Die krete van “Van die rivier tot by die see!” weerspieël die sentiment van Esau en Edom, naamlik jaloesie om ’n land te besit wat God nié aan hulle gegee het nie, maar aan die nageslag van Israel. Die gruwelike en lafhartige terroristiese aanval van 7 Oktober weerspieël duidelik die antieke terrorisme van ouds van Ámalek. Indien ons die beginsel wat Jesus onderrig het gebruik en probeer om “hulle aan hul vrugte [te] ken” (Matthéüs 7:20), behoort die identiteit van die Palestyne in die Bybel duidelik te wees!

Is dit moontlik dat die hedendaagse Palestyne inderdaad van die afstammelinge van Esau is? Is hulle hedendaagse Edomiete?

Moenie deur die woorde “Palestyn” of “Palestina” verwar word nie. Vroeg in die tweede eeu n.C., met die onderdrukking van die Tweede Joodse Opstand, het Rome probeer om die naam van Israel uit die land uit te roei (vergelyk Psalm 83:5). Die land is herdoop na “Palestina” na die antieke Filistyne, wat die klein gebied aan die suidelike Mediterreense kus beset het. Daardie naam weerspieël nie die identiteit van die land Israel nie en ook nie dié van die mense wat vandag daar woon nie!

Die Romeinse geskiedskrywer Dio Cassius, wat in die vroeë deel van die derde eeu n.C. geskryf het, het in sy verslag oor die tweede Joodse opstand geskryf dat die Romeine 985 van die Joodse stede met die grond gelyk gemaak het en dat “byna die hele Judea verlate agtergelaat is”. (Roman History, 69.14, vertaal deur E. Cary). Gedurende die byna 19 eeue wat gevolg het, was die Jode nie ’n meerderheid in hulle eie land nie. Wat het dus gedurende hierdie tyd plaasgevind?

Soos die geval was toe Babilon vir Juda vernietig het, het die Edomiete in die suide hulle geleentheid raakgesien! Geleidelik – gedruk deur die Arabiese Nabateaanse stamme in die ooste, het die Edomiete – wat toe Idumeërs genoem was – die verlate land van Israel binnegegaan en God se Woord teen hulle in Eségiël 35:12 weerspieël: “En jy sal weet dat Ek, die Here, al jou lasterlike woorde gehoor het wat jy teen die berge van Israel gespreek het deur te sê: Hulle lê woes; hulle is aan ons gegee tot spys.

Terwyl baie Edomiete nou die nasie uitmaak wat as Turkye bekend staan, is daar duidelike bewyse dat baie van hulle in die Heilige Land voortbestaan as die Palestynse volke en steeds daarop aandring dat die land wat God aan Israel gegee het, hulle eie is.

Die antieke Amalekiete het God in so ’n mate aanstoot gegee dat Hy verklaar het: “Oorlog het die Here teen Ámalek van geslag tot geslag.” Hamas se afskuwelike optrede demonstreer dat hierdie gesindhede in hulle hedendaagse afstammelinge voortduur – net soos God se ewigdurende oorlogvoering teen hulle!

Vandag se konflik in Gaza is slegs die nuutste rondte van ’n konflik – tussen die broers Jakob en Esau – wat reeds vir eeue voortduur en wat tot die einde van hierdie era sal voortduur. Inderdaad, Netanyahu se vermelding van Ámalek in die konteks van hierdie onlangse probleme het baie meer betekenis gehad as wat hy waarskynlik self verstaan het.

 

Wat van Iran?

Hierdie verbintenisse gaan nog verder! Dink oor die rol van Iran, die hoofverskaffer van wapens aan Hamas en aan Hezbollah in Libanon. Die poging om die naam van Israel van die aarde af te laat verdwyn, word grootliks deur Iran gefinansier. Wat openbaar die Bybel oor daardie nasie se rol?

