Regoor Kanada was die jaar 2017 bestem om een van feesviering en nabetragting te wees. Die 150ste herdenking van die geboorte van die nasie het op 1 Julie 2017 plaasgevind. Vier provinsies het ’n konfederasie gevorm wat bekend was as die Dominion of Canada. Geleenthede om hierdie mylpaal te vier is regoor die land vir regdeur die jaar beplan. Dit dien ook as ’n geleentheid om terug te kyk na Kanada se suksesse en mislukkings oor die afgelope 150 jaar en behoort ons aan te spoor om belangrike vrae te vra soos: “Hoe het ons gekom waar ons is?” en “Waar gaan ons heen?” Moontlik mag die belangrikste vraag wees: “Is daar ’n beter alternatief?”

Die Kanadese behoort in alle opsigte met ’n sekere mate van bevrediging oor die afgelope 150 jaar terug te kyk. Wat met net vier provinsies begin het strek nou vanaf die Atlantiese tot die Stille Oseaan, tot die verste uithoeke van die Noorde en die Arktiese Oseaan. ’n Transkontinentale spoorstelsel, die ontdekking van insulien en die vestiging van ’n openbare befondsde gesondheidsorgstelsel is net ’n paar van die prestasies waarna Kanadese met trots kan toekyk. Soos met enige nasie, sluit Kanada se verlede en hede ’n klompie betreurenswaardige oomblikke in. Korrupsie, skandale en ongeregtigheid het van tyd tot tyd in een of ander vorm plaasgevind en hoe enige een daarvan u of u geliefdes geraak het, sal ongetwyfeld u siening van Kanada se prestasies beïnvloed. Dit was geensins ’n volmaakte 150 jaar nie en ’n mens behoort te vra waarheen vandag se besluite hierdie land in die toekoms sal lei.

Kanada geniet gereeld ten spyte van sy tekortkominge gunstige plasing op die ranglyste van nasies met die beste reputasie (“The 19 countries with the best reputation in the world”, BusinessInsider.com, 12 Augustus 2016); lewenskwaliteit (“Quality of Life Rankings”, USNews.com) en veiligheid (“The Ten Safest and Ten Most Dangerous Countries In the World”, TheWeek.co.uk, 8 Junie 2016). Is daar ’n geheim vir Kanada se sukses?

Goeie grond en stabiele regering

Wanneer ondersoek ingestel word waarom sommige lande op een manier ontwikkel en ander op ’n ander manier, is dit nuttig deur te begin om na elke land se mees basiese besitting te kyk – die land self. ’n Nasie met beperkte waterbronne, moeilik bewerkbare grond of uiterste weerstoestande, gaan moeilik floreer. Deur geen groot daad van sy eie nie, is Kanada geseën met ryk landbougrond, oënskynlik onbeperkte vars water en groot natuurlike hulpbronne soos hout, natuurlike gas, koper, lood, goud en silwer. Hierdie seëninge het vir die jong nasie ’n grondslag voorsien en dit op ’n pad na welvaart geplaas. Gereelde lesers van die Wêreld van Môre besef dat hierdie seëninge nie aan ons geskenk is as gevolg van ons eie grootsheid nie. Inteendeel, dit vorm deel van die geboortereg seëninge wat eerstens aan Abraham beloof is (Génesis 12:1-3; 13:14-16) en toe deur Isak en Jakob aan die seuns van Josef, Efraim en Manasse oorgedra is (Génesis 35:10-11). Vir meer besonderhede oor hoe Kanada, die Verenigde State, Groot Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en ander nasies die voordele van hierdie antieke beloftes gepluk het, lees ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Ewenwel, hulpbronne alleen is nie genoeg om ’n nasie werklik te laat floreer nie. Ervarings van verskeie moderne lande leer ons dat nuut ontdekte hulpbronne wat tot ’n instroming van rykdom vir die nasie as ’n geheel lei, nie altyd ’n beter lewensgehalte vir die gemiddelde burger tot gevolg het nie. Kanada, saam met ander vooraanstaande nasies in die wêreld, het ook grootliks baat gevind by stabiliteit in die regering en die oppergesag van die reg. Mens kan maar net na die Oekraïne, die Kongo of Sirië kyk om te sien dat die ineenstorting van ’n regering tot die ineenstorting van die samelewing self lei sodat dit nie meer bevorderlik vir vernuwing, voorspoed of selfs basiese vrede en veiligheid is nie. Die feit dat Kanada dwarsdeur sy geskiedenis so ’n ineenstorting vermy het en relatief verenig gebly het, het ’n gunstige omgewing vir groei en prestasie tot gevolg gehad. Laat ons eerlik wees – Kanada se regering is nie sonder tekortkominge nie. ’n Vinnige opname van die wêreld se diktatorskappe en mislukte state openbaar dat ons baie het om voor dankbaar te wees. Een honderd en vyftig jaar van ’n stabiele regering is geen klein seën nie.

