Die #Me Too-beweging gaan voort om dinge deurmekaar te krap – hoewel die werklike probleme wat deur die ondersteuners gesoek word om aangespreek te word baie ouer en dieperliggend is as wat baie mense besef.

Op 25 Oktober 2018 het Sir Peter Hain opgestaan om diegene toe te spreek wat in die Hoërhuis, die Opperhuis van die Verenigde Koninkryk se Parlement vergader was. Sy toespraak het net 37 sekondes geduur, maar het ’n ontploffing veroorsaak wat nie oortref sou word indien hy ’n kerntoestel laat ontplof het nie. Heel omstrede het hy die verantwoordelikheid op homself geneem om te openbaar wat hy as ’n ondraaglike “hedendaagse” onreg gesien het.

Die doel van sy toespraak was om die identiteit van ’n prominente Britse sakeman wat van seksuele teistering aangekla was, wie se naam voorheen deur die Hooggeregshof geheim gehou is, bekend te maak. Sir Hain het gebruik gemaak van verouderde wette van parlementêre voorreg – wat parlementslede en eweknieë teen lastersake beskerm met betrekking tot wat hulle in die Laer- en Hoërhuis sê – om die regters te omseil en ’n persoon se naam openbaar te maak. Die sakeman is beskuldig van ernstige seksuele teistering van personeel en toe hierdie bewerings oopgevlek word het dit vinnig tot nog ander gelei. In een geval is ’n graafskap – en dus ’n setel in die Hoërhuis – aangebied in ruil vir seksuele gunste.

Dit lyk dus of 2018 in Londen op dieselde noot geëindig het as wat dit begin het.

Januarie 2018 het begin met identiteits-, seksuele en geslagskwessies. Seksuele teistering en klagtes van uitbuiting vanaf vroue teen politici, nuuspersoonlikhede en rolprentsterre het in die media ontplof. Bekende manne in magsposisies – wat lede van die parlement en kabinetsministers insluit – is genoem en tot skande gemaak, uit hulle werk gedwing en moes toekyk hoe hulle openbare status aan flarde geskeur word. Dit het gelyk of elke groep van die samelewing ingesluit was soos wat al hoe meer misbruikte vroue by, wat bekend geraak het as die “#MeToo” -beweging, aangesluit het.

Een tydskrif wat hierdie skandale onder die hoofopskrifte van Januarie 2018 oopgevlek het, het egter ook in dieselfde uitgawe oor “die beste sekstonele in flieks en TV van 2017” gespog. Dit lyk of die meeste moderne samelewings heeltemal obsessief is met seks!

’n Probleem met ’n lang geskiedenis

Hierdie probleme is nogtans nie nuut nie. Deur die eeue heen het feodale konings, biskoppe en edeles hulle mag en posisie misbruik om te kry wat hulle wou hê. Hierdie gedrag gaan selfs verder terug – tot aan die begin van die mensdom se geskiedenis soos dit in die Bybel aangeteken is. Net in die boek van Génesis word van talle situasies vertel wat heel tuis by dié sou wees waarvan daarin die vorige jaar ’n ophef gemaak is in die media en nuuskanale.

Van Noag se tyd af, regdeur tot die einde van die boek Génesis, word ons bekendgestel aan byna elke vorm van seksuele aktiwiteit wat deur die onlangse #MeToo-beweging oopgevlek is: Owerspel, hoerery, bloedskande, homoseksualiteit, verkragting, prostitusie en seksuele teistering. Dikwels gebruik die Bybel versagtende taal om hierdie sondes te beskryf in plaas van die eksplisiete taal of “agterlike” taalgebruik wat vandag gebruik word. Daar is tóg enkele uitsonderings: Die verkragting van Dina deur die prins van Sigem (Génesis 34:1-2); Ruben se onbesonnenheid met sy pa se byvrou, Bilha en die gevolge daarvan (Génesis 35:22; 49:1-4) en die eksplisiete verwysings in Génesis 38 na Juda se eskapades met prostitute.

Word hierdie gebeure net aangeteken as verhale van wellus of is daar ’n groter les om geleer te word?

