Lê daar ’n “beter wêreld” voor? Kan u die glorieryke toeloms wat voorlê, visualiseer?

Daar is deesdae werklik pyn en lyding regoor die aarde. Ongelukkig sal dit oor die volgende paar jaar veel erger word. Soos hulle egter sê: “Dit is altyd die donkerste net voor  dagbreek.”

En, wat 'n besliste glorieryke “dagbreek” sal dit nie wees nie!
Vandag lees en hoor ons egter gedurig van honderde duisende mense wat stadigaan sterf in die Soedan en ander dele van die wêreld. Ons hoor van tallose duisende vroue wat mishandel, verkrag en totaal verneder word. Ons lees dikwels van hoe die polisie en ander owerhede net “anderpad kyk” met hierdie menslike tragedies.

Ons lees en hoor gereeld van ongekende duisende in Afrika wat VIGS opdoen. Stede en dorpe word in geheel deur hierdie moderne plaag lamgelê – wat meestal versprei word deur die losbandige seksuele praktyke van dié wat besmet is. Intussen ondervind reuse gebiede van ons planeet ernstige droogte. Dit sal binnekort begin om 'n uitwerking te hê op die gewasse en voedselvoorraad van baie nasies. Dan steier die Verenigde State ook nog as gevolg van die vernietigende Orkaan Katrina – net een van verskeie dodelike orkane wat die VSA in die afgelope paar jaar getref het. Aan die anderkant van die wêreld raak die dodelike aardbewing en vloedgolf in Suid-Asië steeds die lewens van baie mense. Die volle omvang van September 2005 se verskriklike aardbewing in Pakistan, wat meer as 80 000 lewens geëis het, is nog nie met sekerheid bepaal nie.

Nou waarsku “deskundiges” ook van 'n potensiële wêreldwye pandemie van voëlgriep, wat volgens party deskundiges die lewens van enigiets tussen 150 en 360 miljoen mense wêreldwyd kan eis!

Ons huidige samelewing is in terminale moeilikheid! Na bykans 6 000 jaar van aangetekende menslike geskiedenis is ons samelewing besig om “onoplosbare” probleme teë te kom. Hierdie probleme strek van weerrampe tot verskriklike oorloë, klein en groot, met barbaarse dade wat teen ongekende duisende mans, vroue en kinders gepleeg word. Ons wêreld staar nou klaarblyklik onoorkombare ekologiese steurings, ekonomiese ontwrigting en verskriklike etniese struwelinge in die gesig.

Wat is die OPLOSSING?

Baie vooraanstaande leiers en politici het vir jare besef dat slegs 'n opregte wêreldregering ware vrede en stabiliteit na ons planeet kan bring. Die mensdom se powere pogings in hierdie verband het egter nog altyd misluk, en sal voortaan steeds misluk, want mense ken nie die weg na wêreldvrede en voorspoed nie. Vir diegene wat werklik verstaan, behoort dit al hoe duideliker te word.

Soos sir Winston Churchill voor die Amerikaanse kongres gesê het: “Daar word 'n groot plan en doel hieronder uitgewerk.” Ons kan bly wees daar is 'n werklike God wat die sake van mense en nasies lei – veel meer as wat selfs die meeste godsdienstige mense besef. Indien u vir uself kan bewys dat die God van die Bybel werklik is en dat die Bybel Sy geïnspireerde Woord is, kan dit u lewe omkeer. U kan die doel in die verskriklike gebeure wat met toenemende gereeldheid begin plaasvind en oor die volgende dekade of twee al hoe erger sal word, begin verstaan en raaksien.

Die apostel Petrus is geïnspireer om in sy laaste sendbrief te skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:19-21). Die grote God wat ons lewe gee, het ons nie gelaat sonder 'n “getuienis” van Sy doel en van waarom wêreldgebeure plaasvind soos tans die geval is nie. Regdeur die Bybel is daar honderde spesifieke profesieë wat onthul wat voorlê – veral in die tyd wat God die “tyd van die einde” noem.

Trouens, hoewel die meeste mense baie verward raak hieroor, gaan die ware “evangelie” van Jesus Christus nie net oor die persoon van Christus nie, maar oor God se leefwyse en oor voorbereiding vir die komende Koninkryk van God, wat binnekort openbaar sal word as 'n ware wêreldregering wat op hierdie aarde gevestig gaan word!

Ons lees in Markus 1:14-15: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” Die woord “koninkryk” beteken beslis regering – hoewel hierdie deel van die omskrywing dikwels agterweë gelaat word. Tog sien ons regdeur die Bybel dat dit presies is wat aangedui word deur die “Koninkryk van God” – die eerskomende wonderlike toekoms onder Christus se heerskappy!