Die volke van die Midde-Ooste is deesdae ’n vermenging van baie antieke families. Soms is die familie-stamboom duidelik en genasionaliseer en ander kere is dit nie die geval nie. Ondertrouery en migrasie – gedwonge sowel as vrywillig – en ander omstandighede, het mense laat rondtrek en vermeng op wyses wat dit moeilik maak om hulle te identifiseer sonder die Bybel se hulp. Kenmerke wat in God se Woord beskryf word, openbaar hulleself weereens in die vrugte van die mense en hulle leiers!

Die mense van die hedendaagse Iran is ongeveer 50 tot 60 persent Persies van oorsprong, terwyl die res van die inwoners bestaan uit mense van ander gebiede, met inbegrip van dié wat van Ismaelitiese en Edomitiese afkoms is. Die herkoms van nasies is lewensbelangrik om die rol van hierdie nasie in Midde-Oosterse verhoudings te verstaan en hoe daardie rol verander het – ook nog kan verander.

Deesdae sien ons hoe die gesindheid van die leiers van Iran teenoor Israel en die Jode geweldig wissel.

Voor 1979 is Iran vir dekades lank deur Shah Reza Pahlavi regeer – ’n vriend van die Jode, wat selfs Jode in die kabinet van sy administrasie ingesluit het. In die jaar 1979, met die val van die Shah tydens die Islamitiese revolusie in Iran, is sy leierskap egter vervang deur ’n Moslem-teokrasie met meer nie-Persiese invloed. Hierdie verandering in leierskap het ’n radikaal ander gesindheid meegebring. Dit is hierdie nuwe leierskap wat voortdurend terrorisme teen die Jode in Israel finansier en poog om die nasie van die aarde af te delg.

Dit alles word ook weerspieël deur die Bybel se aantekeninge van hierdie nasie!

Eeue gelede het God voorspel dat die Medo-Persiese keiser Kores, aan die Joodse gevangenes in Babilon hulle vryheid sou gee en die herbouing van die tempel in Jerusalem sou beveel (Jesaja 44:27-28; 45:1-4). Lees die pragtige woorde van ondersteuning vir die Jode, Jerusalem en die herbouing van die tempel wat gekom het van die antieke Medo-Persiese heersers soos Kores en Artasásta, soos dit opgeteken is in Esra 1:1-4 en Esra 7:12-26. Dit staan in felle kontras met die afskuwelike en skandelike woorde van haat, dood en vernietiging teen die Joodse nasie wat van die hedendaagse heersers van Iran kom! Die Persiese volk het nie onenigheid met Israel nie, maar Iran en veral sy leierskap, is ’n mengsel van mense van verskillende oorsprong en gesindhede. Die verskil word deur leiers gemaak.

Dit was dus ook in antieke tye die geval! Die welwillendheid tussen die antieke Medo-Perse en die Jode van hulle koninkryk, is gekorrupteer onder die Persiese koning Ahasvéros, deur leierskap met ’n slegte gesindheid teenoor die Jode toe die koning ’n man met die naam Haman as eerste minister van sy ryk aangestel het (Ester 3:1). Hierdie Haman het ’n bedrieglike poging van stapel gestuur om elke Jood in die ryk uit te wis (verse 6-11).

Haman was nogtans nie Persies nie. Soos die hedendaagse Iran, het die Medo-Persiese ryk uit baie volke en leiers uit baie families bestaan. Wie was Haman dus? Die boek Ester sê hy was ’n afstammeling van koning Agag (Ester 3:1), wat die koning van die Amalekiete was (1 Samuel 15:8). Die antieke geskiedskrywer, Flavius Josephus, bevestig in sy eie weergawe dat Haman ’n Amalekiet was (Antiquities of the Jews, 11.6.5)!

My Vriende, die geskiedenis herhaal homself. Leiers van lande wissel, leiers van volke verander, groepe word verstrooi en trek van een plek na ’n ander – maar die Bybelse kenmerke skemer deur!

Vandag se geopolitieke kenners mag dink dit is belaglik, maar slegs God se Woord verduidelik hierdie kwessies duidelik en eenvoudig! Dit is die grootste geopolitieke handleiding wat bestaan.