Die ervaring van Abraham, ’n sentrale figuur in die boek Génesis, bied deel van die antwoord. Hy het ’n pragtige vrou, Sara, in ’n era gehad toe skoonheid die voorreg van koninklike paleise en konings was. ’n Man kon sy lewe verloor indien iemand wat magtiger as hy is, sy vrou wou hê om ’n paleis of harem te versier. Abraham het homself meer as een keer in sodanige verknorsing bevind: Die eerste keer toe die Farao van Egipte Sarai in sy paleis ingeneem het (Génesis 12:10-20) asook toe die koning van Gerar haar as sy vrou geneem het (Génesis 20:1-18).

By albei geleenthede het God ingegryp om Sara te beskerm en haar ongedeerd aan Abraham teruggegee, ondanks die feit dat Abraham hierdie heersers mislei het om te glo dat Sarai net sy suster was en nie sy vrou nie. Terwyl hy gekonfronteer was oor waarom hy dit gedoen het, was Abraham se reaksie dat hy bang was dat hy doodgemaak sou word weens Sara en spesifiek omdat die mans in Gerar hom sou doodmaak omdat hulle God nie gevrees het nie (Génesis 20:11).

Wanneer die samelewing God nie meer vrees nie

Ons leef soos Abraham in ’n wêreld wat geen vrees vir ’n Goddelike Wese het wat ons aanspreeklik mag hou vir ons dade nie. Ons het gekies om die beslissers van ons eie moraliteit te word. Ons leef in ’n samelewing waarin “vrees” van God (dit wil sê ’n diepgaande respek) nouliks bestaan. Ons wil graag aan onsself dink as bevry – veral van ’n God wat aan ons vertel hoe ons ons lewens behoort te leef.

Abraham se agter-kleinseun, Josef, was ’n jong man wat seksuele teistering van sy werkgewer se vrou die hoof moes bied. Die gevolg was dat hy in die tronk gegooi is op grond van ’n valse aanklag van poging tot verkragting omdat hy God gevrees het en geweier het om op haar toenadering te reageer (Génesis 39:1-15). Josef het die heiligheid van die huwelik verstaan en geweet dat dit nie reg is om iemand anders se vrou te neem nie, hoe aanloklik en aantreklik daardie idee ook al was. Hy het besef dat om seks met haar te hê boos en sondig sou wees (Génesis 39:8-9). Hy was gemotiveer deur die vrees van God, ’n byna ongehoorde konsep in die 21ste eeu.

Die apostel Paulus het hierdie dinge in gedagte gehad terwyl hy Christene wat in Korinthe bly toegespreek het – een van die seksueel aktiefste stede in die wêreld van die eerste eeu. Hy het die denke van die Kerk toe reeds en vandag nog steeds, gefokus op ’n fundamentele punt wat vir verskeie mense verlore gegaan het. Dit is slegs ons Skepper wat die reg het om te bepaal wat reg en verkeerd is in die gebruik van ons hormone en drifte – ons word aangesê om God met ons liggame te eer (vrees) deur te “vlug vir die hoerery” (1 Korinthiërs 6:18-20). Paulus het dit ook aan die Kerk in Thessaloníka beklemtoon en bygevoeg “elkeen moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer” (1 Thessalonicense 4:3-4).

Die #MeToo-hoofopskrifte beklemtoon iets uiters eenvoudig: Ons dink nie soos God nie! Ons “bevryde” samelewings het tot die slotsom gekom dat seks iets vir persoonlike genot is, met die klem op “persoonlik”. Dit is vir die “eie ek”. Indien ons nie versigtig is nie, sal dit al te maklik wees vir enigeen van ons om te swig voor hierdie denkwyse.

Ons behoort bewus te wees van wat ons denke en lewensbeskouing in vandag se samelewing vorm. Is dit die nuusmedia en die vermaaklikheidswêreld met hulle “enigiets is toelaatbaar” mentaliteit? Of is dit die onderrig wat aan ons gegee is in God se Woord, Sy handboek vir ons lewens? Swig ons voor die vrydenkende gees en onbeteuelde seksualiteit wat ons wêreld kenmerk en die lewens en reputasies van so baie mense verwoes het? Benader ons ander mense – met inbegrip van iemand met wie ons uitgaan of ons gade – op ’n manier wat die “vrees van God” weerspieël, wat Abraham moes leer en wat Josef uitgeleef het?

Gaan voort om hierdie tydskrif te lees om meer te leer oor die belangrikheid daarvan om God te vrees en hoe, deur dit te doen, ’n deur oopgemaak word vir oplossings vir die probleme wat ons in hierdie wêreld ervaar.