Dit word dikwels in Jesus se gelykenisse beskryf. In een so ’n gelykenis, beskryf Christus hoe Hy hemel toe sou gaan om 'n koninkryk te ontvang en dan sou terugkeer. Toe sê Jesus aan die eerste “dienskneg” wat sy geld vertienvoudig het: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17). Dit wys dat Christus se getroue diensknegte heerskappy sal ontvang oor stede op hierdie aarde. Later sê Jesus aan Sy Apostels: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30).

Kan dit alles weg “vergeestelik” word? Dit is wat die meeste sogenaamde “Christenleraars” doen – en die meeste kerkgangers laat hulle dit klaarblyklik “welgeval” om die talle verse, wat ons dikwels in baie direkte taal van Christus se duidelike bedoeling vertel, te vergeet of daarmee “weg te doen”! Heel aan die einde van Sy lewe, vertel Jesus Sy volgelinge: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mattheus 28:19-20). Klink dit asof Jesus “weggedoen” het met al die leringe wat Hy aan Sy dissipels gegee het oor die komende regering van God?

Na Sy opstanding, vra die dissipels vir Jesus: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6). Hier was Jesus se gulde geleentheid om hulle in te lig dat al Sy leringe oor 'n komende regering bloot geestelik was en nie letterlik opgeneem moet word nie!

Pleks daarvan, antwoord Jesus hulle: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:7-8). Jesus wou nie Sy Apostels ontmoedig deur vir hulle te sê dit sou nog 2 000 jaar wees voordat Sy aardse koninkryk opgerig sou word nie, maar Hy het hulle beslis nie ontneem van die gedagte dat daar 'n werklike koninkryk hier op aarde sal wees nie!

Christus sê inderdaad vir  ware Christene: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Merk ook op: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Aangesien Christus oor die “koninkryke van die wêreld” sal regeer, hoe kan ons dit weg “vergeestelik” en sê dat ons “hemel toe sal sweef” met niks om te doen nie?

Dit is eerder soos Jesus vir Sy getroue diensknegte vertel: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Hierdie is net 'n paar van die talle verse regdeur u Bybel wat duidelik aandui dat 'n letterlike regering, onder Christus, op hierdie aarde opgerig gaan word en dat Sy regering ware vrede, voorspoed en blywende vreugde sal bring wat alles oortref wat ons wêreld nog ooit ondervind het.

Dit is die ware antwoord op die oorweldigende probleme wat 'n deurmekaar mensdom, wat deur 'n baie werklike Satan die duiwel mislei is, in die gesig staar! Kan ons glo wat God se Woord baie duidelik sê? Kan ons besiel en bemoedig word deur die geweldige openbaring wat ons Skepper duidelik en herhaaldelik in Sy geïnspireerde Woord gegee het?

Hoe sal dit wees?

Die een profesie na die ander beskryf die ware Jesus van die Bybel as 'n komende Koning wat 'n wêreldregering gaan vestig. Hoewel dit oor die algemeen weg “vergeestelik” word deur die meeste algemene godsdienstiges, is dit in der waarheid die fokus van die meeste Bybelprofesieë. Jesaja sê vir ons: “Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors –  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6). Indien u u Bybel noukeurig lees, sal u merk dat God inderdaad “regering” bedoel wanneer Hy praat van 'n komende “Koninkryk”. Die meeste Bybelgeleerdes verstaan dit, maar blykbaar dink die meeste “algemene” gelowiges baie min daarvan.

In Jesaja beskryf God spesifiek eindtydgebeure wat binnekort sal plaasvind –  waarskynlik gedurende u leeftyd in die volgende 10 tot 25 jaar: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jesaja 2:2-4).

Let daarop dat geprofeteer is dat die komende Messias sal kom om die mense “Sy weë” te “leer”. Regdeur die Bybel toon God aan ons dat Sy ware heiliges nou opgelei word om konings en priesters te wees in die komende Koninkryk van Jesus Christus (Openbaring 1:6). Regdeur die Ou Testament word God se priesters uitgebeeld as “leermeesters”, asook diegene wat die offers gebring het. Die hoofdoel waarop ons nou moet fokus, indien ons beplan om in Christus se koninkryk te wees, is om Sy weë te leer, wetend dat ons die “priesters” moet word – die leermeesters – in die Wêreld van Môre! Let op wat die apostel Paulus geïnspireer was om ons in die Nuwe Testament te vertel: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3).

Is u nou, persoonlik, besig om te leer om God se weë te “onderrig” en om behoorlik “regspraak” te lewer onder tallose mense ingevolge God se wette? Wees asseblief eerlik met uself en dink daaroor na! Watter soort “Christenskap” beoefen u?