 

Wat die toekoms inhou

Die Hoofredakteur van die Wêreld van Môre, Gerald E. Weston verduidelik in sy artikel op die voorblad van hierdie uitgawe dat Bybelprofesieë lank gelede die huidige situasie in die Midde-Ooste voorspel het! Die profesieë van God se Woord is duidelik: Selfs in Jerusalem sal daar ’n Joodse volk tot in die eindtyd bly bestaan. Daardie teenwoordigheid is noodsaaklik vir die vervulling van profesieë wat betref die herinstelling en einde van die offers wat in Jerusalem sal begin.

Daardie profesieë moet vervul word en niemand kan die Almagtige se planne verander nie. God het alreeds besluit dat die antieke offers hervat sal word en ons weet dat dit 1,290 dae voor die Messías se Wederkoms beëindig sal word (Daniël 12:11). Uit God se Woord kan ons seker wees dat géén hedendaagse Edomiet of Amalekiet daarin sal slaag om die nasie van Israel te vernietig nie. Enige poging van so ’n aard sal uiteindelik misluk – nie as gevolg van die regverdigheid van die Joodse volk nie, maar omdat daardie nasies teen God se vasgestelde plan sal veg.

Ons moet egter die volle waarheid vertel: Die hedendaagse Joodse nasie Israel, herhaal self die geskiedenis en is ook besig om God se toorn te ontlok deur hulle antieke voorvaders se verval in sonde en rebellie teen die Wette van God te herhaal. Dink daaroor dat hedendaagse Israel, optogte hou om losbandige lewenswyses te verheerlik wat uitdruklik deur God veroordeel word in die Torah – wat alle Jode ken. Hulle bevorder daardie lewenswyses in die strate van Jerusalem, die stad wat binnekort die setel van die Messías se Regering sal word. Deur so te rebelleer doen hulle op hulle eie manier net soos die Amalekiete – hulle bal hulle vuiste teen die troon van God en daag Sy voorgenome plan uit.

Offerandes sal vir ’n kort tydjie plaasvind en dan gestaak word. Dan sal Jerusalem ingeneem word deur die sewende herlewing van die Romeinse Ryk en die tyd van die heidene sal aanbreek. Dit sal ’n tyd van ongekende lyding wees vir Israel, vir die Verenigde State en vir die nasies van Britse afkoms, gevolg deur die dag van die Here en God se toorn oor al die nasies van die wêreld.

 

Uiteindelik vrede

Ná daardie jare van angs en ellende, sal die Messías terugkom met baie goeie nuus vir Israel sowel as vir die res van die wêreld.

Die wêreld sal nie vergaan in ’n globale kern katastrofe nie. Daar is hoop! Hierdie dilemmas wat menslike wesens nie kan oplos nie, sal opgelos word deur Jesus Christus, wie spoedig op die wolke uit die hemel sal terugkeer met groot krag en heerlikheid om ’n duisend jaar van vrede in te lei. Ten spyte van die voortdurende bloedvergieting in daardie land wat al soveel lyding beleef het, kan ons dus verby hierdie konflik kyk na die hoop van die wêreld van môre en die vrede wat dit sal bring. Soos die profeet Jesaja geskryf het: Al die oorlogstoerusting – gewere, wapens, granate, tenks, hommeltuie – sal gesmelt word om werktuie vir landbou te word en nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jesaja 2:3-4).

Dit is die hoop vir die desperate en verwarde nasies van die Midde-Ooste en inderdaad vir die hele mensdom – wat ons probeer om in elke uitgawe van hierdie tydskrifte aan u bekend te maak. Ons samelewing gaan nou ’n baie donker tyd tegemoet, maar die dagbreek is reeds naby. Goeie tye is aan die kom terwyl God voorberei om die Koninkryk van die Messías op die aarde te vestig, wat uiteindelik vrede vir al die mense van ons wêreld sal bring.