Kon dit beter wees?

Verbeel u wat oor ’n veel langer tydperk bereik kan word. Wat kan tot stand kom in ’n 1,000 jaar? Wat sal gebeur indien die onvolmaakte regering van Kanada of van enige ander nasie vir dieselfde rede, met ’n volmaakte regering onder leiding van Jesus Christus Self, vervang word? Dit is moeilik onder sulke omstandighede om te verklaar wat bereik kan word. Die boek Openbaring maak dit duidelik dat so ’n regering binnekort gevestig sal word! Johannes het aangeteken dat die heiliges vir ’n duisend jaar lank saam met Christus sal leef en regeer (Openbaring 20:4).

Baie profesieë in die Bybel skilder ’n helder prentjie van hierdie idilliese tyd. Paulus verwys na hierdie tyd as “die tye van die wederoprigting van alle dinge” (Handelinge 3:21). Jesaja beskryf die woestyne wat sal blom van lewe (Jesaja 35:1-2) en ’n tyd van groot genesing (Jesaja 35:5-6). Sagaria openbaar die gevoel van vrede en veiligheid wat eweveel deur oud en jonk geniet sal word (Sagaria 8:4-5). Al hierdie dinge sal deur regverdige regering onder leiding van Jesus Christus moontlik gemaak word (Jesaja 9:6-7).

Die komende Messias sal nie die enigste een wees wat leierskap in hierdie tyd verskaf nie. Eségiël toon aan dat koning Dawid uit die graf opgewek en onder Christus, as koning aangestel sal word om oor die hele volk van Israel te heers (Eségiël 37:22-25). Dit sluit nie net moderne “Israel” – die klein Joodse staatjie in die Midde-Ooste in nie – maar ook ’n hele paar ander prominente nasies van die wêreld soos ons in talle artikels, beeldsendings en boekies aangedui het. Jesus Self het beloof dat heerskappy van elkeen van die twaalf stamme van Israel aan sy herrese Apostels gegee sal word (Matthéüs 19:28).

Paulus beskryf hierdie opstanding uit die dood en openbaar dat die dooies onverganklik opgewek sal word (1 Korinthiërs 15:42-44, 51-53). Jesus Christus sal saam met die heiliges wat as onverganklike geestelike wesens opgewek is, die wêreld se eerste volmaakte regering vorm. Daardie volmaakte regering sal vir ’n duisend jaar oor die hele wêreld regeer (Openbaring 20:4)! Dit is vir ons onmoontlik om ten volle die dramatiese effek wat dit op die wêreld sal hê te begryp. Soos die apostel Paulus sê, dit het nie eers in die hart van ’n mens opgekom, wat God berei het vir die wat Hom liefhet nie (1 Korinthiërs 2:9). Hy verduidelik tog dat daar ’n manier vir ons is om dit te verstaan! “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (vers 10).

Deur sy Gees kan ons oor hierdie wonderlike tyd leer wat aan diegene gegee word wat aan Hom gehoorsaam is (Handelinge 5:32). Deur die Heilige Dae wat in die Skrif beveel word te onderhou, kan ons van God se uiteindelike plan van verlossing leer, terwyl elke Bybelse Fees ’n belangrike stap in daardie plan uitbeeld. Paulus verwys na hierdie jaarlikse Sabbatte as versinnebeeldings van toekomstige dinge (Kolossense 2:16-17) en dit is só, omdat dit sodanige toekomstige gebeure uitbeeld. U mag verbaas wees om te verneem dat daar vandag Christene in die wêreld is wat die Huttefees tydens die vorige Herfstyd [Lente in die Suidelike Halfrond] onderhou het (Levitikus 23:33-42; Johannes 7:2, 8-10) wat die heerskappy van Jesus Christus op hierdie aarde uitbeeld – ’n duisend jaar van ongekende vrede en voorspoed! Om meer oor hierdie Heilige Dae te leer, maak seker dat u ons gratis boekie lees: Die Heilige Dae – God se Meesterplan.