Soos ons gesien het, sal Jesus Christus die komende Koning wees oor 'n letterlike regering wat op hierdie aarde opgerig sal word. Soos hierbo genoem, sal die Twaalf Apostels ook onder Hom regspraak lewer of regeer oor die twaalf stamme van Israel. Direk onder Christus, as toesighouer oor die Twaalf Apostels, sal koning Dawid van Israel wees, die “geliefde” dienskneg van God wat in sy ou posisie as koning oor die ganse twaalf stamme van Israel herstel sal word: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Esegiël 37:24).

Let ook daarop dat die volk onder Christus en Dawid se leiding in God se verordeninge sal wandel en Sy “insettinge” sal onderhou. Is u vertroud met God se insettinge? Dit onthul die “leefwyse” wat die heiliges binne 'n paar jaar aan die ganse wêreld sal leer. Hierdie “insettinge”, soos deur Christus en die Apostels in die Nuwe Testament uitgebrei is, sal die basiese wette van die regering van God wees wat onder Jesus Christus daargestel gaan word. Dit is almal op die Tien Gebooie gegrond en brei dit in detail uit. Op hierdie wyse, soos ons gesien het, sal die “wet” uit Jerusalem uitgaan – wat Jesus Christus se wêreldhoof-kwartier in die komende regering sal wees!

Die profeet Miga herhaal wesenlik hierdie punt: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:1-3).

'n LEEFWYSE

So sal 'n ganse leefwyse in die Wêreld van Môre onderrig en beoefen word. Dit sal beslis gegrond wees op die Tien Gebooie – God se groot geestelike Wet. Nasies sal nie meer teen mekaar veg nie, want mense sal nie meer “leer” om oorlog te voer nie – nie eens die gesindheid om mekaar skade te berokken of te vermoor nie.

Uiteindelik, namate Christus se Koninkryk ten volle bekragtig word in die opstandige nasies, sal wêreldvrede versprei soos nog nooit tevore in die mens se geskiedenis nie! Geen oorlog meer nie! Geen enorme regeringsbelastings om reuse militêre- en polisiemagte te ondersteun nie, want mense sal mekaar nie meer beroof, verkrag en vermoor nie! Onder Sy regering, na die lyding wat gedurende die komende Groot Verdrukking ervaar sal word, sal God vir Sy mense “leermeesters” gee wat hulle persoonlik sal help en leiding gee in Sy weë: “Die HERE gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Sal u onder hierdie goddelike leermeesters – 'n herrese “heilige” – in die komende Godgesin wees, wat Jesus Christus help om hierdie wêreld te regeer en vrede en vreugde te bring?

Die seëninge van Christus se komende regering word in besonderhede in Jesaja 11 bespreek: “Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here... Maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die
goddelose doodmaak” (verse 1-2, 4). Later in hierdie skrifge-deelte beskryf God hoe “wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle aanja” (vers 6). Hier vind ons dat 'n wonderlike samelewing beskryf word waar die grote God ingegryp het om selfs in die diere, 'n vredeliewende aard te plaas! Dus sê God vir ons: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (vers 9). 

God sal die aarde se “natuurwette” op daardie tyd aanpas sodat mooiweer aan die orde van die dag sal wees en mense vooruitstrewend kan wees en sodat 'n gevoel van diep innerlike vrede en veiligheid sal oorheers. Jesaja 35:1 sê vir ons: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos 'n narsing.” Later: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (verse 5-6). Op daardie tyd sal God allerlei siektes bonatuurlik genees. Daarmee sal die miljarde dollars wat bestee word en miljoene mense in die wêreld se gedurige bekommernis, pyn en stille lyding weens voortgesette siektes, tot  'n einde kom.

God sal selfs die “wilde” aard van diere verander. “Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (verse 9-10).

Sal u bereid wees om hierdie talle verse te verstaan wat die leefwyse van en waarheid oor God se komende Koninkryk duidelik maak? Toe Jesus ons opdrag gee hoe om te bid, sê Hy: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:9-10).

In die Wêreld van Môre sal al die mense die aarde uiteindelik begin om God se ware godsdiens te leer, want dit is 'n leefwyse wat hulle moet verstaan. Dit sal ook, soos ons gesien het, “ewige vreugde” bring wanneer dit uiteindelik en waarlik gevestig is.

Wanneer u op u knieë gaan en bid: “Laat U Koninkryk kom”, moet u verstaan wat die betekenis van daardie Koninkryk is – Christus se komende regering en die werklikheid daarvan. Dan kan u begin om u deel te doen om uself voor te berei om daardie Koninkryk binne te gaan, 'n volle kind van God te word en sodoende die doel waarvoor u gebore is, te vervul!