Die wêreld se grootste vakansietyd is om die draai! Miljarde mense wêreldwyd sal die fiktiewe verjaarsdag van Jesus die Christus vier, maar mense met die gawe van onderskeiding, wonder of iemand wat aanspraak maak op Christelikheid, iets daarmee te doen behoort te hê. Hulle vra: “Waarom probeer mense om ’n dag wat deurdrenk is van heidense gebruike te verchristelik? Waarom vier hulle die geboorte van hulle Verlosser op die verjaarsdag van ’n denkbeeldige songod?” Die viering van Kersfees wat sy ontstaan te danke het aan die heidendom, is onbetwisbaar!

Min mense is bereid om teen die stroom van tradisie te gaan. Wat van u? Jesus het die Fariseërs van daardie tyd as volg berispe: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie” (Markus 7:6-8).

Is die mense wat vandag se tradisies vier enigsins anders? Beskou bietjie die feite. ’n Bietjie navorsing onthul dat Bybelse Heilige Dae vervang is deur nuttelose heidensheid, oënskynlik “in die naam van Christus”. William B. Eerdman se Handbook to the History of Christianity verduidelik:

Die Christelike kerk het baie heidense idees en afbeeldings oorgeneem. Van die sonaanbidding kom byvoorbeeld die viering van Christus se geboorte op die vyf-en-twintigste Desember, die verjaarsdag van die Son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17 tot 21 Desember, het voorsiening gemaak vir pret, die gee van geskenke en kerse wat so tipies van latere Kersfeesvieringe geword het. Sonaanbidding het behoue gebly in die Roomse Christendom ... Party heidense gebruike, byvoorbeeld die gebruik van kerse, wierook en kranse, is later verchristelik maar aanvanklik was dit deur die kerk vermy omdat dit ’n heidense simbool was (bll. 131-132).

Neem die volgende noukeurig in aanmerking! Hoe “verchristelik” ’n mens ’n “heidense gewoonte”? Deur eenvoudig die naam van Christus daarmee te assosieer? So ’n konsep is heeltemal belaglik!

Waar is die skeidslyn tussen die waarheid en onverskilligheid

Ek het Eerdman se woorde baie keer aangehaal, net om teleurgestel te word deur ’n traak-my-nie-agtige gesindheid van lesers en luisteraars. Beide Jesus en Paulus het die profeet Jesaja aangehaal en gesê: “Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie” (Matthéüs 13:14-15).

Dit is jammer dat die meeste mense eerder tradisie sal aanhang, selfs al beteken dit dat die wil van God verwerp word! In sy hoogs gerespekteerde werk, Caesar and Christ, onthul geskiedskrywer Will Durant die korrupsie wat inherent is aan – wat omtrent almal verkeerdelik dink – die godsdiens van Christus is. Hy skryf: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem” (bl. 595). Hy noem dan ’n aantal heidense leerstellings wat ten volle in tradisionele Christendom ingesluit is, voordat hy die vanselfsprekende stelling maak: “Christelikheid is die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (bl. 595) en “Christelikheid het die laaste en grootste van die misterie-godsdienste geword” (bl. 600).

Stellings soos hierdie behoort enigeen wat God werklik wil dien te inspireer om te verander, maar in die meeste gevalle gebeur dit nie! Die Bybel vertel ons waarom.

Soos ek alreeds aangetoon het, is die meeste mense horende doof. Hulle hoor die waarheid, mag selfs bly wees om die waarheid te ken, maar laat na om dienooreenkomstig op te tree. Hulle het oë om te sien, maar is blind vir die noodsaaklikheid om te verander. Dit is deel van die probleem, maar dit is nie die hele storie nie.

Vir party mense is die waarheid bloot ’n onderwerp vir intellektuele insig. Vir sulke individue is die kennis noodsaaklik, maar dade hoef nie na begrip te volg nie. Die apostel Johannes vertel aan ons: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 2:3). Die New Bible Commentary Revised verduidelik: “Vir Johannes is die kennis van God nie ’n mistieke visie of intellektuele insig nie. Dit word getoon wanneer ons Sy Gebooie gehoorsaam. Gehoorsaamheid is nie ’n skouspelagtige deug nie, maar is die grondslag van alle ware Christelike diens”.

Dit was waar in die eerste eeu en is vandag nog steeds so. Baie mense in Jesus se tyd het ook in Hom geglo, met inbegrip van baie welbekende individue, maar hulle het steeds hulle geloof ontken uit vrees vir wat dit hulle kon kos. “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:42-43).

Moedigheid bo gemak

Dit is ’n feit dat dit nie so maklik is om ’n ware Christen te wees nie. Min mense het die moed en toewyding om die menigtes teë te gaan. Die menings van vriende en familielede geniet dikwels voorrang. Behaag dit ons Skepper? Jesus beantwoord hierdie vraag ondubbelsinnig in Matthéüs se Evangelie:

“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (Matthéüs 10:34-39; kyk ook Lukas 14:26).

Christus wou nie gesinne ontwrig nie, maar Hy het van die probleme geweet wat volg sodra ’n individu hom bekeer van sonde en gevestigde tradisies verwerp. Hy het geweet dat mense hulle vriende en gesinslede voor Hom sou stel en God sal nie duld om tweede vir enigiets of enigiemand te wees nie. Soos die apostel Paulus vra: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie óf van die sonde tot die dood, óf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16).

Dit is die menslike natuur om rondom God se duidelike Wette te redeneer. Ons is van nature vyandig teenoor Sy Wet, soos Paulus ons in Romeine 8:7 vertel. Wanneer God sê dat die sewendedag Sabbat onderhou behoort te word, redeneer mense dat hulle enige dag kan kies. Op een of ander manier kom hulle nogtans altyd tot die slotsom om die dag te kies wat Keiser Konstantyn die “eerbiedwaardige dag van die son” genoem het, eerder as op die dag wat God met donderslae op die berg Sinai gespreek het. In plaas daarvan om die sewe jaarlikse feeste wat in die Ou en die Nuwe Testamente uitgespel word te onderhou, leen moderne “Christendom” by die heidendom, in stryd met ondubbelsinnige opdragte, om dit nie te doen nie.

Israel is opdrag gegee om nie die gebruike van die volke wat hulle moes verdryf te volg nie. “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:29-32).

Dus, wat van u? Is u horende doof? Is u geestelik blind? Of is u bereid om te doen wat nodig is om Christus te volg?

U antwoorde op hierdie vrae word duidelik deur u doen en late getoon, nie deur u woorde nie.